Sunday 29 December 2013

Huil-huil die nuwe jaar in.

Nee kyk, as daar nou een ding is wat ons Afrikaner-volkie nou behoorlik kan doen, dan is dit om die nuwe jaar met groot fanfare en klinkende simbale te verwelkom!

Al die oorskiet-eetgoed van Krismis word mos sorgvuldig gefoelie en gevries, en daar word die braai der braaie en al wat joligheid is, georganiseer om almal in die regte stemming vir daardie groot oomblik te kry: wanneer die lang en kort arms van die horlosie mekaar middernagtelik mooi op die twaalf ontmoet en al die vrolikes dan saam die dosyn klokslae aftel - tot binne-in die Nuwe Jaar!

Kleinboet was 'n kannetjie van so vyf jaar oud, toe hy ons almal plegtig laat belowe het dat ons hom sou wakker maak, om ook die twaalfuur die nag se belewenis mee te kon maak. Hy was bekend daarvoor dat sy oge skaars nege-uur gesien het, want hy het gewoonlik vroegaand reeds lang gape gegee. Ewenwel, daardie oujaarsaand was dit weer sulke tyd: daar is gelag, gebraai, baie kos verorber en Ma se beroemde pons is in dorstige kele af gegooi. Teen tienuur se koers, was Kleinboet al waar hy op sy gelukkigste was: vas aan die slaap. Hy het sommer so op die TV-kamer se mat, met sy teddiebeer styf vasgeknel, aan die slaap geraak.

Kort voor twaalf het ons almal agter op die patio gaan staan om na die vuurpyle en sterskietende klappers wat oral in ons omgewing die naglug verlig het, te kyk. Toe die aftelling verby was, is almal gebruiklik gedruk en gesoen en is Nuwejaarswense mildelik uitgedeel. Toe die vrolikheid net mooi aan die gang was, strompel Kleinboet by die agterdeur uit, al sukkelend om die slaap uit die oge te vryf.
"Hoekom raas julle so?" kom die klein stemmetjie vanagter die vrywende hande.
"Haai, kyk wie is wakker!" het Ma gekloek. "Kom kyk hoe mooi is die liggies! Happy New Year!!"
Kleinboet het ophou vryf en ooglopend verward om hom rondgekyk. "Is die nuwe jaar al hier?" Hierdie keer was die stemmetjie nog kleiner en gevul met 'n vreemde emosie.
"Ja! Dis Nuwe Jaar!" het Pa laat hoor. "Kom, gee vir Pa 'n drukkie!"

Toe bars Kleinboet uit in die huil van alle huile! Hy snik en die trane stroom oor sy wange en oor die teddiebeer, wat steeds in sy arms was. Ma was natuurlik dadelik by om te troos en die nodige soentjie te gee. "Aggenee, Nuwe Jaar is iets om oor vrolik te wees! Waarom huil my kind dan so? Voel jy siek?"
Na nog heelwat trane, kry Kleinboet dit uiteindelik reg om die woorde te vorm. "Julle is lelik!! Julle is almal baie lelik! Nou het ek nie gesien hoe kom die Nuwe Jaar nie!" Weer was dit 'n vloed van trane.

Eers vele jare later, sou Kleinboet leer dat sekere begrippe in die ou lewe letterlik, maar ander weer figuurlik bedoel word. Op skool het hy ook van denostasie en konnotasie geleer. Maar, al is hy reeds nie meer met ons nie, sorg die onthou van Kleinboet se groot ontsteltenis toe hy kleintyd nie gesien het hoe die Nuwe Jaar sy opwagting maak nie, steeds vir 'n groot glimlag - en dra dit ongetwyfeld by tot die vrolikheid as die Nuwe Jaar verwelkom word!

Thursday 26 December 2013

Hoor my lied ...

Dit was Oukersaand, 1968. Wouter was 'n sestienjarige wat, getrou aan sy fase, net op sport, meisies en eet ingestel was. Met die oorlaaide kostafel daardie aand in gedagte, het die lysie natuurlik omgeswaai, want EET was die eerste prioriteit!

Ma Susan het vroegmiddag begin om allerlei lekkernye en versnaperinge vir die tradisionele vingerete wat eie aan Kersfees in die Louws se huis was, voor te berei. Wouter het sy ma gehelp, want sus Louise het haar hande in die saligheid begewe, en kleinboet Jan was ... wel, te klein om enigsins van hulp te kon wees. Daar was kos in oorvloed: van tuisgebakte speserykoekies, worsies-op-'n-stokkie, lemoentert (Wouter se gunsteling), tot koue frikadelle en gemmerbier. Pa Gerhar-
dus het die dagskof van ses tot ses, gewerk en dinge moes agtermekaar wees wanneer Pa , moeg en befoeterd soos gewoonlik, by die huis sou kom.

Wouter was net oor een ding ongemaklik en kon dit nie uit sy gedagtes kry nie: sy beste vriend (Stefan) was die bure se seun, en Stefan en sy ma sou die aand alleen moes deurbring, want sy pa het die nagskof gewerk, tot sesuur die volgende oggend.

"Ma," het Wouter sy ongemak met sy ma gedeel, "dis darem nie reg dat tannie Alta en Stefan vanaand so alleen moet wees nie. Hier is mos meer as genoeg kos, kan ek hulle nie maar gaan nooi om by ons te kom eet nie?"

Hy het sy ma se effense huiwering verstaan, want dit was gewaagd en in 'n sekere sin onverantwoordelik om soiets sonder sy pa se toestemming te doen. Maar, dit was tog Krismis, 'n spesiale tyd van gee en deel met ander - hy was seker dat selfs Pa Gerhardus op so 'n aand sy hart sou versag.

"Jy's reg,  dis tog Kersfees, ek dink hulle sal dit baie waardeer", het sy ma dit ook gewaag.

Wouter het dadelik opgewonde oor die heining gespring, soos dit sy en Stefan se gewoonte was, en soos hy gehoop het, was Stefan-hulle spoedig by hulle en is daar heerlik geskerts en gekuier. Ou-
kersaand het 'n nuwe betekenis vir Wouter gekry, een van vrolik wees en ontspan, sonder om te wonder wat Pa Gerhardus se reaksie sou wees.

Gerhardus het toe eers halfagt se koers by die huis gekom. Toe hy die sitkamer binnekom, het hy merkbaar verstyf, vraend na Susan gekyk en onvriendelik gegroet. Hy is direk kamer toe om sy uniform te gaan uittrek. 'n Rukkie later het hy teruggekeer, en Susan het gesien dat sy vinnig 'n bordjie eetgoed in haar man se hand moes kry. Die geselskap het nie weer aan die gang gekom nie, en Alta en haar seun het beskroomd gegroet, Ma vir die 'heerlike aandjie' bedank, en huis toe geloop.

Die geskenke moes nog uitgedeel word. Gerhardus se tradisionele lees van die Kersverhaal uit die Bybel, die luister na die Weense seunskoor se 'Stille nag' en die kort gebed daarna, was met ingehoue emosie. Wouter en sy ma kon aanvoel dat die bom enige oomblik sou bars. Hy het sy bes probeer om opgewonde oor sy geskenk te lyk: Gé Korsten se langspeelplaat, 'Hoor my lied', met al Wouter se gunstelinge op (sy ma het dit vir hom gekoop).

Toe die laaste geskenkie oorhandig is, kon Gerhardus homself nie meer beteuel nie. "Wie de donner gee julle die reg om daardie mense hierheen te nooi?!" het hy geskreeu. "Dis ons gesinsaand, ek werk my gat af om dit vir julle moontlik te maak - en julle nooi vreemdes!" Hy was buite homself van woede. "Dis natuurlik weer jy wat jou pel hier wou gehad het! Hierdie oor-en-weer gekuier irriteer my al lankal - dit stop sommer nou, net hier!" Susan het nog probeer paai, maar Gerhardus
het nog 'n paar onkiese uitlatings gemaak,  en toe die agterdeur hard agter hom toegeklap - en hulle het hom daardie aand nie weer gesien nie.

Wouter kon die trane nie keer nie. Ook hy het die donkerte opgesoek, in sy kamer op die bed geval en
sy wanbegrip uitgesnik. Kersfees is dan 'n tyd van gee, van vrolik wees en vir mekaar omgee ...??

Laataand het hy gedempte stemme gehoor, daarna was dit grafstil in die huis. Buite kon jy hier en daar 'n klapper hoor, soms 'n vrolike gelag vanuit een van die buurhuise.

Dit was al laat in die nanag, toe Wouter sy bedlampie aanskakel en sy geskenk nadertrek. Hy het die trane weggevee en stil met homself gepraat: "Hoor my lied, ek sal NIE eendag so 'n pa vir my kinders wees nie ! Ek sal vir hulle lief wees en hulle sal nie bang vir my wees nie ... ".

Toe Wouter later jare sy eie plekkie gekry het en as werkende jongman, sy eie lewe kon lei,  het hy 'n groot plateversameling opgebou.  "Hoor my lied", was nie een van hulle nie.  Daardie plaat het hy
geredelik van ontslae geraak ...

Saturday 21 December 2013

Jeugdige vergryping.

My ouers het in die begin tagtigerjare op die dorpie Marble Hall gewoon. Dit was toentertyd maar 'n ou klein plekkie, vrekwarm en meestal droog. Tog was daardie droogte net tot die natuur beperk, want in die inwoners se lewens was dit allermins vaal en troosteloos!

Die bure (Grieke) had 'n kafee skuins oorkant die straat. Die goedige eienaar , sy vrou en jonger broer, het die onderneminkie bedryf. Hulle het twee seuntjies gehad, Panayottis en Jannie, van min of meer my broer se ouderdom. Die drietjies het die straat vol gespeel, was gedurig aan die beweeg. Kort-kort het jy een iewers hoor huil, of 'n luide bekgeveg wat oor die een of ander 'kroekery' tydens 'n speletjie, gevoer is. Soms was dit die hoenders of honde wat dit moes ontgeld. Hulle was besige gevreetjies, baie besig! As hulle by die een huis verwilder het, is die kwajongstreke by die ander huis voortgesit.

Die pa was 'n rustige, goedige man wat sy gang gegaan het. As die dae marmerwarm gebak het, het hy die spulletjie soms geroep en dan het elkeen 'n yskoue koeldrank, sommer so uit die kafee se yskas, gekry. Dit was nog die dae van koeldrankbotteltjies, wat jy na die tyd weer vir 'n paar sente kon gaan inruil het. Die karnallies het dit geweet, en soms 'n koeldrank of drie gegaps, leeggedrink en dan afgehol na die ander kafee om die hoek, waar die bottels vir Chappies (kougom) verruil is!

So gebeur dit toe dat die grootmense die Sondagmiddag 'n uiltjie gaan knip het, soos die gebruik was, en die kleintjies hulself moes vermaak - ook volgens roetine. Die kafee was Sondae net halfdag oop en die Grieke het die ruskansie deeglik benut. My broer en sy trawante was egter nie vir die rus-ding te vinde nie, hulle was aan't rondsnuffel en planne beraam om die vervelige middag te verwyl.

Meteens het 'n verskriklike gil die Sondagvrede middeldeur geskeur. Die gil is deur harde huilgeluide gevolg, asook voete wat verskrik wegkruipplek gaan soek het. Die twee ouerpare was gelyktydig buite, want daardie gil was een van groot probleme en almal het geweet dat iets erg moes gebeur het.
Daar vind hulle toe vir Jannie (hy was die jongste van die bende), op die grond langs sy pa se vragmotor, waarmee hy groente aangery het. Jannie se gesiggie was in die stof gedruk, hy het hartverskeurend gehuil en aanhoudend "Eina ... eina ..." gekerm. Almal het om hom gekloek, maar kon geen fisiese skade bemerk nie. Jannie het egter net harder en harder gehuil en die einas het 'n stortvloed geraak.

 Dr. Malan, destyds die enigste arts op die dorp, was Pretoria toe vir die naweek. Al genade was om die sowat agtien kilometer Groblersdal toe, te jaag. Daar was darem 'n kliniekerige hospitaaltjie, met 'n dokter of drie. Intussen het Pa-hulle die ander twee gesoek - en uiteindelik onder die bed in die spaarkamer gekry! Hulle was steeds wit van die skrik en moes behoorlik uitgesleep word. Na 'n paar ernstige dreigemente, het die middag se verhaal stuk-stuk ontvou. Die saak staan toe so: Panayottis het, toe dit gelyk het of die oumense almal aan die slaap was, onthou dat sy pa die Saterdag 'n paar biere in hul yskas gesit het. Op die snikhete Albastergat was soiets amper normale prosedure, veral oor 'n naweek. Ewenwel, hy (dis nou Panayottis) gaan haal toe 'n paar van sy pa se biere uit en oorreed die ander bendelede om in die verbodenheid te deel. Daar is toe onder die koraalboom 'n paar biere geknak - deur mannetjies wat nog skaars op skool was! Jannie was nog te klein vir skool.

By die hospitaaltjie het die dokter gou agtergekom dat Jannie na drank geruik het! Daar is oor-en-weer gebel, en die feite was gou op die tafel: in hulle beskonkenheid, het die drie musketiers besluit om op en in die lorrie te gaan speel. Jannie se kapasiteit was skynbaar die laagste, want hy was voor in die koor. Hy klim toe vol bravade bo-op die voertuig se dak, waar hy Zorba se dans (of iets dergliks) wou uitvoer. Hy verloor toe sy balans en tuimel af, reguit aarde toe! Toe hy so vreeslik aan't skreeue gegaan het, het die ander so vinnig as wat hul bene hul kon dra, weggehol en skuilplek gaan soek - vandaar die onder-die-bed deel.

Die diagnose was toe dat Jannie ligte harsingskudding opgedoen het. Miskien was hy die eerste vyfjarige wat soiets oorgekom het - nou nie van drink en bestuur nie, eerder iets soos suip en bekruip. Wys jou net!

Muriel

Haar naam was Muriel. Dit, en die feit dat sy van Suidwes af gekom het, was die enigste inligting rakende haar her- en afkoms, waarvan enigiemand geweet het - en dit het ook nie saakgemaak nie.

Muriel was kampusbesit. Miskien eerder manskoshuis-besit, maar tog almal se Muriel. Haar tengerige, fyn postuurtjie en roesbruin hare, was haar bekendste kenmerke. Sy was immer onopvallend, misterieus en altyd met 'n skouersak, op pad na wie weet waar. Jy kon haar op enige plek aantref, soms waar jy haar die minste verwag het. Per geleentheid is sy in die Aula tydens 'n middaguur-konsert opgemerk, dan weer op die grasperk agter die Musaion. Die kanse dat jy Muriel op die Hillcrest-bus sou raakloop, was ook redelik goed.

Sy was enigmaties in haar handel en wandel. As dit so gebeur het dat jy langs haar in die Hatfield- of Sterland-fliek te lande gekom het, het sy sag in die dowwe lig geglimlag en jy het 'n gevoel van rustigheid aangevoel. Soms het sy doodstil op 'n houtbankie langs die kennisgewingborde (waar die BB-weierings opgeplak is) gesit en weemoedig voor haar uit gestaar. So nou en dan sou iemand met 'n "Hi, Muriel!" verbystap, waarop sy die een hand liggies gewuif en ook geglimlag het. Dan het sy weer in haar geheime gedagtes weggesink.

Natuurlik is daar baie oor Muriel geskinder. Wanneer daar 'n paar Muriel-lose dae verbygegaan het, is daar in die manskoshuise se ontspanningsale bespiegel oor waar sy haar op daardie stadium sou bevind het. As ek nou so terugdink, wil dit vir my lyk asof sy 'n voorliefde vir die moderner koshuise soos Mopanie en Maroela gehad het. Soms, wanneer ons op 'n Woensdagaand daar gaan liga-tafeltennis speel het, was Muriel tussen die groepie toeskouers. Sy was nooit luidrugtig nie - het trouens bitter min gepraat. Eienaardig genoeg (agterna gesien), was niemand verbaas om die meisie tussen al die manne te sien nie, al was dit die dae toe daar 'n sterk stelsel van 'morele standaarde' in die manskoshuise was. Muriel was een van die groep, het selfs tuis gelyk wanneer sy dikwels 'n lang manshemp aangehad het en kaalvoet was.

Vir party was Muriel die ma na wie daar verlang is, vir ander weer die suster met wie hartsgeheime gedeel is. Dis seker maar logies dat haar rol by ander (sy moes tog iewers geslaap het) meer eroties was, maar ook dit is as blote gang van sake, aanvaar. Niemand was jaloers op iemand nie, as dit jou Muriel-beurt was, was dit maar so. Ek kan met alle eerlikheid verklaar dat ek nooit gehoor het dat iemand na Muriel as 'n 'kwaadkat' of 'seksbom' verwys het nie - en dit was sy dan inderdaad ook nie.
Sy was 'n aanvallige, rustige meisie uit Suidwes, 'n swerwer wat na rusplek gesoek het. Iemand op wie se nommer jy maar kon druk as jy 'n metgesellin na 'n funksie, nodig gehad het. Iemand wat maar altyd in die skaduwees gewag het, vir waar en wanneer haar dienste ook benodig is.

Waarvoor sy studeer het, en of sy wel studeer het, was nooit ter sprake nie. Haar teenwoordigheid op die kampus was gerusstellend, 'n klein bietjie permanensie in 'n deurmekaar milieu. As dinge vir jou te veel geraak het, kon jy langs Muriel op die houtbankie gaan sit en seker gewees het dat jy, al was dit dan net vir 'n paar vervlietende minute, die stil geselskap van iemand sonder vrae, kon geniet.
Muriel het nooit oor akademie gepraat nie, net oor mooi dinge soos musiek, plante en wolke. Sy het ook nooit in die karige gesprekke, na ander mense verwys nie. Die hartseer uitdrukking op haar gesig, was sprekend van iemand wat die pad gestap het, iemand wat besef het dat wat verby is, vir altyd verby is ... Iemand wie se innerlike begeertes, nooit bevredig is nie.

Wat van Muriel geword het? Wie sal weet? Ek kan glad nie aan haar dink as iemand wat sou getrou het en 'n gesinslewe sou lei nie.. Ook nie as iemand wat iewers in 'n kantoor vasgekluister sou gewees het nie. Eintlik kan ek my glad nie indink hoe Muriel 'n toekoms kon gehad het nie - daarvoor was sy te enigmaties, te onwerklik, te nie-van-hierdie-aarde-nie.

Haar naam was (is?) Muriel. Net dit.

Tuesday 17 December 2013

Juffrou gee 'n dubbele pyn.

Ons was 'n klompie belustige en rasegte standerd sewe-seuns: disspline was 'n ongewenste woord en niks wat na die estetiese geruik het, het in ons belangstellingsveld geval nie.

Die groot- en kleinskool was toentertyd op Ogies, nog in dieselfde gebou. Die klasse was klein en intiem, met nie meer as so twintig wat per keer die banke beset het nie. Iedereen se stamboom was aan elkeen bekend, jou doen en late was geen geheim nie - ook nie vir die onderwysers (of selfs die Hoof) nie ...

Een periode per week is aan 'klasmusiek' afgestaan. Vir ons was dit net een, droewe tyding: sing en nogmaals sing ! Die meisies het lustig meegedoen en was nogal nie te onaardig om na te luister - en veral te bekyk - nie. Maar, vir 'n vyftienjarige knaap was die gesingery 'n pyniging! Eers het die goedige ta' Mima, so met haar potsierlike figuurtjie op 'n houtkissie gelig sodat sy ons min of meer op gelyke oog kon takseer, as koorleidster en dirigent opgetree. Hierdie prentjie was vir ons skreeu-
snaaks en het talle nog snaakser aanmerkings uitgelok. Dit het meegebring dat die seuns se 'sang',
eerder 'n onderlangse geproes was, want almal was dik van die lag!

Toe kry die skool 'n nuwe sangjuffrou, ene mev. Pieters. Die situasie het soos handomkeer verander.
Ons seuns is op geen ondubbelsinnige wyse nie, goed laat verstaan dat 'Juffrou duld geen ongedissiplineerde gedrag nie!' Sang was skielik 'n 'estetiese ervaring, 'n verrukking van die siel' en nog allerlei warra-warra uitdrukkings. Haar styfopmekaargedrukte lippe was soos 'n streep wat getrek was: waag dit net om die muse bespotlik te maak! Ons doppies was geklink - ons het dit nie eens meer gewaag om onderlangs na die meisies te loer nie. 

Wat ons seker die meeste van die nuwe verskrikking ontstel het, was wanneer sy so voor ons stelling ingeneem het, met ogies wat geblits en die beringde vingers wat beduie het: "Maak die monde groot en rond oop! Laat die gevoel oor jou spoeeeeeeel!". Om soiets van 'n standerd sewe-seun te verwag, is absoluut verregaande (altans, so het ons gevoel). Ons het soos moffies gevoel en mekaar agterna gespot en die juffrou verwens.

Toe kom die dag van genade! Die sangperiode was weer op ons en ons het so vinnig as wat ons bene ons kon dra (om juffrou se toorn te vermy), op die saaltjie se verhoog, agter die Otto Bach -
klavier, stelling ingeneem. Die aanvanklike doodse stilte, het gou in 'n versigtige gefluister ontaard, en toe dit blyk dat ou Pietie nie daar was nie, het die seuns vinnig ontspan en die meisies begin tempteer. Daar is gelag en gesels, en Trudie het kort-kort 'n gemaak-benoude gilletjie gegee wanneer Fanie of Brian "per ongeluk" aan haar boud gevat het. Die onskuldige, bedeesde ekke het saam met Helga Naude langs die klavier gestaan en oor ditjies en datjies gedagtes gewissel.

My en Helga se gesprek het op 'n kol noodwendig in die onnies se rigting beweeg. Ons het ons lot met mekaar gedeel en verdoemende uitsprake oor ou Potgieter se Wiskunde-huiswerk en ou Bok se ewige Natskei-eksperimente gelewer. Toe sien ek die teelaarde is gunstig, en ek spreek my eerlike
opinie oor die sangjuffrou uit.
"Weet jy, ou Pietie gee my 'n yslike pyn!!" het ek my hart verwoord.
Helga het gegiggel en my betig: "Haai jong, sjjt! Netnou hoor iemand jou!"
Dit kon my op daardie oomblik min skeel. Al die dae van gedwonge "maak groot oop die monde!" het by my mond uitgeborrel. "Ek's ernstig - en sy kan dit maar weet! Sy gee my nie net 'n gewone pyn nie, sommer 'n helse een!"

Die klok het gelui en ons het na die Afrikaans-klas begin aandrentel. Ou Ol was nou wel nie een van ons gunsteling-onnies nie, maar hy het jou ten minste darem nie die hele tyd met 'n valkoog dopgehou nie. Ons was dan ook net 'n entjie weg met die gebruiklike "oefening so-en-so, bladsy so-en-so", toe mnr. Le Roux (dis nou die Hoof) in die deur verskyn.
"Mnr. Olivier, is Kobus de Wet nou by u?" het hy met 'n kwaai stem gevra. Ek was natuurlik wit van die skrik.
Ou Ol het soos gewoonlik, oor sy voete geval om die Hoof te plesier: "Ja, mnr. Le Roux. Kobus, mnr. Le Roux wil jou spreek."

So stap ek toe ewe bedremmeld agter die Hoof aan, reguit kantoor toe. Hy het nie eens gaan sit nie, net die deur agter ons toegemaak en veels te naby, voor my kom staan. "So, JY is die mannetjie wat dit waag om juffrou Pieters te beledig! Wie gee jou die reg om so onopgevoed en ongeskik op te tree?!" Ek kon sien dat mnr. Le Roux briesend was en moes sekerlik ineengekrimp het van skaamte en verleentheid, want ek was bekend as die soet seun, die een wat nooit in die moeilikheid gekom het nie. Om te dink dat ek Helga vertrou het, dat ek my diepste denke aan haar openbaar het! Dit was sweerlik sy wat dadelik nuus aangedra het.

Nog voor ek behoorlik my gedagtes agtermekaar kon kry om myself te verweer, is ek hardhandig aan die arm beetgekry, vooroor gedruk - en is die maksimum straf toegedien: ses houe met die rottang!
Terwyl die houe geval het, het die Hoof sy diepe teleurstelling in my, uitgespreek en relaas oor hoe geskok my ouers sou wees en welke groot ideale en mooi dinge hy wat Hoof is, dan in my sou gesien het. Lyfstraf was die in-ding daardie tyd, 'n man moes maar op die tande byt en dit soos 'n man vat.
Ek het ou Knaf gehaat en Helga verwens!

Natuurlik het die hele episode verreikende gevolge gehad. Pa het my 'n tweede loesing gegee, terwyl Ma 'n Bybel-versie op my kopkussing neergesit het. Helga het toe ook geblyk onskuldig te gewees het want sien, juffrou Pieters was toe NIE afwesig daardie dag nie, sy het mooi agter die sygordyne gestaan en na ons (en veral my) mening oor die sangklasse geluister!

So het die juffrou my toe twee pyne gegee: die een was die rede, die ander een die gevolg. As ek nou mooi oor die sakie nadink, besef ek dat daardie ses houe die moeite werd was. Enersyds het ek van toe af  'n wag voor die mond geplaas, en andersyds het dit my aansien destyds 'n goeie hupstoot gegee. 'n Man wat die maksimum straf verduur het, nadat hy die algemene gevoel verwoord het, was nie sommer net nog 'n outjie nie!

Ek is jammer, juffrou Pieters, maar die herinneringe aan u, gee my nog steeds 'n pyn!

Sunday 8 December 2013

Die bruid moes maar wag.

Werner Louw was 'n jong onderwyser wat 'n vol lewe gelei het. Hy het sy volle gewig by die skool-
aktiwiteite ingegooi, want hy moes die twee jare wat hy noodgedwonge eers diensplig moes verrig,
inhaal, sodat hy 'n gelyke kans op bevordering teen sy meer ervare kollegas kon beding. Hy het hom
trouens in so 'n mate in sy beroep ingegrawe, dat daar nie veel ruimte vir 'n private lewe was nie.
Dit was dan ook eers op byna dertig, dat Werner tot trou gekom het - tot vele vriende en familielede
se verligting!

Aanpassingsprobleme was aan die orde van die dag, want Werner was te lank op sy eie. Op daardie
stadium het sy bruid in 'n ten volle gemeubileerde huis, met 'n tipies loslopende man se roetine en uitleg, binnegestap. Wena moes maar geleidelik dinge verander en na haar smaak inrig - met takt en diplomasie, want Werner was redelik verstok en konserwatief.

Kort na die wittebrood, het die skole weer begin en Werner het sy vele binne- en buitemuurse pligte hervat. Sy bruid moes maar daarmee verlief neem, want haar man was ambisieus en altyd gewillig as daar vrywilligers gevra is. Benewens sy Saterdae se vol sportprogram (hy het na die oggend se skole-
sport, ook nog krieket in die middae vir die dorp se eerstespan  gespeel), het Werner ook nog baie nasienwerk gehad wat afgehandel moes word. Die man was besig, en Wena het al hoe minder
verstaan waarom sy so dikwels grasweduwee moes wees. Sy het toe maar probeer om van Werner se skoolaktiwiteite by te woon, om belangstelling te toon en kontak-tyd uit te brei.

Daardie Vrydagmiddag moes Werner 'n tennisspan hanteer. Dit was liga-tyd en die besoekende span was al 'n halfuur na die skool uitgekom het, by die bane. Hy het gou vir Wena gaan oplaai, en sy het toe ewe gedwee met 'n breiwerkie in die hande, op die pawiljoen stelling ingeneem.

Werner het sy ding gedoen, presies en volgens verwagtinge. Spelers is op die baan gesit, verversings is aangebied en hy het kort-kort gaan hoor of die besoekende personeellid iets te ete of drinke gehad het. So tussendeur het hy hier en daar met Wena gesels, maar daar was nie veel tyd daarvoor nie.

Ewenwel, die laaste balle is toe geslaan en die tellings op die uitslagvorms ingevul. Werner se skool het gewen en hy was die volmaakte gasheer: hy het die spelers gelukgewens, die besoekers bedank en 'n veilige terugreis toegewens. Hy het selfs saam met hulle na hulle bussie toe gestap en seker gemaak dat hulle niks laat agterbly het nie.  Toe die voertuig om die hoek verdwyn, het Werner die balle bymekaar gemaak, opgeruim en kar toe gestap ...

Op pad huis toe, het hy die wedstryd oordink en baie tevrede gevoel, omdat sy span hulle goed van hulle taak gekwyt het. Die Hoof sou vir seker 'n regmerkie of drie langs Werner se naam kon maak, dit was nou nie altemit nie.

Met 'n selfvoldane glimlag het Werner by die huis aangekom, die motor onder die afdak geparkeer - en toe sien hy dit! Aan die wasgoeddraad was van Wena se kledingstukke - hy het skoon vergeet dat hy nou getroud was ... en Wena was nog op die pawiljoen!

Met skreeuende bande en remme het die Mazda in 'n groot stofwolk langs die tennisbane tot stilstand gekom. Werner het net 'n paar hale nodig gehad, toe was hy by sy bruid. Wena het beteuterd gelyk, die lippe ferm  op mekaar gepers. Sy het haar breiwerk gegryp, en so vinnig as wat haar bene haar kon dra, na die kar toe gehardloop. Werner het soos 'n skoothondjie agterna gehol, die hele pad gejammer en geskattie, maar Wena was horende doof.

Dit was die rusie der rusies! Pasgetroudes was nie veronderstel om sulke onmin te duld nie, maar daardie aand was dit Wena met haar beskuldigings en trane, teen Werner met sy pleidooie, verskonings en boetedoening!

Wat van die hele petalje geword het? Wel, Wena het nooit ooit weer 'n skoolwedstryd of -funksie bygewoon nie - en Werner het dit maar later as 'n gegewe aanvaar. Die skietstilstand is woordeloos bepaal: jy het jou werk en jou verpligtinge, en ek het myne.

Ai, dat 'n man so in die duwweltjies kon trap!

Saturday 7 December 2013

einde

geen waarskuwingstekens
geen rooi driehoek of
flikkering van blouligte
of onreelmatige asemhaling
geen voorstorm-winde
of malende wolke

net maar 'n stille
                          wegkwyn
en stiller afwesigheid
net maar 'n geluidlose
                          wegsyfer
in die dorre sand
van dit wat was

geen laaste groet
geen hou verby
waarskuwing
of chevron om my
gebroke hart

net maar 'n doodse
                          verdwyn
in die genadelose
woestyn
van pyn ...

Wednesday 4 December 2013

Ouma kyk rond.

'n Volwassene sal kan beaam dat dit nie maklik is om 'n motor in die pad te hou, as jy die passasier is wat moet oorleun om die stuurwiel so vanuit 'n hoek te moet hanteer nie. Sekerlik nie onmoontlik nie, maar hoogs ongemaklik en onnatuurlik. As jy egter 'n knaap van so ses of sewe jaar oud is, raak die situasie ietwat van 'n krisis ...

Ouma Marja (niemand behalwe oom Koos de Klerk, Ouma se broer, het ooit die doopnaam 'Maria' korrek uitgespreek nie) het na Oupa se dood in 1957 'n boervrou gebly en een maal per week die plaaspad dorp toe met die mouter aangedurf. Eers was dit met 'n gevaarte uit die veertigs ('n groen Chev, wat nog met 'n slinger gestaart is), maar toe koop Ouma 'n byderwetse Opel Kapitan waarmee sy oral rondgery het - natuurlik nie altyd waar 'n gebaande weg was nie. Sy het geglo sy ken 'elke duim' van Eerstegeluk en kon in enige rigting koers kies, die Opel sou sy ry kon kry.

Saam met al haar ander eksentrisiteite, was Ouma ook nog 'n geen-nonsens-mens. As sy wou ry, het sy gery - hoe en waar sy wou. Daar was wel 'n goed-uitgetrapte plaaspad wat soms erg verspoel was, maar dit het Ouma nooit van stryk gebring nie. Sy het eenvoudig net 'n nuwe omweg gemaak, so met die Kapitan se wiele saam. Verby oom Gert se opstal, was die spore al diep uitgetrap en het die middelmannetjie onder die kar geskuur - gelukkig net die gras wat so welig gegroei het. As die spore te donga-rig geraak het, is daar bloot net met die een wiel op die middelmannetjie en die ander een langs die pad, in die veld, gery en siedaar, binne 'n week of so was daar 'n nuwe plaaspad.

Ons het op Bethalstasie gebly, so sewe kilometer van Ouma se plaas af. Ek het dikwels oor naweke of wanneer Pa dit ookal sou toelaat, by Ouma gaan kuier. Dit het dan noodwendig ook 'n dorp-besoekie of twee beteken, want die roomkanne moes stasie toe en Lundall se kafee moes van eiers voorsien word, en daardie 'een-en-ses' (dis nou een sjilling en ses pennies, oftewel 15 sent in vandag se terme) was 'n waardevolle inkomste wat weer vir 'n blik Koffiehuis-koffie, of 'n pak Mazzawatta-tee gebruik kon word.  Ek het maar 'n bietjie skrikkerig langs Ouma gesit as sy so voet in die hoek, die draaie en swaaie gevolg het.  Dit was maar stamperige ritte, veral as Ouma so aan't beduie en vertelle. was, so ver as wat ons gery het. Jy moes destyds deur minstens vyf plaashekke, want Eerstegeluk was familiegrond en die plase was ingeryg, langs mekaar.

O ja, die ryery. Ouma het soms, terwyl die Kapitan nou so deur die plase gespoed het, haar hare versorg. Sy het die kar se trupieeltjie na wense gedraai, en was soms met beide hande besig om die haarnet weer om die bolla gespan te kry) - en dan moes ek die kar in die pad hou! Klein soos ek was, kon ek skaars die pad sien, maar ek het dan aan daardie stuurwiel geklou en my uiterste probeer om min of meer in die pad te bly. As ons van die plaaswerkers of hulle kinders langs die pad gekry het, het hulle by voorbaat op 'n veilige afstand uitgedraai, want hulle het geweet dat die Kapitan nie altyd die tweespoorpaadjie gevolg het nie. 

Op 'n dag het ons by Jannie van oom Hendrik se plaas verby gery, toe Ouma sien hoe mooi tannie Johannatjie se kannas aan die blom die blom was.
"Gou! Hou vas, ek wil Johannatjie se blomme sien!" het Ouma beveel, terwyl sy terstond gelos het en die Opel gevaarlik links, die veld in geswenk het! Ek het my oorhoeks geskrik, die stuurwiel beetgekry en op die een of ander wonderbaarlike wyse, die kar weer padwaarts kon stuur. Ouma het haar nie aan my angs gesteur nie, was te druk besig om lopende kommentaar, terwyl die kar dorp toe gespoed het, oor die blomtuin te lewer! 

Moenie dink Ouma was dankbaar vir my bestuurpogings nie ! As die kar te veel geskommel en die wiele nie mooi in die grondpaadjie se spore was nie, het ek 'n deeglike skrobbering gekry. Die gebruiklike 'my liefie' het vinnig in 'siet nou wat het jy aangevang !' verander. Sy sou my maklik daarvan beskuldig het dat EK ons wou laat verongeluk het! Soos ek genoem het, ek was nog 'n laerskool seun in die laer grade, maar dit het nie indruk op Ouma gemaak nie.

Toe ek in my eerste jaar op universiteit, vir my eie lisensie gegaan het, was dit 'n senutergende ervaring en het ek sulke terugblikke aan die ritte daar op die plaas, in my gedagtes gekry - allermins aangenaam ! Dit was asof Ouma weer langs my gesit het, en nie tannie Lappies nie (ons buurvrou, want Ma kon nooit bestuur nie en Pa sou my nooit kon leer nie - was altyd 'te besig'). 

'n Man praat nie graag daaroor nie, maar ek het my lisensie eers na twee probeerslae op Witbank, gekry. Ouma se kwaai stem spreek my nog telkens aan as ek nie die kar presies in die pad hou nie. So het ek tot op datum al 50 ongelukvrye jare van bestuur agter die rug. Dankie, Ouma ! 

Vuurtjie in my hart

Ek pak vir ons 'n vuurtjie
met hardekool vanaand,
sodat dit lank kan aanhou
en deur die nag kan brand.

Kom deel met my ons vuurtjie
wat ek in liefde maak,
kom sit 'n bietjie nader
as dit grafstil om ons raak.

Daar is so baie dinge
waaroor ek graag wil praat:
van hartseer en verlange
wat merke op ons laat ...

Miskien sal ons dan later
geheime stil kan deel,
en as die aandster laag is,
die naglug soos ferweel,

vou ek my mantel om jou,
as liefdesblyk en troos.
Soos ek, is jy ook kwesbaar -
so blootgestel en broos.

Vroegoggend kwyn die vuurtjie,
die hardekool word as.
Ek mymer oor verlore tyd -
'n droom, dis wat dit was ...