Monday 7 July 2014

Blou felicia

Haar regte name was Anna Magrieta, gebore Botha, later getroud met Piet Holtzhausen van Witrand, distrik Bethal. Haar ma (die goedige tant Non) was my oupa se suster.

Kleintyd op Bethal, het ons soms op 'n Sondag uitgery Witrand toe, waar oom Piet vir 'n ryk Jood, ene Hirsowitz, met melkbeeste en aartappels geboer het - soos ook sy broer, Naas, wat met tannie Maggie se suster (Annatjie) getroud was. Twee broers, met twee susters, en dit het half reg geklink.

Ewenwel, daar in die plaasopstal is daar dan  (in gedempte toon, uit respekte vir tant Non, wat toe al 'n oumens was) om die tee en dadelbrood gekuier. Tannie Maggie sou op haar sagte, bedaarde manier uitwei oor haar enigste kind (Santie) se doen en late, terwyl oom Piet so deur die semi-sonbril vir Pa van die boerdery vertel het.

Omdat daar nie ander kinders was nie, moes ek maar noodgedwonge die grootmens-geselskap verduur, want buite was die honde wat my sou byt (volgens Ma) en om in die Volkswagen te moes wag, sou te eentonig gewees het. So het ek maar die binneruimte van die donker huis waargeneem, ingeneem en oorpeins. Ek het gewonder waarom die gordyne nie heeltemal oopgetrek was nie, waarom daar ook nog swaar kantgordyne was wat die son se futiele pogings om lig in die kerker te bring, gefnuik het. Alles was pynlik netjies, selfs in die kombuis. Elke dingetjie op sy plek, niks het rondgestaan nie. Selfs wanneer daar tee geskink is, het jy nie eens 'n teelepel hoor rinkel nie.

Tannie Maggie was altyd vriendelik, het amper heeltyd geglimlag en soms senuagtig oor die hare gestryk. Sy het die familie (dis nou van haar ma se kant, die De Wets) op die punte van haar vingers geken, geweet hoe en waar elkeen in die stamboom pas. Pa het haar gepols oor die een en daai een, dan het sy presies geweet.

Aan die einde van so 'n besoek, het oom Piet 'n sakkie of drie aartappels kar toe gedra. Hy het geweet dat Ma die soort met die wit blommetjies, verkies het ('want hulle blus nie so gou nie'). Tannie Maggie sou dan 'n bottel of twee vars melk saamgee. Daar is gesoengroet, en ons is dan met die kronkelpaadjie verby die wilgerbome, terug grootpad en Bethal toe.

Na oom Piet se dood, het tannie Maggie vir haar 'n huisie op Bethalstasie, skuins oorkant die dorpsdam, gekoop. Santie het toe al op Senekal in die verre Vrystaat, gebly. Sy was getroud met Org (Rautie) Rautenbach en het haar ma maar selde gekontak. Tannie Maggie het toe haar ma (tant Non was ook al geruime tyd nie meer met ons nie) se suster, tant Taat (ook 'n Anna Magrieta) by haar aan huis geneem en so goed sy kon, versorg. Tant Taat het in 1974 vinnig verswak en het haar laaste dae in Huis Silwerjare deurleef, omdat tannie Maggie nie meer kans gesien het om haar moelike ou tante te versorg nie.

Toe ons in April 1982 op Lydenburg getroud is, het Ouma vir tannie Maggie gevra om saam met haar troue toe te gaan. Die twee oues het nog die aand by my in my huis geslaap, maar Pa-hulle het hulle goed besig gehou, ek het nie veel praat ingekry nie.

Vroeg in die tagtiger jare het ons per geleentheid 'n draai by tannie Maggie gaan maak. Haar eensaamheid was aanvoelbaar, sy het duidelik in die verlede geleef en ou foto's en artikels uit vergange se tyd, gewys en oor gepraat. Ek kry toe daardie dag tant Non se ou koffiemeultjie, asook 'n paar stokou familiefoto's.

Toe ons kar toe stap, het ek die pragtige blou Felcia wat langs die huis in 'n blik die elemente probeer trotseer het, opgemerk. Dit het gelyk of tannie Maggie dankbaar was dat sy haar ma se plant, vir 'n familielid kon gee.

'n Paar maande later, hoor ons dat tannie Maggie weer getrou het, met ene oom Jan Greyling van Hazyview. Die nuus van 'Maggie se stuitigheid' het skokgolwe deur die familie gestuur - veral toe niemand haar kon kontak nie. Sy het doelbewus haar spore doodgevee, wou met niemand praat nie.

Toe sy 83 geword het, het ek uiteindelik 'n nommer in die hande gekry en haar geskakel. Die gesprekkie was kort, half ongemaklik. Tannie Maggie se stem het effens gebreek toe sy groet, iets was duidelik nie wat dit moes wees nie.

Daarna het ek nooit weer enige kontak met haar gehad, of iets van haar gehoor nie. Dit was eers na die eeuwending, toe ek 'n draai by die ou Bethal-begraafplaas gaan maak het om al die ou familiegrafte te besoek, dat ek die laaste tannie Maggie-bladsy kon omblaai. Daar, reg langs oom Piet se graf, was 'n redelik-nuwe grafsteen: Anna Magrieta Greyling , oorlede 7 Julie 1999. Ek neem aan dit was Santie wat besluit het om haar ma langs haar pa te laat begrawe - met Greyling-van en al.

Ek kan onthou dat ek geglimlag het. So stil as wat sy gelewe het, so stil het tannie Maggie heengegaan. Die blou Felicia het vir jare daarna nog gereeld geblom, maar toe onverklaarbaar tot niet gegaan ... sommer so stilweg.