Friday 31 May 2013

'n Tiekie vir Kersfees

Veral vir 'n knaap van skoolgaande ouderdom, was en is Kersfees 'n vreugdevolle tyd van baie lag, samesyn, geskenke - en natuurlik, GROOT EET! Ek was bevoorreg om tydens daardie fase van my lewe, tussen familieplase groot te word, met die gevolg dat ek mildelik kon voordeel trek uit al die tannies en niggies se wedywering om daardie perfekte vrugtekoek te bak, die smaaklikste gemmerbier te maak - en dan daardie doekpoeding, die een wat ook 'n tiekiepoeding genoem is, en waarin Ma of Ouma gewoonlik 'n handvol tiekies gemeng het.

Nou kyk, vir 'n soetding of drie het ek nog nooit nee gese nie, en as 'n kind dan nog 'n geldjie in die proses ryker kon word, was dit amper te goed om waar te wees! Daar was egter net een, gewigtige probleem: al wat oumens was, was mos dadel-behep. Die watertand-poeding met daardie skerpsoet stropie by, is altoos met dadels befonkfaai! Van kleintyd af het 'n dadel vir my in dieselfde klas as heuning of 'n lietjie geval: as ek net vaagweg die smakie gekry het, het my ingewande so 'n waarskuwende draai gemaak en was ek sommer die hele dag naarder as naar.

Maar ai, daardie tiekies! Om te dink dat hulle almal Pa of Boeta s'n sou wees, as ek nou nie van die doekpoeding sou eet nie. Die poeding is mos gesny, dan het jy 'n ruim stuk in jou poedingbakkie gekry, en voor jy nog 'n wilsbesluit kon uiter, is die soet stroop oor jou poeding uitgegiet. Genadiglik was daar darem ook gewoonlik 'n plaasbeker vol vla, van die wat Ma of Ouma self gemaak het. Almal het geweet: die vla se skilletjie bo, was myne en ek het dan gesorg dat daardie dreigende dadel wat so aan die kant van die sny poeding uitgesteek het, onder die vla-kombersie bedek was. Dit was egter nie 'n geval van uit die sig, uit die smaak nie, want ek moes noodgedwonge die bedadelde poeding inkry om - hopelik - by daardie tiekie of twee uit te kom. Ek het my bes probeer om so al om die dadels te proe-proe, maar kon telkens nie daarin slaag om die grilligheid te vermy nie. Dit was dan ook nie baie slim om die poeding so gou as moontlik af te wurg nie, want dan is dit gesien as 'n teken dat jy dit so vinnig eet omdat dit so smaaklik was - en jy het NOG 'n ruim sny dadelmal poeding gekry!

As ek vandag so terugdink, was dit egter alles die moeite werd. Met daardie tiekie kon jy 'n piepklein blikkie kondensmelk by oom Lundall se stasiekafee koop, of twee van daardie plastiese eiertjies met die tjaam in, by Sanalala se winkel. As Ma geweet het dat ek 'n tiekie tussen die dadels ontdek het, moes ek dit terstond in my poskantoor-spaarbussie gaan gooi.

Ek ken niemand meer wat vir Kersfees, 'n doekpoeding maak nie. Vandag se kinders weet nie eens meer wat 'n tiekie was nie. Laat ek julle sommer vertel: 'n tiekie was 'n klein, dun geldstukkie wat in daardie tyd, twee-en-'n-halwe sent werd was. Maar, dis mos niks, sal julle dalk dink. Niks? Geen geld in vandag se terme, kan die mooi herinneringe aan toentertyd se Kersfees koop nie - dadels en al!

No comments:

Post a Comment