Friday 8 September 2017

Nagereg met 'n nadraai

Dit is seker 'n aanvaarbare en verstaanbare praktyk wanneer 'n hubare jongman, 'n mooi meisie wil beindruk. Elke ding het egter sy perke - veral as die dikte van 'n man se beursie in die gedrang kom!

Toe Jacques Wienand in die laat sewentiger jare sy eerste onderwyspos op die Oos-Transvaalse platteland aanvaar het, was hy reeds gemiddeld twee jaar ouer as sy mede-beginners. Dit was omdat Jacques, na ses jaar op universiteit, eers vir PW & Seuns moes gaan voete stamp het, soos daar soms toentertyd na verpligte militere diensplig verwys is. Hy was 'n man van vele ervarings, maar dit het nie die amoreuse sy van die lewe, ingesluit nie.

Hulle was 'n groepie van ses wat by die spesifieke hoerskool, by die diepkant ingegooi is: twee manne en vier aanvallige jonge dames. Natuurlik het Jacques die viertjies deeglik deurgekyk en stilweg sy persoonlike voorkeurlys saamgestel. Wanda met die goue hare en ondeunde glinstering in die oe, was vanuit die staanspoor sy gunsteling, maar nadat sy hom met gemak oor nege putjies ore aangesit het, het Jacques besluit om eerder sy attensies op nommer twee te fokus - 'n man het darem sy trots!

Judy was eintlik Wanda se teenpool: donker krulhare, met 'n moederlike geaardheid en sin vir die rustiger dinge in die lewe. Sy het toe ook dadelik die kop instemmend geknik toe Jacques vra of sy hom daardie Sondag op 'n besigtigingsrit deur die Laeveld wou vergesel. Eintlik het sy te gretig gelyk, maar Jacques moes nietemin die water toets.

So ry die twee van hulle toe die pragtige roete via Waterval-Boven en Kaapschehoop, tot by Nelspruit. Dit was dan ook net mooi tyd vir die middagete, toe die wit Mazda 323 daar teen die bult, voor die Drumrock Hotel stilhou. 'n Hotel-ete was effens uitspattig vir 'n beginner-onnie se sak, maar as 'n ou wou punte verdien, moes jy maar die oe toeknyp en daardie einste sak, 'n bietjie dieper as gewoonlik skud.

Die ete was uit die boonste rakke! Judy het tevrede geglimlag en met groter vrymoedigheid van haar liefde vir klassieke musiek en ballet (van alle dinge!) vertel. Sy was hoogs beindruk met Jacques se beplanning vir die dag, want die roete was asemrowend, die ete onverbeterlik en die geselskap soos sy daarvan hou: sy het gepraat, en Jacques het merendeels net geluister.

Aan Jacques se netjiese kleredrag en splinternuwe motor, moes dit sekerlik vir Judy gelyk het of die lewe oplaas sy sonkant vir haar gewys het. Hier was 'n goedgemanierde jongman, wat geweet het hoe om 'n meisie soos 'n dame te trakteer - en daarvoor kon betaal.

So tussen die gesels deur, het Jacques sommetjies gemaak. Hy het waarlik goed beplan, want die ete en petrolgeld het mooi by sy begroting vir die dag, ingepas. Daar sou waarlik ook nog genoeg geld vir die nagereg wees - en die was 'n lus vir die oog! Die nageregtafel was oorbevolk met die geurigste en kleurrykste versameling wat hy ooit aanskou het. Sy mond het voorwaar gewater, want Jacques was van kleins af, 'n poeding-man. Die prysbordjie (Nagereg R10) was eintlik te goed om waar te wees!

Judy het met drie soorte volstaan, maar Jacques se bakkie het sy soettand bevestig: vyf soorte nagereg, met nog 'n ruim skeut vla bo-oor. Daar is heerlik gesmul, en Judy het haar onverbloemde satisfaksie uitgestraal.

Terwyl Judy gou haar neus gaan poeier het, het Jacques die rekening gaan vereffen. Wat hy toe daar op die strokie moes aanskou, het Jacques se moed in duisend stukkies versplinter! Die bedrag was belaglik hoog - baie meer as wat hy sou kon bekostig! Die nagereg-bordjie se bedoeling was toe al die tyd, R10 per SOORT nagereg, en nie R10 per bakkie nie ...

Wat verder gebeur het? Judy het dadelik onraad vermoed toe sy weer by hom aangesluit het. Toe sy sien hoe beteuterd hy na die rekening gestaar het, het haar lugkasteel se fondamente begin wankel. Jacques was toe nie so onbesproke van beplanning nie, sy sou moes help om hulle die allerverskriklikste verleentheid te bespaar. Genadiglik was haar handsak byderhand, en kon sy die geld wat sy vir 'n besoek aan die haarkapster opsy wou sit, uithaal en aan 'n rooigesig Jacques oorhandig.

Tydens die terugrit is nie gepraat nie. Beide van hulle was in gedagtes versonke. Jacques het 'n dure les geleer, want Judy het hom in die dae wat sou volg, doelbewus vermy.

Wie sou kon raai dat daardie verleidelike nagereg (se prys) so 'n verreikende nadraai sou oplewer? Jacques sou die visiere moes laat sak, want met nr. 1 (gholf) en nr.2 (poeding) was dit neusie verby!