Saturday 17 January 2015

Elandsvallei se kontrei

Desember 1962 was 'n maand sonder weerga. Dit was in daardie tyd dat Pa die godverlatenheid van sy geboortedorp (Bethal) vaarwel toegeroep het, om vir ons 'n nuwe lewe in die natuurskone Elandsvallei, meer spesifiek Ngodwana, te gaan uitbeitel.

Dis stasiemeestershuis was die grootste en gerieflikste van die vier rooibaksteenhuise wat destyds in gelid langs die Selati-lyn gestaan het. Na die piepkleine huisie op Bethal, was hierdie een met sy derde slaapkamer en driekwart-stoep, weelde wat ons, ons nooit sou kon verbeel nie. Die huis was half ingedruk tussen die stofpad Waterval-Boven toe, en die spoorlyn. Soms het 'n haastige Laevelder die stof oor alles laat neersif, maar ons het nie omgegee nie - ons was in die bosse, met berge wat ons omring het. Oom Murray ('n afgetrede Engelse kolonel) se winkeltjie was net sowat vyftig meter weg, en Ma kon selfs Paula en Tryna du Toit se liefdesverhale by die mini-bibliotekie agter-in die winkel, te lese kry. Die groen boekewa het tweeweekliks 'n draai gemaak, dan moes ek spring voordat  iemand anders dalk eerste vir Paula gegryp het .

Voor die huis, sowat driehonderd meter anderkant die spoorlyn, het die Elandsrivier sy lope geloop. Ek was net tien jaar oud, en al het Pa toe vir my 'n windbuks gegee, mog ek dit nie naby die rivier gewaag het nie. Mambas, wildevarke en ander bosveldse ongediertes sou my glo bespring of bekruip het. Net noord van die rivier, het die berg se steiltes begin. Deur die dag kon jy die wit en bruin stippels van die boerbokke sien, waar hulle teen die berg gewei het. Laatmiddag het hulle al laer afgesak, totdat jy die voorbok se klok neffens die rivier kon hoor. Waar hulle oornagplekke was, het ek nooit geweet nie.

Die groot waterval, in lyn met die stasiegebou, het my gefassineer. Van ver af het dit net na 'n melkwit streep gelyk, maar met Pa se verkyker, kon ek die vallende water eien. Dan het ek gemymer oor die dieptes waarin die water geval het, hoe dit daar moes gelyk het. Voor my geestesoog het ek sagte, mosbedekte wande gesien, allerlei soorte varings en veelkeurige blomme. In die winter was die straaltjie maar dun, het selfs per geleentheid heeltemal verdwyn. Ek het my verbeel dat vele diertjies en plantjies dan van dors omgekom het.

Ek was in Elandshoekse Laerskool. Pa het my soggens vroeg, onder 'n apiesdoring (sowat drie kilometer van die stasie af, waar die Coetzeestroompaadjie uitgedraai het) afgelaai. Daar het ek soms benoud na die oggendkrete van die bobbejane geluister, of my verbeel dat ek 'n geritsel in die grasse gehoor het. Die stompneus Guy-skoolbus van oom Lappies, kon jy myle ver hoor aankom. Die grondpaadjie was maar klipperig en vol draaie en bulte. Smiddae het ek daar afgeklim, en begin aanstap in die stasie se rigting, totdat Pa se Volkswagen my langs die pad gevind het.

Die sandsteen-stasiegeboutjie was soos vanuit 'n sprokiesboek, met reuse palmbome vol kwetterende mossies en grasieuse swaeltjies wat die blou lug gepatrolleer het. Dit was die plek waar W.A.Hickey die boek "Twee vir 'n stuiwer", geskryf het. Onder reuse Jakarandas wat met pers en rooi bougainvillas begroei was, het Pa 'n pragtige tuin gehad. Hibiscus-struike en selfs 'n visdam met goudvisse, het die prentjie afgerond.

Benewens oom Murray se plekkie, was die naaste winkel op Hemlock. Daar was wel ook 'n koopplekkie op Elandshoek, maar Hemlock was nader. Naby Airlie was daar ook 'n slaghuis, sommer so langs die grootpad. Groente is deur tannie Ford afgelewer. Haar bruin bussie het elke Vrydag by die winkel gestop, dan kon bestellings gemaak, of afgehaal word. Daar was altoos 'n boks groente vir ons, Pa was 'n plaasseun en vleis en groente, was sy stapelvoedsel.

Daar was nog nie sprake van 'n papierfabriek (Sappi) toe ons daar aangekom het nie. Per geleentheid het oom Murray wel vir Pa gevra of hy nie die suidelike berg-deel by hom wou koop nie, en dat hy 'groot ontwikkeling voorsien', maar dis as blote bespiegeling en wensdenkery afgemaak. Ma het Pa gewaarsku dat, indien hy groot skuld sou aangaan om grond te koop, hy maar die skeibrief te wagte kon wees ! Nou ja, daardie einste grond is kort daarna deur Sappi opgekoop - en die res is geskiedenis !

Getrou aan sy aard, het Pa binne weke familie uitgesnuffel. Oom Jaap Pretorius (Pa het hom Jaap Tienton genoem) was 'n bosbouer op Coetzeestroom. Hy was die broer van tant Ella, my ouma se skoonsuster. Die Pretoriusse was Carolina-mense, en nog meer van hulle het onder die De Klerks ingetrou (Ouma se mense). Ons het soms op 'n Sondagmiddag by oom Jaap-hulle gaan koffie drink.
Die klein sinkhuisie, was weggesteek binne die denneplantasie.

Die Elandsvallei was 'n rustige, vreedsame en idilliese vallei toe ek tien jaar oud was. Wanneer ons vandag die waagmoed het om via Ngodwana, in Pretoria se rigting te ry, hou ek maar die herinneringe vir myself. Niemand sal my glo nie, en ek glo nie iemand stel belang nie. Ons ry maar net en wys na die berge, die rivier en die waterval.

'n Mens is ingekluister in jou persoonlike herinneringe. Saam met jou, sal dit eendag weer deel van die aarde word - dalk deel van die wonderskone Elandsvallei ...

Thursday 8 January 2015

Die nuwe ma

Die naam Wessel Barkhuizen was alombekend in ons kontrei. Om dit beter te stel: as jy Wessel se naam in enige goeie geselskap genoem het, had jy dadelik die aandag - en boonop 'n mate van respek - verdien, want daar is aanvaar dat jy al met diĆ© befaamde boer skouers geskuur het.

Wessel was die baasbrein agter die grootste Pinzgauer-stoetery in die land. Sy skimmelbeeste was sy trots, die handelsmerk waaraan Wessel geken is. 'n Klompie van die bestes, is geskou en het die een roset na die ander ingepalm. Op veilings, is die beste pryse vir Merlot (Wessel se een spogplaas waarop die opstal was) se beeste betaal.

Maar, die aarde was nog nooit so eenvoudig nie. Wessel en sy aanvallige Suna (heelwat jonger as hy) het net een kind gehad, 'n dogter. Die arme Jenine was later, toe die dink op skool by haar losgekom het, deeglik daarvan bewus dat haar pa eintlik eerder 'n seun wou gehad het, een wat ook geskool kon word om Pinzgauers as die alfa en omega te beskou. Sy het hard probeer om haar ingebore verfyndheid te besweer en saam met Wessel op die plase rond te ry (genadiglik was sy 'n bedrewe ruiter), maar uiteindelik kon Wessel homself nie meer met oogklap-visie flous nie: Jenine was nou maar net nie 'n boer nie - sy sou ook nooit na Pa se stoetery kon omsien nie.

Jenine het onderwys gaan studier, 'n beroepskeuse wat Wessel nie juis erg aan gehad het nie. Toe gebeur die onvermydelike ook nog: Jenine verloor haar hart, en die aanstaande was ook 'n onderwyser! Die toekoms het skielik baie donker gelyk, Wessel het pal 'n frons op die voorkop gehad. Hy moes 'n plan maak, anders was al sy harde werk, al sy suksesse, tevergeefs.

Toe Jenine weer een naweek huis toe gekom het, het sy die aspirant-onnie saamgebring. Sy naam was Heinie, 'n vriendelike jongman vir wie die lewe nog maar min vreugde opgelewer het. Dat Jenine die dogter van een van die land se voorste beestelers was, was vir Heinie 'n toevalligheid wat hy met 'n skouerophaal, negeer het. Heinie wou met kinders werk, nie met beeste nie - al was laasgenoemde dan ook spogdiere wat skougehalte was.

Toe speel Wessel sy weldeurdagte troefkaart. "Heinie, enigeen kan sien dat jy en my dogter ernstig oor mekaar is. Ek ken my kind, sy sal nie in jou belangstel as sy jou nie as 'n langtermyn-vriend beskou nie. Is julle ernstig met die verhouding?"

Heinie het geweet dat dit die aanloop tot iets baie meer gewigtigs was.
"Ek glo so, oom Wessel. Jenine is 'n baie spesiale meisie." Heinie moes van sy kant af ook die water toets. "Ons het nog nie daaroor gesels nie, maar ek wil graag dat oom-hulle weet dat ek nog altyd oor 'n meisie soos Jenine gedroom het. Sy is my trouvrou, oom Wessel!"

Daardie aand na ete, het die gesin op die ruim stoep , om die koffietafel gesit en gesels. Wessel het na sy vrou gekyk, keel skoongemaak en sy hart met die ander gedeel. "Jenine, ek en jou ma kan sien in watter rigting jou en Heinie se verhouding beweeg. Ons het 'n voorstel om aan julle te maak. Heinie, as jy bereid sal wees om die onderwys-ding te los en plaas toe te kom, my vennoot in die Pinzgauer-stoetery te word, sal ek my testament verander sodat alles eendag jou en Jenine s'n sal wees."

Nou ja, so is die twee verliefdes toe daar weg, terug universiteit toe. Daar is lank en ernstig gepraat, oor die voor- en nadele besin. Heinie was baie lief vir Jenine en het haar natuurlik gou die ja-woord gevra. Sy het dieselfde oor hom gevoel. Om vir Jenine en 'n moontlike nageslag die beste te kon gee waartoe hy in staat sou wees, was die eerste prioriteit in Heinie se lewe. Waar sou hy weer so 'n gulde geleentheid kon kry? Hoe sou die sukkel-bestaan van 'n jong onderwyser, ooit met die gemak en sekuriteit van 'n gevestigde, uiters winsgewende stoetery vergelyk kon word?

Om 'n lang storie, kort te maak: Heinie het toe ingestem, die tweetjies het 'n spogtroue op die plaas gehad - en Heinie het Wessel se regterhand geword. Hy het met mening ingeklim, wou so gou as moontlik by Wessel leer. Spoedig was Heinie dan ook 'n gerekende jongman, een wat self met gesag oor Pinzgauers kon praat. Hy en Jenine het die gemaklike lewe van welgesteldes gelei, was gesogte geselskap by vele gesellighede in die kontrei. Met 'n spoghuis om in te woon, die nuutste Duitse motor in die motorhuis, en 'n jaarlikse Mauritius-vakansie om na uit te sien, kon die lewe nie juis beter nie.

Die jare het vinnig verbygegaan. Wessel was al in sy sewentigs, het sy eie aandeel in die daaglikse bedrywighede afgeskaal en Heinie met alles vertrou. Die enigste vals noot, was die skielike afsterwe van Suna. Sy het net een oggend nie by die ontbyttafel opgedaag nie, sommer in haar slaap die laaste asem uitgeblaas - hartaanval. Heinie en Jenine het Wessel met onderskraging en liefde omvou, hom vertroos en ook die kinders (daar was toe al twee pragtige kleindogters) gevra om Oupa nooit alleen te laat nie.

'n Bietjie meer as twee jaar later, gebeur daar toe iets wat die wind uit Heinie en Jenine se seile geneem het. Wessel was in die Vrystaat vir 'n landbou-konferensie, en toe hy terugkom, was daar 'n vrou aan sy sy! Hy stel toe vir Rouxnelle aan hulle voor, 'n aanvallige weduwee van goed tien jaar jonger as Wessel. Sy was heel anders as Suna, meer modebewus en gesteld op persoonlike versorging. Sy het om Wessel gekloek en hom vertroetel en gevlei. Hy was duidelik in sy skik met die nuwe liefde, en het al haar attensies geniet.

Die slag was gelewer. Wessel en Rouxnelle het sommer daar op die dorp, voor die magistraat getrou.
Na 'n twee weke wittebrood in die Kaap, het Rouxnelle haar pligte as nuwe gasvrou, met glans en styl aanvaar en vervul. Alles wat Jenine na haar ma se dood gedoen het, was nie meer goed genoeg nie. Nuwe meubels is aangekoop, nuwe gordyne en ook 'n blinknuwe sportmotortjie waarmee Rouxnelle haarself op die dorp kon gaan bekendstel. Sy was die een vir onthaal, die een wat die ooglede kon laat wapper en die armbande in styl kon laat klingel. Sy het ook twee kinders uit 'n vorige huwelik gehad, en hulle ('n seun en dogter, met hulle gesinne) was gereelde naweekbesoekers. Daar is gebraai, partytjies gehou en selfs gedans - iets wat Suna destyds verfoei het.

Wessel was asof bedwelm, hy het alles gelate aanvaar en probeer meedoen, al was sy gesondheid nie meer te waffers nie. Na sowat tien maande, het ernstige hartprobleme ook vir Wessel, platgetrek. Hy was half in 'n koma, kon by tye nie eens meer duidelik kommunikeer nie.

 In hierdie tyd, het die familie se jarelange vriend, Jan de Winnaar, 'n prokureur, sy ou vriend besoek. Hy en Wessel was lank alleen, nie een van die ander huismense het gehoor waaroor die twee gepraat het nie. Dit kon ook nie veel gewees het nie, gedagtig aan Wessel se toestand.

Wessel se dood was voorbladnuus op die plaaslike, asook die nasionale koerante. Hy was immers een van die groot baanbrekers wat die Pinzgauer-beesras in die RSA gevestig het. Die flambojante partytjies wat sy siekte voorafgegaan het, het die vriendekring ook 'n stewige hupstoot gegee. Dit was dus 'n groot begrafnis, en Rouxnelle is met meelewing oorlaai. Sy is bejammer, want om so kort na 'n tweede, maar gelukkige huwelik, weer weduwee te moes wees, was 'n tragiese toestand van sake.

Die nuwe ma was skielik die middelpunt om wie alles gedraai het. Die trane was kortstondig, Rouxnelle het alles in gereedheid gekry, want die testament moes gelees word. Jan het die dokument in sy sak gehad, alles kon sommer daar by die teedrinkery afgehandel word. Heinie en Jenine het mekaar se hande vasgehou, hulle hartseer oor Wessel was rou en hulle het aan die toekoms gedink, hoe Rouxnelle dit sou verwerk dat sy voortaan slegs 'n gas op Heinie-hulle se plaas sou wees - nie meer die baas se vrou nie. Wessel het mos voor Jenine se troue, oop kaarte met hulle gespeel.

Jan het stroef voorgekom. Sy blik was afgewend, hy het skoon beteuterd gelyk - alles behalwe die suksesvolle prokureur.

"Soos van julle seker weet, ek was nie lank voor Wessel se dood nie, hier op die plaas. Wessel se verstand was daardie dag opvallend helder, hy het duidelik en sinvol gepraat. Hy het my toe gevra om sy ou testament nietig te laat verklaar, hy wou 'n nuwe een opstel."

Heinie het 'n koue trek deur die voordeur gevoel. Jenine het haar man se hand styf omklem.
Jan het sy leesbril opgesit. "In kort kom dit daarop neer dat Wessel alles wat hy besit, al sy plase - hierdie een ingesluit - en sy stoetery, aan sy nuwe eggenote, Rouxnelle, bemaak het."

Twintig jaar van harde werk, aan Wessel se sy, was tevergeefs. Heinie het sy studies prysgegee, sy droom om 'n onderwyser te wees, sy hele jonglewe. Vir wat? Hy en Jenine het nie eens 'n eie huis besit nie, net die motor en 'n paar stukkies meubels. Wat moes van hulle word? En die twee dogters?!

Rouxnelle was onversetlik. Wessel het haar as erfgename benoem, en so sou dit wees. Daar was rusies, Jenine het haar stiefma 'n paar onkiese dinge toegesnou en Heinie het vergeefs gepleit. Rouxnelle het hulle afsydig aangekyk. "Ek het twee kinders, hulle sal by my erf."

Jare van swaarkry, gekrenkte ego's, wraakgedagtes en persoonlike krisisse het gevolg. Uiteindelik moes Heinie en Jenine hul heil op 'n vreemde se plaas, gaan uitwerk. Heinie kon darem sy uitgebreide boerdery-kennis gebruik om as plaasbestuurder, genoeg te verdien om die balju van die voordeur af weg te hou. Al het die dorpenaars en van die ander boere hulle oor Heinie-hulle ontferm en gehelp waar hulle kon, het die tweede testament hul lewens geknak. Rouxnelle se kinders het hul intrek op Merlot geneem, die Pinzgauers is spoedig verkoop - en Rouxnelle se eiewaan en swierige lewenstyl, het nuwe afmetings aangeneem.

Ma's is geliefde mense. Ma's sorg mooi vir hulle eie kinders, maar 'n tweede, nuwe ma kan iets heel anders wees ...