Friday 31 May 2013

'n Tiekie vir Kersfees

Veral vir 'n knaap van skoolgaande ouderdom, was en is Kersfees 'n vreugdevolle tyd van baie lag, samesyn, geskenke - en natuurlik, GROOT EET! Ek was bevoorreg om tydens daardie fase van my lewe, tussen familieplase groot te word, met die gevolg dat ek mildelik kon voordeel trek uit al die tannies en niggies se wedywering om daardie perfekte vrugtekoek te bak, die smaaklikste gemmerbier te maak - en dan daardie doekpoeding, die een wat ook 'n tiekiepoeding genoem is, en waarin Ma of Ouma gewoonlik 'n handvol tiekies gemeng het.

Nou kyk, vir 'n soetding of drie het ek nog nooit nee gese nie, en as 'n kind dan nog 'n geldjie in die proses ryker kon word, was dit amper te goed om waar te wees! Daar was egter net een, gewigtige probleem: al wat oumens was, was mos dadel-behep. Die watertand-poeding met daardie skerpsoet stropie by, is altoos met dadels befonkfaai! Van kleintyd af het 'n dadel vir my in dieselfde klas as heuning of 'n lietjie geval: as ek net vaagweg die smakie gekry het, het my ingewande so 'n waarskuwende draai gemaak en was ek sommer die hele dag naarder as naar.

Maar ai, daardie tiekies! Om te dink dat hulle almal Pa of Boeta s'n sou wees, as ek nou nie van die doekpoeding sou eet nie. Die poeding is mos gesny, dan het jy 'n ruim stuk in jou poedingbakkie gekry, en voor jy nog 'n wilsbesluit kon uiter, is die soet stroop oor jou poeding uitgegiet. Genadiglik was daar darem ook gewoonlik 'n plaasbeker vol vla, van die wat Ma of Ouma self gemaak het. Almal het geweet: die vla se skilletjie bo, was myne en ek het dan gesorg dat daardie dreigende dadel wat so aan die kant van die sny poeding uitgesteek het, onder die vla-kombersie bedek was. Dit was egter nie 'n geval van uit die sig, uit die smaak nie, want ek moes noodgedwonge die bedadelde poeding inkry om - hopelik - by daardie tiekie of twee uit te kom. Ek het my bes probeer om so al om die dadels te proe-proe, maar kon telkens nie daarin slaag om die grilligheid te vermy nie. Dit was dan ook nie baie slim om die poeding so gou as moontlik af te wurg nie, want dan is dit gesien as 'n teken dat jy dit so vinnig eet omdat dit so smaaklik was - en jy het NOG 'n ruim sny dadelmal poeding gekry!

As ek vandag so terugdink, was dit egter alles die moeite werd. Met daardie tiekie kon jy 'n piepklein blikkie kondensmelk by oom Lundall se stasiekafee koop, of twee van daardie plastiese eiertjies met die tjaam in, by Sanalala se winkel. As Ma geweet het dat ek 'n tiekie tussen die dadels ontdek het, moes ek dit terstond in my poskantoor-spaarbussie gaan gooi.

Ek ken niemand meer wat vir Kersfees, 'n doekpoeding maak nie. Vandag se kinders weet nie eens meer wat 'n tiekie was nie. Laat ek julle sommer vertel: 'n tiekie was 'n klein, dun geldstukkie wat in daardie tyd, twee-en-'n-halwe sent werd was. Maar, dis mos niks, sal julle dalk dink. Niks? Geen geld in vandag se terme, kan die mooi herinneringe aan toentertyd se Kersfees koop nie - dadels en al!

Tuesday 28 May 2013

Drank tot die redding

Almal in die Schagen-omgewing het geweet wie oom Malpot was. Sommiges het net van die skelpienk Prefect geweet, ander van sy eienaardige gewoonte om gedurig met homself te loop en praat.

Schagen was een van Pa se haltes langs sy lewenspad, en so dan ook noodwendig ons s'n. Dit was 'n prentjiemooi Laeveld-stasietjie, met Pa die 'SM' (stasiemeester), oom Fanie Stapelberg (by wie ek leer tennis speel het) die laaimeester, en dan die twee voormanne wat die treine moes reguleer, oom Jack van Breda - en dan oom Malpot. Sy van was eintlik Potgieter, maar die bynaam was gepas en selfverklarend: hy was so deurmekaar soos 'n rooihaas!

Oom Malpot het 'n meer as onstuimige liefdeslewe gehad. Sy vrou (hy het die Prefect spesiaal pienk
laat spuitverf omdat sy so van die kleur gehou het) het hom meer toe as af, van die huis weggejaag. Dan het oom Malpot sy lot by Pa op die stasie gaan bekla. Pa had nie veel raad nie, was maar net die gewillige oor. Dan het die ou homself weer al die pad huis toe, toegespreek - met handgebare en al.

So gebeur dit toe dat oom Malpot die Saterdag koponderstebo by die stasie opgedaag het - duidelik erg beswaard.
"Essem, hierdie oom van jou, het besluit om hierdie lewe te verlaat. Ek gaan voor die volgende trein wat verbykom, inspring."
Pa was eerder geamuseerd as geskok, want sulke drastiese verklarings was nie vreemd aan oom Malpot nie. Dit was egter die eerste selfmoord-gedagtes wat die man geuiter het.
"Ag nee wat, Oom kan mos nou nie soiets wil aanvang nie, wat van die vrou en die kindertjies? Dink net hoe swaar hulle sal kry!"
Maar, oom Malpot het sy besluit geneem: voor die eerste die beste trein, sal hy inspring.

Toe volg 'n uitgerekte diskoers oor die sin van die lewe, met Pa wat sy bes probeer om tot die beperkte verstand deur te dring. Niks wou help nie, die sprong was duidelik onafwendbaar.
"Oom", het 'n plan in Pa se kop begin vorm aanneem,"om so voor 'n goederetrein in te spring, sal nie veel ontwrigting veroorsaak nie, dit sal nie eens nuus wees nie. As Oom egter wag tot die passasierstrein verbykom, is dit 'n ander storie. Daai trein mag nie vertraag word nie, dit mag net eenvoudig nie. As hy nie op tyd bly nie, kom dit oor die radio en skryf die koerante daaroor. Ek dink regtig Oom moet vir die passasierstrein wag - dit sal baie beter wees. Almal sal dan van Oom se dood weet."
Oom Malpot het 'n glimlag op die gesig gekry. Ja-nee, dit was 'n uithaler-plan! 'n Man kon darem nie so sonder 'n bietjie erkenning die lewe verlaat nie, dit sou gaaf gewees het as die hele land van sy waagmoed geweet het. Almal sou minstens een keer gehoor het wie Karel Potgieter was, so oor die radio en in "Die Landstem".

En oom Malpot het gewag. Hy het buite op en af oor die platform gestap, die kop geskud en nog harder met homself gepraat. Pa het intussen vir Philemon met 'n paar rand oor die brug gestuur. Hy het spoedig met 'n bottel brandewyn teruggekom en Pa het oom Malpot nader geroep.
"'n Afskeidsdrankie, Oom. Kom ons vier Oom se roem - die man wat die passasierstrein vertraag het!"

So het dit toe aangegaan. Pa skink, oom Malpot drink. Die een afskeid na die ander. Later het die trane gevloei soos die ou dronkverdriet gekry het. Om 'n lang storie kort te knip, toe die passasierstrein uiteindelik verby die stasie gedreun het, was oom Malpot salig onder die tafel, in droomland - onbewus daarvan dat sy groot oomblik, gekom ... en verbygegaan het.

Die volgende oggend laat het hy eers bygekom. Hy het opgestaan, sy klere reggeskud en na Pa gedraai. "Essem, dankie vir die kuier - ek dink die vrou wag." Toe is die man vort, huis toe.

So is oom Malpot se lewe verleng, deur 'n bottel brandewyn - en Pa se blink plan!

Monday 27 May 2013

La Montanara

Hierdie liefdesverhouding kom al 'n lang pad.

My eerste nege lewensjaar moes ek noodgedwonge op die Hoëveld deurbring. Al 'berge' wat ek geken het, was die steenkool-mynhope daar na Ogies se kant toe. of dié by Estancia. Wanneer ek op die plaas by Ouma-hulle gekom het, het ek graag deur Ouma se "Die Huisvrou" geblaai, want daar was sporadies 'n foto of twee (swart-en-wit, natuurlik) met berge op die agtergrond. Oupa het vertel dat daar 'n deel van ons land is (later sou ek uitvind dat hy van die Laeveld gepraat het) waar jy jou kop agteroor moet hou, sodat jy die berg en sy kranse mooi kon sien. Hierdie beskrywing het my seuntjie-brein gekielie, ek het gewonder of Oupa se kop nog lekker gewerk het - ek meen, hoe kon 'n berg so hoog wees ?!

Pa se oupa Jacob het hulle, toe Pa nog nie eens in die laerskool was nie, wildtuin toe gevat, sodat hulle kon sien waar hulle jagvelde toentertyd se winters was. Dit het 'n onuitwisbare indruk op Pa gemaak, want ons het later (ek was ook voorskool) die lang pad Laeveld toe met die Austintjie aangedurf.het. Die hoogtepunt was wanneer 'n mens by 'cross roads', anderkant Machadodorp, die berge begin afsak het. Dan het die kranse om jou verrys: magtig en majestueus, terwyl jou oë die grootsheid soos 'n spons geabsorbeer het.

Nog later het ek van die Drakensberge rondom Lydenburg bewus geraak. Toe die onbeskryflike kranse by die Strijdom-tonnel, die rotse in Krokodilpoort. In 1970 het ons deur die Kaap getoer, was op Tafelberg en het die Hexrivier-berge gesien. Op Oudtshoorn (weermag) had ek die genade om die Outeniekwas en Swartberge te sien - én te oorleef! Nog later die Makwonjas by Barberton - selfs die ruggies van die kleiner Lebombo's by Komatipoort.

'Rondom Jerusalem is berge', sê die Woord. Ook: "Slaan jou oë op na die berge". Vir die arme Israeliete was dit merendeels kaal, barre en floralose berge - tog het hulle geglo. Ons het die teendeel: die pragtigste, ongelooflikste berge - en tog is daar talle (vandag, meer as ooit) wat nie glo nie. Sy almag word deur berge weerspieël. Sy skeppingskrag kom in berge na vore.

La Montanara. Swadini se prag, die Waterberge anderkant Nylstroom. Meiringspoort, Tredouxs-pas, Naudésnek anderkant Maclear ... Strooi my as onder 'n kiepersol, hoog teen 'n berg.

Sunday 26 May 2013

Oor arme Alma en die saag

Een van Ouma de Wet se broers was oom Manie de Klerk, getroud met die sagsinnige tant Ella ('n nooi Pretorius, uit Carolina se geweste). Oom Manie was onder die familie bekend as oom Dil - ek het nooit uitgevind waarom hy hierdie naam gekry het nie.

Hulle het, soos my ouma en nog twee van haar broers, op oom Manie se erfdeel van Eerstegeluk (Bethal) gewoon - so neffens die grondpad Davel toe. Oom Manie was 'n groot man, veel meer as die gewone 'geset', en hy en tant Ella het byna potsierlik langs mekaar gelyk. Sy was immer maer en klein, met 'n altyd-teenwoordige bollatjie, kuis agter die kop in 'n haarnet vasgevang.

Hulle had vier kinders: die oudste was Abie, 'n seun wat as kind polio opgedoen het; dan was daar Herman, die Paul Newman-gesig met die blouste paar kykers; dan Koos (Pa het altyd van 'Koos broeksak' gepraat); en dan arme Alma, die pragtige donkerkop, wat haar in 'n huwelik met 'n sukkelende boer van Roedtan, begeef het.

Tant Ella het, sonder uitsondering, net een punt op haar agenda gehad. Al het enigeen die gesprek in waffer rigting ook gestuur, sy het gesorg dat arme Alma se deerniswekkende stryd daar op die ongenaakbare Springbokvlakte, die middelpunt van die geselskap gebly het. Tant Ella kon vir ure teem oor hoe jammer sy die arme, arme kind gekry het. Dan moes Ouma of ander kuiergaste maar gelate simpatie betuig en gemaak-belangstellend oor arme Alma se nuutste beproewing uitvra.

Oom Manie, daarenteen, kon land-en-sand gesels. Hy het sy pyp gestop, die kruisbande so effe verskuif, en dan oor 'n wye verskeidenheid ditjies en datjies uitgewei. Na 'n koppie koffie en 'n plaasbeskuit of twee, moes daar terstond afgestap word melkstalle toe, waar oom Dil sy melkkoeie met trots by die naam geroep het. Daar, in een van die buitekamers, het oom Dil se saag teen die muur gehang. 'n Groot (lang) treksaag, waarmee daardie jare takke afgesaag is. As Pa mooi gevra het, het oom Dil dan die melkstoeltjie nadergetrek, die saag van die muur gehaak en so tussen sy bene gebuig. Die handvatsel is op die een voet vasgedruk, en die skewe saag is met die linkerhand bo vasgehou. Die strykstok is van iewers gehaal - en oom Dil het losgetrek met 'Nader my God by U' of 'Wat 'n vriend het ons in Jesus'. As oom Dil se roomafskeier die dag lustig gesing het, het hy met 'n glimlag selfs Chris Blignaut se 'Maanlig op die Vaalrivier se walle' gewaag. Dit moes altoos in die buitekamer geskied, want tant Ella het 'die stuitigheid' nie in haar huis geduld nie. In haar voorhuis was 'n trapserfyntjie (huisorreltjie), maar selfs dit was altyd toe en verbode.

Arme Alma is op 'n jong ouderdom aan kanker oorlede. Oom Manie het met sy Chev Fleetline by 'n brug afgery. Tant Ella het net weggekwyn, stil soos sy gelewe het. Ek was op haar begrafnis, daar vanuit die NG Moederkerk op Bethal. Die diens is na die sitkamer van die ouetehuis waar sy haar laaste jaar of vyf verwyl het, versend. Terwyl ek so in die kerk na die pragtige orrelklanke geluister het, het ek weer oom Manie se saag gehoor ... so in die agtergrond van tant Ella se arme Alma-vertellinge.

Miskien het die saag voorbodelik gehuil oor arme Alma se aardse stryd, wie sal weet ...?

Saturday 25 May 2013

Tant Sarie

Vandag, 26 Mei, is die verjaardag van tant Sarie de Clercq (*1849  +1936). Sy was die vrou van oom Krisjan de Clercq, broer van my oorgrootjie se pa, Johannes Gysbert de Klerk, van Bethal. Ja, ek het reg gespel - die twee broers het hul van verskillend gespel (na familietwis).

Tant Sarie en haar man het op die familieplaas Hermansburg (buite Nelspruit) geboer. Hulle is dan ook beide daar begrawe. Haar dogter, Lenie, is toe later met een van die ou goudgrawers van Kaapsehoop (oom Albert Myburgh) getroud. Lenie was weer die ma van Boet Myburgh, wat later met 'n seun van JG de Klerk (Hendrik) se dogter, Martina, getroud is. Martiena se pa (oom Hendrik) was my ouma se oom. Verstaan jy? Toemaar, ek moes ook my varkies mooi bymekaar hou om dit alles te kon neerskryf!.

My pa (al in 2004 oorlede) het my die hele familie-geskiedenis vertel - en ek het dit alles gelukkig neergepen. Ewenwel, tant Sarie was glo 'n stoere boervrou wat die woeste Laeveld met sy malaria, slange en ander ongediertes, in die 1910-1920 jare moes tem en haar kinders in moes grootmaak.
Wanneer oupagrootjie Jacob (J.G. se seun) in die Pretoriuskop-omgewing (die wildtuin was nog nie geproklameer nie) kom jag het, het hy altoos by oom Krisjan en tant Sarie oorgebly. Later jare het grootoupa Jacob vir my pa-hulle kom wys waar hy gejag het, toe die wildtuin tot stand gekom het. Hulle het in tente gebly, en snags moes groot vure die leeus weghou. 'n Jonger broertjie is glo daar op Pretoriuskop aan malaria dood en is toe daar op die koppie begrawe.

So, vandag (26 Mei) is tant Sarie verjaardag. Ek dink met weemoed aan jou, tant Sarie, al het ek jou self nooit geken nie. Om hier in die ruigtes 'n bestaan in daardie gevaarlike jare te kon maak, moes vroue van murg in hulle pype, geverg het! Ek vat 'n slukkie warm koffie op tant Sarie!

Wednesday 22 May 2013

kwotas

Wat my vanoggend swaar op die hart druk, het niks met kreatiwiteit te make nie - maar BAIE met de bliksem in wees !!!

Ons skool staan midde-in 'n skitterende rugby-seisoen. Die eerstes het reeds tweede in die gesogte NuPower-reeks gekom, en verlede week 'n mooi oorwinning oor die uiteindelike wenners van genoemde kompetisie behaal. Daar is ongetwyfeld 'n hele klompie uithaler-spelers onder hulle, anders sou hulle nie so goed gevaar het nie. Van hulle is reeds deur die provinsiale keurders raakgesien en rakende moontlike kontrakte genader.

Maar, dis enige skoolseun se droom om Craven-week te speel. Proewe is gehou - 'n hele reeks daarvan, om die bestes onder die bestes uit te sif en te identifiseer. Die spanne word tans bekendgemaak - met die noodwendige teleurstelling vir party wie se drome nie gerealiseer het nie. Wat egter my so die hoenders in maak, is dat skitterende spelers, eenvoudig net moet terugstaan vir ander wat selfs twee ligas laer speel - bloot net omdat die verpestelike kwota-stelsel toegepas 'moet word'! Kinders se drome word verpletter deur grootmense wat hulself  'opvoeders' noem! Hulle het seker ook nie 'n keuse nie, dit word van bo af op hulle af geforseer, maar my hart gaan uit na hierdie jong sportmanne van wie verwag word om skreiende onreg te prober verstaan!

Waarom is daar nie 'n kwota-stelsel vir sokker nie ?! Witmense speel nie sokker nie. Wat jy waar kry ?? Daar is tientalle entoesiasiese en talentvolle wit seuns wat sokker speel. Waarom word die kwota-stelsel in rugby so streng toegepas ? Om iets wat tradisioneel baie belangrik vir die blanke is, te ondermyn en te infiltreer.

Ek gun enigeen, ongeag ras of kleur, die geleentheid om bo-uit te kom , maar dan moet hy/sy hulself bewys as beter as ander - op meriete! Self het ek in die 1990's as bestuurder van die Mpumalanga-tennisspan 'n interprovinsiale toernooi in Pietermaritzburg meegemaak. Daar was swart spelers van Limpopo (met die nuutste en pragtigste toerusting en kleredrag - alles geborg) wat nie eens telling kon hou nie !! Ons moes hulle kort-kort help as hulle van die verkeerde kant van die baan wou afslaan!

Hoe lank sal ons kinders dan nog moet boet vir iets waaraan hulle geen deel gehad het nie ??  

Tuesday 21 May 2013

'The last waltz'

Ek dink soms met heimwee terug aan die sewentiger jare, toe ons as studente by Tuks so 'n aangename koshuislewe gehad het.

Die heerlike kuiers saans in 'Chappie's Den' (Taaibos se ontspanningsaal), is van die mooiste herinneringe. Beker koffie in die hand, is daar gelag, gesels en sommer net laf gewees. Snoeker, tafeltennis en veerpyle was ons sport, terwyl ander weer sommer daar by een van die tafels gou 'n handjie uitgedeel het (so het ons van kaartspel - brug - gepraat).

Sporadies was daar op 'n Vrydag- of Saterdagaand 'n sokkie (die kollege se weergawe is 'n 'platvoetjie' genoem). Dan was 'n Asterhof- of Jasmyn-meisie die gewildste aan-die-sy vir die aand. Erika en Klaradyn se meisies was ook nie onaardig nie, maar dan het almal geweet dit gaan nie oor die dans nie (hulle was daardie tyd die 'wilde' meisies!).

So teen kwart-voor-twaalf se koers, het die tempo merkbaar vertraag, die ligte is sagter gestel (of afgeskakel) en "Shalala, I need you" se romantiese klanke het die gange gevul. Peter Mathey se "You" het die manne die meisies nog stywer laat vasdruk, en wanneer "I wanna live" aan die beurt gekom het, was dit tyd vir totsiens. Engelbert Humperdinck se "The last waltz" was gewoonlik die encore, voordat die huisvoorsitter (of HK-lid vir sosiaal) teensinnig die ligte aangeskakel het.

Self het ek nooit kwart-voor-twaalf gehaal nie ... Ek was iewers, waar ek dit nie kon hoor nie.

Monday 20 May 2013

Die man en die ster

Daar was eendag 'n man wat hartstogtelik op 'n ster verlief geraak het. Saans het hy met die grootste verlange in sy hart, na bo gestaar waar die ster onbereikbaar ver, in die hemelruim geskitter het.

Op 'n keer, het die intense hunkering na sy geliefde ster, hom so oorweldig dat hy in die lug opgespring en met sy hande na bo gehef, 'n poging aangewend het om na sy droom te vlieg. Maar, terwyl sy voete die bekende aarde verlaat het, het hy skielik getwyfel en gedink: "Ek sal dit tog nooit regkry nie - dis nie moontlik nie."

Verpletter en verslae het die man op die grond neergesak. Rou snikke het deur sy lyf getrek en die teleurstelling was haas onhanteerbaar. Sien, as hy op daardie oomblik toe hy gespring het, waarlik geglo het dat hy sy ster sou bereik, sou hy deur die lug geklief het en met sy ster verenig gewees het.

Drome sal vir altyd net drome bly, as ons nie glo in die moontlikheid daarvan nie.

Sunday 19 May 2013

Vreemde woorde

Ek kan nog nie vrede maak met die woord 'blog' nie - dit klink heel volksvreemd! Om dan nog boonop na iemand as 'n 'blogger' te verwys, blaas die borrel darem net TE groot. Hoe zef klink dit nie: "Luister, jou blogger !"

Dis amper soos die rekenaar wat daagliks op die skerm flits: "Log off". Ek meen, dit klink darem baie onvriendelik om sommer so onbeskaamd, herhaaldelik, vir jou 'lewensmaat' soiets toe te snou! En dan kan die bloemin' blikbrein nie eens spel nie!!

Maar, die doyaan (moet sekerlik die manlik van 'doyen'' wees ?) van die drama, Willem Wikkelspies, het die sakie mos eertyd al aangespreek: "What's in a name ?" Dis nou as 'n man die woorde so 'n bietjie a la Uys Krige kan aanpas om " ... in an expression" by te trek!

Laat ons mekaar nie uitlandiese (sic!) goeters toevoeg in 'n taal wat algar nie verstaan en  wat nie aanstoot gee nie. Vermy woorde soos 'norra' en 'porra' - dit klink net Parrowrig! Hoe kan 'n mens dit oor jou hart kry om aan 'n mooi meisie te vra: "Kan ek aan jou norra vat ?" ?! Hoe moet die skone Marilyn (veral met daardie kleur hare) dan weet dat jou 'norra' maar net die klein nekholtetjie agter die kop is ?

Ik hebt gezegt!

Friday 17 May 2013

Rugby-hoogtepunt

Gert het gisteraand se Puma-Leeus rugby in die Mbombela-stadion gaan beleef. Dit was sy eerste besoek aan onse berugte 'kontrakte-vir-my-buti's'  stadion.

Toe hy weer tuis was, het ek hom gepols oor sy indrukke, oor wat nou vir HOM die hoogtepunte was.
Ek het verwag dat hy breedvoerig oor die verloop van die wedstryd sou relaas, oor die pom-pom meisies - of dalk die jillende atmosfeer in die skyn-daglig.

Gert het net twee dinge beleef wat (blykbaar) nie sommer sy geheue sal verlaat nie. Eerstens die teleurstelling dat hy NIE sy biltong mog ingevat het nie (jy word gedwing om binne te koop). Hierdie ontnugtering was egter nie die grootste een nie.

"Pa moet sien hoe klein daai veld is!" Hy het met sy vingers beduie. "Daai manne skop die stoele stukkend!" Ek het eers nie mooi verstaan wat die stukkende stoele met die rugby-speelveld te make het nie.
"Wie skop die stoele stukkend ?" het ek opreg onnosel, gevra.
"Daai skoppers ! Hulle skop die bal tot tussen die stoele - en dis plastiese stoele! Hulle verniel die stadion!"

So kry ons almal maar verskillende indrukke. Ek moes iets oor die rugby uit hom trek.
"Toe verloor die Pumas", het ek hom by die wedstryd gedwing.
"Kon nie anders nie", was sy kommentaar. "Die Pumas is sulke ou kleintjies, die Leeus is groter en ouer".

'n Mens hoef nie van die tegniese sy van rugby te weet, om 'n wedstryd te onthou nie.

Thursday 16 May 2013

Die onvermydelike.

Ek dink vanoggend baie ver terug, doer na die vroeg-sestigs toe my ouma se broer, oom Jan de Klerk, daar op sy erfdeel van die plaas Eerstegeluk (Bethal) in die donker slaapkamer, op sy laaste was.

Oom Jan se vrou (hy was met sy niggie, tant Attie, getroud - dis 'n ander storie!) was 'n willewragtig! Sy kon 'n sweep laat klap soos g'n man haar kon nadoen nie, en het altoos sambok in die hand, die plaaswerf geregeer. Sy het hewig gesnuif, die blink snuifblikkie was as't ware aan haar voorskootsak vasgesweis.

So ry Ouma toe die dag oor soontoe om haar baie siek broer, so op sy laaste te gaan besoek. Sy sien toe hy gaan nie die son die volgende dag sien opkom nie. Ouma het net daar op sy bed langs hom gesit en haar oumens-gedagtes gedink. Sy maak toe die waslappie wat langs die lampetbeker was, 'n bietjie nat en vee oor oom Jan se gesig. Net toe kom tant Attie die vertrek binne. Sy sien toe hoe teer en susterlik Ouma haar broer se gelaat afvee.
"Wat vang jy nou aan, Marja ?!" Tant Attie was sommer de hoenders in. "Jy hou hom terug !"

Het het gemeld dat tant Attie 'n vrou sonder genade was ?

Wednesday 15 May 2013

Aanpassing ?!

Een van die vele onverklaarbaarhede vir my, is hoe mense liries kan raak oor hoe wonderlik 'n dier of gevogelte by die mens aangepas het. Dit is immers iets om oor trane te kry!

Hier naby ons huis is 'n sloot (donga) wat deur die dorp kronkel. Vir talle diertjies en gevleueldes is dit 'n laaste toevlugsoord. Vroeg soggens kan jy die rooikeelfisante hoor, soms 'n tarentaal of twee en per geleentheid 'n vleiloerie of bosnagaap. Elke keer krimp my binneste ineen, want dan dink ek aan die vrye natuur soos die wildtuin, waar hulle familie leef soos hulle veronderstel is om te leef: onbewus van kettings en dinge wat bind.

Ek is nie ondankbaar vir die voorreg om hierdie geluide om die huis te kan hoor nie, maar om daaraan te dink as dat die natuur by die mens aangepas het, is geensins vir my 'n rein gedagte nie! Trouens, dit skreeu ten hemele! "Twee kraaie het hul nes gemaak van stukkies draad ... " Hoe skreiend ironies!

Elke keer wanneer ons afry Komatipoort toe om by Krokodilbrug die wildtuin binne te gaan, sien ons hoe nog meer en meer pragtige inheemse plantegroei, die mooiste bome en Laeveld-struike, moes plek maak vir nog suikerlande. Ontbossing is 'n daaglikse aktiwiteit.

Dankie dat ek in hierdie laaste tye nog die voorreg het om, al is dit reeds gehawend en nie meer wat dit eens was nie, die natuur te kan waardeer - om nog vir kilometers te kan ry, sonder om 'n mens (of sy vernielsug) te sien.  Sulke plekke raak skaars, ek glo nie een of twee geslagte vorentoe sal in hierdie vreugde kan deel nie ...

Tuesday 14 May 2013

Die nar

Hy is 'n selfaangestelde arties. Sy arsenaal grappies is onuitputbaar - veral omdat hy voortdurend nog byvoegings vanaf die internet maak. Hy sorg ook dat hy die regte vriende het - diegene wat graag in sy kalklig deel, en dus ook grappies en spitsvondighede aandra.

Hy ken sy teikenmark baie goed, weet wat hulle laat skater. Hoe onkieser, hoe laer onder die belt, hoe beter. Sy entourage hang soos blindes om hom en soek sy leiding om lyding te verlig - om te lag wanneer die lewe hulle laat huil. Dit voed sy drang na erkenning, veral omdat hy nie elders in sy mondering iets het wat erkenning verdien nie.

Hy daag graag op by partytjies, groepies wat oor seks en derglike onderwerpe gesels, by vleisbraaie en daar waar bier die stapelvoedsel is. Wanneer hy belangrike kontakte gewaar, stof hy weer sy beste grappies af en vertel hulle met totale oorgawe.

kafeteria-blues

die ewige nar het sy vlerke gesprei
- selfs die leeutemmer moet lag -
en die sweefstok-arties wil 'n papie kry
oor die nar se grap van die dag

die wenkbroue roer en die ogies flits
want die nar se brein is paraat:
om die baas te vergrap is roem in 'n kits
wat die kliek met 'n glimlag laat

dit proes en dit giggel en die nar
syg neer vol selfvoldane behae:
selfs posvlak twee het meegegee -
wat meer kan 'n nar vra ?

Maar, enige gewoonte-nar het 'n yslike probleem. Iets waarvoor hy vrees, want hy weet dit gaan
iewers langs die pad, oor sy pad kom. Daar sal 'n dag aanbreek wanneer die nar iets ernstig, iets
van groot waarde of belang met die skare moet deel - en wie sal hom dan glo ? Hy is mos net die nar,
nooit ernstig nie en immer ligsinnig. Dan word die nar se 'belangrike mededeling' in die wind geslaan, want waarom sal 'n mens hom nou skielik glo - hy is mos net die nar.

Intussen is ons daagliks blootgestel aan die nar. Ons byt maar op die tande en glimlag gemaak-erkentlik vir sy nuutste pittighede. Heil die ewige nar, maskerdraer sonder weerga!

Aartslawaaiers

Jy gesels nog die een oomblik rustig en ontspanne met jou vriende of kennisse, dan is hy daar: daardie onwelkome, irriterende mens wat ongenooid by die geselskap aansluit, vinnig verneem waaroor gepraat word - en dan die geselskap oorneem!

Die aartslawaaier is mal daaroor om sy eie stem te hoor. Hy het 'n (luidrugtige) mening oor enige onderwerp, of sy opinie gevra is, of nie. En o, hy is tog so slim! Hy sal vir Jacques Kallis breedvoerig vertel hoe hy krieket behoort te speel; hy sal die Pous raad gee hoe om die Vatikaan te bestuur; hy sal jou (al het hy nie 'n idee wat in jou binneste aangaan nie) vertel wat jy behoort te voel en te dink.

Gedurende my lewenspad van vele dekades, het ek 'n hele paar diesulkes raakgeloop. Die eerste impuls is om hulle te vermy, maar hierdie geveinsdes LAAT hulle nie vermy nie! Hulle is dikvellig en klim ongesteurd in jou lewensruimte in. Hulle wurm hulle in waar hulle gesien en gehoor kan word. Hulle maak die regte geluide op die regte plekke, in die regte geselskap, sodat hulle kan inzoom op die niksvermoedendes - en sodoende 'n vasskopplek kan bekom.

Iewers in die Skrif word ons gewaarsku om luidrugtige mense te vermy (ek dink dit staan in 'Spreuke' geskrywe). Wat ek wel al omtrent hierdie spesie uitgevind het, is dat hulle juis die aandag op hulle gevestig wil hou, want dan maak hulle seker dat die aandag nie dalk wegdwaal na 'verbode terrein' nie - iets is dalk nie so pluis by die huis of in die eie verlede, nie.

Miskien is dit nie 'n slegte plan nie! Vra 'n aartslawaaier uit oor sy agtergrond. Vra indringende vrae oor waar hy vandaan kom, skoolgegaan het, studeer het en wie sy familie was / is. Die resultaat mag dalk net wees dat hy jou in die toekoms sal vermy - wat 'n sielsalige gedagte!

Monday 13 May 2013

Onsekerhede

Ons leef vandag in onsekere tye. Korrupsie vier hoogty, die skelm en onderkruiper, het die held geword. Oral om ons, sien ons hoe ons belastinggeld in die vorm van duur motors, duurder vakansies en die duurste bonusse (vir swakker werksprestasie), verkwis word.

Te midde van al hierdie morele agteruitgang, is opregte belangstelling, ware vriendskap en onvoorwaardelike liefde, deugde wat al hoe belangriker vir ons word. Daar is oorgenoeg lelik in die wêreld, te veel slegte nuus en oordadige frustrasie.

Kom ons fokus op ons naby-mense en vriende, kom ons wys meer dat ons waarlik omgee. Soos elkeen van ons, het hulle ook ondersteuning en onderskraging broodnodig. 'n Vriendelike woord, 'n deernisvolle drukkie - selfs net 'n glimlag - kan net die petrol wees waarmee daardie persoon in sy/haar dag, oor die weg gaan kom.

Jy kan nie verwag om liefde te ontvang, as jy nie liefde gee nie. Wat jy saai, sal jy maai. In die skuur van onsekerhede, is die omgee van 'n geliefde 'n verseëlde pakkie waaraan die rotte van verwoesting, geen skade kan doen nie.

Sunday 12 May 2013

Sommige dae ...

Soms lyk die vooruitsigte van 'n nuwe dag, onhanteerbaar en baie meer veeleisend as waarvoor 'n mens kans sien. Dan hunker jy na mense wat jy liefhet, aan wie ky kan vashou en in wie se oë jy liefde, begrip en ondersteuning kan lees.

Vir elkeen van ons, IS daar iewers minstens één so 'n persoon

Saturday 11 May 2013

Moedersdag 2013

Dis tog interessant hoe die rol van 'n moeder oor die jare verander het. In die vorige eeu (rondom die vyftiger en sestiger jare) was die meerderheid ma's voltydse huisvrouens. In die 'moderne' tyd is ma's wat nie 'n beroep beoefen nie, 'n rariteit.

Hierdie (noodgedwonge) verskuiwing, het ook 'n paar veranderinge in die rol van 'n ma, teweeg gebring. Voorheen was 'n ma die verpersoonliking van huislikheid, van bak en brou en klere maak en trots op haar potplante en tuin. Daarom word vandag (deur die ouer garde) met weemoed teruggedink aan Ma se lekker gebak en tafels wat gekreun het onder die heerlikste etes. Selfs 'n eenvoudige ritueel soos teetyd, was 'n belewenis want daar was immer 'n lekkerny of drie op die skinkbord. Fyn teestelle met nog fyner, handgemaakte skinkbordlappies, was algemeen.

Toe kom die ekonomiese omwenteling, of eerder: ons geld word minder werd. Huise, karre, meubels, skoolgelde - alles het vining baie duurder geword, en salarisse het nie tred gehou nie. Ma moes maar inspring en ook 'n verdienste huis toe bring. Kitskos het die in-ding geword, tyd 'n groot faktor en dinge moes voortaan vining geskied. Die warm huislikheid het plek gemaak vir (oppervlakkige?) kort gesprekke, besoeke aan wasserye en kettingwinkels. Kouse wat gate kry, is nie meer gestop nie ("Waar moet ek die tyd vandaan kry?"), 'n nuwe paar word summier aangekoop. Iets lekker saam met die tee, is gou by die naaste deli gekoop. So het die bose kring van koop, koop en nogmaals koop, wyer en wyer gerek. Kinders is deesdae ook besiger as ooit, bring langer ure as in die verlede, by die skool deur. In die middae het skoolaktiwiteite meer en meer geword, met die gevolg dat ouers hulle kinders net saans sien, selfs net naweke (koshuiskinders). Die broodnodige ouer-kind kontak het minder geword, met die gevolg dat die onderwyser en sportafrigter se opvoedingstaak (instaan vir die ouer) as't ware van kritieke belang geword het - wat weer groot verantwoordelikheid op die opvoeders plaas.

My eie ma was deel van die twee tydvakke, voor en na die eeuwending. Sy was egter nooit na haar troue 'n beroepsvrou nie, was haar lewe lank 'n huisvrou ("tuisteskepper" klink nie soos 'n ma nie!).
Ons het grootgeword met melkterte en koeksisters en tuisgemaakte klere en groentetuine en teeserviese. Ons was so bevoorreg ... besef ek al hoe meer.

Verlang na jou, Ma ...

Maagdelike waterdraer

Op ons personeel was 'n jong kollega wat glad van bek was. Soos die Voorsienigheid dit seker ook maar beplan het, was hierdie welsprekendheid gekombineer met 'n fyn sin vir humor - nie altyd ewe kuis nie, maar telkens gevat en in die kol.

So meld daar op 'n dag toe 'n jong beginner-juffrou by die skool aan vir diens. Die hoof het haar vaderlik toewys gemaak en ons het almal probeer om haar op haar gemak te stel en tuis te laat voel. Ons jong terggees kon egter nie die kans laat verbygaan nie. So asof dit blote verneem na haar welstand was, vra hy vir haar: "Is jy 'n Maagd ?"
Die arme dametjie bloos toe bloedrooi en antwoord duidelik vererg: "Ja! En wat het dit met jou te doen ?!"
"Nee, " kom sy antwoord, "ek wonder maar net. Ek is 'n Waterdraer."

Kadette in die rooitaal

Moedswil speel soms 'n meer as beduidende rol in die faktore wat tot 'n onderwyser se verleentheid lei. Op 'n keer, tydens die jare toe kadetperiodes nog deel van die skoolprogram was, moes 'n 'n jong onderwyser 'n groepie seuns dril. Met sy kadetopleiding het niks geskort nie, want hy was pas klaar met sy diensplig. Die probleem was egter dat die jongman by 'n dubbelmedium-skool beland het - en 'n stryd met die rooitaal gevoer het.

Een van sy ouer kollegas wys toe (en dis waar die moedswil inkom) 'n groepie Engelssprekende leerders aan die arme man toe. Wetende dat daar daardie dag gedril moes word, is die potensiaal vir 'n bietjie komiese afleiding, dadelik deur die res van die manspersoneel raakgesien.

Alles het aanvanklik redelik vlot verloop - totdat die peloton 'n omkeer moes maak. Die onderwyser het sy woordeskat duidelik onderskat, want skel en duidelik weergalm dit oor die paradegrond: "Squad!  Squad, retarded!" Nou ja, vir 'n Afrikaans-sprekende wat nie veel van 'n aanvoeling vir die Britse taal het nie, is daar seker nie veel verskil tussen "retire" en "retarded" nie, maar vir die wat weet, klink dit heel komies !

Thursday 9 May 2013

Liewe oom Dirk

Dis nou 34 jaar gelede (!), maar Kalembeza bly in my gedagtes.

Ek sal nooit kan vergeet hoe ek en Erik soms saam met oom daar langs die Zambesi gekuier het nie!
Oom het ons soms toegelaat om oom se wit-en-blou boot te bestuur, dan het oom 'n tier of vyf uitgetrek - sommer so met die blink ringetjie van 'n koeldrankblikkie vooraan. Jinne, ek moes ook maar my varkies bymekaar hou om die sandbanke en seekoeie te vermy!

Oom, ek mis vir Erik so baie ... Ons het mos reg langs oom in die barakke gebly. Soms het ons saam met oom sommer so op die trappies en op die beddens (onder die muskietnette) gesit en oor alles en nog wat, gesels. Oom het altyd met Gammat gespeel - hy was oom se skaduwee! Hy was baie meer as net 'n steekhaarbrak - hy was oom se maat, oom se metgesel. Erik het dit geniet om Gammat te terg, en dan vinnig weg te hardloop! Oom onthou mos, Erik was een van die voorste manne in die 2,4km , hy het mos vroeër vir Maties gehardloop.

Daar op Kalembeza het ek en Erik groot drome oor die toekoms gedroom, oom Dirk. Hy kon vir ure oor sy toekomstige vrou en laaitie uitwei. Hy het my so baie van sy mense daar op Ladismith in die Kleinkaroo, vertel - en foto's gewys.

Die lewe het geen waarborge nie, oom Dirk ... Toe oom ons daardie oggend Mpacha toe gevat het toe ons uitgeklaar het, het oom vir ons gesê: "Kyk baie mooi, julle sal dit nie weer sien nie." Oom was reg - veral wat Erik betref. Vir my mag daar dalk in die toekoms nog 'n geleentheid opduik, wie weet ? Maar, Erik het mos verdrink, oom Dirk.

Ai, oom Dirk. Die lewe het voorwaar geen waarborge nie ...

Kobus

Wednesday 8 May 2013

verlange

vroegoggend stort my dag ineen
en buig my laatnagsteiers onder
jare se opgehoopte verlange ...

weerloos weeklaag ek oor my verlies
en probeer vergeefs
'n nuwe uitweg uit my weemoed kies

na middernag begin ek maar weer
- soos telkens vantevore -
verder bou
aan hierdie uitsiglose lewe
                                           sonder jou

kunstenaarskruis

ek het myself onwillig gedwing
tot sistematiese ordening
van my taalkundeboek

maar binne my maak alles beswaar
teen hierdie dwinglandy waar
woorde na uitvlug soek

geen vrye gees kan hom laat bind
- dit het ek telkemaal bevind
in die stilte van my sel se hoek

Grootouma

Vandag verjaar grootouma Anna Magrieta de Wet, gebore Krieg (*09/05/1867 +10/11/1944). Sy is agt jaar voor my geboorte oorlede, en haar man (Christiaan Rudolph) vier jaar voor ek die lewenslig vir die eerste keer aanskou het.

Gedurende my kinderdae is vele staaltjies oor die twee oumagrootjies vertel, die De Wet een, asook grootouma De Klerk. Ouma De Wet was, soos bo aangedui, 'n nooi Krieg - ook van Bethal se omgewing. Haar ma was 'n Rabie. Iets van grootouma wat my altyd gefassineer het, was die feit dat sy tydens die AB-oorlog, (met die kinders saam met haar) op kommando was . Sy was glo soos 'n man vermom, en die kinders is in grotte en skeure weggesteek. My oupa was toe 'n kannetjie van 10 jaar oud.

My pa het my by meer as een geleentheid vertel dat sy oupa Krisjan hom meegedeel het dat een van die swart meelopers van die Kakies, Ouma glo by geleentheid met 'n geweerkolf platgeslaan het. Dit het Oupa Krisjan en die ander 'burghers' so briesend gemaak, dat hulle die man 'gejag' het - en met hom afgereken het (op gepaste wyse - sal dit liewer nie hier herhaal nie).  

Vandag wemel die nageslag van Anna Magrietas, grootouma is geil vernoem! Stoere Boere, my vriend, stoere Boere!

Tuesday 7 May 2013

Alexenburg se teorie

Dit was die jaar 1976, ek was 'n nagraadse HOD-student by Tukkies. In daardie jare het die HOD uit een jaar voltydse studie bestaan, 15 vakke in twee semesters ingeprop. Ek het gemaklik met 14 van hulle gevoel, selfs van hulle baie geniet. Dit was egter daardie 15de een, Historiese Pedagogiek, wat my konstitusie heeltemal omgekrap en my geduld tot nuwe uiterstes besproef het!

Ons lektor was droog, die vakinhoud was droog - en die gewarrawarra oor vreemdsoortige name en gebeure uit 'n 'whatever'-tydperk, het my grensloos geirriteer! Die ergste van alles was dat ons lesings in hierdie 'verhewe niveau' op 'n Vrydagoggend was, van 8uur af. My bywoning was soos 'n breipatroon: 'knit one, slip one'. Coke en daughnuts in die cafeteria, in die geselskap van 'n joolfinalis of drie, was BAIE verkiesliker as Historiese Pedagogiek!

Toe maak mnr.Droog 'n belangrike aankondiging: Daar sou vir die daaropvolgende vier Vrydae, 'n reeks lesings deur die 'bekende Amerikaanse professor Alexenburg' aangebied word - en ons moes die stoele beset. Om die gewone HP-lesings te moes deurworstel, was al klaar erg, maar om dit nog in Brits, met 'n vreemde aksent, te moes aanhoor, was te veel vir enige 'regdenkende' student! Terstond besluit 'n klompie van ons (ons was Taaibossers) dat laatslaap op 'n Vrydag, afgewissel met Coke en oliebolle, die Yankee se geteem sou vervang. En ons het ons Vrydae rustig gevat - vier weke lank!

Toe kom die semester-eksamen. Ons moes in 'n handvol van die 15 vakke eksamen skryf - en Historiese P. was een van hulle. Daar is opgesom, gelees en bekers koffie leeg gestudeer. Die dag van afrekening het aangebreek. Ek was redelik in beheer van my emosies, want ek het nogal die kers gebrand en was positief dat ek die magiese 50-tal sou haal. Toe ek daardie dag in die ou lettere-gebou die vraestel oopmaak, het ek (tot my groot verbasing) net EEN vraag gesien. Die opdrag was kort en op die man af:  Bespreek Alexenburg se teorie.

Skoorvoetend en hoed-in-die-hand het ek en my paar vrinne toe daardie middag die punte-droogte gaan probeer  omkeer. Dit het al ons vernuf, al ons improvisasie en kreatiewe denke geverg, maar ons het op die een of ander wyse daarin geslaag om begenadig te word.

Lektor Droog was daarna grynslaggend 'vriendelik' met ons. Ek het uiteindelik Historiese Pedagogiek geslaag - Alexenburg se teorie, ten spyt!

Monday 6 May 2013

Die nuwe godsdiens

Dat daar 'n definitiewe klemverskuiwing in die moderne mens se godsdiensbelewing gekom het, is 'n feit soos hedendaagse korrupsie. Die 'vorm-godsdiens' met sy formele 'thou shallt not'-inslag en Skrifgeleerdes wat met die plat hand op die Bybel slaan en verdoemenis verkondig, het plek gemaak vir 'n meer informele, individuele soeke na God se genade. Vandag gaan dit oor 'n persoonlike ontmoeting met en belewenis van God.

Te midde van hierdie omwenteling, word 'n mens ook ongelukkig bewus van 'n toenemende geestelike snobisme onder ons mense, 'n hovaardige 'dankie-tog-ek-is-nie-soos-jy-nie' houding. As diesulkes na jou kyk, is dit as't ware met 'n sweem van minagting - so asof hulle jou vanuit hul kristalvenster in Hemelstraat nr.1 bejammer.

Ons moet altyd onthou: ons is dalk die lig, maar gewis NIE die Lamp nie; ons mag dalk die boodskappers wees, maar ons is beslis NIE die Boodskap nie.

Stille rivierstroom ...

Vir my is die gang van die lewe soos 'n stille rivierstroom, met so hier en daar 'n stroomversnelling of onverwagse waterval wat die andersins gladde oppervlak versteur.

Ons is almal klippies op die bodem van hierdie stroom. Wanneer storms die water vertroebel en versnel, spoel ons voort na 'n nuwe rusplek, iewers waar daar kalmte is. Terwyl ons daar vertoef, maak ons kennis met ander klippies wat ook van elders daarheen gespoel het. Ons raak geheg aan ons mede-klippies, maar die swaard van weggespoel te word, hang soos 'n nagskadu oor ons samesyn.
Diegene wat nie vasgespoel het nie, kom gouer in beweging en dryf voort na 'n onbekende bestemming. Sodra die geseteldes 'n eiewaan van onaantasbaarheid  ontwikkel, kom die groot waters om hulle nederig te dwing en met brute krag weg te voer. Nie na 'n gekose bestemming nie, maar na daar waar die Waterfiskaal sy kwota toegeken het.

Dan is daar die klippies wat 'n vreemde holte vind. Hulle kan nie daaruit kom nie, al probeer hulle ook hoe hard. Hulle moet hulle lot aanvaar, die noodwendige isolasie probeer verwerk en vrede maak met hul solo-bestaan. Hul enigste hoop op kommunikasie is met ander klippies in die onmiddellike omgewing - maar hulle is stroomgebonde en spoedig slaan die eensaamheid weer toe.

In die op die oog af stille rivierstroom, voer die bodemklippies 'n onsekere bestaan ...

  

Sunday 5 May 2013

Die mens se wrede streep.

Die hooftema van die boek/fliek 'Lord of the flies', is "All human beings are potential savages". As 'n mens deur die koerant blaai of na die nuus kyk en luister, staan jy verstom voor die onmin, haat en naarstigtelike najaag van wraak, waardeur die mens gekenmerk word.

Die renoster-slagting gaan van krag tot krag (!) en met die fokus deesdae op laasgenoemde, word die een olifant na die ander gestroop, sonder veel publisiteit of bohaai. Amerika MOET iewers aan 'n oorlog deelneem, om sy massiewe weermag in stand te hou, en etniese verskille bly die teelaarde van intermenslike konflik.

Maar, dis veral die sug om te kwes, om mekaar te ondermyn en chaos te veroorsaak daar waar die hart is, wat so ontstellend is. Sommiges sal nie 'n steen onaangeroer laat om jou geestelik te skaad nie - en wee jou as iemand uitvind hoe kwesbaar jy aan die binnekant, is!

Ek dink aan die destydse Vietnam-gerigte songs van Joan Baez en Bob Dylan, soos: "Where have all the flowers gone ? Gone to graveyards everyone ... ". In die proses van die vernietiging van ander se geluk, skuil die kiem van selfvernietiging ...

Die storie van 'n LOODGIETER.

As taalpersoon, fassineer die herkoms van woorde my. Onlangs het iemand my vertel waarom lood se chemiese simbool 'pb' is. Die oorspronklike Latynse woord vir lood, is 'plumbum' - vandaar die afkorting 'pb'. Nou kan 'n mens verstaan waarom daar in Engels na die persoon wat pype herstel, as 'n
'plumber' verwys word - en sommer ook die verband trek tussen 'plumbum' (lood) en dan 'n 'loodgieter'! Heel interessant!

'n Ander woord met 'n storie, is die verwysing na 'n veeldoelige voertuig wat ook in rowwe terrein gebruik kan word, as 'n 'jeep'. Dit kom weer van die Engels 'General Purpose' (vehicle). Die 'GP' het ons na 'jeep' verafrikaans .

Vriendskap

Vriende is 'n mens se oorlewingspakkie in die ondermaanse. Dis goed om op vriendskaplike voet met vele mense te wees, maar daar is tog daardie spesiale hunkering na mense met wie jy eerlik, reguit en sommer net jouself kan wees.

My definisie van ware vriendskap was nog altyd: wanneer iemand alles van jou weet, en steeds jou vriend WIL wees. As jy slegs iemand se goeie kant ken, kan jy gewis nie daarop roem dat julle 'beste vriende' is nie, omdat daar geen waarborg is dat, wanneer jy daardie persoon se skadukant ken, jy nog dieselfde sal voel nie.

Almal van ons wil aanvaar word, liefde ken en deernis ervaar. Tog, wanneer hierdie dinge 'teenwoordig is', komende van mense of iemand wat jou nie heeltemal ken nie, is dit leeg en broos soos glas.

Die gemis aan naby vriende, of vriende met wie jy kontak verloor het (hoekom noem ons diegene nog 'vriende' ??) raak akkuut op 'n Sondag ...

Miskien is dit eerder die herinneringe aan goeie vriendskappe, wat 'n mens aan die gang hou - en wat die vitamine in die oorlewingspakkie is !