Tuesday 29 December 2015

Getik deur 'n mini

Sy was 'n bruingebrande, welbedeelde vrou wat graag gewys het - verkieslik tydens 'n tenniswedstryd waar die toeskouers uit hoofsaaklik lede van die adamsgeslag bestaan het. Hy, daarteenoor, was 'n kantoorman met 'n dualisme in sy persoonlikheid: hy kon ewe goed luidrugtig vrolik, as bombasties ongeskik en kortdraderig wees.

Beide was getroud, en ook heel gelukkig (op die oog af). Sy was 'n sekretaresse by dieselfde skool waar hy 'n lid van die bestuurspan was. Haar neiging tot ... net die nodige bedekking van die vlees, is deur die skoolhoof se dopper-preutsheid, in toom gehou. Hy het sy boonste twee hempsknope as onnodige ornamente beskou en dit nooit gebruik nie. As 'n man borshare vir Afrika het, en daar is skamelgeklede dames in die omgewing, is hempsknope 'n lastige belemmering.

Haar man was 'n sul, 'n doodgoeie man, met die klem op 'dood'. Hy het skofte gewerk, eers laataand tuisgekom - lank nadat sy twee shandy's na 'n stel of drie afgesluk het (nooit self gekoop nie, daar was immer 'n man of drie wat maar te gretig was). Sy vrou, daarenteen, was alles behalwe 'n sul ! Sy was neuroties verby, het die seuns tuis verskree en gereeld haar lot teenoor haar familie oor die telefoon bekla.

So gebeur dit toe dat hy verder wou studeer. Sy visier was op 'n beter pos, een wat hom bo-oor die ander lede van die bestuurspan, sou laat spring. Daarvoor moes hy nou wel sy gewete verkrag en andersdenkend raak , maar 'wiens brood men eet, diens woord men spreek'. Sy manuskripte of take of wat ookal, moes getik word. Sy vrou sou dit nooit as te nimmer vir hom gedoen het nie , dus moes hy 'n plan bedink - en dis waar die papaja tot pappery gekerf is ! Die tennisnimf was (gee die duiwelin toe wat haar toekom) nog meer bedrewe met 'n rekenaar se sleutelbord, as met 'n tennisraket. Sy bied toe wimperfladderend aan om die arme man van hulp te wees. Ja, sy sou selfs na-ure beskikbaar wees om te ... tik. Haar man sou verstaan, sy sou hom laat glo dat dit alles vir die skool was.

Ons wis aan die begin van niks ! Hy was wel kort-kort in die kantoor en die tweetjies het meer as tevore geglimlag, maar dit was tog tot almal se voordeel. So het sy berugte humeur onder bedwang gebly, en sy het die publiek laat glo dat daar nie 'n vriendeliker sekretaresse op hierdie aarde was nie.

Die vrou het meer neuroties as ooit tevore begin raak. Die seuns was daagliks bot en het op allerlei sotlike maniere probeer aandag trek (om dit van die huis af weg te lei). Haar man het nog meer skofte begin werk - sommer ekstra (geld nodig gehad, was sy antwoord as hy oor die donker kringe om sy kykers gevra is).

Dit lyding by die twee huise het nie te lank geduur nie. Hy het sy vrou om 'n egskeiding gevra, terwyl sy dieselfde met haar man gedoen het. Die hele skool en dorp, het gegons oor wat so stilweg onder die kombers gebeur het. Genadiglik kry hy toe die verhewe pos, verander van party en trek weg na 'n groter dorp, waar sy nuwe werkgewer gesetel was. Sy is spoedig daarna, agterna. Haar man was die beteuterdheid self, het nog meer in homself gekeer geraak. Die ouma het die kinders by haar aan huis ingeneem. Die vrou het 'n dringende verplasing gevra, was selfs bereid om by 'n gopserige skooltjie op een van die landsgrense, die stukkies te gaan probeer bymekaar skraap. Die seuns het agtergebly (daar was 'n koshuis) om ook op hulle manier, dinge te probeer verwerk.

Dit was ook nie maande daarna nie (toe die skeisake afgehandel was) , toe trou die twee doer op 'n vreemde dorp. Daarna was dit maar 'n geval van gerugte en berigte. Niemand kon vir seker weet of hulle gelukkig was, of nie. Sy het steeds in mini's op die tennisbane geparadeer, terwyl hy sy bombastiese self gebly het. Of sy nog sy tikwerk vir hom gedoen het, wis niemand nie.

So het 'n eina-kledingstukkie en 'n rekenaar, vir groot ontwrigting, opgewondenheid en konsternasie gesorg. 'n Man bly 'n bok, en 'n vrou ... Dit hang seker maar af om welke rede sy 'n mini dra ?