Sunday 26 May 2013

Oor arme Alma en die saag

Een van Ouma de Wet se broers was oom Manie de Klerk, getroud met die sagsinnige tant Ella ('n nooi Pretorius, uit Carolina se geweste). Oom Manie was onder die familie bekend as oom Dil - ek het nooit uitgevind waarom hy hierdie naam gekry het nie.

Hulle het, soos my ouma en nog twee van haar broers, op oom Manie se erfdeel van Eerstegeluk (Bethal) gewoon - so neffens die grondpad Davel toe. Oom Manie was 'n groot man, veel meer as die gewone 'geset', en hy en tant Ella het byna potsierlik langs mekaar gelyk. Sy was immer maer en klein, met 'n altyd-teenwoordige bollatjie, kuis agter die kop in 'n haarnet vasgevang.

Hulle had vier kinders: die oudste was Abie, 'n seun wat as kind polio opgedoen het; dan was daar Herman, die Paul Newman-gesig met die blouste paar kykers; dan Koos (Pa het altyd van 'Koos broeksak' gepraat); en dan arme Alma, die pragtige donkerkop, wat haar in 'n huwelik met 'n sukkelende boer van Roedtan, begeef het.

Tant Ella het, sonder uitsondering, net een punt op haar agenda gehad. Al het enigeen die gesprek in waffer rigting ook gestuur, sy het gesorg dat arme Alma se deerniswekkende stryd daar op die ongenaakbare Springbokvlakte, die middelpunt van die geselskap gebly het. Tant Ella kon vir ure teem oor hoe jammer sy die arme, arme kind gekry het. Dan moes Ouma of ander kuiergaste maar gelate simpatie betuig en gemaak-belangstellend oor arme Alma se nuutste beproewing uitvra.

Oom Manie, daarenteen, kon land-en-sand gesels. Hy het sy pyp gestop, die kruisbande so effe verskuif, en dan oor 'n wye verskeidenheid ditjies en datjies uitgewei. Na 'n koppie koffie en 'n plaasbeskuit of twee, moes daar terstond afgestap word melkstalle toe, waar oom Dil sy melkkoeie met trots by die naam geroep het. Daar, in een van die buitekamers, het oom Dil se saag teen die muur gehang. 'n Groot (lang) treksaag, waarmee daardie jare takke afgesaag is. As Pa mooi gevra het, het oom Dil dan die melkstoeltjie nadergetrek, die saag van die muur gehaak en so tussen sy bene gebuig. Die handvatsel is op die een voet vasgedruk, en die skewe saag is met die linkerhand bo vasgehou. Die strykstok is van iewers gehaal - en oom Dil het losgetrek met 'Nader my God by U' of 'Wat 'n vriend het ons in Jesus'. As oom Dil se roomafskeier die dag lustig gesing het, het hy met 'n glimlag selfs Chris Blignaut se 'Maanlig op die Vaalrivier se walle' gewaag. Dit moes altoos in die buitekamer geskied, want tant Ella het 'die stuitigheid' nie in haar huis geduld nie. In haar voorhuis was 'n trapserfyntjie (huisorreltjie), maar selfs dit was altyd toe en verbode.

Arme Alma is op 'n jong ouderdom aan kanker oorlede. Oom Manie het met sy Chev Fleetline by 'n brug afgery. Tant Ella het net weggekwyn, stil soos sy gelewe het. Ek was op haar begrafnis, daar vanuit die NG Moederkerk op Bethal. Die diens is na die sitkamer van die ouetehuis waar sy haar laaste jaar of vyf verwyl het, versend. Terwyl ek so in die kerk na die pragtige orrelklanke geluister het, het ek weer oom Manie se saag gehoor ... so in die agtergrond van tant Ella se arme Alma-vertellinge.

Miskien het die saag voorbodelik gehuil oor arme Alma se aardse stryd, wie sal weet ...?

No comments:

Post a Comment