Monday 5 June 2017

Die misleidende naam

Dit gebeure soms dat 'n mens, met die edelste bedoelinge denkbaar, onwetend in die vygies trap. Hoe dan ook gemaak as 'n vreemde, interessante naam die aandag vasvang en jy voel dis iets wat probeer moet worre?

So ry ons deur die dorre Karoo, af na Napier om by oorle oom Johannes te gaan kuier. 'n Langnaweek daar tussen die kanola-lande was 'n goeie vooruitsig - en dit nog by my gunsteling oom, aan moederskant. Oom Johannes was die gemoedelikheid selwers: rond en gesond en met ope arms wat jou die bly-tydjie laat geniet het.

Duskant Barrydale, siet ek 'n platterige padstalletjie, so onder 'n karee wat net die allernodigste skaduwee kon gee. Hangende aan een van die karee se takke, was 'n advertensiebord met 'n skrywe wat die ongeloof in my laat posvat het: 'Rooibok se biltong - R50 'n kilo'. Wie sou't ook kon glo? Wild se biltong - vir net R50 die kilo?! Ons stop toe ook summier daar langs die karee en stap die stalletjie binne. Ek was seker dat oom Johannes 'n sakkie rooibokbiltong met daai ope arms sou verwelkom.

"Middag!'' groet ek die omie wat agter die toonbank sit. ''Het oom nog van darie rooibok se biltong?''
Die oom glimlag breed en haal sulke lang biltonge iewers vandaan.
''Ja, hier is nog heelwat. Rooibok het goed uitgeslag!''

Dadelik koop ons toe twee kilo's van die heerlikheid, groet die oom en vat weer pad. Gou het ons algar 'n koutjie in die kies, want oom Johannes kon darem nie AL rooibok se biltong kry nie!

Man, en het ons toe lekker gekuier! Ta' Kooltjie (dis nou oom Johannes se beste) het ons laat eet en drink tot ons net nie meer kon nie, en oom Johannes het ons met stories oor die Overberg se doerie jare omsingel. Hy het tussendeur met die knipmes aan die rooibokbiltong geknibbel en geknaag, en oor en oor vertelle hoe lekker die Karoo-biltong dan gesmaak het. Om te dink dat daar iets soos rooibokbiltong in die Karoo kon wees, en dat hy wat oom Johannes was, so met die Okapi-mes die vleisies kon geniet!

Toe die ryslag kom, het ons hartlik gegroet en belowe om gou weer te kom kuier. Oom Johannes was steeds by die biltong. ''As julle dalk weer by daai stalletjie verby, kyk tog 'seblief vir nog van die lekker rooibokbiltong? Dit was nou wrastig lekker verby!''

So stop ons toe daai Sondagmiddag weer by die karee, maar die advertensie was nie meer nie. Ons stap toe nietemin die plekkie binne en kry die oom weer agter die toonbank.

''Middag oom! Is ons te laat om nog van daai lekker rooibok se biltong te kan koop? Is alles uit, of het oom perdalks iewerste 'n stukkie weggesit?''

Die oom het weer breed geglimlag en die kop geskud. ''Nee, daar is nie meer nie - alles is gevat. Ek het nooit kon dink dat rooibok se biltong so goed sou verkoop nie!''
Ons was regtig teleurgesteld. ''Maar kan oom nie weer rooibok se biltong kry nie?'' het ek hoopvol gevra.

Die oom het my snaaks aangekyk. ''Nee jong, daar was net een Rooibok. Vreemde naam vir 'n donkie gewees, maar sy biltong het vinnig verkoop.''

Sien wat ek bedoel? Dat 'n naam jou nou so van koers af kan laat dink! Daar was nog een ander nagevolg: deeske dae maak ons maar baie seker van waffer oorsprong 'n stukkie biltong is, alvorens ons dit in die kieste stop!