Thursday 18 September 2014

Blye teleurstelling

Pa het graag stories oor sy kinderdae op die plaas, vertel. Die swaarkry-tema was maar altyd op die voorgrond, maar tog het hy soms afgewyk en 'n staaltjie of drie vertel waarin die humor, my deur my lewe sou bybly.

Hy was 'n opgeskote seun van so veertien jaar, wat beteken het dat sy twee susters al na aan de einde van skool was. Saans wanneer die grootmense na ete om die draadloos vergader het om na die nuus, weerverslag en aandvervolgverhaal ("Die Du Plooys van Soetmelksvlei") te luister, het die kinders gewoonlik buite langs die opstal rondgedrentel, of sommer net gesit en ginnegaap. Wanneer Pa se neef Johan en sy suster (Marlene) by Ouma gekuier het, was die kwade immer naby, want die tweetjies was nog pas uit hulle kleuterskoene, het al die aandag gekry - en was sommer net wintie verby! Pa en sy susters het hulle maar vredeswille verduur, maar van familieliefde of enige ander vorm van deernis , was daar geen sprake nie.

So sit die spulletjie toe weer een aand op die grasperk voor die huis. Binne het die nuusleser se stem gedreun en hulle kon hoor hoe Ouma die teegoed reggekry het. Dit was 'n pragtige aand vol sterre, maar Pa vertel daar was 'n effense kilte in die lug, so asof daardie aand bestem was om nie maar net nog 'n weeksaand te wees nie ...

Toe Marlene weer met haar vloermoere begin omdat sy nie die grootste rooipruim (Ouma het hulle 'n bak vrugte gegee om aan te peusel) vir haar kon vat nie, was Pa-hulle net mooi keelvol vir die bedorwe brokkie! 'n Blink plan om vir altyd van Marlene ontslae te raak, het Pa te binne geskiet.
Hy dink toe aan die ou murasie van die eerste opstal, die een wat Ouma-hulle net na hulle troue in 1916 betrek het, wat so drie honderd meter van die nuwe een af was. Pa en neef Daaf het dikwels daar tussen die ou vrugtebome en in die populierbos gaan duiwe skiet, en hy het presies geweet hoe dit daar lyk - en hoe dit daar kon spook! Selfs Ouma-hulle had te vertelle dat oorle ou Emma (die ou kombuisbediende wat later nie die griep oorleef het nie) snags daar rondgedwaal het. Pa was derhalwe vas oortuig dat die ouhuis 'n plek was waar jy dit net in die daglig kon gewaag het - snags sou ou Emma se gees jou vir seker vang en na 'n 'verskriklike einde' toe wegvoer! Hulle wou mos van Marlene ontslae raak, dit was dus die ideale geleentheid om hulle parmantige snip van 'n niggie, die donker nag in te stuur - reguit na ou Emma toe!

Het ek vertel dat dit glo 'n stikdonker aand was? Volgens Pa kon 'n mens skaars jou hand voor sy gesig sien. Die plan was om Marlene uit te daag dat sy nie die moed sou openbaar om vir hulle 'n blaar van die granaatboom langs die ouhuis, te gaan pluk nie. Dit was die enigste granaatboom op die plaas, daar was dus nie 'n manier hoe sy daardie spesifieke sort blaar op 'n ander plek sou kon kry nie.
Getrou aan haar snipperige aard, het Marlene dadelik die uitdaging aanvaar - veral toe Pa haar belowe het dat, indien sy die onmoontlike sou kon vermag, sy die hele aand verder met Pa se bliksoldaatjies kon speel. Hierdie 'prys' was baie gesog, want Pa was erg heilig oor sy manskappe.

Mens, so is die kleine Marlene, skaars vyf jaar oud, toe die duisternis in om die blaar te gaan pluk. Pa-hulle het lekker vir haar onnoselheid gelag, aanmerkings gemaak en gruwelstories oor wat nou van Marlene sou word, en wat ou Emma alles met haar sou aanvang, onder mekaar vertel. Sy is spotwoorde toegesnou, daar is skelwoorde agterna geskreeu en dan lekker daaroor gelag.

Toe gebeur daar iets wat Pa-hulle se lag kortgeknip het. Eintlik het daar niks gebeur nie - en dis net waar die kinkel was! Marlene het lank weggebly, en al het hulle hoe hard na haar geroep, daar was geen antwoord nie. Die volle besef van wat hulle aangevang het, het die grasperkgroepie getref: hulle het Marlene na haar dood gestuur! Teen daardie tyd, het ou Emma se spook sekerlik al lankal Marlene se ingewande uitgeruk, haar ore afgesny en haar vingers afgebreek om dit vir moetie te gebruik! Hoe moes hulle die verskriklike nuus aan Ouma-hulle oordra? Erger nog - wat gaan Oupa met hulle maak, indien Marlene 'n Emma-prooi geword het?! Die groepie kinders het ineengekrimp, later styf teen mekaar gesit, mekaar vertroos en hul lot probeer antisipeer. Ta' Loel het glo begin huil, en die ander daarvan beskuldig dat hulle haar , teen haar wil in, by gemors ingesleep het. Pa het in die gedagtes begin wonder wat die maklikste manier sou wees om van die huis af weg te loop.

Net toe die beteuterde groepie op hulle emosioneelste was, hoor hulle 'n stem vanuit die dieptes van die duisternis - en die stem roep na Pa! Pa was seker dat dit ou Emma was wat met Marlene klaargespeel het, en hom toe naderroep om die volgende slagoffer te wees.
"Krisjan! Krisjan!" Die stem het al harder, al dringender geraak. Toe besef Pa-hulle dat dit nie ou Emma was nie, maar Marlene wat doer uit die donkerte, geroep het. Pa het eers gedog dit was haar stem uit die dode, maar waag dit toe darem om terug te roep.
"Marlene? Is dit jy?" Pa se stem was enersyds vol hoop, maar tog nog versigtig vir die dood-moontlikheid.
"Krisjan! Moet dit 'n klein blaartjie, of 'n groot blaar wees?" Klokhelder, ten spyte van die afstand, het Marlene se stemmetjie die naglug deurklief.

Daar was glo chaos daar langs die opstal daardie aand! Die susters het mekaar omhels en van pure verligting, weer beginne huil. Pa was natuurlik ook baie verlig, hy sou nie meer planne moes maak om 'n ander heenkome te gaan soek nie.

Pa  het eenkant toe gestap. So hard as wat hy kon, het hy geskreeu:"Dit maak nie saak nie! Kom nou dadelik terug!!" Hoe hy sy niggie, wat die kloue van ou Emma ontglip het, weer terug verwelkom het, het Pa ons nie vertel nie. Die dankbaarheid dat Marlene toe nie ou Emma ten prooi geval het nie, was groot - groter as die effense teleurstelling dat sy heelhuids daarvan afgekom het. Pa moes toe maar geredelik sy soldaatjies met sy ongewildste niggie deel.


Wys jou net: teleurstelling en blydskap, kan soms bedmaats wees!

Monday 15 September 2014

Rakleeftyd

Alles op die ondermaanse is tydelik. Niks kan die horlosie stop nie, tyd is onverbiddelik en ongenadig.


Tipies mens, sal ons tot in der ewigheid smag na permanensie, wanneer dit by die dinge wat vir ons kosbaar en dierbaar is, kom. Ons probeer naarstiglik om oomblikke van volslae sielevreugde, in ure te omskep. Ons klou vas aan vreugdes, aan genot ... en aan vriendskap.


Ongelukkig skyn vriendskap, ook in die kategorie wat aan 'n rakleeftyd onderworpe is, te val. Dan weer, indien vriendskap nie die berugte tydtoets kan slaag nie, was dit mos nooit werklik vriendskap nie, of hoe ? As die samesyn kwyn, en die oogkontak taan, is die graveerder klaar besig om die laaste letters in die graniet te verewig.


Vriendskap is in sy wese, iets wat vir seker ook 'n ander toets moet slaag - die een met die opskrif, 'Wedersyds'. Kom ons wees maar seermakend eerlik: hoeveel keer het jy nie al tot die (skokkende) besef gekom dat al die energie, al die kontak, maar altyd net eerste van jou kant af kom, nie ? 'n Tweede party wat "nie tyd het nie", of immer "te besig" is, onderskat jou intelligensie. Al die tekens is daar, jy wil dit net nie aan jouself erken nie. Jy bly aan grashalms van hoop vasklou, hoop dat dit wat jy so duidelik gewaarword, dalk net 'n versinsel mag wees. Jy verneder jouself deur aan te hou om die minste te wees, die een te wees wat die verbintenis wil maak werk.


Die mooiste en opregste wat jou hart kan gee, is nie noodwendig iets van waarde vir die een met wie jy dit so graag wil deel nie. Jy kry die gevoel dat jy nooit in dieselfde mate waarmee jy gee, terug ontvang nie. Jy word keer na keer, diep teleurgestel. Jy word die slagoffer van jou eie offervaardigheid. Intussen leef jy in die hoop dat die ander een, groter insig in en waardering vir jou bydrae tot die vriendskap, sal ontwikkel en sal toon. So bly jy 'n soeker na bewyse, 'n soeker na tekens, 'n soeker na ... geluk.


Die wrede aard van 'n rakleeftyd, is dat dit nie omgeskakel kan word nie. As die tyd verby is, is dit verby. Om derhalwe oor 'n verbreekte vriendskap te tob, sal niks aan die saak verander nie. Dis doodeenvoudig: die een voel baie, die ander een voel niks. Maak vrede daarmee, lig jou kop op en stap die volgende vriendskap (?) tegemoet.


Dis eers wanneer jy jouself gee, dat jy waarlik gee. Ek verstaan dit, Kahlil Gibran, ek verstaan dit volkome. Dit maak net so ontsettend seer wanneer jou gee, nie goed genoeg is nie - wanneer jou
rakleeftyd, verby is ...



Thursday 4 September 2014

Alles tevergeefs

Die mens sal soms tot alle uiterstes gaan om te kry wat hy of sy wil hê. Passie verander soms in obsessie - en dis net hier waar 'n onontwarbare kraaines die denke kan vertroebel.


Tussen al die nuwe gesigte wat die jaarlikse groentjie-oes opgelewer het, was daar daardie jaar een wat onmiddellik die aandag getrek het - veral van al wat rokdraer was. Hy was bruingebrand, lenig en blond, met 'n skamerige glimlag wat 'n verleentheid oor al die onverbloemde bewondering, onsukses-
vol probeer verbloem het. Selfs die matiekmeisies het ge-oe en ge-aa as Niel by die klas verbygestap het. Hy mag dalk net 'n gr.8-seun gewees het, maar was die middelpunt van die aandag.


So het die adorasie toe aangehou, en het Niel gaandeweg sy skugterheid ontgroei. Hy was 'n puik sportman, wat om meer as een rede die (vroulike) toeskouers pawiljoen toe gelok het. Wanneer hy sierlik in die agterlyn genael, of oor die dwarslat geseil het, was bewonderende blikke oral om die veld te sien.


Toe begin 'n nuwe fase: Niel het in gr.10 'n meisie gekry. Sy was natuurlik mooi, want die beskikbare poel waaruit hy kon kies, was groot. Susan was natuurlik in haar sewende hemel, want van al die meisies, het Niel HAAR gekies! Dit was egter nie twee weke later nie, toe sien ons hom aan die sy van 'n ander meisie - en na nog drie weke, weer 'n nuwe verbintenis ! Die noodwendige skinderpraatjies het die rondte gedoen, daar is wyd bespiegel waarom nie een meisie dan langer as 'n paar weke met hom gekys kon bly nie. Ek was 'n onnie, so ek het my nie veel aan die petalje gesteur nie, net die kommentaar gehoor en telkens die volgende meisie gesien.


In sy graad 11-jaar, was Niel meer van 'n Adonis as ooit tevore. Die skouers was breed, die blou oë nog blouer, en die blonde kuif het met mening in die windjie gewapper. Toe ontstaan daar skielik 'n krisis met een van my tennisspanne. Ons sou daardie Vrydagmiddag 'n wedstryd speel, en op nommer nege en negentig, onttrek 'n outjie. Een van die meisies noem toe aan my dat sy Niel al sien speel het, en dat hy - benewens sy rugby- en atletiektalente - 'n kranige tennisspeler was. Ek vra hom toe om uit te help en nadat hy sy ma gevra het of sy hom by die bane sou kom haal (hy was 'n koshuiskind), het hy ingestem.


Daar sit ek toe die middag langs Niel se ma, 'n aanvallige vrou in haar veertigs, met 'n duidelike trots in haar oë - vir haar seun. Ons het oor skoolsake gesels, oor wildstropery daar op hulle plaas, en toe sê sy iets wat 'n emmer yswater oor my gegiet het: "Weet jy meneer, ek bid dat Niel moet druip." Sy moes seker die ongeloof op my gesig gesien het, want sy vervolg toe met 'n selfvoldane glimlag. "Dan het ek hom langer in die huis, by my."


Ek het daardie naweek dadelik begin navraag doen, want iets was iewers nie pluis nie. Koshuiskinders weet baie van mekaar af, en dit het dan ook nie te veel moeite geverg om agter die kap van die byl te kom nie. Niel se pa en ma was van bed en tafel geskei, het op dieselfde plaas gebly, maar in verskillende huise - en Niel het by sy ma gebly. Hy was die enigste man in haar lewe. Hy moes instaan vir die eintlike man in sy ma se lewe, sy pa, wat nie meer daar was nie.


Dinge het soos 'n legkaart inmekaar begin pas. Sodra Niel 'n meisie se naam by die huis genoem het, het sy ma dadelik verontwaardig gereageer. Sy sou iets soos die volgende sê: "Aggenee! Jy stel
Ma darem werklik teleur! Jy weet jy kan enige meisie kry - en jy kies daardie ou vaal dingetjie?!"
Dan het Niel die verhouding verbreek, en 'n volgende moontlikheid aangetree. Elke keer was Ma verontwaardig en 'teleurgesteld', want die waarheid was dat geen meisie goed genoeg sou wees nie - die ma was nie bereid om hom met enige ander vrou te deel nie!


Toe, in sy matriekjaar, gebeur daar iets wat die hele skool aan die gis gehad het. Soos wat Niel die 'hunk' was, was Melissa enige seun se droom. Sy was beeldskoon, sportief, het 'n pragtige persoon-
likheid gehad en was vriendelik met almal. Een plus een was mos nog altyd twee, dit was dus logies dat die pragtigste meisie, met die hubaarste ou gekys moes wees. Almal het vir die aankondiging gewag, want Niel was soos 'n skaduwee wat Melissa agtervolg het. Daar was net 'n klein probleempie: hoe harder hy probeer het, hoe duideliker het sy hom laat verstaan dat hy haar geïrriteer het ! Sy was ongeskik met hom, het hom sleggesê en probeer verneder, maar Niel was dikvellig en vasberade dat hy (wie dan anders ?) die grootste vis sou inkatrol. Telkens het hy maar weer, en weer probeer. Hy was Niel, wie het haar die reg gegee om hom te weier?


Ek is toe daar weg na 'n ander skool, en Niel (en Melissa) het matriek voltooi en is Tukkies toe. My nuwe pos het my goed besig gehou, ek het maar min kontak met die vorige skool en sy mense behou. Per geleentheid het ons soms vir die een of ander sportgeleentheid daar gekom, maar dan was daar nie oudleerlinge om mee te gesels nie.


Een jaar, omtrent vyf jaar later, was die interhoër by die ou skool. Ek was 'n beampte en het die dag nogal geniet. Daar daag toe een van Niel se klasmaats van toentertyd op, en sy kom groet my.
"Wat het toe van Niel en Melissa geword ?" vra ek toe die gewone hoe-gaan-dit verby was.
"Nee, Meneer, die twee is mos daar in Pretoria. Meneer sal nie glo nie, hulle werk altwee daar in die stad - en Niel probeer nog steeds dat Melissa in hom moet belangste !" Ek kon dit skaars glo, om te dink dat 'n man so 'n obsessie kon hê!
"Julle meisies was mos almal op hom verlief", het ek meer inligting uitgevis. " Hoe kan Melissa nie in so 'n droomman belangstel nie?" Dit was die ding waaroor almal na die tyd gewonder het.
Die meisie het my so skuins aangekyk en met 'n ondeunde glimlag om die mondhoeke, gevra: "Wil
Meneer nou vir my sê Meneer het nooit geweet nie? Van Melissa?"
Ek het nie 'n idee gehad waarna sy verwys het nie. "Waarvan praat jy? Wat van Melissa?"
"Haai meneer! Arme ou Niel kan maar probeer tot die perde horings kry. Melissa stel mos nie in mans belang nie. Sy is skeef, Meneer."


Na daardie dag het ek lank oor die ou lewe nagedink. Die arme Niel! Sy ma het gesorg dat hy ewig soekend gebly het, dat enige poging om 'n vaste verhouding aan te knoop, gedoem was. .


O ja, amper vergeet ek. Niel is toe wel later getroud ... en weer geskei. En vir 'n tweede keer getroud. Later jare het ek verneem dat hy iewers in die Vrystaat vir 'n boer gewerk het, en dat hy weer enkellopend was.  Alles tevergeefs, sê die Prediker, dis alles tevergeefs ...