Wednesday 27 November 2013

Drome van genade ...

Drome bring heimwee; drome is soms die uitvloeisel van verlange ...

Ek verlang verskriklik na my ma. In desperaatheid droom ek een nag dat ek wel kontak met die Hmel maak.

 "Kan ek asseblief met my ma praat?" vra ek. "Sy is Kotie de Wet. Net vir drie minute, asseblief?"

''By watter afdeling is sy?" vra 'n sagte stem.

"Afdeling? Sy  ... sy is seker by die brei- of hekelafdeling. Haar hande was nooit stil wanneer sy televisie gekyk het nie. Sy was altyd aan die hekel of brei vir een van ons."

Weer hoor ek die sagte stem. "Ons het nie so 'n afdeling nie. Ons is omgewe van lig, ons is omvou deur Sy warmte. Hulle brei nie, het nie klere nodig nie."

'"Probeer dan die bak-afdeling," sê ek. "Natuurlik! Sy sal by die bak-afdeling wees." Na haar dood het ek naarstiglik haar laaste stukkies beskuit uit die blik gaan haal en dit gevries. Ek sou dit nie kon eet nie, net hou vir ... vir ... net om na te kyk.

Hierdie keer klink die stem bejammerend, maar tog ook vertroostend. "Ons het ook nie 'n bak-afdeling nie. Ons leef van die vrugte van die gees."

Ek bly 'n rukkie stil. "Wat van die tuin-afdeling? Wat 'n planter was sy nie! Sy het vir my 'n aarbeisteggie geplant wat later 'n welige aarbeituin geword het. Sy was so lief vir die grond, so deel van die aarde."

Die stem antwoord, "Ons saai nie en ons plant nie. Ons besit reeds die ewige saad."

Ek raak desperaat. en vra, "Watter afdelings is daar dan?"

Die stem praat sag en geduldig. "Ons het kore ... "

"Kore ?" vra ek, "nee, ek weet darem nie. Sy was nooit 'n voorsanger nie. Wat is daar nog ?"

 Die stem raak nie ongeduldig nie. "Daar is ook hulle wat sit by die voete van die Een wat onderrig."

"Sit hulle ?" vra ek nuuskierig. "Nee, ek het nooit my ma sien sit nie."

"Hulle sit en luister na die Stem."

"O! Ja, sy sal daar wees!" jubel ek. "Ja, ek moes tog geweet het, sy was altyd 'n simpatieke luisteraar. Haar oë, haar gesig, haar hele lyf het altyd saamgeluister. Kan ek met haar praat?" vra ek opgewonde. "Ek is seker dis die plek waar sy sal wees!"

Die stem verraai 'n sweempie meelewing. "Hulle wat luister, word nie onderbreek nie. Maar, as jy wil, kan jy saam luister."

Die droom is verby. In die môre toe ek stiltetyd hou, onthou ek dit weer. Toe ek kniel, bid ek nie - ek luister. Hy het immers gesê ek kan saamluister. En ek luister ... en ek hoor 'n stilte vol vrede. In die vrede, is daar troos en in die troos, is daar arms wat my vashou. Sy vashou voel soos my ma se lyf. Nee, nog beter - meer volkome. Dit verdryf die verlange en die verdriet.

Drome bring ook berusting ...

Friday 15 November 2013

Dawerende ontgroening!

Soos elders in die land, was ons standerd 6-groep ook by Hoërskool Maclear aan ontgroening onderworpe - dis nou die dae toe dié gewraakte woord nog sonder vrees des vervolgings, gebruik is. Daar was nie iets soos die hedendaagse 'oriënteringsprogram' nie, ons is pleinweg en openbaarlik aan die genade van die seniors oorgelewer en behoorlik ontgroen!

Die junta was 'n klein groepie koshuismatrieks, daar uit die Pitsing se kontrei.. Hulle het met die wonderbaarlikste idees vorendag gekom om ons soos wurms te laat voel. Ek het geglo dat selfs die manspersoneel, te bang vir hulle was om ons enigsins te probeer beskerm het! Ons moes tot vervelens toe hardloop, stoepe met tandeborsels 'vee', teen bome uitklim, lawwe boodskappies vir senior meisies aandra en nog 'n legio ander (vir hulle) 'vermaaklikhede'.

Toe kom die opdrag dat elke standerdses, 'n tuisgemaakte musiekinstrument skool toe moes bring. Ons moes voor skool en gedurende pouses, die seniors 'met unieke klanke vergas'. My pa het vir my 'n tipe rietfluit gemaak, sommer so met die knipmes, soos hy as plaaskind geleer maak het. Die Maandag is ons dan ook vinnig aangetree, sodat ons instrumente beskou en behoor kon word. Peet Groenewald, grapjas wat hy was, besluit toe daardie naweek dat humor sy aansien by die matrieks 'n hupstoot sou gee - en hy bedink toe waarlik 'n uitsonderlike 'instrument': 'n afgebreekte hout-stoelpoot ... en 'n koos! Dis nou een van daardie kose met 'n kleinlettertjie, die een wat toentertyd onder elke bed gestaan het. Natuurlik was Peet se geslaan op die pot, skreeusnaaks en kakofonies verby! Ons ander se pogings het maar min aftrek gekry, want dit was Peet en sy geniale idee, se dag.

So betree ons toe later die dag die Engels-klas van Miss Mundel, 'n reeds-bejaarde weduwee wie se man in die Tweede Oorlog gesneuwel het. Sy was immer kiertsregop, so maer soos 'n kraai en kuis geklee in 'n romp en bloes wat tot bo teen die keel toegeknoop en met haar ouma se kamee verseël was - so asof sy die boodskap dat sy nie van ons wêreld was nie, deeglik wou onderstreep. Sy was befoeterd en het nooit geglimlag nie. In haar klas het jy so vinnig as moontlik jou sit gekry en vredeswille jou 'English made Easy' uitgehaal en gewérk. Ewenwel, ons was net mooi met die Past Participles op dreef, toe Louis Bruwer (hy was 'n muurmens, agter teen die aanspeldbord) 'n opgefrommelde papier na Petro de Lange gooi - en Miss Mundel dit gesien het! Dit was 'n groot fout ...

Sonder om haar deurpriemende blik en blitsende ogies van hom af te laat wyk, storm die Miss toe die gangetjie op die plankvloer af, om Louis te gaan vermorsel (altans, so het.dit aan haar lyftaal gelyk!). Wat ons - en definitief sy - NIE van notisie geneem het nie, was dat Peet sy instrument langs sy bank op die vloer neergesit het, en nie onder die bank, soos ons beveel is om te doen nie. Soos die Voorsienigheid dit wou hê, tref die aanstormende kamee-tannie toe die koos met 'n voltreffer van haar skoen - amper asof sy die ongewenste ding by die venster uit wou skop. Daar klingel-klingel die geriefie toe tussen die banke deur, tot agter teen die muur, waar dit in 'n finale crescendo tot stilstand rol ! Mens, dit was nou vir jou 'n gedoente!

Al wat ek verder, benewens ons verskrikte gesigte wat rooi en pers van ingehoue lag was, kan onthou, is hoe Miss Mundel toe die stoelpoot gegryp het, Peet uit sy bank gepluk het - en hom met stoelpoot in die rug gedruk, na die Hoof se kantoor gemarsjeer het. Peet was natuurlik ons held, want niemand sou dit ooit gewaag het om Miss M se waardigheid te skend nie.

Mnr.Rust het toe musiekinstrumente verbied, Peet het 'n loesing gekry - en ons het meer 'exercises' as ooit tevore, gekry om te doen. Ai, dat 'n ou stoelpootjie en piepiepotjie, nou so 'n kelêmetie kon veroorsaak!             

Wednesday 13 November 2013

Een berg te veel ...

Pa was in die jare 1962-63 die stasiemeester op Ngodwana, 'n wonderskone plekkie in die pragtige Elandsvallei. Natuurlik was daar destyds geen sprake van 'n papierfabriek nie - die plekkie het bestaan uit 'n sandsteen-stasiegeboutjie, 'n goedereloods, vyf spoorweghuise en oom Murray se negosiewinkeltjie, waar ek elke tweede week vir Ma leesboeke moes gaan omruil het. Dis nou as die boekewa die grondpad , wat dikwels erg verspoel het, kon aandurf.

Die stasievoormanne was oom Olive Green en Willem Beneke, 'n jong eks-Pretorianer wat agter die poort, daar in Koos de la Reystraat, grootgeword het. Hy was 'n onverskrokke vuurvreter wat sy Ford kon laat spin soos min ander hom kon nadoen. Getrou aan die styl van daardie tyd, had die groen-en-wit Ford 'n sonskerm bokant die voorruit, 'n lugdraad met 'n heldergeel plastiese lemoen aan die punt, flappe agter elke wiel en 'n windmaker-knop aan die stuurwiel! Oom Willem het die gevaarte soos 'n 'pro' hanteer: linkerhand op die stuurwielknop, regterelmboog wat by die venster uitsteek.
By die huis was die mollige tannie San en drie kleintjies, nog nie skoolgaande nie.

Toe besluit Pa en oom Willem op 'n dag dat die berg noord van die stasie, die testosteroon uitgedaag het - en daar moes geklim word! Ek was 9 jaar oud, en moes saam. Ons is vroeg een Saterdag-oggend daar weg, het die Elandsrivier oorgesteek - en toe het die klim begin. Die berg is redelik steil, die tog was nie maklik nie. Pa was nog redelik fiks na sy lang rugbyloopbaan op Bethal, maar oom Willem het gehyg soos 'n os. Dit was ook opvallend dat sy gesig rooi geswel was. Hoe dit ookal sy, ons was halfdag bo en het daar onder 'n boom gerus en die utsig aan die anderkant, na Schoemanskloof, geniet. 'n Paar ribbokke het die prentjie mooi afgerond.

Die afsak terug Ngodwana toe, was 'n welkome verandering ... vir Pa en vir my. Oom Willem het steeds gehyg en sy gesig was teen daardie tyd so geswel dat hy amper nie voor hom kon sien nie.
Ons het besef dat iets ernstig verkeerd was en het weerskante van hom gestap om hom te ondersteun.

Dit was sterk skemer toe ons uiteindelik by die huis gekom het. Oom Willem kon nie eens praat nie, het net sy bors vasgehou en na sy asem gehyg. Daar is besluit dat hy dadelik dokter toe moes gaan - wat beteken het dat die meer as 30km Waterval-Boven toe, oor die Joubertsdraaie, gery moes word.

Wat daarna gebeur het, het verreikende gevolge gehad, baie meer as wat ons ooit kon droom! 'n  Reeks toetse het getoon dat oom Willem 'n vernouing in 'n aorta, naby die hart, gehad het - vandaar die asemnood. 'n Nood-operasie is uitgevoer en die verswakte stukkie is uitgesny en met 'n plastiese pypie vervang. Na sowat 'n maand, was oom Willem weer op sy pos, maar merkbaar stiller en meer besadig as tevore.

Ons is later weg van Ngodwana af, terwyl die Benekes nog daar aangebly het. Later het ons verneem dat oom Willem bedank het en 'n verkeersman in Pretoria geword het. Dit was 'n gedagte wat nogal sin gemaak het: die selfversekerde oom Willem. elmboog deur die syvenster, wat in sy patrolliemotor rondjaag.

Drie jaar later het ons die skokkende nuus verneem. Oom Willem, toe 36 jaar oud, is onverwags oorlede nadat die plastiese pypie in die aorta, 'n blasie gevorm  en toe gebars het. Dit was baie tragies, want tannie San, vlak in haar dertigs, het met drie klein kindertjies gesit wat versorg moes word.

Die berg voor Ngodwana se stasie, vandag oortrek met Sappi se dennebome vir die papierfabriek, was die enigste berg wat oom Willem ooit geklim het. Dit was, helaas, een berg te veel ...

Sunday 10 November 2013

Die Philips in die lewe.

Vandag nog, wanneer ek iemand met die naam Philip raakloop, maak my maag draaie en my rugstring kry weer daardie ou gevoel van 'n lamte, wat tot in my bene afkruip.

Philip was saam met my op skool. Sy pa was die hoof van 'n klein plaasskooltjie, sy suster se
naam was Irene en sy was my beste maat se meisie. Philip se ma het haar en Irene se rokke deur
Willie (my maat) se ma laat maak, want tannie Lappies was die beste in die geweste.

Akademies, was ek nie die stompste potlood in die laai nie, maar ook nou nie die oulikste skulpie
op die strand nie. Dit was nie te moeilik om een van die 'top-presteerders' in my standerd te wees nie, want ons was maar 'n klein skooltjie, skaars drie honderd kinders. Eintlik het ek nie juis kompetisie gehad nie ... behalwe Philip. Sy punte was altyd beter as myne, toets na toets en eksamen na eksamen. Dit was nie vir my die dood van Katryn nie, want ek was nooit 'n kompetisie-mens nie.
Ongelukkig het hierdie geaardheid van my, nie van my pa af gekom nie - hy was immer kompeterend - en dit is waar die moeilikheid begin het ...

Male sonder tal, het ek bedremmeld met my toets- of eksamenpunte voor Pa gestaan. My sewentigs (selfs so hier en daar in die tagtigs) was nie ter sprake nie - net my vertoning, in vergelyking met Philip s'n. Philip was die maatstaf, die norm en die standaard. Die woorde "Hoeveel het Philip ?" was my gelykmaker en vonnis. Uit vrees vir Pa se berugte toorn, het ek dit telkens oorweeg om 'n witleuen te vertel, maar die gedagte aan Willie se meisie, wat Philip se suster was, het my roekelose oomblikke vinnig laat stol. Pa se reaksie was gewoonlik dat ek nie hard genoeg geleer het nie, ongehoorsaam was, in die strate rondgeloop het as ek moes werk (al wanneer ek dit gewaag het om in die dorp te verskyn, was as ek winkel toe gestuur is), en dat ek Pa in die skande gesteek het.

Ek het maar my gang gegaan, was selfs op 'n makabere manier, 'vriende' met Philip. My enigste mate van voorsprong op hom (wat my seker gehelp het om hoofseun te word) was dat ek 'n liefde vir sport gehad het. Ek het veral goed in tennis, atletiek en krieket gevaar, terwyl Philip die vioollesse-tipe was en kon klavierspeel. Hy was die plaaslike 'nerd', die slim outjie wat soggens voor skool sy Wiskunde-huiswerk vir ou Potgieter moes gee, sodat laasgenoemde later in die dag, die werk aan ons ander kon verduidelik! My skool was nie daarvoor bekend dat daar juis akademici op die personeel was nie - en Potgieter se Wiskunde-kennis was maar verdag. Tale was my kos: van Afrikaans, Engels en Duits, kon selfs Philip my nie veel vertel nie.

As ek nou so terugdink oor die jare, was daar maar altyd 'n Philip aan wie ek myself moes meet. Krisjan gedurende my laerskool-jare op Bethal; Elize French op Elandshoek; Melodie in Laerskool Nelspruit; Petro op Maclear; later Desmond op Tukkies. Die Philips laat 'n mens harder probeer en bring daardie ekstra poging na vore.

Solank dit net gesonde kompetisie is - en nie 'n obsessie raak nie!

Ek het nooit weer na skool, van Philip gehoor nie, wou ook nie. Hy sou sekerlik 'n ingenieur of 'n ding geword het, vir sy pa kleunseuns gegee het en hulle laat klavierlesse neem het. Dit kan my nie skeel nie, ek is vandag vry van die Philips in my lewe ... altans, ek hoop so !

Sunday 3 November 2013

Romeo en Juliet

Pegasus het sy poot oorspeel
toe hy - oorweldig deur
brandende begeerte -
liefderyk oor die
gloeiende Feniks wou streel.




Toe hy sy teergeliefde
met sagte vleuels omvou,
het hy - helaas te laat -
die ongeskrewe werklikheid onthou:

soort by soort en aard by aard -
dis alles tog so duidelik,
maar liefde ken geen reëls of plek,
kom fel en onvermydelik.



Dis beter om die hart te tem
voordat ellende posvat of  begin.
Gedenk die hartseer van verbode liefde
soos Pegasus en sy feniks s'n ...

Friday 1 November 2013

Ma se rokspante

Hierdie inskrywing is nie komies of humoristies nie - dis ook nie 'n verhaal nie. Ek het net vanaand iets op die hart wat swaar weeg en my denke vertroebel.

Dankie aan elke ma wat haar seun toelaat om (los van haar rokspante) sy eie mens - en ware man - te kan word. Die alternatief is om van te huil ! Waarom, o waarom kan of wil so baie vroue nie insien en besef dat hulle volle verantwoordelikheid vir hul liefie se wanaangepastheid, sy ekskuus-dat-ek-lewe houding, sy opvallende verwyfdheid, sal moet aanvaar nie ? Om jou eie lewe op te mors, is erg genoeg; om iemand anders s'n (en dit nog jou eie kind!) te verwoes, is skrynend tragies en verdien die ergste straf wat uitgedeel kan word !

Ons samelewing is deurspek van mannetjies wat 'n gebrek aan selfvertroue het. Hulle deins terug vir enige verantwoordelikheid en huiwer om na vore te tree en hul man te staan. Ma het altyd hulle gevegte, vir hulle geveg. Niemand durf Boetie skeef aangekyk het nie, want hy is Mammie se oogappel en sy het in 'n tierwyfie ontaard as dit net vaagweg geblyk het dat iemand Boetie effens hard behandel het - en van hom 'n MAN probeer maak het!

Mans wat toelaat dat hul vrouens die broek in die huis dra ( en sodoende die finale seggenskap oor Boetie het), verdien om deur die samelewing verwerp te word. Die onomkeerbare skade wat daardie arme seun aangedoen word, kan nooit ooit geregverdig word nie.

Ek sien op Facebook hoe ma's hul 18 en 19 jarige seuns soos meisies aanspreek en mooi troetelwoordjies oor hulle kwytraak. Daardie arme drommels is al so voos van die emosionele
afpersing, dat hulle geen reaksie kan (of mag) toon nie. Alles is aan Mammie se goedkeuring onderworpe! Sy vriende word deur Mammie gekeur, sy buitemuurse program word deur Mammie saamgestel (mag nie te lank van haar af weg wees nie), sy meisie - as daar 'n ou dingetjie is wat met so 'n pateet wil uitgaan - moet aan Mammie se vereistes voldoen. Mammie besluit oor sy haarstyl, sy kleredrag, sy grimering (ek sien hulle in die klas!) en sy eetgewoontes.

Los tog die seuns uit! Jy, Ma, het NIE die reg om wat God vir daardie seun van jou beplan het, te ignoreer en hom na JOU wil te omvorm nie! Laat Pa toe om sy seun te karnuffel, saam te gaan jag en visvang en bier drink, as dit moet - solank Boetie net 'n MAN word, en nie 'n bejammeringswaardige skepsel vir wie almal agter sy rug lag nie. Sy verfyndheid , moderne haarstyl en sagte stem is dalk vir JOU mooi, maar die res van ons kry hom bitter jammer. Nee, ons is vol wrewel - teenoor die ma wat hom so gevorm het!

Dit lyk werklik of die ma van vandag, haar seun as haar 'redding' sien. Hy moet haar eensaamheid verlig, haar bewonderaar en slaaf wees. Sy manipuleer hom om die pa se plek in haar lewe, oor te neem. Sy pers hom emosioneel af ('hoe kan ek Mammie ooit verstoot - sy is dan so goed vir my?') en het 'n yster-houvas op sy lewe.

Manne, haal die oogklappe af en sien jou ma vir wie en wat sy werklik is! Natuurlik veralgemeen ek - daar IS talle ma's wat die saak reg hanteer, maar te veel wat hul seuns se lewens verwoes !