Thursday 23 November 2017

Die droomhek

Dit was 'n maanverligte Desember-aand in 1974, toe ek en die befaamde wildveearts, dr. Eddie Young, voor een van Onder-Sabie se vinkneste (drie rondawels as 'n eenheid gebou) gesit en gesels het. Ons dagtaak was volvoer en ons het so met 'n koffietjie in die hand, rustig na die gesellige vuurtjies wat oral in die kamp sigbaar was, gekyk.

"Ek mis vir Vic", het Eddie die stilte verbreek. "Hy moes ongelukkig daar op Skukuza agterbly."

Ek het geglimlag en aan die mak jagluiperd gedink. Dr.Young het 'n paar dae tevore aan my verduidelik waar die naam "Vic" vandaan gekom het. Hy het dit self uitgedink, dis 'n afkorting vir "very important cheetah". Baie oorspronklik, het ek gedink. Dit was net Vic se ... ongemaklike gewoonte wat my die ritteltits gegee het! Die kolletjieskat het, wanneer hy jou van nader wou beskou, teen 'n mens opgespring, so met die voorpote teen jou skouers - en daardie stip, deurdringende kykers het jou as potensiele prooi getakseer (of, so het dit altans vir my gevoel!).

"Dis 'n baie besonderse dier daai! Sekerlik een van die wildtuin se mooistes, saam met die swartwitpens en die buffel", het ek my mening met Eddie gedeel.

Eddie het strak voor hom uitgetuur. Iets het gepla, dit kon ek duidelik agterkom. Ek wou egter nie vra nie, want ek was maar net 'n student wat vakansiewerk gedoen het, en hy 'n gesiene man wat alom bekend was.

Na 'n minuut of vyf, het Eddie gesug. "Ai, ek is diep bekommerd oor die bek-en-klouseer wat weer sy kop uitgesteek het. Die paar gevalle by Krokodilbrug het ons hanteer, maar ek is seker daar moet nog gebiede wees waar dit voorkom - ek het juis die ander nag 'n eienaardige droom gehad ..."

Hierdie keer het die nuuskierigheid my beskroomdheid gekelder. "Mag ek vra wat dokter gedroom het?"

"My droom was juis oor bek-en-klou. Ek het gedroom dat ek tussen 'n groot trop buffels was, en daar was 'n hele klomp van hulle wat die simptome gehad het. Verder onthou ek dit was by 'n ou hek, binne die wildtuin." Eddie het oor sy bles gevryf, so asof hy hard probeer het om daardie geheimsinnige, ou hek in sy gedagtekaart vas te pen.

Waarom, kon ek agterna nooit bepaal nie, maar op daardie oomblik het 'n herinnering op my onthou-skerm verskyn.

"Dokter laat my nou dink aan daardie stokou rondaweltjie daar op die grondpaadjie naby die Rabelaisdam. Dokter weet mos, dis nie ver van Orpen af nie."

Eddie se hand het op sy kop verstil. Hy het stadig opgekyk en bevestigend geknik. "Ja, ek weet presies waar daardie ou geboutjie is. Daar was 'n hek in die ou dae ..."

Dit was die einde van ons gesellige samesyn daardie aand. Eddie het my 'n rustige nag toegewens, en haastig na sy rondawel gestap.

Toe ek die volgende oggend vir ontbyt by die restaurant aanmeld, was daar geen teken van die wildtuin se hoof-veearts nie. Ek het ou Wilson, die hoofkelner, nader gewink.

"Was dr. Young al hier vir ontbyt?" het ek gevra.

Wilson was sy gewone, goedige self. "Ja, hy het gevra dat ek vir hom 'n toebroodjie vir die pad moes maak. Hy is weg, Orpen toe."

Dit was die jare voor selfone. Ek het al om die ander dag daarna , die kampbestuurder, oom Tielman Roos, gevra of hulle iets van Eddie Young gehoor het.

Na meer as 'n week, het een van die veldwagters wat die middag op Onder-Sabie kom eet het, die tyding gebring. Eddie Young slaap saans op Orpen, werk bedags daar naby die Rabelaisdam. 'n Groot trop buffels het daar saamgetrek - en tussen hulle was 'n hele paar wat die simptome van bek-en-klouseer getoon het.

So het Eddie se droom, en my herinneringe aan 'n vervalle, ou rondaweltjie, gehelp om as 'n soort voortydige GPS, die veearts na die regte plek te lei.

Monday 13 November 2017

Naelloop met 'n verskil

Elkeen wat in die jare sestig 'n leerling in Laerskool Elandshoek was, sal met my saamstem dat dit 'n groot voorreg was! Die omgewing was idillies mooi, die klein plaasskooltjie het gesorg dat elkeen van ons individuele aandag gekry het - en die gewone skoolaktiwiteite is op vindingryke en onvergeetlike wyses aangebied.

Oom Bert Kleynhans was die skoolhoof. Die geboutjie was hoog op, half teen 'n berg gelee, met oom Bert se 'ampswoning' nog 'n entjie verder op. Hy het selfs 'n paar melkkoeie aangehou, en die skool het soggens eers begin wanneer oom Bert klaar gemelk het! Afhangende van hoe lank dit oom Bert geneem het om die koeie die oggend aan te keer en die melkproses af te handel, sou die koper handklok dan enige tyd tussen halfagt en halfnege, die skoolbegin tot doer onder in die vallei, aankondig.

Daar was net drie klaskamers: een vir graad een, twee en standerd een; een vir standerd twee en drie; en dan die derde een vir standerd vier en vyf. Ons was net vier en sestig kinders in die skool, van wie omtrent 'n derde vanaf Kaapschehoop en Coetzeestroom, per bus aangery is.

 Ek was die enigste een van Ngodwana, waar Pa die stasiemeester was. Soggens het Pa my onder 'n groot doringboom, daar waar die dorpie Ngodwana se winkelsentrum vandag is, afgelaai en smiddae weer kom oplaai. Ek het ook in die Kaapschehoop-bus gery, so 'n vuilgeel Guy-bus met 'n plat neus en die profiel van 'n Rooihuid, voor teen die enjinkap.

Gedurende pouses, het feitlik die hele skool se kinders, klippie-agter-die-rug op die sestien trappies wat af na die parkeerterreintjie, onder by die flabojantbome, geprakseer was, gespeel. Die paar wat nie saamgespeel het nie, was van die ouer seuns wat gewoonlik na rook geruik het.

Maar, ek wil van die atletiek vertel. Om 'n span te kon kies wat aan die jaarlikse interlaer op Nelspruit sou kon deelneem, was Elandshoek genoodsaak om kragte met 'n nog kleiner skooltjie in die omgewing, Berlin, saam te snoer. Berlin was 'n bosbouskooltjie, hoog in die berge na Kaapschehoop se kant toe.

Omdat Elandshoek se skooltjie so teen 'n skuinste op was, was gelyke areas maar aan die skraps kant. Die skoolgebou het feitlik die hele gedeelte wat teen die berg wat min of meer waterpas was, beslaan. Daar was dus nie sprake van 'n atletiekbaan (of enige ander sportvelde) nie.

Toe maak oom Bert-hulle 'n plan. Die koeie het met die jare 'n sydelingse paadjie teen die berg uitgetrap. 'n Paar hulpvaardige ouers het hand bygesit, en die paadjie is verbreed, skoongeskoffel en gelyk gemaak. Die leerlinge moes help om al die klippies en dorings te verwyder, sodat daar kaalvoet op daardie gedeelte, gehardloop kon word. Oom Bert, 'n lang man, het self die vyf en twintig tree afgetree.

Toe moes daar uitdunne gehou en geoefen word! Geen verskonings is aanvaar nie, almal moes die stof-'baan' trotseer. So hier en daar, het iemand 'n gilletjie gegee wanneer 'n skerp takkie of doring wat die skoonmaakproses oorleef het, onder 'n voet beland het. Die uwe was nie veel van 'n naelloper nie, maar ek het nogtans my beste gegee - met die hoop dat die mooie Elize French my sou raaksien!

Om vir die 50 tree te oefen, was 'n verdere uitdaging. Soos ek reeds gemeld het, die 'baan' was net vyf en twintig tree lank, presies die afstand wat een van die vier atlete tydens 'n aflos, moes afle.

Weer moes innoverend gedink word. Mnr. Ebersohn, die enigste ander mansonderwyser, besluit toe dat juffrou Vera as't ware die ideale 'aflosstokkie' sou uitmaak. Sien, jy hardloop op jou vinnigste tot by haar, raak aan haar (ons het van "touch" gepraat), vlieg om so vinnig jy kon - en le dan weer rieme neer na die beginpunt toe. Soos dit hedendaags met 'n Chad le Clos die geval is, was dit die "touch" en omvlieg, wat jou sukses bepaal het.

Koos Pieterse, ook in standerd twee, was nogal heel vlugvoetig. Hy was seker van sy plek in die span, maar hoe hy ookal aangemoedig is, hy kon net nie die raak-en-omvlieg deel vinnig genoeg doen nie. Daar is geskree, geraas en gefluit, maar Koos se voorsprong het net tot by juffrou Vera gehou.

Nou ja, ek en Koos was busmaats en was destyds die enigste lede in ons eie bende. Ons het nie geheime vir mekaar gehad nie, daarom het ek een middag na oefening, vir hom gevra hoekom hy nie daardie belangrike draaislag, onder die knie kon kry nie.

Koos het effens gebloos, en toe met die waarheid vorendag gekom. "Ag, ek gee nie om dat ek nie vinnig kan draai nie. Dis darem baie lekker om aan Juffrou te vat!"

Koos het daardie jaar nie te waffers by die interlaer gevaar nie. Dit was veral die 50 tree wat buite sy gemaksone was, want daardie "verposinkie" by die draaislag tydens die oefeninge, het sy ritme soos in heeltemal versteur en hy was duidelik nie gereed om die hele naelloop sonder 'n "touch" te voltooi nie!


Sunday 12 November 2017

'n Tiekie se vreugde

Toe ons groepie agtjariges aan die begin van 1960 daar by Nuwe Bethal Laerskool, in klasse ingedeel is, het my vreugde en opgewondenheid geen perke geken nie! Nie alleen was ek, die mooie Marina en my beste albastermaat, Krisjan, in dieselfde klas nie - ons was op die koop toe in die mooiste juffrou in die skool, se klas!

Juffrou Niemand was enige seun wat ... wel, 'seun' begin voel het, se droom! Haar pragtige gelaatstrekke was met donker haarkrulle omsoom, en sy het elke dag ongelooflik lekker geruik. Ons het allerhande verskonings uitgedink om by haar lessenaar te gaan staan, net om die geur van haar wonderlike parfuum te kon inasem. Alles van en aan haar (dis nou wat ons kon sien en van bewus was) was prima verby!

Op 'n dag besluit die geluksgodin om my en Krisjan se glas van geluksaligheid, nog voller te maak. Juffrou Niemand vra of ons aan die begin van pouse na haar klas kon kom, daar was iets wat sy ons wou vra. So vinnig as wat ons bene ons kon dra, hol ons toe na klaskamer nommer 5, net na die klok uiteindelik gelui het.

"Dankie dat julle so gou gekom het", het die juffrou vriendelik en met daardie Penny Coelen-glimlag, ons nader gewink. "Ek moet van nou af, elke Donderdagmiddag na skool agterbly om korfbal af te rig. Julle weet mos waar oom Lundall se kafee is?"

Ek en Krisjan het beide vorentoe gebeur om eerste te kon reageer. "Ja, Juffrou!" het ons feitlik gelyk geantwoord.

"Dan is dit goed. Ek wil vra of julle twee outjies nie so gaaf sal wees om elke Donderdag, wanneer die laaste periode begin, vir my 'n pakkie slaptjips en 'n worsie by die kafee te gaan koop nie". Weer het sy ons met daardie engel-glimlag oorrompel.

Hierdie keer het ek Krisjan voorgespring. "Natuurlik sal ons, Juffrou! Die kafee is net twee blokke van die skool af!" Krisjan het oorgretig sy kop instemmend geknik.

Juffrou Niemand het opgestaan. "Nou goed, dan is dit afgespreek. Ek sal vir julle 'n tiekie gee, dan kan julle elke keer vir julle ietsie lekker koop om te kou as julle terugstap."

So het Donderdae, toe hemeldae vir ons geword. Ek was soggens al teen hanekraai aan die gang, en het telkens gesorg dat my ore skoongewas en my hare ordentlik gekam was. Krisjan het selfs van sy pa se Bryll Cream gegaps om sy hare ekstra glad en blink te kry. Ek het ook geweet waar Ma haar XXX-pepermente weggesteek het, en twee of drie in my sak gedruk, sodat my asem lekker sou ruik, indien ek met Juffrou moes praat.

Ek en Krisjan het daardie eerste Donderdag, oom Lundall se kiosk goed bekyk. Die tiekie was veilig in my broeksak, ons moes sien wat daar vir 'n tiekie beskikbaar was. Eers het ons Chappies oorweeg, maar ons ma's was beide anti-kougom en sou vinnig agtergekom het as ons borrels geblaas het. Toe het ons die Wilson's-toffies oordink, maar oom Lundall s'n was van daardie ekstra harde toffies wat jou 'n tand of twee kon gekos het as jy dit probeer kou het.

Toe sien ek die piepklein blikkies kondensmelk raak! Die Nestlé-fabriek was naby die skool, en vir presies 'n tiekie, kon jy een van daardie blikkies soetigheid koop. Die besluit was geneem: kondensmelk was koningskos, en iets wat ons maar selde in die huis gehad het. Ouma het gereeld vir ons 'n bieliekannetjie vol vars melk van die plaas af saamgebring, as sy 'n dosyn of wat eiers by die kafee kom aflewer het. Kondensmelk is net gekoop, wanneer ons Badplaas of wildtuin toe gegaan het.

Voor die kafee se sifdeur, was 'n botteloopmaker aan 'n houtstomp vasgemaak. Dit was mos die tyd van glasbottels, dit was lank voor die dae van koeldrankblikkies. Ons kon twee gaatjies in die kondensmelkblikkie se boonste gedeelte druk, en so die heerlike soetigheid uitsuig.

Die terugtog skool toe, was teen 'n heelwat stadiger pas as die stappie kafee toe! Ons het beurte gemaak om 'n teugie te vat, en het mekaar met 'n valkoog dopgehou. Die een sou nie toelaat dat die ander een, 'n groter slukkie as hy, gevat het nie.

Ons het nooit eens daaraan gedink om een van Juffrou se tjips te skaai nie, daarvoor was die kondensmelk te lekker! Ons passkatting was ook perfek, want as ons die laaste draai voor die skool, daar by Anna Koen-hulle se bloudakhuisie, gevat het, was die blikkie gewoonlik op sy laaste en moes jy hard suig, om 'n laaste, taai druppeltjie uit te kry.

Die Donderdag-roetine het net tot na die korfbalseisoen aangehou. Dit was ook goed so, want toe het my en Krisjan se vriendskap ook tot 'n einde gekom. Sien, HY wou toe mos skielik Annatjie Naudé se tas smiddae as ons huis toe gestap het, dra. Maar, dis nou weer 'n ander storie.

Ai! Waar is die dae toe 'n kleine tiekie, 'n twee-en-'n-halfsentstukkie, jou selfs na 'n Donderdag kon laat uitsien het ...



Sunday 5 November 2017

Te veel gevra!

As die kalf soms in die put is, moet ekstra hande noodgedwonge inspring om te red wat te redde is. Tog het alles perke, en nie almal neem daarmee verlief dat opdragte uit die bloute, summier uitgevoer moet word nie.

Daardie Desember het die vakansiegangers Olifantskamp behoorlik toegesak. Die beamptes en algemene werkers het swaar getrek om aan al die versoeke te voldoen - en nog steeds, ook met hul normale aktiwiteite voort te gaan. Daar was nie sprake van ekstra personeel nie, want twee van die permanente werkers het hul jaarlikse verlof geneem en ek was die enigste plaasvervanger. Dit het meegebring dat ek daagliks drie skofte moes werk: soggens in die winkel, dan weer tussen een en halfvier in die ontvangskantoor, en laatmiddag tot sluitingstyd, terug winkel toe.

Ons was almal maar redelik uitgeput. Wanneer 'n toerbus gestop het, het jy geweet dat al wat lappie en ornament was, weer bevat en bevoel gaan word, en heel waarskynlik NIE op hulle gewone plekke teruggesit sal word nie. Dan moes ek en tannie Ray ('n rou Engelse vrou met 'n gebrekkige Afrikaans-vermoe) weer opvou, regpak en skoonmaak. As dit 'n bus met buitelanders was, het ek Olifants se beroemde uitsigpunt oor die rivier, gebruik om van die malende menigte ontslae te raak.

"Did you see the elephants down at the river?" sou ek gemaak-terloops vra. Met die kameradraers aan die voorpunt, was dit vinnig-vinnig 'n opgewonde tou mense af na die uitkykpunt toe. Selfs wanneer dit Duitsers was, kon ek my Duits 1- kennis gebruik, "Haben Sie die Elefanten am Fluss gesehen?" En terwyl die klompie afgeskarrel het kampdraad toe, kon ons weer orde skep.

So breek Kerstyd toe aan. Die kampbestuurder, die goedige oom Eric Deacon, se vrou (tannie Petro)was die restaurantbestuurder, en sy het haar kommer oor die baie gaste vir die Kersmaal uitgespreek. Daar was net eenvoudig nie genoeg hande in die kombuis om die spyskaart tot sy reg te laat kom nie - om nie eens van al die opruim en berge skottelgoed, te praat nie!

Toe roep oom Eric ons een aand na toemaaktyd byeen. "Mense, daar is nie ander raad nie. Julle sal almal Kersdag by die restaurant moet gaan help. anders kan ons nie die toeriste hanteer nie. Ek sal 'n rooster uitwerk, sodat julle weet wanneer elkeen 'n draai in die kombuis moet gaan maak. Help asseblief waar julle kan, ons gaan baie besig wees!"

Die volgende dag, is daar druk onder die personeel bespiegel oor wat presies van elkeen in die kombuis verwag sou word. Die meeste van ons het oom Eric se versoek gelate aanvaar en die situasie verstaan, maar nie tannie Ray nie! Sy kon haar verontwaardiging nie wegsteek nie, en het met teatrale gebare verduidelik dat sy NIE die soort dame was wat haar hande in warm (of koue) water sou steek nie. Hoe sou haar goedversorgde naels lyk? Dink net hoe warm so 'n kombuis op Kersdag sou wees - wat van haar grimering?!

So het die dag op wieke van klagtes en misnoee verloop. Tannie Lossie Snyman (sy het as winkelbestuurder waargeneem) het Ray se heftige besware komies gevind en telkens vir my met 'n groot glimlag geknipoog, wanneer die Engelse tannie weer die arms uit protes begin rondswaai en haar ongelukkigheid verwoord het.

Die dag voor Kersfees, was ons mierbesig! Die winkel was oorbevolk en letterlik duisende voete het die vloer deurtrap. Ek kon sien dat tannie Ray nie haarselwers was nie, want normaalweg sou sy met die klante gesels en vriendelik hulpvaardig gewees het. Daardie dag was sy stroef, half befoeterd en ek het gemerk dat sy af en toe die kop geskud het.

Toe die laaste toeriste genadiglik die winkel verlaat het, moes ons oudergewoonte help opruim, terwyl tannie Lossie en die beamptes by die kasregisters, die daaglikse balansering gedoen het.
Dis toe dat tannie Ray voor my kom staan, hande op die heupe en die kop uitdagend gelig. "Daai man kan sy eie vuilwerk doen!" het sy uitgevaar. "Ek sal NIE die potte se gatte skrop nie!"

Nodeloos om te noem, ons ander het geskater van die lag! Om na 'n soutie te luister wanneer hy of sy Afrikaans met 'n swaar Engelse aksent probeer praat, is klaar skreeusnaaks, maar as die woordkeuse op die koop toe jou lagspiere verder prikkel, ontaard die situasie in 'n geproes wat nie maklik bedwing kan word nie.

Die volgende dag het ons toe wel ons diensbeurte in die restaurant gehoorsaam - sonder tannie Ray! Sy hoef egter nie bekommerd te gewees het nie, want ons het net met die bediening en afdek van tafels, gehelp. Die potte se ... bome, is deur die ander kombuispersoneel bygedam!



"

Hy sal voorsien ...

Soms kom die liggelowige mens voor 'n oenskynlik onoorkombare kloof te staan. Jy dink in alle rigtings, maar lig wil net nie deurbreek nie. Maar, daar IS altyd hoop - soos ek in my eenvoudige menswees, tot my groot verleentheid moes ondervind.

Ons jongste, Gert, se grusame tref-en-trap ongeluk in 1994, het die wind heeltemal uit ons seile geneem. Te midde van bitter min slaap, konstante gebede en groot kommer oor die astronomiese finansiele implikasies, het die lewe ons via die Nelspruit MediClinic, Park Lane-kliniek in Hillbrow en Barney Hurwitz-instuut in Brixton, op 'n feitlik onhanteerbare wipwarit van tuimelende emosies, meegevoer.

Breinskade - en dit by 'n kind van skaars sewe jaar oud - is as sulks reeds 'n vreesaanjaende gedagte. My vrou het pal aan Gert se sy gebly, maar ek moes terug Barberton toe, waar ek so goed as wat ek enigsins kon, met my dagtaak aangegaan het - veral ter wille van ons ander seun, vir wie die lewe (hy was toe net nege) ook onverwags erg gekompliseerd geword het. Naweke het ek die langpad Johannesburg toe, aangedurf en telkens gebid dat ek tog net veilig daar , en weer op ons tuisdorp, sou uitkom.

Verblyf was natuurlik 'n verdere uitdaging. Die hospitaalbestuur het goedgunstiglik ingestem dat my vrou tydelik in die verpleegsterstehuis kon aanbly, maar daardie vergunning het nie vir my gegeld nie. Na 'n paar naweke in ongerieflike, ver oornagplekke was ons geldjies boomskraap. My vrou het mooi gevra, en toe stem hulle in dat ek een naweek by haar in die tehuis kon bly. Die tarief sou later met my uitgeklaar word.

Daardie Saterdagmiddag, gebeur daar toe twee uiteenlopende dinge: een wat vir ysvingers om die hart gesorg het; en een wat tot trane en skietgebede van dankbaarheid, gelei het.

Terwyl ons so om Gert se bed gesit en angstig op enige teken van herstel gewag het, daag sy  klasonderwyseres (Esmarie Jacobs) onverwags daar op. Sy was die naweek by haar ouers aan die Rand, en het besluit om na Gert se welstand te kom verneem. Ons was verheug! Gert was erg oor sy juffrou, en ons kon verstaan waarom sy so diep in sy hart gekruip het. Haar vriendelike en innemende persoonlikheid, opregte meelewing en medemenslikheid, was 'n groot troos vir ons en ons het die besoekie so baie waardeer. Die bloedrooi speelgoedkarretjie wat sy saamgebring het, sou sekerlik gehelp het om Gert se gemoed op te kikker.

Toe sy opstaan om te groet, het die juffrou 'n beterskapkaartjie (in 'n koevert) aan ons gegee. Sy het
vriendelik gegroet, en ek het saam met haar na haar motor gestap. Ek het haar 'n veilige terugreis toegewens, en weer die gebou binnegegaan om sommer daar by die ontvangskantoor, te gaan verneem hoeveel ek hulle vir my verblyf van twee nagte, geskuld het.

Wat 'n skok! In vandag se terme, klink vyf honderd rand nie na baie geld nie, maar glo my, in 1994 was dit nie sommer kleingeld nie - veral vir ons, wie se bankrekenings in die droesem was. Nadat ek brandstof vir die terugreis moes ingooi en twee burgers vir aandete gekoop het, het ek nie eens die helfte van die vereiste bedrag gehad nie!

Daardie aand het ons verslae, en tot die dood toe moeg, in die kamer gesit en mekaar probeer troos. Ons het nie familie of kennisse in die stad gehad by wie ons hulp kon gaan vra het nie. Ek het op 'n stadium belangeloos die koevert met die kaartjie in, oopgeskeur ...

Binne-in die beterskapkaartjie, was 'n mooi, besielende boodskappie - en presies vyf honderd rand!
Ek het die meegaande naskrif vir my vrou gelees, "Gebruik dit maar na goeddunke. Dit word met liefde gegee."

Ek het my kop weggedraai en kon die trane nie keer nie. Skaamte het my oorval, omdat my geloof so klein en ek so 'n swak mens was. Hoeveel keer moet die Here dan nog bewys dat by Hom, niks onmoontlik is nie?

Gert was na 'n maand weer by die huis, en het sedertdien merkwaardig herstel. So hét  Hy inderdaad voorsien ... en doen dit steeds, na al die jare!


Bydrae tot die opgradering

Die uwe was vir meer as drie dekades, die man agter die mikrofoon by talle skole-atletiekbyeenkomste. Selfs opponentskole het van my entoesiasme vir atletiek, gebruik gemaak - gewoonlik met 'n byvoordeel of twee, maar eenkeer met skokkende gevolge!

Ek kon nooit verstaan waarom skole so gesukkel het om aankondigers te kry nie. Dink net: jy sit daar hoog en droog, sien alles vanuit 'n bevoorregte stoel en kan beide baan- en velditems ten volle geniet. Op die koop toe, het jy kennis van alle uitslae, en kan jy 'n atleet se vordering monitor. Vir hierdie geswore atletiekman, was dit 'n takie wat lekkerder as roly-poly was!

Toe gebeur dit dat die destydse hoof van 'n Laeveld-skool, vra of ek nie asseblief as aankondiger by hul jaarlikse vriendskaplike byeenkoms sou optree nie. Natuurlik het ek dadelik ingestem, veral ook omdat ek en die hoof mekaar dikwels op die tennisbane tydens ligawedstryde raakgeloop het en goed bevriend was.

Omdat 'n nuwe onthaallokaal (waarbinne die aankondiger se hokkie was) in aanbou was, is 'n vierkantige tent langs die gebou opgeslaan, met die klankstelsel en die nodige tafels en stoele vir my en die twee dames wat die uitslae moes verwerk, binne. Dit was geen probleem vir my nie, want die mense was die vriendelikheid self en ek het sommer geweet dat dit 'n aangename dag sou wees.

Die enigste teeblaar in die koppie, was die feit dat dit die oggend vroeg gekiesa het en die area rondom genoemde tent, is vinnig deur die baie voete wat daar verby is, tot pappery getrap. Langs die tent het die water 'n klein dammetjie gevorm, met 'n moedswillige stroompie wat onder die tentflappe deur, die tydelike 'aankondigerslokaal' binnegesyfer het.

Dit het my effens gepla dat die elektriese bedrading grondlangs vanaf die onvoltooide gebou, na die tent aangele was, maar die byeenkoms was vinnig aan die gang en ek moes die eerste groep items se atlete uitroep en my aandag by die 400 m hekkies vir seuns 19, bepaal. 'n Paar ander hekkies-items het gevolg, en die eerste uitslae moes gelees word.

Toe ek die mikrofoon vir die uitslag van die 300 m hekkies vir meisies 15 aanskakel, het ek net sterretjies gesien! Dit was asof 'n weerligstraal my getref het - en ek was uit soos 'n kers! Agterna sou ek hoor dat 'n paar oorblufte en gewillige arms my na die noodhulptent gedra het en ek na 'n ruk weer daar tot die land des lewendes bygebring is.

Genadiglik was die skade nie te erg nie, ek kon na 'n uur of wat weer orent kom en weer van alles en almal om my, bewus raak. My hart moes heel sterk gewees het, want die elektriese skok het my met geen mediese nagevolge gelaat nie.

Die gasheerskool se hoof en personeel het om my gekloek, warm koffie en soetgoed aangedra en herhaaldelik verneem of ek 'oukei' was. Dit was 'n groot verleentheid vir hulle, ek het my bes gedoen om hulle gerus te stel en probeer om met 'n kwinkslag of twee, hulle kommer te besweer.

Die gevolge van my redelik traumatiese ondervinding, was nogal heel verreikend. Behalwe dat die skool se adjunkhoof toe inderhaas by my as aankondiger moes oorneem (my versekering dat ek met my taak sou kon voortgaan, het op dowe ore geval), is ek teesinnig na die plaaslike hospitaaltjie geneem, waar deeglike toetse op my uitgevoer is.

Die daaropvolgende jaar, sou ek egter eers die grootste reperkussie van my skokkende (!) ervaring, verneem. Die bouplanne is inderhaas gewysig en die aankondigerslokaal in die nuwe klubhuis, is vergroot en met die nuutste klanktoerusting - met die beste veiligheidskenmerke! - toegerus.

Weer was die uwe agter die mikrofoon, maar hierdie keer in styl en groot gerief . Gedagtig aan wat die vorige jaar gebeur het, is daar na my welstand verneem, en koffie en melktert is al om die ander uur, aangedra. Soos reeds genoem, was die byvoordele nie te versmaai nie!

Die beamptes wat deesdae die gemak en gerief van Hoerskool Sybrand van Niekerk daar op die mooie Sabie, se pragtige klubhuis geniet, weet nie eens dat ene Kobus de Wet, 'n direkte, ongemaklike bydrae tot die opgradering, gelewer het nie!