Monday 2 November 2015

Kleinmond-reise

Die dorpie Kleinmond is voorwaar een van die Overberg se juwele ! Knus tussen die wye oseaan en die Palmietberg, skep die ligging van hierdie kusplekkie, as't ware 'n sprokiesbeeld van prentjiemooi tonele.

Wanneer jy die dag die wiele wil laat draai, is daar verskeie opsies wat jou na plekke bring waar jou kamera oortyd werk en jy die een pragtoneel na die ander in verwondering gadeslaan. Die suidelike kuslyn van Valsbaai, is slegs sowat 20km van Kleinmond af. Hierdie 20km is opsigself 'n belewenis, want die pad kronkel al langs die Kogelberg-fynbosreservaat (en die see, natuurlik !) verby Bettysbaai, Pringlebaai en Rooiels. Dan is jy by sekerlik die mooiste pad in die ganse RSA: die beroemde Clarence Drive, al op die soom van Valsbaai langs, tot by Gordonsbaai. Hierdie pad is vernuftig teen die berg uitgekap en deur Italiaanse krygsgevangenes gebou. Benewens alles wat die see jou kan bied, kan 'n mens hier rond ook op die uitkyk vir klipspringers, watermuishonde, otters en bobbejane, wees.

As jy die hele dag tot jou beskikking het, is 'n rit aan die oorkant van Valsbaai, al met die R300 langs, 'n baie goeie keuse. Binne enkele kilometers is jy verby plekkies soos Strandfontein, Vishoek, Kalkbaai - en dan kry jy Simonstad ! Dis 'n groot gunsteling by ons, want Simonstad is net 'n droom ! As jy nog nie genoeg gesien het nie, kan jy verder ry , verby die afdraai na Kaappunt, na Scarborough, en weer oor die berg (wat 'n uitsig !) terug na Simonstad.

Wanneer jy 'n dag weg van die see beplan, is Greyton 'n uitstekende keuse ! Vanaf Kleinmond, neem die R44 jou tot verby die luukse Arabella gholflandgoed, dan met die R43 tot by Botrivier. Daar klim jy op die N2, wat jou deur die canola- of koringlande (afhangende van die seisoen) neem tot duskant Caledon, waar die Genadendal-pad links wegdraai. Dan volg 'n rit van so 27km, al kronkelend tussen pragtige heuwels, met 'n groot verskeidenheid watergeveerdes wat by damme en riviere te siene is. In die winter, sien jy van hier af, die wit sneeupieke van die berge na Worcester en Franschhoek se kant toe. Greyton is net 5km anderkant Genadendal (self 'n besoek werd). Straatkafeetjies, antiekwinkel-
tjies en water-leivore langs die strate - dis Greyton ! Dis maar moeilik om daar weg te kom, 'n mens wil die rustige tyd in die pragtige omgewing, so lank as moontlik geniet.

Vanaf Caledon, loop die Hemel en Aarde-pad, oor die berge na Hermanus. Die pad is tans onder konstruksie (2015), maar steeds gewis die moeite werd om te ry. As wynproe jou ding is, is hierdie een van die roetes wat jou nie sal teleurstel nie.

Miskien voel jy lus om nie ver te ry nie ? Dan is die 30km na Hermanus, net die antwoord. Daar kan jy die ou en nuwe hawe besoek, deel word van die deurlopende toeriste-atmosfeer, of sommer net langs die see 'n heerlike ontbyt geniet. As dit nog vroeg genoeg is, kan 'n besoek aan Stanford en Gansbaai (net 35km verder) ingepas word.

Was jy al by die suidpunt van Afrika, daar by L'Agulhas ? Van Kleinmond af, is dit 'n gemaklike dagbesoek wat beslis aangepak moet word ! Die roete daarheen, neem jou verby Hermanus, dan links by Stanford, oor die Akkedisberg-pas tot by die T-aansluiting met die pad vanaf Caledon na Bredasdorp. Enkele kilometer voor Bredasdorp, kry jy eers Napier - 'n natuurskone dorpie met groot plaas-tipe erwe waar windpompe, skape en perde, deel van die daaglikse dorpsbestaan is. Vanaf Bredasdorp volg die pad net een rigting: reguit see toe ! Kort voor lank is jy by Struisbaai, met L'Agulhas 'n klein entjie verder af met die kus. As jy avontuurlustig is en nie omgee om grondpad te ry nie, kan jy (terug Kleinmond toe) voor Bredasdorp links afdraai, na Elim  en Baardskeedersbos toe. Hierdie pad sluit later by die R43 aan, sowat 20km vanaf Gansbaai.

Is jy 'n Boland-mens, iemand wat 'n swakte vir wingerdplase, reusagtige berge en outydse flair het ? Wel, dan moet jy gerus 'n besoek aan Franschhoek bring ! Hierdie mooiste van die mooi dorpe, is net 88km vanaf Kleinmond, via Botrivier en Villiersdorp. Die groot bonus van hierdie rit, is die wondermooie Franschhoek-pas, met sy asemrowende uitsigte, talryke proteas teen die hange en koel waterstroompies. Paarl is net 20km verder, sou jy die Taalmonument of ou museums wou besoek.

As daar kinders in die geselskap is, moet 'n dagbesoek aan Kaapstad natuurlik ingepas word ! Waterfront, akwarium, bootritte, Tafelberg, Kirstenbosch - te veel om op te noem. Kaapstad is net 120km van Kleinmond af, as jy die N2 volg. Tussen-in is daar natuurlik die Kaapstad-lughawe, en die grootste winkelsentrum in die Wes-Kaap, die Somerset Mall. O ja, dan is die Strand ook naby, asook Stellenbosch.

Ek wil nog van die Karwyderskraal-pad vertel. Dis 'n sirkelpaadjie, net sowat 15km van Kleinmond af. Hierdie pad kronkel tussen 'n paar plase deur, en is net die keuse as jy natuurfoto's wil neem - van ribbokke, tot bloukrane, wildemakoue en wildepoue. Die Swartrivier-grondpaadjie draai regs af, as jy tot by Gabrielskloof wil ry, en weer met die N2 terug tot by Botrivier.

Genade ! Ek het amper vergeet van die Iona-pad, wat daar by Arabella afdraai. Dis 'n avontuurlike grondpad, oor die Palmietberg , na Elgin en Grabouw toe. Hier het ons al van die mooiste proteas en ander fynbos gesien wat ons nog beskore was ! As dit nog vroeg is wanneer jy by Elgin kom, ry gerus oor die Viljoenspas na Villiersdorp - eweneens prentjiemooi.

Ander plekke wat binne dagrit-bereik is, sluit in Swellendam (bontebokpark), Montagu (met die pragtige Kogmanskloof), Ceres (via Wellington, dan wys jy sommer hoe dapper jy kan wees, deur die Bainskloof-pas aan te durf !) en , as dit blommetyd is, Darling se kontrei.

So, Kleinmond is die plek om te wees ! Stap langs die see, of ry in die omgewing rond - elke tree 'n hoogtepunt !

Sunday 1 November 2015

Enigiets kan gebeur ...

Die uitdrukking 'sonde met die bure', is sekerlik in baie gevalle heel gepas, maar in die vroeg-sestigs het ons op 'n kleine plekkie met die naam Ngodwana , bure leer ken wie se lewenspaaie enersyds interessant, maar andersyds ook as voorbeeld van watter skewe draaie die ou lewe met 'n mens kan maak, vir ons was.

Pa was die stasiemeester, oom Wouter die stasievoorman. Laasgenoemde was effens jonger as Pa,  van Pretoria-Noord afkomstig en het 'n lewe van 'elke dag sorg vir homself', gelei. Dit het lynreg teen Pa se seining dat 'n mens gedurig planne vir die toekoms moet beraam, ingedruis. Oom Wouter-hulle (hy en sy vrou het drie orrelpypies gehad) was kniediep in die skuld, en het geld op alles behalwe lewensnoodsaaklikhede, uitgegee. In hulle huis was die nuutse fotoverhaal-boekies, legkaarte en motortydskrifte. Dit, terwyl daar meestal net pap en wors vir ete was - dis nou tydens die dae wanneer daar wel meel vir pap, en 'n stukkie wors in die yskas, was!

Pa en Ma het koppe bymekaar gesit. Pa het oom Wouter se maandelikse salaris geneem, die knellendste skuldeisers stuk-stuk betaal, en 'n begroting uitgewerk waarby die Brinks (oom Wouter-hulle se van) moes hou. Ma sou van ons klere wat ons nie so nodig gehad het nie, vir Annette,  Hesmarie en Theunsie (dis nou die kroos) verstel en herstel. Verder het die Brinks dikwels by ons aan tafel kom sit, en Pa se melkkoeie het ook gesorg dat daar darem 'n nattigheidjie saam met die pap sou wees.

So het daar toe 'n half onvermydelike vriendskap tussen ons en die voormanhuis ontstaan. Ek en my suster was min of meer die Brinkies se ouderdom, ons het saam gespeel, legkaarte gebou en deur die fotoboekies geblaai. Dit was vir ons te snaaks wanneer tannie Elna plat op haar boude op die mat kom sit het, en saam legkaarte gebou het - terwyl Ma ewe inskiklik maar alleen iets anders moes kry om haar mee besig te hou. Beide oom Wouter en tannie Elna, was kinderlik in hulle optrede, duidelik nie emosioneel gereed vir die eise van 'n huishouding (en drie kinders!) nie. Oom Wouter se Ford was 'n tipiese voorbeeld van pretensie: nagemaakte pels op die instrumente-paneel ('dashboard'); stuurknop aan die stuurwiel; plastiese, oranje lemoentjie aan die punt van die radio se lugdraad - en skitterblink klappe agter die wiele! Wanneer hy bestuur het, het die klippe gespat en hy het , elmboog deur die venster, die sigaretrook in die lug geblaas. Willewragtig, kans gesien vir alles en almal !

Tannie Elna het net gr.10 gehad. Dit het nie gepla nie, want sy sou nooit gaan werk nie - die drie kinders en oom Wouter, het haar volle aandag vereis (dis nou wanneer sy noodgedwonge die fotoboekies eenkant moes skuif om kos te maak of die wasgoed te versorg).

Ons is toe van Ngodwana af weg, en die Brink-gesin het agter gebly. Maar, dit was nie drie jaar later nie, toe hoor ons dat oom Wouter uit sy pos bedank het en dat hulle teruggetrek het, Pretoria toe. Oom Wouter se pa het twee huise langs mekaar besit, hulle kon langs hom in sy tweede huis, teen 'n minimale huur, kom bly. Ons was ook nie verbaas toe ons hoor dat oom Wouter 'n 'spietkop' geword het nie - dit was so reg in sy kraal. Hy het daagliks diens op die N4, na Bronkhorstpruit se kant toe, gedoen. Dit het blykbaar vooruitstrewend met die Brinks gegaan.

Een oggend het oom Wouter van pyn in die linkerarm gekla. Hy moes buitendien by die H.F.Verwoerd-hospitaal verby, sou sommer by ongevalle aangaan sodat 'n dokter kon kyk wat met die arm aangegaan het. Twee ure later kry tannie Elna toe 'n oproep: oom Wouter is dood! 'n Aar het naby sy hart gebars, hy het op die ondersoektafel gesterf.

Dit was 'n geweldige slag vir ons almal - en het tannie Elna en die kinders se lewens aan skerwe laat spat. Sy was ontroosbaar, want sy was geheel en al, geestelik en fisies, van oom Wouter afhanklik. Die ergste sou egter nog kom. Oom Wouter se pa het haar gebel: "My seun is dood. Ek het jou nog altyd net ter wille van hom verdra. Ek gee jou agt en veertig uur, dan moet jy en jou kinders uit my huis wees!"

Waar moes sy heen?! Met net 'n gr.10-sertifikaat, was die kans om 'n goeie werk iewers te kry, bitter skraal. Genadiglik het haar pa (wat ook in Pretoria-Noord gebly het) twee buitekamers gehad, sy en die kinders kon tydelik daar intrek. Sy moes noodgedwonge die motor en die meeste van die meubels verkoop. Die drie kleintjies was toe al in die skool, daar moes na hulle omgesien word. Haar ouers was oud en baie sieklik, en hulle het dit self nie breed gehad nie.

Deur middel van 'n ou skoolvriend se bemiddeling, kry tannie Elna toe genadiglik 'n werkie by Rondalia. Die kantore was in die middestad, naby die Plein. Sy is soggens donker al uit die huis, het saans na sewe eers tuisgekom. Haar ma is 'n rukkie later ook oorlede, en oupa moes toe alleen na die kleinkinders omsien, want Ma moes verdien en swoeg om siel en liggaam bymekaar te hou. 'n Paar jaar later, het tannie Elna toe (nog 'n groter genade !) 'n beter betrekking bekom, hierdie keer in die Onderwys-kantore.

Die drie kinders het uiteindelik almal matriek geslaag. Tannie Elna se gesondheid het 'n lelike knou gekry en sy is op 'n betreklik jong ouderdom oorlede.

Waarom hierdie verhaal? Elke meisie behoort haar in die een of ander rigting - wat eendag 'n werk sal verseker - te bekwaam. Die lewe het nie waarborge nie, enigiets kan gebeur ...

Tyding

Eenkant, weg van die ewige deining
van gee en neem, gee en neem,
het 'n hartseer groepie Hartlaub-meeue
kop onderstebo, gelyk of hulle bid.
Terwyl ek die vreemde gedrag betrag,
het 'n raafswart tobie met sy spits bloedbek
uit die newel verskyn en doodstil
op 'n regaf rots - naby my - kom sit ...

Soms is 'n mens so intens, so teen die been, van 'n grootse indruk bewus. Jy steek in jou spore vas, drink die toneel voor jou in en maak dit deel van jou syn. Vir 'n vlietende oomblik is jy vasgevang en verstrengel in die wonder van waar jy is, en wat jy is: 'n mens met sintuie wat absorbeer, verwerk en data na die brein stuur. Daar word die indrukke fyn verpak en geberg - vir eendag se herbelewe en herkou, lank nadat die oomblik reeds tot die verlede behoort.

Hierdie tobie bly in my kop, ek sien voor my geestesoog hoe roerloos dit op daardie rots sit. Watter boodskap sou dit vir my wou bring ? Waarom het die meeue dan so verdrietig gelyk, so sonder enige lewensvreugde of selfs net gewone meeu-wees ??

Die wit meeu het die koppe laat sak, die swart tobie het asof verstar, voor hom uit gestaar. Die hele laatmiddag was in 'n waas  van vreemdsoortigheid gehul. Dit het gevoel of alles en almal op my reaksie gewag het, op enige teken dat ek die tyding verstaan het - maar hoe kon ek ? Binne my maal die draaikolk my om en om ... Ek sukkel om deur die breekwater te kom.

Dan raak ek van 'n Stem bewus: "Jy moet nooit vergeet nie. Tot nou toe was jy te lank aan die ontvang-kant van die lewe. Dis onvermydelik: aanstons, gouer as wat jy mag verwag , sal daar geneem word ... "