Saturday 27 January 2018

Die oomblik van waarheid

Dit maak nie eintlik saak uit watter sfeer van die samelewing jy afkomstig is nie, ons almal veg verbete teen die verouderingsproses. Vir die evasgeslag is dit natuurlik as't ware 'n saak van lewe en dood - 'n vrou sal uiterste grense beproef, as sy tog net haar skoonheid en jeugdige voorkoms, so lank as moontlik kan behou.

Moet egter nie dink dat ons manne nie ook maar so stilweg hoop dat die gesogte resep van ewige jeug tog nog gevind sal word nie! Hoe dit ookal sy, elke mens se uur van ontnugtering, is onvermydelik soos die dood. Daardie grusame ooomblik wanneer jy besef: tyd het ook vir my, nie stil gestaan nie ...

Tydens my losloperdae, was ek bevriend met 'n dierbare boeregesin, daar van Burgersfort se omgewing. Die feit dat ek vir hulle kinders skoolgehou het, was net die aanknopingspunt vir 'n hegte vriendskap wat, veral vir my, die groot ligpunt in die storm-en-drang jare was. Skielik was naweke en selfs vakansies, iets om na uit te sien - ek kon plaas toe, om daar tussen die berge en wild, my aan die natuurskoon te verwonder. Dit alles, in die geselskap van mense wat my met ope arms ontvang en tuis laat voel het.

So gebeur dit toe dat ek een Desember-vakansie, saam met Andries en Leone, asook hulle twee seuns, Jaco en Anro, langs die Natalse suidkus kon gaan uitspan. Hulle strandhuis was op Hibberdene, omring deur pragtige bome en struike, met die goue strande 'n klipgooi van die huis af.

Luilekker dae van laat gaan slaap, laat opstaan en heerlike saam kuier, het gevolg. Ons het veerpyltjies en kaart gespeel, lang stukke gesels en nog langer staptogte langs die blink oseaan onderneem.

Op 'n dag, nooi die twee seuns (onderskeidelik sewentien en veertien jaar oud) my om strandlangs, na die winkelkompleks te stap. Ons was in stranddrag geklee, sommer so met ons swemklere aan, in geval ons langs die roete, 'n vinnige draai in die branders wou maak. As aktiewe atletiekafrigter en tennisspeler, het die ure in die Laeveldson my 'n goeie sonbruin gegee en ek het fisies jonk en goed gevoel.

Omdat ek geweet het dat die manne op die loer vir talent (dis nou wat meisies betref) was, het ek besef dat ek myself sou moes handhaaf. Toe dink ek aan 'n plan.

"Luister, ouens! As ons meisies raakloop, is ek vandag julle broer. Het julle mooi gehoor?"
Die twee het al laggende, ingestem om my dan as hulle 'ouboet' voor te stel, indien nodig.

Ag, dit was nie tien minute later nie, toe kom daar sowaar twee meer as aansienlike, bruingebrande, jong bikinidraertjies vanagter die rotse uitgestap. Die seuns se oe was dadelik soos pierings, ek kon sien hoe hul monde oophang.

Ek moes hulle vinnig tot die hede, en die saak op hande, terugruk. "Manne, hulle kom in ons rigting! Hou nou julle 'pose' en onthou: ek is julle broer!"

Die meisies was skynbaar half op dieselfde sending as die seuns, want hulle was nog sowat vyftien meter van ons af, toe waai hulle al vir ons. Die seuns se arms het te hewig terug gewaai, hulle onverbloemde gretigheid om die meisies te ontmoet, het my half kriewelrig laat voel.

Na 'n vinnige oor-en-weer groetery en uitruil van name - myne, uitgesluit - hoor ek toe hoe Anro die meisies nooi om saam te stap winkels toe.

"Julle girls lyk baie dors. Kom drink 'n milkshake saam met ons!" het hy hulle gulhartig uitgenooi. Ek het probeer om so ongeerg moontlik, die "wat van my?" lyftaal vir die twee oorblufte skoolseuns te wys, maar tevergeefs. Hulle had net oe vir die meisies!

Toe ons skaars drie tree gestap het, trek die een meisie aan Jaco se arm en ek hoor hoe sy vir hom vra, "Moet jou pa regtig saamstap?"

Ek was 'n hubare, hupse en fikse man van skaars sewe en twintig - en die klein merrie dink ek was die seuns se PA?! Dit het gevoel of die aarde (eintlik meer die see) my wou insluk!

Wat daarna gebeur het? Ek dink ek het my kop geskud en iets van 'n 'kloppende hoofpyn' geuiter, toe omgedraai en stadig na die huis begin terugstap. Daar was seemeeue in die lug, dit het kompleet geklink of hulle gekrys net uit een, enkele woord bestaan het: oud ... oud ... oud ...

Stokhoringoud. Jou dae is verby, De Wet. Ek het myself met foltergedagtes gepynig, terwyl ek voor my geestesoog gesien het hoe Anro-hulle vir my lag en die meisies aan't giggel was.

Vir my, was dit die onwelkome oomblik van waarheid, wat veels te gou sy opwagting gemaak het ...