Saturday 29 June 2013

Ouma hoef nie skaam te kry nie

In 1961 was ek 'n opgeskote buksie in Nuwe Bethal Laerskool (vandag Marietjie van Niekerk). Ons het in Parkstraat, so twee blokke van die skool af, gebly. Skuins agter ons tweeslaapkamer-huisie, was die bruingeverfde Hervormde Kerk. Omdat ons NG was, het ons nooit in hierdie naby-kerk gekom nie - tot ek die dag saam met Ouma na Miem Bekker se man se begrafnis toe was.

Miem was 'n suster van ta'Attie, Ouma se skoonsuster. Ewenwel, ons is toe daar tussen die ander begrafnisgangers, ek en Ouma. Soos dit destyds betaamlik was, wag ons toe saam buite, dat die kis die kerk ingedra moes word. Ouma het hier gegroet, en daar gewuif, want sy was alombekend en daar was in elk geval bitter min Bethallers wat nie familie was nie.

 Ek het maar gedwee langs Ouma gestaan, en die kis se verbygang afgewag - nie 'n lekker ervaring vir 'n 9-jarige nie. Die swart wa (dieselfde een wat Oupa in 1957 graf toe vervoer het) het reeds voor die kerk in die straat gestaan. Binne-in kon ek die kranse sien, destyds sulke rondes, met glas of plastiek bedek.

Toe gee die ondernemer die teken en die draers staan nader. Ouma het my aan die arm eenkant toe getrek, ek vermoed ek het uit nuuskierigheid, die pad versper. So is die kis toe uit die lykswa gelaai, en span 1 het die kis stadig en statig kerkwaarts begin dra.

Ek was nog so aan't  aanskoue, toe ek Ouma langs my hoor snuif.

"Gmf! Dis nou 'n spektakel!" Ek het nie mooi verstaan waarvan Ouma gepraat het nie. Eers het ek gedag sy het na van die tannies se rokke of hoede verwys, maar haar fokus was duidelik op die swart kis  (donker hout, het vir my soos swart gelyk) wat reeds teen die kerktrappies uit gedra is.

"Ouma ?" Ek kon nie help om op die onvergenoegde uitdrukking op Ouma se gesig, te reageer nie.

Toe raak Ouma iets kwyt wat ek destyds nie as humoristies durf beskou het nie, maar wat my na so baie jare, steeds laat glimlag.

"Ek skaam my dood as hulle MY eendag in so 'n kis begrawe!"

Ouma is in 1983 oorlede. Haar begrafnis was vanuit die NG Kerk, Bethal-Noord - so twee blokke na die dorp se kant toe, vanwaar ons destyds gewoon het. Toe ek voor die diens 'n draai by Doves se onderneming gaan maak het, het ek gesien dat oom Koos (Ouma se broer), Ouma se OTK-aandele darem korrek aangewend het: die kis was van ligte, glansende hout.

Ouma sou haar nié geskaam het nie. 

Friday 28 June 2013

Senutergende lus.

Die dorpie Morgenzon was in die vyftiger jare 'n mooie plekkie. Daar het 'n plaasatmosfeer geheers, mense het mekaar in Afrikaans aangespreek. Die spoorwegstasie met sy pragtige sandsteengebou en adrette tuintjie, was 'n gewilde bymekaarkomplek wanneer die boere melkkanne kom wegstuur of afhaal het. Dit was egter oom Piet Mens se handelshuis, skuins agter die stasie, waar dinge werklik aan't gebeure was ...

Oom Piet was 'n gemoedelike man wat sy klante geken het. Sy winkel was immer oordadig gepak met velerlei benodigdhede, asook daardie klein verrassinkies wat dikwels reaksies soos "My genade, Piet! Waar kry jy hierdie gedoentetjie?" of "Ek het so nooit as te nimmer gedink ek sal soiets nog raakloop nie!" ontlok het. Die handelsware het elke hoekie en rakkie gevul - selfs teen die dak, was daar hake en spykers wat goetertjies wat kon hang, laat hang het. Ek herinner my dat Ma by oom Piet van materiaal, tot pypkaneel, tot 'n eierklitser en groente, gekoop het.

Wat oom Piet se plek egter heel uniek (en meer as ietwat makaber) gemaak het, was dat die oom sommer ook Morgenzon se lykbesorger was. 'n Klein kamertjie, waar daar saans 'n dowwe liggie deur die enigste venstertjie geskyn het, was oom Piet se werkplek waar die lyke gekis is. Daar was nie binne die winkel plek om die kiste te adverteer en uit te stal nie, hulle is sommer onder die stoep-afdak opmekaar gestapel, so in die een hoek van die stoep. Die meeste klante het die winkeldeur so van die teenoorgestelde kant af benader, om darem respekte te betoon, of sekerlik ook om die gedagtes by dit wat gekoop moes worre, te bepaal.

Wanneer Ma haar aankope op die toonbank neergesit het, het oom Piet sy hande aan sy voorskoot afgevee, die regte grootte kardoes van onder die toonbank opgediep, en die ware is opgelui. Na die transaksie afgehandel is, het hy my nadergewink en dan die groot, boepensfles met suikerklontjies in, geneem en die ronde deksel losgedraai. Sy hand is dan in die fles gesteek, het 'n klompie klontjies vasgevat en dan is dit in 'n klein, langwerpige kardoesie gegooi en met 'n groot glimlag, aan my oorhandig. Ma moes my dan met die elmboog in die ribbes, daaraan herinner om 'n woord van dank te spreek, want ...

... daai hand, was dieselfde hand wat met die lyke gewerk het!! Ek kon telkens net 'n bewende arm uitsteek om die sakkie by oom Piet te vat. In my gedagtes het ek hom in die klein kamertjie gesien, so met die lyke saam. Ek het sonder uitsondering die koue rillings deur my lyf voel trek, en die sakkie so met net die nodigste vingerpunte vasgehou!
"Die kind is tog so beskroomd, nie so voor-op-die-wa soos vandag se kinders nie, " het oom Piet Ma gekomplimenteer. Dan het ek grond toe gekyk, en aan Ma se rok getrek, sodat sy haar loop kon kry.

Die terugrit Bethal toe, was senutergend verby! Die kardoesie was langs my op die sitplek, en ek het kort-kort in daardie rigting gekyk en gewonder of daardie lekker groenes ook tussen die ander klontjies was. Na etlike myle, sou ek dan versigtig binneloer, en wanneer ek dan die groen soetigheidjie of drie gewaar het, het my mond behoorlik begin water. Oom Piet se begrafnishand was nog sterk op die voorgrond, maar duskant Maizefield het my weerstand gewoonlik verkrummel, en het ek so vinnig ek kon, 'n groenetjie uitgehaal, eers goed teen my broekspyp afgevee, en dan in die mond gesit. Nee wat, as ons by oom Sagrys Enslin se plaas verbygery het, was al wat groene was, al weggesmelt en het ek op 'n volgende kleur besluit.

Oom Piet Mens was nou wel 'n ... veelsydige man, maar sy suikerklontjies was die lekkerste in die omgewing, en definitief die ritteltits werd!

Tuesday 25 June 2013

Respekte vir die liewen Heer.

Die lappies grond wat net voor die depressiejare van die dertigs, aan voornemende 'boere' in die Roossenekal-omgewing toegeken is, het maar vir broekskeurjare gesorg, het Ouma my eendag vertel. Elke kleinboer het op sy manier, 'n gemengde boerderytjie bedryf - enigiets wat kos op die tafel en klere aan die lyf, kon gee, het gedeug.

Oupa Kootjie se suster Annie, was een van die vroue wat haar man en kind - genadiglik was daar net een - moes bystaan om liggam en siel bymekaar te kon hou. Sy en oom Koos het geploeg, gesaai en en met beeste en varke geboer. Verder was daar, danksy die klimaat en omgewing, darem ook genoeg vrugtebome en wilde heuning om die suur van die daaglikse stryd, te help versoet.

Soos reeds vermeld, was ta' Annie-hulle se huishouding karig en grensend aan primitief. Spaarsamig, moes daar spaarsamig te werk gegaan word. Water is vanaf 'n put aangedra en vir lang tye was 'n plaashoender, wilde-eend of tarentaal, die enigste vleisdingetjie. Eenvoudige dingetjies soos papier, was haas onverkrygbaar - en dis net hier waar my storie nou die kinkel kry.

Daardie tyd was 'n buite-toilet, mos algemeen. Die kleinhuisie was op 'n respektabele afstand van die agterdeur af, mooi skoongeskoffel rondom, om enige onaangename verrassing (dalk 'n nuuskierige slang of 'n ding) te probeer vermy.

 Toiletpapier het veel later op die toneel verskyn, daar moes planne gemaak word om ... om weer so skoon as moontlik, dit tussen mense te waag. Die enigste papier wat op 'n gereelde basis - al was dit net een maal per maand - verkry kon word, was die 'Kerkbode', 'n geestelike tydskrif wat gratis by eredienste beskikbaar gestel is. Almal wat enigsins kon lees, het die bladsye sorgvuldig bestudeer en geselsies oor die inhoud, met mekaar aangeknoop. Daarna is die ou Kerkbodes vir nog 'n belangrike doel gebruik: die bladsye is versigtig een vir een losgeskeur, en weer in betaamlike en dienbare groottes, kleiner geskeur. 'n Lang spyker, of dunnerige ysterpen is langs die toilet se houtsitplek vasgeslaan, en dan is die verrinneweerde ekumeniese bladsye, deur die skerp punt gesteek, een vir een. Wanneer benodig, kon die behoewende dan vir hom of haar van die papier van die ysterhouer af losskeur, soos benodig.

So ontvang ta' Annie dan op 'n dag besoek van haar suster, Magriet, wat van Bethal af kom kuier het.
Daar is heerlik gesels en koffie en beskuit geniet. Toe het die natuur ook sy loop geneem, en tant Magriet moes die buite-gerief besoek. Sy het haar ding gaan doen, terwyl ta' Annie die koppies uitgespoel het.

Na 'n tydjie, hoor ta' Annie 'n bedeesde stem vanuit die kleinhuisie roep.

"Annie! Annie, hoor jy my?" Aan die stemtoon kon ta' Annie hoor dat daar nie dringende nood was nie, dit was al of die stem 'n verleentheid probeer verdoesel het.
.
"Ja, Magriet ? Is daar fout?" Ta' Annie het tot voor die toe deur gestap.
.
Die stem vanagter die growwe houtdeur het maar bra onvas geklink. "Ag, Annie, het jy dan vir jou ou suster 'n ander soort papier nie?"

Ta' Annie kon nie mooi verstaan nie. Die 'Kerkbode' was nog altyd vir algar goed genoeg, waarom dan nie vir sus Magriet ook nie ?

"Maar Magriet, dis mos ordintlike papier, soos jy kan sien!"

Toe moes tant Magriet maar haar beswaar in duideliker taal stel. "Ai, Annie, dit voel darem net nie reg om die liewen Heer so deur 'n mens se agterent te trek nie ... "

Waar ta' Annie toe 'n alternatief gekry het, het ek nooit gehoor nie, of miskien het ek, maar by die 'liewen Heer'- deel, het Ouma se vertelling my so laat proes van die lag, dat ek in elk geval nie die einde van die storie sou gehoor het nie!

 Dit bly egter 'n mooi verhaaltjie, want respek vir die Allerhoogste, is nie iets wat plekgebonde is nie - selfs al is dit 'n buite-toilet!

Sunday 23 June 2013

Slim vang sy baas (se slang).

Satara was nog nooit een van ons De Wets se gunsteling-kampe nie. Ons was maar altoos kampeerders, en die somer se geploeg deur die modder en die winter se geswoeg deur die stof, was nie ons idee van wildtuin nie.

Een Julie-vakansie was Satara egter die enigste kamp waar ons die karavaan kon staanmaak. 'n Staanplekkie teen die kampdraad, het in 'n mate die gemoed gesus, en ons het die vooroordeel effe besweer en die natuur geniet. Na 'n dag op die Nwanedzi-stofpad (as jy in daardie geweste is, moet jy darem by die Gudzane-dam uitkom), het ons , onsself onder 'n louwarm stort respektabel gaan maak, en die vleisbraaivuur aangesteek.

Daardie spesifieke laatmiddag, het ons een van die braaiers wat verpreid in die kampeerarea gestaan het, nadergetrek en die vuur is aangepak. Koeldrank in die hand, het ek en die seuns om die vuurtjie oor die dag se oes gesels, terwyl die tjoppies en wors op die kole hul eie geselsie aangeknoop het.
Die braaier was sowat 'n meter van die tent se grondseil af.

Ons staan nog so en korswil, toe hoor jy 'n 'plomp'-geluid en ons sien toe iets het uit die handvatselpyp van die braaier, grond toe getuimel - en dit was reguit op pad karavaan toe! Ek wis toe dadelik dit was 'n slang! Twee dinge (behalwe die noodwendige gille en gebare) het my opgeval: eerstens moes ek, as nie-slangliefhebber, erken dat die swart-en-rooi slang met die ringe of bande om, nogal 'n mooie dierasie was, en tweedens het die paradysvloek skuins, soos 'n woestynadder, die karavaan genader.

Nou moet ek eers van buurman vertel. Skuins agter ons, het 'n netjiese man, met 'n modepop-vrou en uitgevatte sleepseltjies, kamp opgeslaan. Die nuutste model 4 x 4 en vierwiel-karavaan, is deur 'n pragtige tent , met 'add-a-rooms' aan beide kante, gekomplementeer. Van groet en wildkykstories uitruil, was daar nie sprake nie, want buurman was nie daardie soort nie - hy en sy entourage was op hulle eie missie.

Ewenwel, so te midde van die chaos, kom buurman toe aangehardloop, die arms afwerend voor hom uitgestrek.
"Los!! Moenie die slang seermaak nie!" het hy skielik stem gekry. "Dis 'n baie seldsame spesie - dis 'n tierslang!"
Dit kon my nie skeel of dit 'n Bengaalse tierslang was nie, vir ons was en is 'n slang, 'n slang - en die enigste goeie slang, is 'n dooie slang.
Buurman het dadelik 'n tak iewers vandaan opgetower en die slang van die karavaan weggekeer. Die reptiel het koers verander, en reguit op my af geseil! Ek het ook na 'n tak of klip of enige moordwapen gesoek, maar buurman was soos blits by.
"Nee! Los, ek sal die slang oor die draad kry! So 'n pragdier mag nie beseer word nie!"

So staan die De Wetjies toe in die veiligheid van 'n bondeltjie bymekaar, vir buurman en gadeslaan.
Laasgenoemde het soos 'n wafferse matador, al om die slang gedans en toe die slang nog dink hy was aan't wegseil, had buurman hom hangende aan die tak. Buurman mik-mik 'n slag, en met 'n duidelike gholfswaai-arm, skiet hy vir tiertjie oor die draad - of so het ons gedink!

Soos julle seker weet, die wildtuin se kampdrade is almal ge-elektrifiseer. Buurman se hoogte-skatting het hom toe lelik in die steek gelaat, jy het net vonke sien spat - en daar hang die rare spesie toe kapoet, oor die draad gedrapeer! Buurman het 'n onwaardige kreet geuiter, en so gou hy kon, die slang (so met die tak) van die draad losgewoel. Genadiglik val die braaisel toe die wildtuin in, en nie na ons kant toe nie.

As ek nou so aan die petalje terugdink, kry ek buurman eintlik steeds jammer. Hy wou sy herpetologiese kennis aan plebs illustreer, toe vang slim sy baas ... se slang. Sjym.

Pappa word 'n 'ranger'.

Een ding waarvan die twee seuns my nooit sal kan beskuldig nie, is dat hulle nie genoeg in die wildtuin gekom het nie! Hulle skooldae was gevul met uitstappies na en vakansies in 'onse' wildtuin.

Die twee was beide in die laerskool, toe ons een Sondag weer so gemaak het. Hierdie keer het ons die pragtige Berg-en-dal besoek, 'n kamp wat aanvanklik soos iets uit 'n toekomstige era gelyk het, maar later jare het ons al hoe liewer vir die in-die-bos gevoel geraak. 'n Kuiertjie aldaar, het gewoonlik met 'n lekker ete in die kafeteria begin, en dan het ons, verkyker en kamera in die hand, die geplaveide paadjie voor die restaurant, al langs die dam, gestap.

Hierdie Sondag het ons verder as gewoonlik gestap, tot onder waar die kampdraad (deeglik gespan, met ge-elektrifiseerde drade bo) 'n hoek gevorm het. Die dapperes kon verder die draad volg, maar ek was maar altyd skrikkerig, want daar is gedeeltes waar jy niks en niemand anders, as net ruie bos sien nie.

 Natuurlik het ons die manne teen die 'warm' draad gewaarsku, selfs na die plaatjie met die weerligstraal op, gewys. In my opgewondenheid om vir almal by my, 'n waterbok aan die oorkant van die dam te wys, raak ek toe met my beduie-hand aan die einste draad!

Ek kan tot vandag toe nog nie onthou wat presies gebeur het nie, net dat ek 'n ent verder op my sitvlak te lande gekom het, baie duiselig gevoel het en dat my vrou haar asvaal geskrik het! Soos enige pa seker maar sou, het ek verwag dat die seuns ook vir pa sou troos en darem 'n sweempie besorgdheid sou openbaar. Die teenoorgestelde was egter waar:  hulle het nog meer opgewonde as wat ek oor die waterbok was, my toegesnel en een het met bewondering na my gekyk en uitgeroep:
"Oeee! Ek wens ek was Pappa! Nou het Pappa ook 'powers'!"

Hulle gusnteling TV-storie was 'Power Rangers', het ek veel later eers onthou. Ek het werklik as jongman daarvan gedroom om eendag se eendag, 'n wildbewaarder te word, 'n 'ranger' wat die bos verken, maar darem nie daardie soort 'ranger' (die een met die 'powers') nie !

Saturday 22 June 2013

Regverdige juffrou

Nie alle onderwysers is kindervriende nie, Veral die dames vir wie die ongetroude status later in 'n lewenspatroon ontaard,  het gewoonlik nie veel geduld met die bloedjies en hulle streke nie.

Op ons personeel was 'n dame wat vir meer as 20 jaar in dieselfde klas, dieselfde vak aangebied het. Ons het haar almal maar as 'n instelling aanvaar, amper soos iets wat die Departement uitgereik het, en toe die instandhouding verder aan die skool oorgelaat het.

Ewenwel, hierdie oujuffrou het ook later die middeljare bereik en almal het aanvaar dat haar reguit geaardheid, kort humeur en voorliefde vir tentrokke, die moontlikheid van enige amoreuse avontuur, 'n volslae onmoontlikheid gemaak het. So elke twee, derde dag kon jy haar skril stem deur die skool hoor weergalm: "Sien jy daardie skoolhek? Ek klap jou tot in Ferreirastraat!" of "Jou bloed sal soos tamatiesous van hierdie mure afdrup as ek met jou klaar is!"

Na sowat vyf en twintig jaar, kon sy dit nie meer uithou nie en het die onderwys verlaat om 'n nog meer kinderlose lewe, in die privaatsektor te gaan voer. Ons het haar selde gesien, of van haar gehoor, maar die staaltjies en vertellinge oor oujuffrou, het vir lank nog heelwat vermaak verskaf.

Op 'n dag daag een van haar oudleerlinge by die skool op. Hy vra uit oor name wat meestal aan ons onbekend was. Toe kom die noodwendige vraag: "Wat het van juffrou Albertyn geword ?"

"Sy het bedank, werk nou by 'n staalonderneming," het ek geantwoord.

"Dis nou een onderwyser wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie. Sy was altyd baie regverdig. " Die jongman het ingedagte voor hom uit gestaar.

Ek was opreg verbaas, want ek het eerder verwag dat hy 'n ander rede sou aanvoer waarom hy haar dan onthou het. Ek pols hom toe.

"Hoe bedoel jy nou, regverdig?" Ek was waarlik nuuskierig om meer oor die enigmatiese juffrou uit te vind.

"Meneer, juffrou Albertyn het nooit gediskrimineer nie. Sy het almal dieselfde behandel. Sy het ons almal ewe veel gehaat!"

Regverdigheid, konsekwente optrede, geen diskriminasie nie. Ja-nee, juffrou Albertyn was voorwaar 'n uitsonderlike pedagoog !

Skatkis van herinnering

Wat skuil daar agter die Grendel
van my skatkis uit toeka se dae ?

Hierdie doilie van my ouma -
en die kappie het sy nog gedra.
Ook die dooprok met ragfyne valletjies
was my pa s'n, het Ouma verklaar,
en die mooi glas-ornamentjie
was 'n geskenk van Oupa aan haar.
In hierdie versilwerde blaker
het vetkerse saans lig gegee,
ook die bord met die Hollandse meule
kom uit 'n tyd van lank, lank gelee.

My tog van ontdekking bring egter
'n gedagte wat my hart skielik raak:
my skate kom almal van my ouma
- net sy het my kis volgemaak.

Ineens kom die heimwee in vlae
wat my hart van weemoed laat brand,
en verlang ek na die sorgvrye dae
toe ek klein was, aan Ouma se hand.

Wat skuil dan eintlik agter die Grendel
van my skatkis uit toeka se dae ?
Net vergeelde drome en herinneringe
wat my deur die lewe help dra ...

status

die gasvrou het 'n tentrok aan
sy sweef pikant op dun stellasies
tot in die voorkamer
waar jillende gaste saam
die son versuip in kristalglasies

sy maak 'n perfekte landing
spreek haar uit oor bizet en scarlatti
en klein jan-jan wat so hemels sing
(jy moet hom net hoor, skattie !)

voordat geselskap haar verveel
styg sy weer op
keer later terug
en aan die ringbelaaide vinger
hang 'n stainless steel bakkie
met egte romany creams -
uit 'n pakkie

2 September 2004

Hoe verwoord 'n mens soms dinge ? Wanneer die lewe in al sy felheid die branders van rampspoed en ontnugtering oor jou laat breek, steier die swakke mens tussen hoop en wanhoop - en lyk die Barberton-madeliefies maar vaal teen ander jare s'n.

My pa is toe Sondag 29 Augustus oorlede. Die wrede kombinasie van beroerte, suikersiekte en die groot K, het die eens trotse man onverbiddelik afgetakel totdat hy uiteindelik, op die ouderdom van bykans 76 jaar, net "Ma ... Pa ... " kon prewel en die laaste asem uitgeblaas het. Die De Wet-patriarg, die tradisievaste Boer met die onwrikbare wil om sy merk in die lewe te maak, moes ook sterf as amateur ...

Die Maandag sit ons in die ondernemer se o, so kliniese kantoortjie. Daar is vele vorms wat ingevul moet word, besluite wat op jou afgedwing word: "Teken daar, en daar." Toestemming vir die verassing, 'n familiebesluit. Niemand van die De Wets is al in die verlede veras nie - en ek het nie vrede in die gemoed oor die mens-uitgedinkte kortpad - verby God se instelling van 'tot stof sal jy terugkeer' -  nie. Ma se waasblou kykers lyk vreemd, asof sy oorgegee het. Uitgeboul.

Gert wil na Oupa gaan kyk. Die ondernemer wink my eenkant toe. Oupa se mond bly oopval, dit lyk aardig -  so onderkant die pragtige wit en rooi rose op die kis. Sal sy nie maar bystaan en Oupa liggies onder die ken stut nie ? Goeie plan, ter wille van Gert. Die seun glimlag onseker. Oupa slaap lekker, lyk selfs gelukkig waar hy nou is.

Skaars 20 mense in die kerk. Die familie het grootliks al weggeval, die jonger geslagte stel nie belang nie. Die diens is mooi: waardig, stemmig en presies. Ons sing Pa se gunstelinge, terwyl hy goedkeurend op die begrafnisbrief se voorkant, glimlag. Die teks kom uit Psalm 19, want Pa was hartstogtelik lief vir die natuur. Dominee Bezuidenhout relaas oor die mikro-mens in die makro-kosmos. Hy spreek 'n laaste woord van verstroosting, en lees dan die bedankings, soos ek dit sorgvuldig in groot skrif, getik het.

Die familie verlaat die kerk oudergewoonte eerste. Ek sorg dat die kis mooi in die middel agter in die lykswa ingeskuif word. Die susters is langsaan in die saaltjie gereed met tee en toebroodjies. Dominee rangeer almal in daardie rigting. Ek staan nog 'n wyle en kyk hoe die lykswa om die hoek verdwyn.

Ons drink tee, die susters is vriendelik en behulpsaam. Tant Marie, bykans 90, sit verwese - vasgeknel in haar Alzheimers-bestaan. Ek help haar sodat sy nie haar nagmaalrok met tee bevlek nie.

Dan, skielik, is almal weg. Net die trollie waarop die kis was, staan vergete voor die toegeslote kerkdeur. Ons laai dit in die kattebak, vir teruggee. Dis opvallend lig, sonder Pa.

Die lykswa kom meteens om die hoek aangejaag. Kom haal die trollie wat vergeet is. Kan ek sommer die doodsertifikaat vir hulle gee ? Dis nodig vir die krematorium. Sekerlik, dis by die huis, ry agter my aan.

In Ruiterstraat maak die wit wa 'n sierlike draai, voor dit voor die nuutgeverfde pallisade-hek tot stilstand kom. Die ondernemer klim uit, gaan die huis binne. Ek sien die kis agter-in, roseloos en omring deur leggers en 'n baadjie of twee. Miskien word dit koud langs die pad. Ek haal 'n wildtuinkaart uit die kar, sit dit saggies op Pa se kis neer. Nie dat hy dit sal nodig kry nie, hy weet waarheen hy op pad is.

Die lykswa vertrek. Ek kyk woordeloos hoe dit met sy vrag in die verte verdwyn. Binne die huis klink die gerinkel van koppies, teelepels en koekvurkies. Ma sorg dat almal melktert en vleispasteitjies kry.

Pa is dood. 'n Houtkissie word 'n paar dae later by Ma afgelewer. Pa moet Shingwedzi toe.

Soos gras is ons dae ...

Friday 21 June 2013

Oom Dawie troef die jig.

In 1977 beland ek toe op die skone Oudtshoorn in die Kleinkaroo - vir volk en vaderland! Verpligte diensplig, soos P.W. dit in swart ink bekragtig het, was my generasie se voorland.

Na ses jaar op unversiteit, was die weermagroetine vir my meer nag, as dag! 'Basies' was 'n nagmerrie, want ek was slegs snoekerfiks. Ek het die dae letterlik omgebid, en naweke wou my liggaam net iewers broodnodige rus vind.

Eers het ek sommer by die karavaanpark skuins oorkant die hoofhek, in 'n rondaweltjie ingeboek en die ure om geslaap, maar toe vertel 'n mede-troep (Jan Greyling) my van 'n bejaarde egpaar wat in die dorp woonagtig was en by wie hy toe al 'n keer of wat gaan kuier het. Ek het maar teensinnig saamgegaan toe Jan my genooi het, want ek was (volgens my) nie tot enige sinvolle geselskap in staat nie - daarvoor was ek te veel in pyn!

Wat 'n wonderlike ervaring het op my gewag! Oom Dawie en tant Miemie Burger het in 'n ouerige huis, min of meer in die middel van die dorp, gewoon. Hy was 'n afgetrede skeepsingenieur (volgens hom), en tant Miemie 'n goedige Boeretannie wat melktert, koesisters en mosbolletjies aangedra het. Ons het heerlik gekuier - in so 'n mate, dat die wit huis in Jakarandastraat, as't ware later ons tuiste buite die basis, geword het. Ons (dis nou ek en Jan) het tot per geleentheid twee oues op 'n uitstappie na hulle knus strandhuisie op Vleesbaai, vergesel.

My affiniteit vir stories uit die verlede, het my graag met oom Dawie laat gesels. Hy kon breedvoerig oor sy wedervaringe op die oseaan, uitwei en was maar te dankbaar vir 'n ander oor as tant Miemie s'n, wat sy vertellinge met geduld kon hanteer.

Oom Dawie het net een krankement gehad, wat op 'n gereelde basis, so al om die uur, gedokter moes word. Sien, hy het alte vreeslik aan jig gely. Dit het hom alewig gepla, veral as hy nou so aan die vertel was. Dan het hy opgestaan, en vir hom 'n stywe dop vaaljapie gaan skink - vir die jig. Hy was adamant dat g'n ander medikasie sou help nie, hy het aan vaaljapie geglo soos aan sy Bybel. Aan-
vanklik het ek my verwonder dat oom Dawie die mediese deurbraak so op sy eie gemaak het, maar toe tant Miemie vir my knipoog toe hy nogeens 'n glas gaan vul, het die waarheid tot my deurgedring.
Oom Dawie se geloof in vaaljapie, het 'n voorwaarde gehad: dit sou slegs met 'n man se jig kon werk, as jy elke uur 'n dop afgesluk het. Hy het derhalwe die horlosie fyn dopgehou, want slaan jy een uur oor, sou die vaaljapie nie sy heling kon bedryf nie.

Het ek ook vaaljapie gekry? Nooit! Ek moes opsluit tee saam met tant Miemie drink. Die vaaljapie was uitsluitlik en eksklusief, alleenlik vir oom Dawie se jig.

Later, toe ek grensdiens verrig het, het ek dikwels van Elizabeth Albrecht se Suiderkruis-fonds en hulle bederfies, gebruik gemaak. Tog was dit nie te vergeleke met tant Miemie se gekloek om 'ons dapper seuns' nie - en ook nie naastenby so  verkwikkend soos oom Dawie se see-stories nie. Ek sien hom nog so voor my sit, met die glasie vaaljapie in die hand (vir die jig).

Sout van die aarde, my vriend! Hopelik word ek die jig gespaar, maar indien nie, sal ek ook heel gewilliglik oom Dawie se remedie wil volg - so al om die ander uur!

Tuesday 18 June 2013

Stuurwieldief

Oom Simon du Plooy en oom Abram Radley (beide wewenaars)  het so saam-saam, na vele jare van lojale diens aan die S.A.S. & H., op Bethalstasie afgetree. Die twee oues het mekaar wel soms by Lundall se stasiekafee of Horn se handelshuis raakgeloop en dan vir 'n wyle saam pyp gestop, maar dit was die agtermiddag-kuiertjies wat die twee aan die eintlike gesels gekry het - en waarna die meeste uitgesien is.

So sien oom Simon toe die een middag hoe oom Abram se Opel Rekord voor die tuinhekkie stop. Hy beduie toe dadelik so deur die venster, dat oom Abram die mouter langs die huis moes parkeer, want die lukwartboom het lekker skaduwee gemaak. Die draadhek was nie gesluit nie, oom Abram moes net die hek oopmaak en deurry. Toe hy die kar hoor staart, het oom Simon solank kombuis toe geloop om die teewater te gaan opsit.

Toe hy gaan kyk waar sy ou vriend dan aan't vertoewe was en hoekom hy nie die huis binnegekom het nie, sou oom Simon sien dat die Opel nog steeds voor die oop hek staan! Die enjin was afgeskakel - en oom Abram het agter in die kar gesit. Eers dag oom Simon dat ou Abram seker iets verkeerd gesien het wat hy gou eers moes herstel, maar toe merk hy dat die man kop-onderstebo sit, en daardie kop word heen-en-weer geskud.

Oom Simon stap toe verwonderd nader, tot langs die agterste venster.
"En nou, Abram? Vir wat ry jy nie nader nie?" het hy gevra. Voordat oom Abram 'n sprook gesprak het, ruik oom Simon toe dat die kar ene brandewyn gegeur was! Dit was duidelik dat sy ou geselsmaat 'n glasie of vyf ingehad het.
"Goeiste, ou Simon!" het oom Abram met moeite uitgekry, "jy sil nou nie glo wat hier gedaan was nie!" Weer het die ou die kop vol ongeloof geskud. "Ek klim toe uit om die bekslaner van jou oop te maak, en toe ek weer by die mouter kom, siet ek dinge wat ek nout as te nimmer al gesiet het nie!"
Oom Simon kon steeds geen kloutjie by enige oor kry nie. "Nou wat het jy dan gesien, Abram?"
"Nee, ek klim toe so ewe in die mouter, en toe ek my hanne lig om die stuurwiel vas te vat, toe siet ek dit!"
Teen hierdie tyd was oom Simon se geduld aan't wegkalwe, want 'n man vol brandewyn kan 'n storie darem net te lank uitrek. "Sit nou jou varkies bymekaar, Abram! Wat het jy gesien, man?"

Stadig het oom Abram sy rooi gesig gelig en toe met die storie vorendag gekom.
"Ou Simon, ons leef in vreeslike tye, my ou vriend! Kan jy dit oorvertel! Toe ek my hanne op die stuurwiel wou sit - toe was daar geen stuurwiel meer nie! Een of ander swerkater moes dit gesteel het terwyl ek die hek oopgemaak het!!"

In sy beskonkenskap het oom Abram toe by die agterdeur ingeklim, en was daar regtig geen stuurwiel voor hom nie. Drank is 'n lelike ding, dit kan tot selfs 'n stuurwiel laat voete kry!

Monday 17 June 2013

Griet van Eensaam

Ta' Grietjie Grové was 'n vrou van vele fasette. Nie alleen het sy haar De Wet-herkoms met trots vertroetel en nagevors nie, maar sy het haar dit ook ten doel gestel om haar geboorteplaas, Eensaam (in die Roossenekal-distrik) se interessante geskiedenis te boekstaaf.

Oupa Kootjie de Wet was een van sewe kinders, waarvan hy en oom Gert, die enigste seuns was. Die vyf susters was oor die hele Transvaal verspreid, maar tant Taat moes op Bethal bly en oupa Krisjan en ouma Annie tot hul dood versorg - 'n familiebesluit. Een van die ander susters, Annie, het haar met 'n boer van Roossenekal se wêreld, Koos Brits, in die huwelik begewe. Hulle het op Eensaam 'n bra sukkel-bestaan gevoer en het net een kind, die dogter Grietjie, gehad. So was Grietjie dan my pa se niggie.

Ta' Grietjie het met Schalk Grové van Pretoria, getrou en hulle het 'n goeie en gemaklike lewe daar in die buitewyke van die stad, gevoer. As een van die Bethal-familie in die destydse H.F.Verwoerd- hospitaal
was, het die naasbestaandes maar gewoonlik by ta' Grietjie tuisgegaan. Saam met haar tannie, tant Chris (wat ook in Pretoria gebly het), was hulle die 'ryk familie', met wie die plaasmense nie andersins kontak gehad het nie.

Na haar pa en ma se dood, erf ta' Grietjie toe vir Eensaam, en het sy en oom Schalk toe naweekboere geword. Toe hy ook later aftree, het hulle plaas toe getrek. Daar het die geskiedenisgoggga haar gebyt en het sy begin om vertellinge en stories uit die omgewing, neer te pen. Oom Schalk is later oorlede, en ta' Grietjie het nog meer tyd vir haar navorsing gehad. In die 1980's het ek haar gekontak, omdat ek toe self met die samestelling van my eie familie-stamboom, besig was en besef het dat sy oor 'n magdom inligting beskik het. Sy het my van haar boek, 'Mapochseland en sy mense', vertel en hoe sy dikwels Pretoria gery het om daar in die staatsargief te gaan rondsnuffel. So het sy dan ook op heelwat inligting van die De Wets afgekom, wat sy dan vir my aangestuur het.

Toe die kwale en eensaamheid (op 'Eensaam'!) te erg geword het, het sy in Huis Herfsblaar, 'n aftreeoord in Pretoria, gaan bly. Sy het nooit haar boek in die hande gehou nie, want sy is in 2000 oorlede, terwyl die boek nog nie gedruk was nie. Ek vermoed daar was nog enkele aspekte oor die verlede, wat sy oor wou geskryf het.

Op 'n dag het 'n kopie van ta' Grietjie se boek, toe sommer ewe onseremonieel, by my aangekom. Haar seuns het dit laat druk, maar net 'n beperkte aantal wat slegs onder familielede verprei is.  

Dankie, ta' Grietjie! Ek het nog 'n plantjie van die sigaretblommetjie, wat van Eensaam af kom. Elke jaar wanneer dit blom, dink ek weer aan die vrou van Eensaam, Pk.Hartelus, daar in die pragtige Roossenekal-omgewing waar die geel varkore dit laat lyk of selfs die klippe blom.

Sunday 16 June 2013

Horace vir aandete.

Na 'n armsalige begin as arbeider by die graansuier (ons het nooit van 'n 'silo' gepraat nie) op Bethalstasie, het Pa in die laat 1940's tot klerk in die kaartjieskantoor, gevorder. Dit was lank voordat hy Ma ontmoet het, en Pa was 'n jongman in sy fleur wat vir Bethal en die destydse Oos-Transvaal, as flank op die veld gedraf het. Hy het graag gewigte rondgegooi, was fris gebou en het selfs 'n kortstondige loopbaan as beroepstoeier, gehad.

Toe besluit Pa om sy vlerke te sprei en te gaan kyk hoe lyk dinge weg van Bethal se vlaktes. Hy is toe per trein (amptenare kon mos 'n vrypas kry en verniet ry) Margate toe, waar hy vir 'n week of drie by die destydse Sunlawns-hotel tuisgegaan het. Die aansienlike jongman het gou vriende gemaak en daar is heerlik gekuier en bande gesmee.

Een Margate-vriendskap wat verreikende gevolge sou inhou, was die een met Horace Butler, 'n filantroop wat in die toentertydse Belgiese Kongo in midde-Afrika, tussen die inboorlinge gebly en hulle probeer kersten het, terwyl hy ook as medikus, malaria help beveg het. Pa en Horace het mekaar goed leer ken en toe nooi Horace vir Pa om vir hom daar in die woude te kom kuier.

 Pa was maar altyd iemand wat na die horison gehunker het, en besluit toe om die uitnodiging te aanvaar. So is Pa toe per geleentheid met die trein op tot bo by Bulawayo, in die voormalige Rhodesia, en vandaar per boot oor die riviere en mere, tot by die reenwoude van die ewenaar. 'n Lang staptog deur die gevaarlike oerwoud, het gevolg.

Een van die grootste struikelblokke, was om deur die gebied van die Pigmee's te kom. Hulle was 'n ras klein (hul kenmerkendste eienskap) mensies wat hoofsaaklik in die bome gebly het. Horace het dit egter reggekry om vir Pa 'n 'paspoort' in die hande te kry: 'n klein, uit hout gekerfde tipe pennetjie met fyngesnede maskertjies op, wat 'n mens in jou hoed of hare moes dra. Die Pigmee's het die safari-gangers so vanuit die bome bespied, en as hulle dan die pennetjie gesien het, kon jy deur hulle gebied loop. Die alternatief, as jy nie die 'paspoort' gedra het nie, was dat jy met gifpyltjies bestook kon word. 

Pa het deur die jare dikwels van sy Horace-besoek vertel. Daar was reuse skoenlappers wat op dooie diere geaas het. Adders en luislange was 'n daaglikse gevaar, en die inboorlinge was stug en het jou glo deurentyd agterdogtig beloer.  Die terugtog was weer 'n senutergende uitdaging, maar so met die pennetjie in die hoed, het Pa die gifpyle afgeweer en uiteindelik weer by die huis uitgekom.

Pa en Horace het kontak verloor. Vir jare het Pa gewonder hoe dit daar in die hart van Afrika gaan, en of Horace steeds met sy liefdeswerk besig was. Toe, sommer so uit die bloute, ontmoet Pa eendag 'n man wat in die safaribedryf was en gereeld in die Kongo 'n draai gemaak het. Tot sy ontsteltenis, moes Pa toe die slegte nuus verneem: Horace is, ondanks die feit dat hy sy lewe vir hulle opgeoffer het, deur die inboorlinge vermoor en deur kannibale verorber!

Die Pigmee-paspoort was al die jare in Pa se vertoonkas. 'n Onopvallende, klein stukkie houtsnywerk, met eienaardige maskertjies op , uitgekerf. Na Pa en Ma se dood, het die vertoonkas, met sy inhoud, my eiendom geword.

So een maal per jaar, neem ek die pennetjie werk toe, wys dit vir wie ookal belangstel, en vertel die verkorte verhaal van Horace. Net 'n klompie woorde, wat soms 'n "Haai, dis nou oulik!" ontlok.

Die gru-verhaal van Horace se makabere einde, het egter veel, veel meer om die lyf ...

Reaksieloos

Flambojante staan  gekroon
langs die huis  waarin ek woon.
In my gemanikuurde tuin
geil eksotiese plante.

Die gaste staan verbaas
oor die skoonheid van my
binneplaas -
my akkers is mooi
afgerond
met sekuur gesnyde rande.

Maar wanneer ek my solo-spel
laatnag, hoopvol vir my tuin vertel,
is daar - ondanks al my swoeg en sweet -
nie een gewas wat van my weet ...

Sondag-middag onvrede.

Nee kyk, as daar nou een middag in die week is wat my na vele jare steeds die ritteltits gee, is dit 'n Sondagmiddag (of -agtermiddag, soos Ouma dit sou gestel het). As die skottelgoed gewas, afgedroog en weggepak is, begin my maag al draai omdat my brein vlaag na vlaag, sulke ongewenste herinneringe begin opdiep.

Ek was 'n windbuks-mannetjie van twaalf jaar oud, en my suster so drie jaar jonger. Dit opsigself het sy uitdagings gehad, maar toe besluit Pa en Ma mos op 'n laatlam - en skielik was die uitdaging 'n Everest! Om die oudste kind te wees, is gewis NIE maklik nie, sal menige leser beaam, veral nie as die ouderdomsverskil tussen jou en die ander aankomelinge, aansienlik is nie.

Pa-hulle had die gewoonte om Sondae na die middagete-ritueel (dis nou die skottelgoed, wat reeds eise aan 'n twaalfjarigejarige gestel het) 'n uiltjie te gaan knip. Dan moes die huis grafstil wees, wat beteken het Boel mag nie blaf nie, Sus mag nie gesing het nie - en kleinboet mag nie gehuil het nie. En wie moes daarvoor gesorg het? Reg geraai - die uwe was die uitverkorene, die een op wie se skouers hierdie gewigtige verantwoordelikheid geplaas is.

Nou moet ek darem eers vertel dat geduld en geneigdheid tot begrip van 'n ander se dilemma, NIE van Pa se beste eienskappe was nie. Inteendeel, Pa was 'n omgesukkelde man, iemand wat nie geduld het dat sy opdragte half uitgevoer is nie. Nou ja, uit bangwees vir Pa se toorn, moes ek dan planne prakseer en myself tot die uiterste inspan om die kleintjies besig - en stil - te hou. Kleinboet was dalk 'n bietjie makliker, ek kon hom net 'n bietjie buite in die stootkarretjie rondkarwei, met kraamwater aan die fopspeen, en met die karretjie so gedraai dat die son vol op sy gesig geskyn het. Vinnig-vinnig was hy vas aan die slaap. Maar, met Sus was dit 'n perd van 'n heel ander kleur ...

So gebeur dit toe een Sondag, dat sy liederlik aan die skree gegaan het. Ek het net mooi alles probeer, maar daardie stembande het geen keer gehad nie! Hoe mooi ek ook gepleit en gesoebat het, skree wou sy skree! Pas vinnig op die toneel, en dadelik erg befoeterd.

"Vir wat kan jy nie jou suster stil hou nie?!' het hy my onvriendelik toegesnou.
"Ek weet regtig nie wat haar makeer nie, Pa!" het ek probeer protesteer.

Pa het haar opgetel, oor die kop gevryf - en toe het sy gesig al rooier en rooier geword.
"Voel net hierdie yslike knop aan haar kop! Wat de ongeluk het jy met die arme kind aangevang?!"
Nou was Pa buite himself, want oogappeltjie het iets oorgekom.
Toe word 'n kan yswater op my omgekeer, want sien, Sus kerm toe met so 'n fyn kry-my-jammer stemmetjie: "Hy't ... hy't my geslaan, Pa ... "

Ek kan hierdie storie nog veel langer uitrek, maar die blote gedagte aan wat in daardie opvolgende drie ure gebeur het, is genoeg om my tong lam te maak. Enige storie het noodwendig 'n afloop, so ek sal jou net kortliks vertel.

Die Volkswagen word toe inderhaas uitgetrek. Ma kloek om Sus, gee pynpilletjies in - en ek sit bedremmeld agter in die kar. So is ons toe in aller yl dokter toe, met Sus aan't huile, en Pa wat my heelpad vertel hoe hy my gaan vermorsel as engeltjie permanente breinskade opgedoen het!

Dokter Vermeulen was maar traag om so op die Sondag-agtermiddag gepla te word, maar het Sus deeglik ondersoek - en toe kry hy sowaar NOG 'n paar knoppe, sommer aan haar keel en in die nek ook!! Ek het gewonder of ek darem 'n doodskis van tamatiekisplanke sou kry, want Pa het onheilspellend gegrom en my met blitsende kykers aangegluur.

"Ja, dis nou maar dit, " het die dokter na wat soos 'n ewigheid gevoel het, laat hoor. "Sy is nog een wat dit het. Die afgelope week was daar al 'n stuk of twaalf kinders wat dit opgedoen het. Pam-
poentjies, dis vir seker pampoentjies."

Het Pa my om verskoning gevra? Jy het kennelik nie vir Pa geken nie! Al wat ek van sy reaksie kan onthou, is dat hy iets soos "Jy kan jou sterre dank!" gemompel het. En Sus? Sy het daardie "kry-my-jammer" ooglede gefladder en net so skrams na my kant toe geloer.

Van daardie dag af, kon Ma nie meer op 'n Sondag gaan indut nie. Ek moes nog met die blystil-gedeelte help, maar die verantwoordelikheid was nie meer net myne nie. Daarvoor, het ek Ma ewig dankbaar gebly. Vandag sukkel ek om op 'n Sondag 'n slapie te vang, ek kan om die dood nie rustig raak nie. Pa se dreigende stem is permanent in my geheue vasgemessel.

Self het ek alle kindersiektes gehad - behalwe pampoentjies!

Sukses is nie altyd suksesvol nie.

Tydens my dienspligjare het dinge toe so uitgewerk, dat ek vanaf Augustus 1977 tot Desember 1978 op Katima Mulilo, in die Oos-Caprivi, beland het. Benewens die aanvalle, dood en verminking wat ek moes gadeslaan en beleef, was daar egter ook ander hoogtepunte wat vir altyd in die geheue gegraveer sal bly.

Katima had destyds twee tennisbane, reg langs die Zambesi-rivier. My kamermaat (Erik Laas) het dikwels van sy tennisprestasies vertel, en toe ons in Desember 1977 ons eerste sewedae-pas gekry het, het ons besluit om die rakette met die terugkomslag in te pak, want ons het oor naweke 'n dag of wat vry gehad en kon so tussen die gevegte en patrollies deur, 'n paar balle gaan slaan. Ek was darem ook nog heel bedrewe met die raket - en ons sluit toe by die klub aan. Toe ons voel ons was 'op standaard', skryf ons vir die klubkampioenskappe in (wat eintlik die Caprivi-toernooi was, want dit was die enigste klub in die land!).  Die basis-bevelvoerder, komdt. A.K.de Jager, was die onbetwiste kampioen, met kaptein Preston-Thomas die enigste een wat hom kon uitdaag. Saam het hulle natuurlik 'n wrede dubbels-kombinasie gevorm!

Ewenwel, daar was toe sestien inskrywings vir die enkelspel. en net vier vir die dubbels. In die eerste ronde speel ek toe teen 'n priester van die Rooms-Katolieke Kizito College. Dit was 'n maklike wedstryd. Toe speel ek teen 'n jong luitenant in die kwarteind - eweneens 'n maklike ene. Erik val egter in die kwarteind vas teen Preston-Thomas, en dis toe my onbenydenwaardige 'voorreg' om die kaptein in die halfeind te trotseer. Op daardie stadium was ek 'n eerste luitenant, en het maar geïntimideer gevoel om so teen my meerdere te speel! Hy het probeer om my met brute krag van die baan te slaan, maar ek was daardie tyd redelik fiks, en het vir elke bal gehardloop en die spel doelbewus probeer stadiger maak. Dit het soos 'n bom gewerk, want die kaptein het die een bal na die ander buite die speelveld geslaan - hy kon nie die sagter tipe tennis hanteer nie. So is ek toe deur eindronde toe - waar my bevelvoerder, die onoorwinlike De Jager, op my gewag het. Ek en Erik wen toe ook ons halfeind in die dubbels - en moes in die finaal teen die twee groot kanonne speel.

Ek het De Jager voor die tyd fyn dopgehou. Hy het 'n ongelooflike bodraai (topspin) gehad, die bal het skouerhoogte opgeskiet nadat dit grond getref het. Hy het geen ander tipe hou gehad nie, net die bodraaie. Toe besluit ek om al my houe te sny en die bal so laag as moontlik te laat wip. Ons het altyd van 'kappe' gepraat -  en HET ek daardie dag gekap!! Op beide flanke, voorarm en handrug, het ek gesny soos nog nooit tevore nie. Later kon die kommandant dit nie meer hou nie en het met 'n bulderende stem uitgeroep: "Speel verdomp tennis, luitenant!!" Die een na die ander tolhou van hom, het in die net beland. As ek die bal wyd gespeel het, het ek dit van hom laat wegdraai, dan kon hy nie bykom om daardie hewige gewrigaksie vir die bodraai, uit te voer nie. Die eindtelling was 6-4, 6-2 in my guns! Die kmdt. het soos 'n gekweste buffel van die baan gestorm en al swetsend in die klubhuis verdwyn. Hy en Preston-Thomas het kajuitraad gehou, want die dubbels-finaal was volgende op die program.

Wel, as 'n ding werk, hoekom iets daaraan verander? Erik was 'n doring by die net (hy was 'n sesvoet- plusser) en ek het dieselfde taktiek as met die enkels gebruik: kap terug,  en wag vir die kragmanne om die bal of desmoers in die net vas te moker, of agter teen die draad vas. Die houe wat hulle wel teruggekry het, het Erik meestal by die net in punte omskep. Die eindtelling was nog beter: 6-2, 6-2. Ons het die onmoontlike reggekry!

Toe kom die prysuitdeling - en A.K. was die klubvoorsitter en moes die trofees oorhandig. Ewe kalm het hy eers die dubbels-trofees vir ons gegee - en toe kom hy by die een vir die enkelspel, 'n trofee wat jaarliks syne was. Hy het sy woorde versigtig, maar verdoemend, gekies.
"Eerste luitenant De Wet het sy eerste ronde-wedstryd gewen. Daarna het tweede luitenant De Wet die halfeind teen kaptein Preston-Thomas gewen. In die finaal het korporaal De Wet toe teen my gespeel, en uiteindelik is troep De Wet dan die wenner van vanjaar se enkelspeltitel." Daar was geen uitdrukking op die streng gesig nie, alles is klinies en saaklik, afgehandel.

Ek en Erik het stil-stil die geselligheid verlaat, en die trofees half agter die rug gedra. Vir weke daarna het ons die ergste verwag, selfs wye draaie om die HK gestap, net om 'n moontlike ontmoeting met kmdt De Jager, te vermy! Al het die ander klublede lekker vir sy rede gelag en my verleentheid geniet, het die man vir my darem net te ernstig gelyk en dit het gevoel of my sukses, eintlik onsuksesvol afgeloop het!

Saturday 15 June 2013

Nie goed genoeg nie.

Die koue statistieke wys hy was Willem Adriaan Labuschagne, gebore 31 Augustus 1950, oorlede 19 Augustus 1976. Hy het dus amper 26 jaar oud geword. Hy was die enigste seun van oom Willie en tannie Susan Labuschagne van Ogies, en het in 1975 sy graad in Boukunde by Tukkies behaal. Die einde van daardie jaar, is hy met Kotie Hough getroud en hulle het toe 'n huis op Bronkhorstspruit gekoop en daar gewoon ... tot hulle albei op daardie verskriklike dag onder die vragmotor beland het.

Willie was my boesemvriend, die een met wie ek my laaste vier skooljare gedeel het. Ons was bure en sy pa en myne, het saam op Ogies se stasie gewerk. Saam het ek en Willie oor die draad tussen die twee huise, 'tennis' met die 'beach bats' gespeel, of krieket onder die prieël voor die garage. Ons het 'n ou sykous in 'n tennisbal gestop, dit was ons 'krieketbal'. Soms het ons gholf gespeel, soos 'n arm skoolseun dit in 1968 se tyd kon speel: al om die huis. Ek het 'n gholfstok in die hande gekry, en ons het nege 'putjies' om die huis geprakseer. Willie het ook Scalectrix - karretjies gehad, waarmee ons onsself ure lank kon vermaak. Sy pa het vir hom tropiese vissies gekoop, toe het my pa dieselfde gedoen - ek kon tog immers nie by Willie afsteek nie!

Willie se ma het ons skool toe en terug gevat. Hulle het 'n grys Ford Taunus gehad. My ma het nooit leer bestuur nie, so tannie Lappies (soos ons sy ma genoem het) moes die rywerk doen.

 'n Ander lekkerte was wanneer ons in die oop stuk veld tussen ons en die kerk, met riete gaan 'spiesgooi' het. Willie en sy pa het ook gereeld gaan visvang en my een keer saamgevat, maar dis nou 'n storie waarvan ek nooit kon hou nie.

Toe ek in gr.10 Boekhou (soos ons Rekeningkunde genoem het) moes los en met Duits begin het (Duits was destyds 'n belangrike vak vir universiteitstoelating), was Willie die een wat my gehelp het om drie jaar se Duits, in een jaar in te haal. In 1969 (Willie was 'n jaar voor my) was ons saam op die leerlingraad, ek as gr.11-leerder en hy toe in matriek.

So is Willie toe in 1970 Tukkies toe, terwyl ek matriek moes hanteer. As hy naweke huis toe gekom het, het ons lekker gesels en hy het my van die opwindende studentelewe vertel. Ek het altyd baie na sy kuiertjies uitgesien, want ek sou ook na skool Tukkies toe gaan en het gedagdroom oor hoe ons twee die stad rooi sou verf en nog groter vriende sou word.

Toe kom die winde van verandering ... Willie het my al hoe minder opgesoek. Sy naweek-besoeke het gekwyn, ek het vergeefs gewag vir die bekende oor-die-draad-spring kuiertjies.

 Op 'n dag, het ek sy ma gekonfronteer, want ek kon nie verstaan wat ek dan verkeerd gedoen het nie. Tannie Lappies het gevra ek moes sit, en ek kon skielik agterkom dat dit nie die gemoedelike, vriendelike tannie was wat ons soveel jare geken het nie.

"Kobus, ek het hierdie ding sien kom. Ek dink dis tyd dat jy iets moet verstaan." Ek het nie 'n idee gehad waarvan sy gepraat het nie!

"Wat verstaan, tannie ?" het ek met huiwerig gevra.

"Willie word 'n bourekenaar, hy gaan in ander kringe as jy beweeg. Hy moet nou sy vriende begin kies. Hy kan nie meer sommer met enigeen vriende maak nie." Die tannie het haar ken effens gelig, en my so half van bo-af beskou.

Die volle implikasie van haar woorde, het soos 'n emmer yswater oor my gespoel. Ek was eenvoudig nie meer welkom nie! Wat erger was, was die feit dat ek dit by sy ma moes hoor - hy het nie eens die ordentlikheid gehad om self met my daaroor te praat nie !

Die jare wat gevolg het, was nie maklik nie. Willie was in Boekenhout (koshuis), ek in Taaibos (reg langsaan). Die twee Mini's het in twee aparte parkeer-areas gestaan: sy perse langs Boekenhout, my oranje ene by Taaibos. Vanuit my kamervenster het ek hom dikwels gesien as hy gery of teruggekeer het. Verder het ons nie weer kontak gehad nie. Via my ma het ek net gehoor toe hy in 1975 getrou het, en van die huis op Bronkhorstspruit.

Dit was 'n koue wintersoggend in Augustus van my laaste jaar op universiteit (1976), toe ek oorkant die straat 'n koerant gaan koop het om van die vorige dag se sport te lees. So met die terugloop, lees ek vinnig wat op die voorblad was en daar, onder in die een hoekie, het die koue statistieke gestaan:
"Willie Labuschagne, jong bourekenaar van Bronkhorstspruit, en sy vrou (Kotie), is eergisternag beide op slag dood toe hulle onder 'n stilstaande vragmotor ingejaag het."

Die begrafnis was 'n droefenis. Twee kiste, die een bo-op die ander een begrawe. Willie se pa en ma het toe in die huis op Bronkhorstspruit gaan woon. Oom Willie is om mediese redes laat gaan. Hy het net 'n jaar of vyf sy groentetjies kon kweek, toe is hy ook oorlede. Tannie Lappies? Wel, sy het by die begrafnis gevra dat ons sommer van haar ook moes afskeid neem, want sy "wil nie meer lewe nie".

Tannie Susan word een van die dae 92 jaar oud. Ek het steeds kontak met haar, pos al om die ander week 'n briefie ouetehuis toe. Sy het nie kind of kraai nie, leef in absolute eensaamheid. Ek sal my biefies pos, tot sy haar laaste asem uitgeblaas het.

Ek verneem ek is die enigste wat kontak met haar het, en dat die gereelde briefies die hoogtepunt van haar troostelose bestaan is. Ek moes lank wag,  maar miskien het ek tog goed genoeg geword ...

Sunday 9 June 2013

Heilige oomblikke

Ken jy hulle ? Daardie skaars tye wanneer iets jou laat voel: sjoe, hierdie is 'n baie, baie spesiale oomblik! Dan wil jy dit met albei hande vashou, teen jou bors koester en met al die liefde in jou hart, vertroetel.

Dit gebeur soms wanneer jy iets mooi sien, of hoor, selfs ervaar. As ek op die naat van my rug, in die voorhuis na ou plate luister (gewoonlik klassiek, iets soos Beethoven se 'Maanlig-sonate)', is ek kennelik van daardie oomblik bewus. Of as ek bo-op die koppie tussen Onder-Sabie en Tshokwane staan, en die wydsheid van die wildtuin se onbekryfbare skoonheid en rustigheid, rol voor my uit tot doer waar die einders versmelt ...

Hierdie gevoel is nie plek- of tydgebonde nie. Dit kan jou enige oomblik tref, eintlik vang dit jou meestal onverhoeds - daar waar trane jou in die verleentheid stel. 'n Spannende 800m-wedloop by 'n skole-atletiekbyeenkoms, wanneer die skare die atlete opgewonde aanpor en toejuig; die sing van die volkslied wanneer dit 'n trotse oomblik is ...

Maar, die een wat my binneste die meeste roer, is wanneer jy rustig en ontspanne met iemand vir wie jy werklik omgee, in gesprek is en jy besef: nou is daar geen skanse nie, nou praat ons hart tot hart. Onverbloemde eerlikheid, die oopmaak van deure wat normaalweg vir almal taboe is, die bereidwilligheid om onvoorwaardelik te vertrou en te erken - dit is die heilige oomblikke vir my!
Dit gaan in my binneste gepaard met 'n onbeskryflike liefde vir daardie persoon, want iemand wat my so hoog ag, dat hy/sy my volkome vertrou en daarom bereid is om alle maskers af te haal en reguit en eerlik te praat, verdien die mooiste wat my hart kan gee.

Dankie, as jy een van hulle is, die een wat al so met my gepraat het. Ek is lief vir jou, my vriend of vriendin. Ons het die grens na heiligheid oorgesteek, ek koester jou in my hart.

Saturday 8 June 2013

Oor stoelpote en beestrokke.

Pa was in die laat vyftiger-jare, 'n aflosstasiemeester. Hy het die stasietjies rondom Bethal bedien, veral Morgenzon, Baanbreker en Maizefield. Dit was dan ook op die einste Maizefield, waar groot dinge gebeur het, die oog gevang het - en gewigtige sake was!

Allereers was daar die vurige politiek van daardie tyd. Die stasiegeboutjie was die enigste respektabele lokaliteit wat in 'n mate aan die grootsheid en 'erns' van 'n verkiesing, gestalte kon gee. As stemlokaal, was dit ideaal, want algar van die omgewing het dit goed geken en die platform was (weens die verhewe aard) uiters geskik vir 'n goeie uitsig op die verrigtinge - as 'n mens dit nou so kan noem. Afdakkies is geprakseer, pannekoekstalletjies is staangemaak, stoele en tafels is op bakkies aangekarwei en daar is luidrugtig stemme gewerf, landsake bespreek en netelige kwessies aanhangig gemaak.

Dit was dan ook 'n noodwendigheid dat die humeure soms buite beheer geraak het. Pa het geweet dat hy die bruin houtstoele (regte koshuis-studiesaalstoele) moes wegsluit, maar op die een of ander manier het 'n stoel of drie tog te voorskyn gekom - juis wanneer dit nie moes nie. In die hitte van woordestryd tussen die Malan- en Smuts-ondersteuners, het van die jongboere, aangehits deur van die ouer garde wat op wieke van 'n slukkie witblits, aangepor het, mekaar te lyf gegaan - en dis hier waar 'n stoelpoot nou so handig te pas gekom het! Jy het kort-kort hout hoor kraak, onkiese aanmerkings is heen-en-weer geslinger, en dan het 'n verwoede  "Eina, bliksem!' die lug deurklief, of 'n nog benouder vrouestem het aan't gille gegaan. Dit was vir jou 'n gedoente! Hoofouderling Lundall het gewoonlik die spulletjie (uiteindelik) tot bedaring gebring, maar nie voordat daar werklik bloed gevloei het nie. Maar wat, tussendeur het die primusse geblaas en ta' Breggie en nog 'n suster of drie het die pannekoeke die een na die ander bekaneelsuiker en daar is fluks handel gedryf. Levinson (wat 'n Jood by so 'n okkasie gemaak het, sal net hy weet) het uit 'n sinkbad gevul met ys, botteltjies Coke verkoop, terwyl Miem van oorle Hans, in die wagkamer, tee en koffie bedien het.

Die grootste gewigtigheid, was egter tannie Boud. Haar man was die ploegbaas op Maizefield - ook al waarvan hy in 'n mate, die baas was. Tuis had hy g'n gesag nie, want tannie Boud was enorm, wyd en groot soos 'n watertenk. Sy kon skaars beweeg, maar met daardie Minora-stem het sy haar huis en haard regeer - en sommer die hele stasie ook. Sy moes altoos met kieries loop, want die water in die geswelde bene, het haar gang wankelrig en waggelrig gemaak.

Ewenwel, tannie Boud moes een maal 'n maand, opsluit dorp toe, om haar spensioen by die poskantoor te gaan kry, en sommer 'n paar dingetjies by Voortrekker-winkels en Bombay House. Die groot probleem was om tannie Boud daar te kry, want haar gestalte kon in g'n mouter pas nie - sy kon nie eens by 'n deur in nie! So maak Pa toe die plan (en haar man het Pa inniglik daarvoor bedank) om tannie Boud per trein Bethal toe te stuur - in 'n beestrok! Die swaar ysterdeure is wyd oopgemaak, die onderste panele laat sak, en dan is tannie Boud deur drie of vier vrywilligers - dis nou benewens Pa en haar man - die skuinste op gehelp, bedoelende gestoot. Binne-in die trok, is twee stoele aan mekaar vasgemaak, sodat sy darem haar lyf met vertroue kon neerplaas. Oom Servaas (dis nou haar man) is natuurlik saam, om haar wense uit te voer en so aan, en Bethalstasie is laat weet om vir genoegsame bystand (dis nou vir die afklim-slag daardie kant) te sorg. 'n Verlangse familielid het daar met sy bakkie reggestaan, sodat tannie Boud se stoele van die trein, na die bakkie se bak verskuif kon word, en sy so die dorp kon in. Die terugtog was natuurlik ewe bedrywig, maar (soos ek gemeld het) dit was darem net een keer per maand se ding.

So was die politiek EN tannie Boud, voorwaar gewigtige sake ! Vir die een, het die bloed gevloei; vir die ander een, is sweet afgevee.

Tuesday 4 June 2013

Winter

My ouma het ons hierdie tyd van die jaar, gedurig herinner om 'die kuiltjie Vicks te smeer en toe te maak'. Sy het bybels geglo dat daardie klein keelduikie, die broeiplek van winterkieme was.

Wintertyd is siekwordtyd, was Ma se siening. Miskien was dit deel van haar herinneringe toe sy kleintyd daar in die koue Krugersdorp, as een van 15 kinders (en ongelukkig die oudste dogter) moes help dokter as een of meer van die Smithies loopneus gehad het. Later jare moes sy daar op die nog kouer Bethal met my sukkel toe ek so erg asmaties was. Self het sy die griep geken, was immer hees van keelinfeksie of iets dergliks. Daarvoor was sinkpynspesifiek die gekose doepa, en haar voorskootsak was nooit sonder xxx pepermente nie. Dit was dan vir my (op 'n makabere manier) tog gepas dat Ma, toe sy in 2006 in haar slaap oorlede is, 'n pakkie Hall's - suiglekkers onder die kopkussing gehad het.

Ek dink aan Christine Wolmarans se weergawe van die liedjie 'Winter'. Benewens Connie Francis
se 'Blue winter' en David Essex se 'Winter's tale', is Christine se liedjie oor die koudste seisoen, die een wat in 'n mens se kop bly draal.

Maar, hier in die wonderskone Laeveld, is winter 'n heerlikheid! Die dae loom in die bosveldson en die dorpe en velde is 'n lushof van poinsettia, bougainvilla, koraalboom, aalwyn ...

winterweelde

want elders wring die winterkou
die laaste greintjie somerkrag -
saans sterf die son bloedbelope
agter siedende veldbrande

maar hier pryk poinsettias
wintermooi
en o die kransaalwyn
is die mooiste mooi
teen God's Window se wande

hier raak die somer
nie maklik uitgekuier
en hang die dae weke lank
nog louwarm oor die es  

Wie die laaste lag ...

So sit ons toe eendag in 1974, in die dramakunde 2 - klas by Tukkies, toe daar afgekondig word dat elke fakulteit drie meisies vir joolprinsesse, moes nomineer.

Na die aanvanklike onkuise grappe, aanmerkings en dies meer (tipies student!), was dit toe nogal 'n gewigtige sakie, want ons kon om die dood nie 'n derde meisie eien wat enigsins vlotte-materiaal was nie. Daar is wel verskeie name genoem, maar die reaksie was telkens so verontwaardig en negatief, dat elke naam van die tafel gevee is. Die gaping tussen die twee mooies wat genomineer was en die res, was eenvoudig net te groot.

Klastyd was haas op sy einde, en die kafeteria het geroep. Toe iemand haar naam noem, was die ongunstige kommentaar weer daar, maar meer toeskietlik, want ons wou die affêre net agter die rug kry. Met 'n gespook en gespartel het ons toe darem drie name kon opgee. Die derde meisie was 'n valetjie, een met 'n bleek gesiggie, immer geponiestert, altyd in 'n Tuks-sweetpak geklee - en boonop was die eintlike rede vir haar ongewildheid, die traktaatjies (kaartjies met Bybel-versies op) wat sy dikwels by elkeen van ons se sitplek gelos het.

Nommer drie aanvaar toe haar nominasie, maak die hare los, sit 'n bietjie grimering aan, trek 'n sexy rokkie aan - en skielik het ons monde gekwyl! Om 'n lang storie kort te maak: sy word toe joolkoningin, mej.Noord-Transvaal, mej.Suid-Afrika - én mej.Wêreld! Dis reg, sy was Anneline Kriel - net maar die drama-departement se DERDE keuse vir joolprinses !!

Sy het inderdaad laaste gelag !

Sunday 2 June 2013

Piet Holstys

Tydens ons Bethal-jare van die laatvyftiger, vroegsestiger jare, het 'n Sondagmiddagrit (Pa: "Kom ons gaan ry 'n draaitjie.") soms iewers tussen Bethal en Ogies, op die plaas Witrand, sy stop gevind.
Dit was waar Pa se niggie, tannie Maggie, saam met haar man (Piet Holstys), dogter Santie (enigste
kind) en weduwee-moeder (tant Non, my oupa se oudste suster) 'n meer gegoede plaaslewe gevoer het.

Oom Piet Holtzhausen (vandaar die 'Holstys') was 'n gemoedelike en lekkergesels-man. Hy het, soos
sy broer Naas (was met tant Maggie se suster, Annatjie, getroud) vir 'n ryk Jood, ene Hirschowitz, geboer. Aartappels was die hoofdis van die boerdery, maar daar is ook redelik intensief met melkkoeie geboer. So 'n besoekie het maar altyd met 'n sakkie of drie aartappels (van die met die wit blommetjie - Ma se keuse!), 'n bottel melk en 'n stukkie biltong (daar is maar altyd op die plaas geslag) ge-eindig.

Oom Piet-hulle het in 'n ruim, netjiese plaashuis gebly - heel geriefliker en duidelik van 'n beter klas as Pa se ander familie wat om Bethal 'n plaasbestaan probeer maak het. Die huis was onberispelik netjies (a la tant Maggie) en immer aan die duister kant binne, want tant Non was oud en die skerp sonlig was nie goed vir haar nie. Swaar ferweelgordyne het die sitkamer omsoom en ek was altyd te bang om 'n geluidjie te maak, so om nie die gewyde atmosfeer (soos in 'n kerk, het ek gedink) te versteur nie. Pa en oom Piet het buite, op die stoep, gaan gesels, terwyl Ma maar so agter tant Maggie aan gedrentel het, gewoonlik heen-en-weer kombuis toe, "want die skepsels (swart werkers) is tog so onbetroubaar".

Oom Piet was maar vlak in die sestig toe hy onverwags oorlede is. Tant Non het ook stilweg die tydelike met die ewige verwissel. Tant Maggie het later jare neffens die Bethal-dam in 'n veel kleiner huisie, haar melkterte gebak en vir wie ookal daar aangedoen het, van Santie en haar aanhangsels, vertel. Sy (tant Maggie) was in haar sewentigs, toe sy haar in 'n tweede huwelik met oom Jan Greyling van Hazyview, begewe het. Die familie het haar hierdie stuitigheid, nooit vergewe nie.

Vandag bly net ou grafstene in die begraafplaas langs HS Hoogenhout, oor. Algar is daar begrawe: oom Piet, tant Maggie (Santie het haar ma huis toe gebring), tant Non en haar man, die besukkelde oom Piet Botha (dis nou weer 'n ander storie!).

O ja, vandag (3 Junie) is oom Piet se verjaardag, hy sou 103 gewees het. Soos jy kan agterkom, oom Piet, is daar minstens een familielid, wat jou nie vergeet het nie. Dankie vir die lekker aartappels!

Afslag vir Meneer

Om 'n onderwyser te wees, hou darem so hier en daar effens van 'n voordeel in vir die beoefenaar van die hogere roeping.

Jare gelede was Trudie Meyer 'n graad elf-dogter in die skool waar ek my destyds bevind het. Nogal nie 'n onaansienlike meisie nie, want haar donkerbruin kykers en gitswart hare, het haar heel presentabel gemaak. Maar, Trudie had een groot swakte (dis nou van die swaktes wat daardie tyd aan ons bekend was): haar skoolbesoek was soos 'n breipatroon: 'knit one, slip one'. Ons was almal Trudie se swak skoolbywoning gewoond, maar die Hoof het ons verdraagsaamheid 'n irritasie gevind en hy gryp toe in.

"Jan, jy ry nou dadelik na daardie huis toe en gaan haal vir Gertruida!" Hy was seker dat hy vir eens en vir altyd Trudie se skoolsiek uit haar sou wegboender.

Jan Gericke, ook maar 'n "ja, Meneer, dis reg, Meneer", onsekere groentjie in die onderwys, het die skoolkombi gaan uittrek en afgesit na Joubertstraat, waar die Meyers 'n mini-boerdery op 'n enkel-
standplasie probeer bedryf het.

Huiwerig het Jan aan die groen voordeur geklop. Iemand het vinnig deur die sitkamervenster geloer en Jan kon Trudie se swart hare, dadelik eien. Toe die voordeur oopgaan, kyk Jan vas teen Ma Meyer, die hare in kleurvolle krullers, pantoffels aan die voete en 'n sigaret in die linkerhand.
"Dag, mevrou. Ek is hier om vir Trudie te sien." Jan kon nie die moed bymekaar skraap om dadelik te kenne te gee dat hy Trudie moes saamneem, terug skool toe, nie.
Die vrou beskou Jan toe van kop tot knie, en suig diep aan die sigaret. "Vyftig rand", is haar aanbod, so tussen die rookwalms deur.

Jan was 'n plaasseun wat vroom grootgemaak is en hy het dadelik die hande afwerend voor Ma Meyer gehou.
"Nee ... nee, mevrou, ek is 'n onderwyser ... van die skool ... ".
Weer word Jan van bo na onder getakseer. Ma Meyer kry toe 'n meewarige glimlag op die gesig en met 'n stem wat 'n sweempie simpatie verraai, kom die finale aanbod: "Oukei, ons maak dit dertig rand".

Uit Ouma se memoirs

My ouma De Wet (Magrieta Maria Magdalena de Wet, gebore De Klerk - *16/08/1898 +19/07/1983) het, op my versoek, in die laat 1970's vir my van haar herinneringe sedert die Boere-oorlog, neergepen. Hierdie boek (nog in Ouma se gr.3 - handskrif) is 'n kosbare besitting. Ek haal enkele gedeeltes aan (in meer leesbare taal verwerk!) wat oor die tydperk onmiddellik na die oorlog, handel.

1.  "Toe ons die dag terugkom uit die kamp (konsentrasiekamp te Standerton), het ons op 'n muilwa
       gery. Ons het tente naby my oom Hendrik de Klerk se huis (wat ook verwoes was) opgeslaan.
       My ma het elke oggend met Ousus, Ouboet, Manie en ek, afgegaan na ons plek toe (so vyf
       kilometer verder) en weer begin opbou. Ma het self op die dak geklim en die sinkplate weer
       vasgeslaan en klippe opgesit, net bokant een vertrek, dit was ons ou kombuis. Toe het Ma weer
       die es opgebou sodat ons daarin kon vuurmaak. Ons het sommer so eenkant in die es gesit om
       warm te word. Ma het sommer 'n tafel van stene gepak, 'n sinkplaat gelykgeslaan en bo-op ge-
       sit vir die blad. Toe dra ons van ons goed van oom Hendrik af oor na ons plek toe. Ouboet en
       Manie het die katel gedra en ek het met die beddegoed gehelp."

2.    "Ma het weer begin tuin maak. Sy het mielies geplant, sy het die pitte van haar geboorteplaas
         Diepspruit by Standerton, gekry. Toe pik (skoffel) ons kinders elke dag 'n stukkie en Ma saai
         mielies."

3.     "Ek onthou toe my pa (Jacob de Klerk) die dag teruggekom het (hy was 'n krygsgevangene op
          Bermuda). Toe skreeu ons kinders: 'Daar kom die Engelse !' Pa het 'n keps opgehad en ek het
          bang geword en vir hom weggehardloop. Die ander kinders moes my gaan vang en terug-
          bring. "

4.      "Toe begin die mense goed van Standerton af met 'n muilwa aanry. Toe deel hulle resens (rant-
           soene) aan die mense uit: elkeen het 'n bietjie meel, koffie en suiker gekry. "

5.      "Ma het in die kamp die Engelse se kouse vir hulle gewas. Daarvoor het hulle vir Ma 'n blik
          jem gegee. Ma het dit in 'n houtkassie weggesit. Ek het vandag nog daardie kassie." (dis
          na Ouma se dood in 1983, deur my tannie saam met talle ander waardevolle goed, op 'n
          hoop gegooi en verbrand).

6.      "Ek onthou nog toe my suster Miem gebore is, 9 Junie 1904. Ons kinders moes die aand by
          oom Hendrik en tant Sannie gaan oorslaap. Daar het daardie dag 'n ou smous op die plaas
          aangekom, met sy kar en perde. Toe ons die volgende dag by die huis kom, vertel Pa vir
          ons dat ou Velbaadjie, die Jood ( dit was die smous) die kind vir Ma gegee het. Ek het dit
          regtig geglo. "

My ouma was 'n wandelende eksiklopedie. Sy het by meer as een geleentheid (gewoonlik op my
versoek), op haar gunsteling-stoel voor die koolstoof gaan sit (die stoel staan vandag in my studeerkamer), haar hande oor haar voorskoot gevou, en dan by 1 Januarie begin - en so met die kalender deur die familie gereis. By elke (ja, werklik!) datum, kon sy presies vertel wie op daardie dag verjaar het! Haar vertellinge van die 'toentertydse dae', het my geweldig gefassineer - ek het behoorlik aan haar lippe gehang!

Dankie vir die boek, Nennie. Ek is bevoorreg om dele daarvan, vandag met ander te kan deel.    

Saturday 1 June 2013

Brief

My liewe seun

Ma slaap nou so 'n bietjie, so ek kan gou van my laat hoor.

Dit was maar 'n rowwe nag. ek kon sien die pyn was feitlik ondraaglik, maar onse Vader
het Ma laat deurtrek daglig toe. Ek kan sien die nagtelike stryd het sy letsels gelaat: Ma is
vanoggend doodsbleek en haar asemhaling onegalig.

Hoe gaan dit nog met jou daar in die grote stad ? Ons het jou verlede jaar laas gesien - jy
het seker 'n man geword! Jou laaste oproep so 'n paar maande gelede, het ons baie opgewon-
de gehad! Reken, jy is nou 'n belangrike man daar by jou werk. Verdien 'n groot salaris -
meer as wat jou pa ooit in sy hele lewe bymekaar kon maak. Ons is so ongelooflik trots
op jou, Boeta ! Dit was dubbel en dwars die swaarkry werd om jou studies ten volle te be-
taal - jy kon sonder enige studieskuld die lewe aanpak. Nou het jy 'n pragtige blyplek
(dankie vir die foto!) en daardie blink dubbelkajuit van jou lyk alte spoggerig!

Ai tog, daar kreun Ma in haar slaap. Kyk net hoe vertrek die gesig van pyn. Die dokter het
alles menslik moontlik vir Ma gedoen, maar die kanker het sy loop geneem. Ma wil nie dat
ons jou pla nie, jy het jou eie lewe en is seker baie besig so met die werk en vele verplig-
tinge wat jy het - Ma wil nie ook nog lastig wees nie. Ek probeer haar moed inpraat, maar
sommige dae is die oog maar dof en lyk dit vir my of sy ver weg is. Jy kan seker nog onthou, Ma was mos nooit een vir kla nie. Al het dit ook hoe swaar gegaan en
al het ons ook hoe gesukkel om kop bo water te hou, Ma was maar altyd die een wat kon
vasbyt en vorentoe kon beur.

Maar, nou weet ek nie meer nie, Boeta ... Wat as Ma iets moet oorkom, as sy ophou veg
teen die groot K - wat dan ?! Dit maak my bang ... en laat my so magteloos en alleen
voel ....

Ek hoop jy gaan van krag tot krag daar in die groot stad. Hou jou kop omhoog! Onthou, jy
is 'n Botha, jy stam uit 'n trotse familie!

Ek dra jou elke dag in my gebede op aan ons Hemelse Vader, my seun.

Met al my liefde

Jou pa.

NS:  Dit sal vir Ma so baie beteken as sy jou net een keer weer kon sien, Boeta.

caro nome

die bloed-en-trane bloei
vanoggend vrylik
teen my enkelkamermuur

ek redigeer my denke
deeglik selektief
voordat ek
die laaste boodskap stuur:

miskien was alles destyds
van meet af reeds
gedoem -
die stil geboorte
van 'n vriendskap

en 'n naam
wat ek nou skaars
noem ...

klipvaring

ek voel misplaas
soos die enkele varing
wat weerbarstig
groen-alleen
uit die enigste
krakie
in die fondasiesteen
ewe windgat
sy stukkie son
wil vind

empaties koester ek
die moedswillige varing
wat weerstandig
verset-alleen
uit die enigste
barsie
in die barre steen
ewe opdringerig
sy reg tot lewe
wil beding

o waarom kan my varing
nie soos ander van sy soort
sy wortels sprei
op plekke waar hy
eintlik hoort
en waarom klou hy
beterwet'rig vas
aan hierdie vreemdheid
waar hy glad nie pas ?