Thursday 9 May 2013

Liewe oom Dirk

Dis nou 34 jaar gelede (!), maar Kalembeza bly in my gedagtes.

Ek sal nooit kan vergeet hoe ek en Erik soms saam met oom daar langs die Zambesi gekuier het nie!
Oom het ons soms toegelaat om oom se wit-en-blou boot te bestuur, dan het oom 'n tier of vyf uitgetrek - sommer so met die blink ringetjie van 'n koeldrankblikkie vooraan. Jinne, ek moes ook maar my varkies bymekaar hou om die sandbanke en seekoeie te vermy!

Oom, ek mis vir Erik so baie ... Ons het mos reg langs oom in die barakke gebly. Soms het ons saam met oom sommer so op die trappies en op die beddens (onder die muskietnette) gesit en oor alles en nog wat, gesels. Oom het altyd met Gammat gespeel - hy was oom se skaduwee! Hy was baie meer as net 'n steekhaarbrak - hy was oom se maat, oom se metgesel. Erik het dit geniet om Gammat te terg, en dan vinnig weg te hardloop! Oom onthou mos, Erik was een van die voorste manne in die 2,4km , hy het mos vroeër vir Maties gehardloop.

Daar op Kalembeza het ek en Erik groot drome oor die toekoms gedroom, oom Dirk. Hy kon vir ure oor sy toekomstige vrou en laaitie uitwei. Hy het my so baie van sy mense daar op Ladismith in die Kleinkaroo, vertel - en foto's gewys.

Die lewe het geen waarborge nie, oom Dirk ... Toe oom ons daardie oggend Mpacha toe gevat het toe ons uitgeklaar het, het oom vir ons gesê: "Kyk baie mooi, julle sal dit nie weer sien nie." Oom was reg - veral wat Erik betref. Vir my mag daar dalk in die toekoms nog 'n geleentheid opduik, wie weet ? Maar, Erik het mos verdrink, oom Dirk.

Ai, oom Dirk. Die lewe het voorwaar geen waarborge nie ...

Kobus

No comments:

Post a Comment