Monday 16 June 2014

Stilte

Die afwesigheid van enigiets wat stilte kan versteur, is voorwaar 'n salige gedagte! Stilte laat jou hoor, laat jou voel, laat jou ervaar ...

Ek herinner my 'n nag, iewers in 1975. My ouers het destyds op Marble Hall gebly, ek was 'n student in Pretoria. Pa se werk by SAS&H het nie veel vreugdes vir ons (my) ingehou nie, behalwe miskien dat ons wyd getrek en nuwe landsgrense verken het - en die herinneringe aan daardie een, onvergeetlike nag.

Ek het met die trein, Marble Hall toe gery, waar pa-hulle vir 'n jaar of vyf penne ingeslaan het. Na 'n rampspoedige terugrit na my vakansiewerk in die wildtuin, was my Mini kapoet en moes ek noodgedwonge instem om van Pa se ruimhartigheid ('n gratis treinkaartjie) gebruik te maak.

So gebeur dit toe dat ek een van net drie passasiers daardie aand in die wa was. Ons is op Hammanskraal afgehaak, en aangehaak aan die diesellokomotief wat die sylyn Marble Hall toe, bedien het. Ons is skemertyd uit Pretoria, en duskant die rangeerplek het die donkerte al onheil-
spellend oor die Bosveld toegesak. Dit was in die winter, koud en guur. Ek het my jas styf om my gevou en probeer om in te dut. Verby Settlers was ek egter nog wakker soos 'n spook.

Teen halftwaalf se koers, het ek die skommelende ruimtes tussen kloppende treinwiele, vaak en onrustigheid, ingedoesel en tog 'n wyle ingesluimer. Nie vir lank nie, want skielik het die trein met 'n ruk tot stilstand gekom. Ek het by die venster uitgekyk, daar was nie 'n siel in sig nie. 'n Entjie verder aan kon ek die naam op die wit naamplaat, in swart letters, uitmaak: Tuinplaas. Hoekom die trein gestop het, het ek nooit geweet nie. Niemand het op- of afgeklim nie, ons het net gestop - tussen niks en minder as niks, op die uitgestrekte Springbokvlakte ...

Ek het die venster oopgesukkel en laat sak. Buite was dit stikdonker nag ... en grafstil. So stil, dat ek my eie asemhaling kon hoor. Moes ek bang wees? Ek was onseker, want 'n helende rustigheid het hom in my gemoed kom tuismaak. Ek onthou dat ek 'n diep asemteug gevat het, stadig uitgeblaas het en na die niks in die verte getuur het. Dit was net ek, en die oneindigende niks. Die ander passasiers was, elk in sy eie kompartement, in droomland. Ek was in my eie wonder-droomland, die een van volkome stilte.

Die veraf getjank van 'n jakkals het die stilte meteens oorverdowend onderbreek, maar tog was dit goed, dit het soos 'n stilte-refrein oor die vlaktes getrek. My ore was gespits om nog naggeluide te hoor, maar daar was niks verder nie.

Hoe lank ons daar op Tuinplaas vertoef het, kan ek ook nie onthou nie. Die trein het om-en-by drie-uur se stryk op Marble Hall ankers gegooi. Ek het die paar honderd meter na my ouers se huis in stilte gestap, stadig en afgemete. Ook toe ek later myself op die woonwa-slaapbank tuisgemaak het (Ma het die sleutel onder die matjie gelos), kon ek nie weer slaap  nie. Ek was steeds onder die betowering van Tuinplaas se nanag-stilte.

Daarna het die hunkering na 'n soortgelyke ervaring, my deur die lewe vergesel. Daar was 'n twee-uur in die oggend tydjie, die keer op Pretoriuskop; ook toe die skoolbus anderkant Carolina gebreek het en ons vir nooddienste moes wag. Tye toe ek gedink het, ek weer na aan Tuinplaas-stilte gekom het.

Daar is geen rus duskant die graf nie, ek verstaan dit. Wiele moet rol, 'n mens moenie stagneer nie en aanbeweeg, dit verstaan ek ook. Maar, my sintuie wag reikhalsend op stilte - omdat ek eenkeer gehoor, gevoel en ervaar het, wat dit aan die siel doen ...



Ouma gaan bed toe

Elke mens het seker maar sy of haar eige ritueel voordat die kooi opgesoek word. Vir my ouma was dit , vanuit my persepsie, baie meer as net 'n ritueel - dit was 'n beslommernis!


Op 'n koue Bethal-plaas, veral in die genadelose winter, is daar vroegmiddag al bedbeplanning gedoen. Ouma het 'n baksteen in koerantpapier toegedraai, en dan in die koolstoof se oond warm gemaak. So teen vyfuur se stryk, is die warmgebakte steen dan by die voetenent van die katel, onder die donskombers ingeskuiwe. Ma het dit altoos as 'malligheid' afgemaak, maar Ouma het geweet wat sy doen - en daardie baksteen het sy werk deeglik gedoen!


Moenie dink die bedbereiding het by die baksteen gebly nie! Die stronke (Ouma had nie altyd steenkole nie) is vroegdag al uit die omgekeerde watertenk gaan haal, sodat die stoof lekker warm kon word - vir die groot waterketel waaruit waswater, teewater en warm water vir die watersakke, gegooi moes word. Net na "Die Du Plooys van Soetmelksvlei" (die radiostorie net na die sewe-uur nuus en huisgodsdiens), het Ouma die rooi watersak onder haar kopkussings gaan sit, sodat sy darem haar hoof in warmte kon laat rus. Die ander sak, so 'n bloue, is later saam kamer toe. Ouma het hom soos 'n baba, in die arms vertroetel, of rondgeskuif waar die kouete ookal gevoelig was.


Nadat sy seker gemaak het dat die agter- en twee voordeure se skuifstukke toe was, het Ouma dan die kombuis se lamp gedoof , en al waggelende deur die voorhuis (jy kon die vloerplanke hoor kraak), kamer toe gestap. Sy het net 'n kers kamer toe gebring, want sy was nie een vir lees in die bed nie.
Sy het dan op die kant van die bed, voor haar spieelkas gaan sit, die haarnaalde en -net afgehaal en haar lang hare geborsel. Vervolgens is die gesig bygedam, ek dink dit was gesigroom wat my antie Ena vir haar gegee het (die was altyd erg oor haar kosmyniks), of dalk Oil of Oley, of Violet Kuny se 'wrinkle goze' - soiets. Daarna het Ouma op die katel geklim, omgedraai en dan so met die gesig na onder, op 'n bondeltjie getrek en gebid ...


Nou kyk, daar is bid , en BIDDE ! My ouma het gebidde. Sy het drie kinders, twaalf kleinkinders en later, 'n swetterjoel agterkleinkinders gehad - en vir elke liewe een is daar ernstig, in detail en hartstogtelik gebidde. Elkeen is by die naam genoem, en om seker te maak daar kon geen onduidelikheid wees nie, het Ouma ook die naam van elkeen se blyplek, genoem. Om net 'n voorbeeld te gee, sou 'n fraksie van Ouma se gebed, soos volg gelui het: "Ag, Liewenheer van Abraham, Isak en Jakob, dink tog in groot genade aan liewe Marlene wat daar by Letsitele, daar naby Tzaneen, op daardie pragtige vrugteplaas bly. Laat die avokado's tog vanjaar groot wees, laat die goggas nie die oes beskadig nie, laat die prys goed wees sodat Marlene en die liewe Howard en klein Duncan, tog goed kan lewe."


Nadat Ouma in haar gebede die rondte van Vader Cloete by die ganske familie gemaak het, het sy stadig omgedraai, die kers (haar gebed is in die lig gedoen) gesnuit en 'n rukkie lank gesukkel om die lyf vir die nagrus te skik. Na 'n sug of drie, het daar dan 'n hemelse stilte oor die kamer gedaal. Net die rookreuk van 'n kers het nog in die lug bly hang, voordat ook dit , later onder die Vader se wakende hand tot rus gekom het.


Ek het per geleentheid my laat ompraat om langs Ouma in te kruip,  in die sagte verebed weg te sak. Dit was toe die skepsels weer die vorige nag onder Ouma se henne kom steel en die honde aanhoudend buite geblaf het. Ek het egter ongemaklik gevoel, want daardie katel was 'n oumens-kooi, het na laventel geruik en dit het die hele tyd gevoel of ek die bed met die hele familie moes deel!


'n Paar jaar na Ouma se dood, het ek gehoor dat die plaaswerkers van die nuwe huurder, die katel vir vuurmaakhout opgekap het. Dis maar die verloop van die lewe. Geen byl sal egter naby my herinneringe aan Ouma se bed-roetine kan kom nie - daarvoor het dit te diep, soos in 'n outydse verebed, weggesink ...