Saturday 31 August 2013

piesang-lewe

daar's goud in vergeelde vingers:
somer-elemente sit vasgevang
in swanger trosse wat
- paalgestut -
aan tropiese takke
         hang

ook in my is elemente verweef:
ek kan maar net
- vriendgestut -
my toegekende rol
         uitleef

Friday 30 August 2013

Die teeblik

Daar op die plaas Eerstegeluk, het Ouma geglo, het jy nie lekker gekuier as jy jou nie aan 'n groot etery oorgegee, en minstens al om die twee ure tee gedrink het nie. Haar goedigheid en opregte
gasvryheid het dan ook alle teenstribbeling soos 'n yl mislagie voor die Bethal-son, laat verdwyn.

Na die gebruiklike drukkies en innige ouma-soene, is daar terstond kombuis toe beweeg, waar Ouma, uitgehonger vir gesels, nog 'n paar mieliestronke in die koolstoof gegooi het en die vuur 'n vinnige roer gegee het, sodat die stoof goed warm vir die teewater sou wees. Al waggelende in haar geblomde rok met die handgemaakte voorskoot oor, het sy dan die kuier-koppies uit die sideboard gaan haal, asook die houtskinkbord wat Oupa nog destyds met groot liefde vir haar gekerf het. Laasgenoemde is dan versier met 'n gestyfde hekellappie, wat Ouma sorgvuldig vir spesiale teedrink-dae gereed gehou het.

Maar, dit was die ronde, blou-en-wit teeblik wat my gefassineer het, of altans, hoe Ouma dit met jare se geoefende hande hanteer het. Die blik het so op 'n sy-rakkie teen die sideboard gestaan. Ek hoor nog die gerinkel van die ses drinkglase met die rooi blommetjies op, wanneer Ouma op die blinkgepoleerde plankvloer die teeblik gaan haal het. Terug in die kombuis, het sy dan die deksel behendig afgehaal en, asof dit tweede natuur by haar was, drie knypies tee so met die eerste drie vingers afgemeet en in die teepot gegooi. Die swaar waterketel het teen daardie tyd al lustig saamgesels en dan is die kookwater, ewe gemaklik, oor die teeblare gegooi. Solank die Mazzawatta-tee dan eenkant op die stoof getrek het, het Ouma - steeds geselsende en vol stories oor al die neefs en niggies wat meestal vir ons net name was - die teeblik weer op sy toegekende plekkie gaan neersit.
Afhangende van haar gemoedstoestand en of die kuiertjie "eige bloed" was, het Ouma dan die sideboard se sleutel uit haar voorskootsak gehaal en 'n bordjie skilfertertjies of kransies (so 'n vierkantige blokkie lekkerte met konfyt en klapper bo-op) is dan saamgebring kombuis toe. Tee is altoos in die kombuis gedrink, nergens elders nie.

Toe daar in 1983 in Bethal se ou begraafplaas finaal van Ouma afskeid geneem is, het my tannie Ena gesorg dat die sandjies vir laaste strooi op die kis, Eerstegeluk-sand was - uit Ouma se wit-en-blou teeblik. Toe ek oogknippend ook my handjievol sand in die graf laat neersif, was dit kompleet of Ouma vir my geglimlag het - want ek was "eige bloed", en die teeblik was in my hande.

Monday 26 August 2013

Rondom Jerusalem is berge

Hoe ongelooflik bevoorreg is ons nie in die wonderskone Laeveld, om berge (van alle groottes, vorme en soorte) in ons geweste te mag bewonder nie! Om gedurende 'n naweek of vakansie, sommer net die berge in te vaar en die natuur in sy volheid te geniet, is 'n seëning van Bo - 'n gawe uit die Vader se hand.

"Rondom Jerusalem is berge ...". Hierdie bekende woorde wat so dikwels gelees, gesing en van kansels af gespreek word, het sekerlik vir ons Laevelders, 'n ander betekenis. Ons konnotasie met berge is die reuse kranse van Swadini, die Makwonjas neffens Barberton, die Lebombo's by Komatipoort - of selfs die Drakensberge van Longtom-pas. Ons dink nie daaraan dat die berge waarvan die Bybel praat, woestyn-berge is nie. In vergelyking met ons prag, lyk Israel se berge maar uiters vaal, kaal en oninteressant. Dink vir 'n oomblik wat het daardie mense gesien, wanneer die woorde "Ek slaan my oë op na die berge", hulle opwaarts laat kyk het. Hulle het woestyn-berge gesien - voorwaar nie veel van 'n inspirasie nie!

Tog het die Israeliete vas geglo, die berge het vir hulle hoop gebring, want die berge het die oë na Bo gedwing, opwaarts na die hemel. 'n Mens kan nie anders as om die grootste eerbied vir daardie mense te koester nie! En ons ? Met hoeveel oortuiging en oorgawe kyk ons na ONS berge ? Ons het soveel meer om te waardeer! Die Vader het kwistig met die kwas gewoeker toe Hy die Laeveld en sy berge laat verrys het. Ons berghange waarteen malse groen bome en struike pryk. Ons het watervalle en wandelpaadjies langs kristalhelder waterstroompies. Ons het bosbokke, koedoes en klipspringers (om maar enkeles te noem) wat ons berge en valleie versier. Ons kan met veel groter oortuiging en jubelend uitroep: "O Here, hoe groot is U naam oor die ganse aarde!"

Doen ons dit ? Dra ons eerbied en liefde teenoor God se Skepping, aan ons kinders oor ? Maak ons hulle daarvan bewus dat ons 'n groter verantwoordelikheid dra, omdat ons bederf word met die keur van Sy seëninge ? Kweek ons by hulle respek vir die natuur, en sodoende 'n bewuswording van die groot harmonie wat ons deelagtig is ?

Laat ons nooit die woorde van Ps. 19 vergeet nie - en sorg dat ons kinders, dit ook hul eie maak: "Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van Sy hande ... ". Ons hoef immers net die oë op te slaan na die berge, dan sal ons weet: daar is geen god, soos onse God nie !

Koos met die ander naam.

Toe ek in Desember 1973 as tydelike aflos-ontvangsbeampte op Onder -Sabie beland, het my beker oorgeloop! 'n Vriend se oom was destyds die personeelbestuurder van die Kruger-wildtuin, en ineens het 'n andersins onmoontlike deur, vir my oopgegaan.

Alhoewel ek dadelik in die ontvangskantoor touwys gemaak is, het tannie Renche Pieterse (ek sou haar aflos) eers 'n paar dae later vertrek. Die kampbestuurder besluit toe dat ek tannie Lossie Snyman, wat vir die verblyfplekke se netheid en ordelikheid verantwoordelik was, met die voorraadopname moes help. Al die meubels en toebehore in elke rondawel en hut, moes nagegaan en opgeskryf word. Tannie Lossie was aanvanklik nie te vriendelik nie, maar het my nietemin mettertyd aanvaar - en ons het by hut nr.1 begin.

Die plan van aksie was duidelik: die tannie sou die inspeksie doen en seker maak dat daar was wat daar veronderstel was om te wees, terwyl ek op elke vorm die skriftelike kontrole moes doen. Daar was 'n lang lys items, sy het byvoorbeeld net "braaitang!" uitgeroep, dan moes ek braaitang afmerk - en so is ons deur die lys.

 Dit was heel maklik, tot ons by die 'chambers' gekom het. Ek had g'n idee wat 'chambers' was nie! Om nie my onkunde te openbaar nie, wou ek ook nie vra nie. As tannie Lossie ge-'chambers!' het, het ek geskryf of afgemerk, al het ek nie die vaagste benul gehad van hoe 'chambers' gelyk het nie.

So het dit die hele dag gegaan. Toe ons restaurant toe stap vir middagete, het ek die sprong gewaag.

"Tannie", het ek gevra, "het elke hut in die kamp 'chambers' ?"

Haar kekkellaggie het tot onder by Keartland Cottage weerklink. "My liewe mens! Wie kan nou sonder chambers klaarkom? Hierdie spul stadsjapies wat die kamp snags beset, is baie gesteld op hulle chambers!"

Ek het net dieper in die onwetenheid weggesink. Haar woorde het die raaisel net verder verdiep, ek kon nie eens 'n vae idee in my kop vorm van wat chambers was nie. Omdat daar nog baie hutte gedoen moes word, het ek weer probeer.

"Betaal hulle ekstra vir hulle chambers?" het onkundige, onskuldige ekke gevra.

 Weer het sy uitgebars van die lag en toe vir die eerste keer besef dat hierdie Tukkie-student so waar as padda manel dra, regtig nie geweet het wat 'chambers' was nie!

"Na ete sal ek jou wys," het sy al proesende laat hoor. Ons was toe al aan tafel in die restaurant en die chambers vir eers op die agtergrond. Selfs die (onbekende) chambers kon nie die aandag van tannie Lettie van der Merwe se smullekker wildspastei weglok nie.

Ons het na ete weer die opname hervat. Die voorste hutte, naaste aan die rivier, was volgende aan die beurt. Teen daardie tyd was die volgorde op die lyste, al ou nuus en dit het flink gegaan ... tot by die chambers. Tannie Lossie kon weer nie die lag keer nie. Sy het haar kop agteroor gegooi en skaterend my onkunde bespotlik gemaak.

Toe ons weer by die gewraakte chambers kom, buk sy langs die bed, steek haar hand onder in - en trek die chambers nader.

Met 'n swierige swaai van die arm, het sy die enemmel-geriefie in die lug gesteek: "Hier's hy - ontmoet vir chambers, snags een van die mens se beste vriende!"  So leer ek toe dat 'n koos, die een wat met 'n kleinletter gespel word, 'chambers' in die rooitaal genoem word!


Saturday 24 August 2013

Andersoortige aanval

Na die hewige aanval van 21 Augustus 1978 op die Katima Mulilo-basis, was die stemming maar stroef. Die feit dat tien lede  van die destydse Staatspresidentswag die lewe gelaat het, het ons onwillekeurig laat wonder wie volgende sou wees om die hoogste offer te betaal.

Pogings is aangewend om die moreel 'n hupstoot te gee, maar sonder veel sukses. Kapelaan Johan Lindeque het sy bes probeer en 'n paar besielende redes gevoer, maar dit het net hier en daar die teiken getref. Toe ons nog 'n paar dae later, tydens die gebruiklike Saterdagaand-fliek, na die spannende "The car" moes kyk, het die nerwe aan dun draadjies gehang. Die grapgat wat 'n
donderbuis tussen die troepe in gegooi het (toe die fliek op sy ergste was), is swaar gestraf - en
dit is wyd verwelkom. Niemand was in die luim vir 'grappies' nie, veral nie die ander SP-lede wat makkers verloor het, nie.

Toe word daar in die basiskroeg aangekondig dat 'n vermaaklikheidsgroep vanuit die Republiek, die basis sou besoek om die manne se aandag 'n bietjie af te lei. Die groep sou bestaan uit Gordon Mulholland (toentertyd 'n bekende akteur), die sangeres Marie Gibson (wie se liedjie 'One day at a time' bo-aan die treffersparade was) - en 'n paar hoogskop-meisies! Oor laasgenoemde is nogal veel bespiegel, want diesulkes was iets wat die Caprivi nie geken het nie, en 'n man het ook maar sy behoeftes...

Ewenwel, die groot aand breek toe aan. Ons moes help om die lang sitbankies aan te dra. Die sinkafdak het 'n kits-verhogie gekry en sterk kolligte is aangebring, spesiaal vir die danseresse.
Mulholland was die seremoniemeester en het 'n paar kwinkslae kwytgeraak, toe het Marie haar treffer met oorgawe gesing. Almal het op tipiese 'weermagstyl' applous gegee, wat natuurlik 'n paar fluite en uitroepe ingesluit het. Toe 'les girls' in hule eina-monderings die verhogie betree, kon die mense oorkant die Zambesi seker die toejuiging gehoor het! Die vyf meisies het waarlik net die allernodigste aangehad, was opvallend uitlokkend in hulle dansbewegings - en die manne se monde het behoorlik gekwyl. Op die ritme van polsende tromme, veel vinniger as die tromslae wat snags vanuit die bosse gehoor is, is daar hooggeskop, rondgespring, suggestiewe bewegings gemaak - en die manne het gejuig!

Maar, niemand het die vermaaklikheidsgroep skynbaar van die Caprivi-muskiete vertel nie ... 'n Wolk van hulle het asof uit die niet, die kolligte toegesak. Nadat hulle 'n tydjie lank om die ligte gemaal het, het 'n peloton of twee muskiete die sagte vlees van die danseresse ontdek. Hulle moes seker in muskiettaal die boodskap versprei het, want die hele geswermte het soos Messerschmidts afgeduik en begin steek! Aanvanklik het die meisies probeer voorgee dat die erge gekrap en rukbewegings, deel van die choreografie was, maar later het hulle alle inoefening oorboord gegooi - en net vervaard gekrap en muskiete probeer ontwyk.

Die manne se bewondering en ekstase, het 'n nuwe dimensie gekry: die een van 'n gelag en pittige aanmerkings. Hoe meer die meisies gekrap en arms geswaai het, hoe harder is gelag en geskreeu.
Mulholland kon die situasie nie hanteer nie, hy het werklik soos 'n bruidegom gelyk wat tydens sy onthaaltoespraak, uitgejou word. Iemand het teenwoordigheid van gees behou, die spulletjie na buite die ligkolle geneem - en toe het die groep in die donkerte verdwyn.

Die doel was bereik: die spanning was gebreek, die manne het opgewonde en al laggende, teruggestap barakke toe. Vir dae daarna is daar nog gejil en na die skreeusnaakse 'danspassies', so al met die aanvallende mukiete saam, verwys. So was 'n ander 'spanning' ook tydelik verlig - dit was vir 'n ruk lank nie nodig om die koffie met blouvitrioel te dokter nie ...

Friday 23 August 2013

uitgesluit

jy nooi my
by jou ingangshek
verby
tot in jou tuin
wys my jou plante
wat geskakeerd en geil
in die boomryke skadu's
verdwyn

jy nooi my
na jou voorportaal
waar jy my saam met
ander genooides
gepas en gasvry
met oppervlakkige
woorde onthaal

jy nooi my
selfs na jou leefvertrek
waar ek
jou asem hoor
jou nabyheid ruik
en aanvoel hoe jou
teer teenwoordigheid
alles bedek

maar
net jou binnekamer
bly eksklusief en
privaat - jou allerheiligste plek
waar jy net
                  geselekteerdes
- sonder my -
toelaat

caro nome

die bloed-en-trane bloei
vanoggend vrylik
teen my enkelkamermuur

ek redigeer my denke
deeglik selektief
voordat ek
die laaste boodskap stuur:

miskien was alles destyds
van meet af reeds
gedoem -
die stil geboorte
van 'n vriendskap

en 'n naam
wat ek nou skaars
noem ...

Saturday 17 August 2013

Winter-verwarring

Kinders word geleer om altyd te probeer, om nooit 'n taak as 'onmoontlik' af te maak nie. "Ek kan nie", is woorde wat 'n onderwyser ewe veel grief as "Ek weet nie" - daarom is daar maar altyd 'n poging om die halstarriges te oorreed om tog maar net 'n ietsie neer te skryf. 'n Nasiener het nie veel van 'n keuse as net die vraagnommer op 'n antwoordblad verskyn nie - 'n ronde nul is dan onafwendbaar. As daar egter 'n paar woorde gepoog is, is die moontlikheid daar dat 'n halwe punt wel toegeken kan word.

In letterkunde is dit egter nie so eenvoudig nie. Daar moet abstrak gedink word en verbande tussen karakters en gebeure, gevind word. Insig is die wagwoord en soms is daar 'n leerder wat die onderwyser verstom met 'n antwoord wat getuig van 'n desperate denkproses EN 'n gewilligheid om ten minste daardie 'iets' neer te pen.

Op 'n keer het 'n leesstuk gehandel oor oorlog en die dinge waarmee soldate hulle in so 'n situasie, besig hou. Die held se noemnaam was Ratel, 'n kryger wat al menige geveg deur- en oorleef het. Toe daar in die derde paragraaf staan dat Ratel 'n "deurwinterde soldaat" was, het juffrou Steyn nie gehuiwer om die vraag te formuleer nie: "Wat word bedoel as daar na Ratel as 'n 'deurwinterde soldaat' verwys word ?"

Nou ja, Sewes Vosloo het wel nie letterkunde-wysheid in pag gehad nie, maar van vasbyt en aanhou probeer, kon jy hierdie rugbyvoorspeler min vertel! Hy het gedink ... en nog 'n bietjie gedink. Toe verhelder sy gesig en met die spoed van iemand wat presies weet waarheen hy op pad was, het sy gedagtegang uiting op die papier gevind:
"Ratel was soos Rateltjie de Beer wat in die winter verkluim het."

Tuesday 13 August 2013

Verskrikte diensmaagd

As daar nou een beroep is wat onverpoosd deur 'n magdom veranderinge en vernuwings geteister word, is dit die onderwys. Elke nuutaangestelde ringkop het 'n nuwe visie, 'n vars idee van hoe hy of sy hulle name in die annale kan verewig. Dan is dit die arme onderwysers wat moet aanpas en met al die nuwighede moet tredhou.

So het 'n nuwe hoof van 'n plaasskooltjie doer duskant die Botswana-grens, hom dit ten doel gestel om ook daardie stukkie ongereptheid aan die moderne tegnologie te onderwerp. Hy het sy stempel deeglik op die daaglikse gang van skoolsake afgedruk, en toe die wonderbaarlike visioen gesien: Klipplaatlaagte - die eerste plaasskool in die Bosveld wat oor 'n interkomstelsel beskik!

Die personeel en die kinders het stilswyend geluister hoe die hoof die legio voordele van 'n interkom besing. Selfs die Beheerraad het maar net geluister - en toe toestemming gegee dat die fondse wat met die jaarlikse interstreek-atletiek ingesamel word, vir hierdie verhewe doel aangewend mag word.

Die Hoof het nie gras onder sy voete laat groei nie en binne 'n maand na die atletiekbyeenkoms, was die manne by Klipplaatlaagte om die interkom te installeer. Die kinders het soggens gesien hoe daar geboor en getimmer word en kort voor lank, het elke klaskamer, die saal en die kantore, 'n swart-en-bruin vierkant voor, in die middel, hoog teen die muur gehad.

Toe kom die toetsslag. Die Hoof het gewag tot al die kinders die Dinsdag huis toe was - net Oujuffrou Vermeulen het haar mandjie gevat en in haar klas gaan sit om te kyk hoeveel skrifte sy kon nasien voor die netbaloefening om drie-uur sou begin. Nou ja, die hoof het gesien dat daar 'n proefkonyn in een van die klasse was en besluit toe daar en dan dat Oujuffrou, so kort voor haar aftreetyd, die eer sou ontvang om die Hoof se stem, vir die heel eerste keer, oor die interkom te hoor.

Oujuffrou was verdiep in die nasienwerk.
"Juffrou Vermeulen, kan jy my hoor?" Van pure skrik, kry Sannie Roux die grootste rooimerk wat sy nog ooit in haar skrif gekry het. Oujuffrou kyk na die deur, toe deur die vensters, maar sy sien g'n siel nie.
"Juffrou Vermeulen, is jy daar? Kan jy my hoor?" 'n Lamte kruip in Oujuffrou se bene op. Sy voel hoe haar hart in haar keel bokspring, en sy kan sweer sy hoor iemand in die klas asemhaal. Die grootsheid van die oomblik, oorweldig haar, want soos 'n Moses van ouds staan sy vandag voor 'n brandende braambos.

Toe die stem vir die derde keer na haar kom: "Juffrou Vermeulen?" is Oujuffrou gereed en met bewende, biddende hande plegtig op die tafel voor haar gevou, prewel sy met 'n stem vol ingehoue emosie: "Spreek Here, U diensmaagd luister."

Saturday 10 August 2013

Vergeefse vlerke

My naam is Gilieh - Gilieh Bons. Pa het daarop aangedring dat ek so genoem moes word.

Ek het in 'n eenvoudige, maar veilige nes uitgebroei. Pa was baie daarop gesteld dat ons nes altyd
skoon en versorgd moes wees, al was dit (veral aan die begin) een van die kleinste in die kranse.

Die ander neste was nie so lekker beskut soos ons s'n nie. Ons plekkie het selfs 'n beskermende lysie voor, aan die afgrond se kant, gehad. Rondom ons was dit immer 'n geskarrel en geraas soos die ouers die kleintjies van die gevaarlike, gapende afgrond moes weghou. Ek kon nie anders as om bewonderend na die bure se kinders te kyk wanneer hulle geoefen het om hulle vlerke te strek en dan gevaarlik na aan die afgrond, die vlerke geklap en mekaar karnuffel het nie. As Pa of Ma my uitgevang het dat ek gekyk het, is ek kwaai aangespreek en van ondankbaarheid beskuldig. Ek moes uit erkentlikheid vir Pa-hulle se omgee en troue sorg, help om die nes netjies te hou.

Toe ek al mooi uitgegroei was, het Pa my van die lewe vertel. Hy het my teen die bure en ander kransbewoners gewaarsku. "Jy't seker al gesien hoe party hulle die vlerke oordadig klap en hoe van hulle uitlokkend en sedeloos mekaar met die bekke bykom. Wel, ek verbied jou om weer te kyk, want om te kyk, is om te doen. Laat hulle maar onverskillig rondvlieg en op die neste afduik, ons is respektabele mense wat uit 'n goeie familie kom - ons hou ons eenkant en leef ons eie, goeie lewe."
Ma het ook haar deel bygedra om my teen die omringende, ongewensde dinge te waarsku.
"Jy sal sien die meeste van hulle het geen smaak nie, hulle steek sommer enige takkie in die nes in - en dan ook sommer op enige plek, krom en skeef !"

Van die buurt se kinders het hulle te pletter geval, toe hulle te vroeg die groot sprong gewaag het. Hulle moes seker gedink het hulle vlerke was al goed ontwikkel, reg om te vlieg. Ander het amper verongeluk, maar tog veiligheid bereik en daarna vrolik en met juigkrete die lug deurklief. Ek het hulle so beny! Dit het ongelooflik lekker gelyk (en geklink), maar ek kon dit nooit aan my ouers doen om so ondankbaar te wees om die nes voortydig te verlaat nie.

Heelwat later, toe my vlerke al seer van al die geklap in die nes was, het Pa my versigtig oor die lysie gehelp, en toe ek die lug onder my voel en my vlerke klap, was Pa daar om my liggies te stut. Spoedig het ek self kon vlieg, maar nooit so baldadig soos ander van my ouderdom nie - my ouers se vermaninge was te vas in my geheue. Ander het dit as snobisme beskou, beweer ek dink ek's beter as ander. Dit was nie so nie. As hulle maar net geweet het hoe graag ek een van hulle wou wees ...

Pa is intussen dood toe 'n kruisarend hom tydens 'n vlug nes toe, onderskep het. Ma kon dit nie verwerk nie en sy het al hoe stiller en eensamer geword. Eendag het sy net uit die nes wat sy tot die laaste so onberispelik gehou het, verdwyn. Ons vermoed sy het die prooi van 'n slang geword.
Nou is dit net ek en my broer en suster, van wie ek maar min hoor. Hulle het hul eie neste in ander kranse gaan maak, glo nie so netjies soos Pa en Ma ons geleer het nie.

Die jare het my ingehaal. Hier, in my eie nes met die veilige lysie voor, het ek te veel tyd om te dink. Ek tob oor so baie dinge, veral oor Pa en Ma. Ek is so dankbaar dat hulle my anders grootgemaak het, maar die probleem met my vlerke maak my lewe hel! Sodra ek in die lug is, raak ek van die afgrond onder my, bewus - en dan raak ek duiselig en soek 'n veilige plek om te land.

Ek bly nooit lank genoeg in die lug om genoeg selfvertroue op te bou nie ... het ook nooit. Ek lewe in vrees vir die val ...


Friday 9 August 2013

Langklip se moses.

Ouma Marja het haar deur niks en niemand laat onderkry nie. In haar woordeskat het woorde soos
"kan nie" of "dis onmoontlik", eenvoudig geen bestaansreg gehad nie. Die moed van haar oortuiging, was die lig op vele paaie wat sy letterlik en figuurlik, bewandel het.

Sy was al goed verby die 80 toe Pa op 'n dag 'n ontstellende oproep van Bethal af, ontvang het. Dit was sy niggie wat die skoknuus oorgedra het: Ouma het voor die winkel, langs haar Mazda inmekaar-
gesak en moes inderhaas hospitaal toe geneem word! 'n Weldoener het die sleutels uit haar handsak geneem en gesorg dat die karretjie veilig in die besoekers-parkering sy staan gekry het. Pa het dadelik die hospitaal geskakel - net om uit te vind dat Ouma (volgens voorlopige toetse en verslae) 'n ligte hartaanval gehad het. "Sy is rustig, sy slaap nou. Ons hou haar hier vir die nag, net om haar toestand te monitor", het die artsie verduidelik.

Pa was toentertyd op Marble Hall, en dit was net nie moontlik om Bethal toe te ry nie. Die dokter se gerusstelling het darem gehelp, Pa het net deur die dag gebel en die jongste bulletin oor Ouma se toestand, na ons deurgeskakel.

Dit was so sesuur se kant daardie middag, toe Pa my bel. "Daar is groot moeilikheid op Bethal! Jou ouma is weg !"
Ek kon nie mooi die kloutjie by die oor kry nie. Hoe kon Ouma dan weg gewees het - sy was dan onkapabel in 'n hospitaalbed ? "Is Pa seker Pa het reg gehoor ?" het ek gevra. "Ouma het dan 'n hartaanval gehad ?!" In my gedagtes het ek haar in die lykhuis gesien, miskien het diegene wat die lyk verwyder het, nie die ander ingelig nie ....
Pa was sy gewone omgesukkeldheid. "Ja, man! Die hospitaal weet glad nie wat van haar geword het nie!"

So wag ons toe op nuus oor Ouma se verdwyning, en is daar inderhaas planne gemaak om die langpad Bethal toe, aan te durf. Pa het belowe dat hy my sou laat weet die oomblik wanneer hy en Ma die Chev aangeskakel het, sodat ek darem kon bepaal wanneer hulle min of meer op Bethal sou aanland.
Dit was ook nie baie later nie, toe lui my foon.
"Jong, daar is nou GROOT konsternasie! Jou ouma is op die plaas, by haar huis!"
Ek het nog minder verstaan. Die skielike 'omwenteling' van lykhuis, na plaashuis, het my deurmekaar gehad. "Maar Pa, nou's ek regtig nie lekker by nie!" het ek hom aangepor om te verduidelik.

Die saak staan toe so: Ouma het uit haar slaap ontwaak, uitgevind sy was in die hospitaal - en die karsleutels op die bedkassie gesien. Deur die saal se venster kon sy die Mazda sien waar dit onder 'n boom geparkeer was. Wel, toe kry Ouma eenvoudig haar goedjies bymekaar, glip verby die verpleegpersoneel - en ry plaas toe. Toe ontlont sy darem die spanning en bel vir Pa, om vir hom te vertel welke 'rowwe dag' sy gehad het! "Krisjan," het Ouma vir Pa vertel, "daai doktertjie weet nie waarvan hy praat nie! Ek het nie vanoggend gebrekfis nie, toe voel ek so bietjie dronk in die kop. Ek het net 'n ou floutetjie gehad, dis al."

Wilde boere, buurman - wilde boere! Al Ouma se De Klerk-familie was so. Pa het dit so gestel: "Die spul De Klerks is agtertangse mense - jy het 'n langklip nodig om hulle dood te kry!"

Ironies genoeg, Ouma se langklip het nie die ding gedoen nie, sy het 85 jaar oud geword. 'n Erge griep het haar hart later so verswak, dat die organe ingegee het ...