Tuesday 12 April 2016

Sonde van die vaders ...

Niemand wat 'n wyle in Constand se teenwoordigheid deurgebring het, sal stry dat hy skerpsinnig en hoogs intelligent is nie. Sy klein en amper onopsigtelike postuur is meer as net misleidend. Agter daardie wakker, donker kykers skuil 'n parate brein, een wat fyn waarneem, verwerk en evalueer.

Tony Malan was 'n prokureur. Hy is op betreklik jeugdige ouderdom met Beulah getroud, nadat sy op twintig swanger geraak het. Die seun (Harold) was van kleins af erg eiesinnig, het 'n geneigdheid tot die kwade gehad en hom al van laerskooldae af, as beterweter en rebel gevestig. Beulah se skielike gesondheidsprobleme het hom nie eens geraak nie, hy het (skynbaar apaties) van moeilikheid na moeilikheid, sy dae geslyt. Toe die kanker sy greep op Beulah versterk het, en Harold met dagga begin eksperimenteer het, het Tony sy heil in die bottel gaan soek - en as't ware gevind, want hy was later chronies onder die invloed.

Beulah het vinnig agteruit gegaan, en op skaars vyf en dertig, moes hulle van haar afskeid neem. Die begrafnisgangers het onbeskaamd agter die hande gefluister, want die bedremmelde, half patetiese Tony, en sy uitdagende, arrogante en verslonsde seun, was voorwaar 'n tragiese prentjie om te aanskou.

Tony het nie baie vriende gehad nie. Die enkeles wat hulle oor hom ontferm het, het hom oorreed om vir rehabilitasie aan te meld. Hy het telkens vasgeskop, want wie sou daarvoor kans gesien het om 'n ogie oor Harold te hou? Laasgenoemde het verseg om by enigiemand te gaan bly, en Tony se sporadiese afwesigheid behoorlik uitgebuit: partytjies het gevloei, die huis was met daggarook gevul en dikwels het 'n 'vriendin' of drie, ook daar oornag.

Na sowat drie jaar, het Tony merkwaardig herstel. Sy kollegas was verheug, want Tony was 'n knap prokureur en hulle het dit teen daardie tyd, al sterk oorweeg om hom uit die vennootskap te werk.  Wat nog meer in sy guns getel het, was die feit dat Tony met die aanvallige Myra bevriend geraak het - 'n bietjie ouer as hy, maar 'n gebalanseerde persoon  met 'n stil geaardheid. Hulle het van die begin af baie goed oor die weg gekom, en Myra het haar bes gedoen om Harold se guns te wen. Dit het ook gelyk asof sy suksesvol was, want hy het rustiger geraak en die 'nuwe' aandag geniet. En so is Tony en Myra, na 'n warrelwind-romanse van enkele maande, toe getroud.

Die familie en kennisse het geglimlag, want dit het al hoe beter met die Malans gegaan. Daar was ongekende vreugde, toe Tony en Myra, op die koms van 'n laatlammetjie wag het. Dit het 'n nuwe lus vir die lewe, en hoop vir die toekoms, vir die egpaar gebring. Maar, nie vir Harold nie. Hy het in homself gekeer, geraak. Hoe nader Myra aan die groot dag gekom het, hoe stiller het Harold geword. Dit was ook nie lank nie, toe ruik sy kamer weer na dagga, en het hy dikwels laatnag eers huis toe gekom. Hy was kortaf met Myra, byna vyandig. Tony moes kort-kort sy stem verhef, want Myra was soms in trane en hoogs onsteld, omdat sy werklik probeer het om 'n goeie stiefma vir Harold te wees.

Toe is Constand gebore. 'n Tweede seun vir Tony, 'n eersteling vir Myra. Sy grootword-jare was vir die ouerpaar 'n vreugde, want hy was van meet af oplettend, het vinnig geleer en sy balvaardigheid was opvallend. Op laerskool het hy al mededingend krieket en tennis gespeel. Dit was ook duidelik dat hy klein van postuur sou wees, wat iets soos 'n kontaksport, buite die kwessie sou maak.

 Harold? Hy het in die diep ellende van die dwelmhel verval. Dagga was nie meer 'n opsie nie, hy het hom tot sterker middels gewend. Dinge het later heeltemal handuit geruk, hy moes in 'n inrigting vir dwelmafhanklikes, opgeneem word - en daar het hy vir jare gebly, omdat hy telkens weer oortree het.

Constand was in graad nege, skaars vyftien jaar oud, toe Tony en Myra besluit het om vir 'n naweek by 'n Mosambiekse oord te gaan ontspan. Die kind moes by 'n maat agterbly, omdat hy die Saterdag 'n krieketwedstryd moes speel.  Twee weke na hulle wegkomkansie, het Myra skielik siek geword. Sy het 'n hewige koors ontwikkel en binne 'n dag, haar bewussyn verloor. In die greep van serebrale malaria, het Myra vinnig gekwyn en dit was nie drie weke later nie, toe moes Tony ook sy tweede vrou groet. Constand was ontroosbaar, want Myra het hom met liefde oorlaai en hy was gek oor haar.

Met Harold steeds iewers in 'n gestig, was die lewe nou nie meer vir Tony (en vir Constand) rooskleurig nie. Dit het Tony weer na die bottel laat gryp, en die jonge Constand het nie geweet hoe om die verslegtende situasie by die huis, te hanteer nie. Dinge het ook meer haglik geraak, toe Harold skielik opdaag, nadat hy uit die sentrum ontslaan is. Tony was nou selde nugter, en Harold het met sy ou streke aangegaan. Dagga was maklik verkrygbaar, en goedkoop. Op 'n ontvanklik ouderdom, het ook Constand begin eksperimenteer ...

Of dit in 'n oomblik van volslae depressie was, en of hy nie mooi besef het wat hy doen nie, is later wyd bespiegel. Tony het homself een nag, terwyl Harold iewers was en Constand weer by 'n vriend gekuier het, om die lewe gebring. Een pistoolskoot was genoeg, die seuns het nie meer ouers gehad nie.

Constand en Harold het in die huis aangebly. Harold het nie 'n werk gehad nie, en Constand het maar hier en daar van goedgunstiges se aalmoese gelewe. Hy moes van skool verander, want sy huidige skool wou nie die agterstallige skoolgeld kwytskeld nie. Ook in die ander skool, was daar probleme, want Constand het (soos sy pa) die bottel nadergetrek en sy sorge probeer verdrink. 'n Suster van sy pa, het van Knysna af laat weet dat Constand by haar kon kom bly, sy sou vir hom sorg totdat hy na skool, sy voete gevind het en vir homself kon sorg. Die kerk het ingegryp, Harold is weer weg vir rehabilitasie, hierdie keer na 'n ander sentrum.

Van Harold is nie weer gehoor nie. Constand het rondgeswerf, maar gou ontdek dat ou skoolvriende na 'n jaar of drie, elkeen sy eie belange nastreef en dat 'vriendskap' nie altyd, iets is wat die toets van tyd deurstaan nie. Toe het hy genadiglik 'n werkie bekom, in 'n klein woonstelletjie gaan bly en begin om ernstig oor die (sy) lewe te besin. Hy wou verder gaan studeer, en het gewag dat Tony se boedel afgehandel word. Die hoop op 'n groterige bedrag (om vir sy studies te betaal) het nie beskaam nie.

Die wat hom en sy tragiese verhaal goed geken het, het later vergeefs navrae oor Constand se doen en late gedoen - hy het net eenvoudig in die massas verdwyn.

As die Bybel se verwysing na die 'sonde van die vaders' korrek is, moes Constand se voorvaders kriminele elemente gewees het! Dat een, talentvolle en hoogs-begaafde jongman, nou soveel terugslae moes verduur ...