Tuesday 28 May 2013

Drank tot die redding

Almal in die Schagen-omgewing het geweet wie oom Malpot was. Sommiges het net van die skelpienk Prefect geweet, ander van sy eienaardige gewoonte om gedurig met homself te loop en praat.

Schagen was een van Pa se haltes langs sy lewenspad, en so dan ook noodwendig ons s'n. Dit was 'n prentjiemooi Laeveld-stasietjie, met Pa die 'SM' (stasiemeester), oom Fanie Stapelberg (by wie ek leer tennis speel het) die laaimeester, en dan die twee voormanne wat die treine moes reguleer, oom Jack van Breda - en dan oom Malpot. Sy van was eintlik Potgieter, maar die bynaam was gepas en selfverklarend: hy was so deurmekaar soos 'n rooihaas!

Oom Malpot het 'n meer as onstuimige liefdeslewe gehad. Sy vrou (hy het die Prefect spesiaal pienk
laat spuitverf omdat sy so van die kleur gehou het) het hom meer toe as af, van die huis weggejaag. Dan het oom Malpot sy lot by Pa op die stasie gaan bekla. Pa had nie veel raad nie, was maar net die gewillige oor. Dan het die ou homself weer al die pad huis toe, toegespreek - met handgebare en al.

So gebeur dit toe dat oom Malpot die Saterdag koponderstebo by die stasie opgedaag het - duidelik erg beswaard.
"Essem, hierdie oom van jou, het besluit om hierdie lewe te verlaat. Ek gaan voor die volgende trein wat verbykom, inspring."
Pa was eerder geamuseerd as geskok, want sulke drastiese verklarings was nie vreemd aan oom Malpot nie. Dit was egter die eerste selfmoord-gedagtes wat die man geuiter het.
"Ag nee wat, Oom kan mos nou nie soiets wil aanvang nie, wat van die vrou en die kindertjies? Dink net hoe swaar hulle sal kry!"
Maar, oom Malpot het sy besluit geneem: voor die eerste die beste trein, sal hy inspring.

Toe volg 'n uitgerekte diskoers oor die sin van die lewe, met Pa wat sy bes probeer om tot die beperkte verstand deur te dring. Niks wou help nie, die sprong was duidelik onafwendbaar.
"Oom", het 'n plan in Pa se kop begin vorm aanneem,"om so voor 'n goederetrein in te spring, sal nie veel ontwrigting veroorsaak nie, dit sal nie eens nuus wees nie. As Oom egter wag tot die passasierstrein verbykom, is dit 'n ander storie. Daai trein mag nie vertraag word nie, dit mag net eenvoudig nie. As hy nie op tyd bly nie, kom dit oor die radio en skryf die koerante daaroor. Ek dink regtig Oom moet vir die passasierstrein wag - dit sal baie beter wees. Almal sal dan van Oom se dood weet."
Oom Malpot het 'n glimlag op die gesig gekry. Ja-nee, dit was 'n uithaler-plan! 'n Man kon darem nie so sonder 'n bietjie erkenning die lewe verlaat nie, dit sou gaaf gewees het as die hele land van sy waagmoed geweet het. Almal sou minstens een keer gehoor het wie Karel Potgieter was, so oor die radio en in "Die Landstem".

En oom Malpot het gewag. Hy het buite op en af oor die platform gestap, die kop geskud en nog harder met homself gepraat. Pa het intussen vir Philemon met 'n paar rand oor die brug gestuur. Hy het spoedig met 'n bottel brandewyn teruggekom en Pa het oom Malpot nader geroep.
"'n Afskeidsdrankie, Oom. Kom ons vier Oom se roem - die man wat die passasierstrein vertraag het!"

So het dit toe aangegaan. Pa skink, oom Malpot drink. Die een afskeid na die ander. Later het die trane gevloei soos die ou dronkverdriet gekry het. Om 'n lang storie kort te knip, toe die passasierstrein uiteindelik verby die stasie gedreun het, was oom Malpot salig onder die tafel, in droomland - onbewus daarvan dat sy groot oomblik, gekom ... en verbygegaan het.

Die volgende oggend laat het hy eers bygekom. Hy het opgestaan, sy klere reggeskud en na Pa gedraai. "Essem, dankie vir die kuier - ek dink die vrou wag." Toe is die man vort, huis toe.

So is oom Malpot se lewe verleng, deur 'n bottel brandewyn - en Pa se blink plan!

No comments:

Post a Comment