Friday 21 November 2014

Geweeg en te lig bevind.

'n Mens sal sekerlik nie ver in die lewe kom, as jy nie hier en daar jou medemens kan vertrou nie. Wanneer daardie vertroue egter sonder weldeurdagte selfondersoek, in 'n ander gestel word, is dit 'n resep vir ontnugtering - en berou wat jou duur te staan kom.

Daar was die geval van Wessel, die jongman wat sy skoolloopbaan op die wieke van welslae en prestasies voltooi het. Hy was akademies sterk, maar dit was veral op sportgebied waar sy lenige, atletiese lyf in al wat eerstespan was, en hy die een sukses na die ander behaal het. Hy was 'n gereelde uitblinker in die provinsiale spanne - sommer in drie sportsoorte gelyktydig! Afrigters en keurders het hom gou raakgesien, en so ook die vroulike geslag. Hy is oral deur bewonderende blikke agterna gestaar en meisies het hoopvol sy aandag gesoek. Deur dit alles was hy egter 'n sportman wat gefokus geoefen het en hom nie veel aan sy roem gesteur het nie.

Sportbestuur was half 'n logiese keuse vir sy naskoolse opleiding. Op universiteit het hy spoedig ook daar, sy plek in eerstespanne oopgespeel. Sy boulaanvalle was vol venyn, sy kolf breed en sy raketsnare het gesing. Wessel was volstoom op pad na nog meer glorie - totdat hy deur Kupido se pyltjie getref is...

Dis net hier waar Mercia op die toneel verskyn het. Sy was vanuit 'n ander deel van die land afkomstig, en ook uit 'n heel ander sosiale milieu. Waar Wessel se ouers heel gemiddelde salarismense was, was Mercia die dogter van 'n welgestelde wildboer, een wat sommer 'n paar plase in die wildstreke besit het. Wessel was 'n trotse jongman wat hom aanvanklik nie deur die weelde laat intimideer het nie, maar later het dit tog hier en daar 'n krapperigheid tussen die twee veroorsaak. Mercia se ouers het natuurlik hulle dogter se verhouding met die 'gewone outjie' so op 'n afstand gade geslaan, en gehoop dat alles net tydelik was en spoedig iets van die verlede sou wees.

Dit was toe nie! Die twee was dolverlief, het elke moontlike tydjie saam deurgebring. Die wildboer en sy vrou het die erns van die situasie begin besef en Mercia openlik daaroor gekonfronteer, maar sy wou niks weet nie: Wessel was haar droomprins, sy sou haar nie laat voorskryf nie. Die een telefoniese woordestryd na die ander het gevolg. Die ouers het stad toe gery om self met hulle dogter te gaan praat, maar Mercia het vasgeskop. Deur dit alles het Wessel se mense op die agtergrond gebly, hulle het van Mercia gehou en het geen beswaar teen die verbintenis gehad nie.

Die liefde is blind - ook vir gevolge. In 'n verreikende stap, besluit Wessel en Mercia om verloof te raak! Die twee ouerpare is telefonies van die belangrike stap verwittig, en dit het natuurlik uiteenlopende reaksie tot gevolg gehad. Maar, die troebeling het mettertyd verdwyn en die twee verliefdes het van die een geluksaligheid na die ander gesweef.  Wessel het sy diploma verwerf, en toe 'n tydelike pos as krieketafrigter aanvaar om te wag dat Mercia ook haar studies moes voltooi.

Kort voor haar laaste vraestel, daag Mercia se ouers toe daar op. Sy was dadelik op haar hoede en het 'n erge rusie verwag, maar die teendeel was egter waar: haar ouers het 'n versoenende houding gehad en gevra dat hulle met die verloofde paartjie wou praat. 'n Aandete in 'n spogrestaurant het gevolg - en toe is die kaarte op die tafel geplaas. Die wildboer het verduidelik dat sy dogter ('n enigste kind) alles in sy lewe was en dat hy haar geluk as eerste prioriteit beskou het. Siende dat die tweetjies 'n belofte van ewige trou aan mekaar gemaak het, en siende dat Mercia eendag die enigste erfgenaam sou wees, was die aanbod dat Wessel en sy aanstaande bruid, hul verblyf in die stad moes opskort  en plaas toe moes kom. Wessel kon hom (as toekomstige eienaar van spogplase) solank van wildboerdery kom vergewis, terwyl Mercia al die kunsies van plaasvrou-wees, by haar ma kon leer.

Daar is lank nadat die oumense teruggery het, tot laatnag bespreek, oorweeg en bespiegel. Wessel het vasgeskop, sy trots het hom aangespreek en hy het gevoel dat hulle self hul heil moes uitwerk, maar tog het die vooruitsig van 'n Laeveld-lewe op 'n spog-wildplaas (met sy geliefde Mercia aan sy sy) hom laat twyfel. Om 'n lang storie kort te maak, die groot besluit is uiteindelik geneem en so is Wessel en Mercia toe sak en pak weg plaas toe. Wessel het sy werk bedank, en ook sy studies (hy het intussen na-ure met sy graadstudies begin) gestaak.

Op die plaas het dinge maar dol gegaan. Die pa het Wessel met daaglikse verpligtinge oorlaai en hom mooi laat verstaan dat Wessel 'niks weet nie, en sal doen wat ek besluit het jy moet doen'. Die spanning het opgelaai. Die krake in die kastige aanvaarding van die jongmense se verhouding en toekoms saam, het begin wys. Wessel moes elke dag veld toe, terwyl Mercia meer en meer tyd alleen saam met haar ouers deurgebring het. Sy moes paai en probeer verduidelik, terwyl Wessel toenemend onder die besef gekom het dat hy homself in iets begewe het waarvoor hy nie eintlik kans gesien het nie.

Die bom het gouer gebars as wat Wessel verwag het. Die besluit was onomwonde en duidelik: Mercia sou moes kies, want Wessel was nie die skoonseun wat haar ouers in gedagte gehad het nie. Hy het eenvoudig net nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Twee beloftes was in die weegskaal. Aan die een kant was daar die belofte dat Mercia en haar aanstaande eendag alles sou erf, maar (vir Wessel die belangrikste) ook die belofte van trou, dat Mercia sy vrou sou word. Dit was laasgenoemde wat hom die meeste gekwel het, want Mercia het afsydig begin raak, veral na een van die vele alleengesprekke tussen haar en haar ouers.

"My dogter het haar besluit geneem. Jy het tog sekerlik nie gedink dat jy, 'n man wat net op die sportveld wil boer en geen ambisie het nie, in ons familiekring sou kon inpas nie!" Die pa was onbeskaamd eerlik, reguit en selfs uitdagend. Mercia het by die venster uitgekyk, toe stadig na Wessel gedraai, die verloofring van haar vinger gehaal en op die koffietafel neergesit. Sonder 'n woord is sy by die vertrek uit.

Wat daarna gebeur het ? Wessel moes maar sy goedjies gaan pak en het verwese en alleen, die terugtog aangepak. Hy wou met niemand praat nie, het homself in sy woonstelletjie toegesluit en vir dae nie die deur oopgemaak nie. Sy ouers was rasend en het aangehou totdat hy 'n paar weke later sy intrek by hulle gaan neem het. Hy het 'n tydelike werkie by 'n fabriek gekry en lang ure gewerk, selfs aangebied om oortyd te werk, sodat hy besig kon bly. Hy het 'n verbitterde man geword, een wat sy selfvertroue - ook die in sy medemens - verloor het en in eensaamheid sy dag-tot-dag oorlewing deurworstel het.

Beloftes maak skuld. Beloftes bring hoop. Beloftes eindig soms in wanhoop - veral as jy geweeg, en te lig bevind is.

Tuesday 11 November 2014

'n Ietsie vir die keel

Jy sou Ma nooit sonder 'n suigdingetjie vir die keel betrap nie ! Deur die jare het die handelsnaam dalk hier en daar verander, maar haar voorskoot- of handsak was nooit sonder 'n mentjie nie.


Kleintyd het ons skaars tweehonderd meter van oom Lundall se kafee af gebly. Omdat Pa maar altyd iewers in die omgewing afgelos het en Ma nie haar eie vervoer gehad het nie, is ek al van voorskool se dae af, kafee toe gestuur om die nodigste, soos brood en melk, te gaan koop. Ma se laaste woorde voordat ek die straat sou vat, was sonder uitsondering : "Onthou die peppermints !" Ma het mos uit 'n Engelse huis gekom en hier en daar het die soutiewoorde steeds nie hul vastrapplek verloor nie. In daardie dae (dit was die laat 1950's) kon jy vir 'n tiekie sommer twee pakkies XXX-peppermints koop. Dit was 'n langwerpige, ronde stafie , in groen-en-wit omhulsel, met nagenoeg tien suiglekkers binne. Self het ek nooit regtig erg aan die branderigheid gehad nie, maar Ma was ongetwyfeld daaraan verslaaf, en sy en Pa het naweke sommer 'n paar pakkies verorber. Ma sou die mente een vir een, stadig suig tot dit in haar mond weggesmelt het, maar Pa se kenmerkende ongeduld het nie daarvoor tyd gehad nie - hy het net twee of drie harde byte gegee, en nog peppermints was daarmee heen !


Agterna gesien, besef ek dat veral Pa, die XXX'e moes geëet het om sy rookasem te kamoefleer. Hy was 'n strawwe roker wat Westminster 85 by die kartonne opgerook het. Dit was baie erg, hy het dikwels die volgende sigaret, met die vorige se steeds brandende stompie, aangesteek. Die stompies is sommer deur die venster na buite geskiet, waar ek soms karretjies gespeel het. Nou ja, as 'n man in sy 'kar' op pad was, moes jy maar per geleentheid ook 'n 'man se dinge' doen - soos om 'n trek of twee van 'n sigaretstompie te vat !


Ewenwel, toe verskyn daar 'n nuwe geur XXX op die mark, die ene met die koejawelkleurige papier om. Op die pakkie het 'musk' gestaan en vir die wyle was Ma 'n 'musk'-aanhanger. Ek het self ook van die nuwe geur gehou en soms, wanneer Ma die pakkie op die tafel laat lê het, enetjie gegaps en a  la Pa, vining weggekou. Maar, die oorspronklike XXX met die sterk mentsmaak, was die uiteindelike wenner vir Ma-hulle.


Later jare, toe ek al uit die huis was, het Ma Halls ontdek. Dié nuwe keelding was in verskillende geure beskikbaar en 'n noodwendige item op Ma se inkopielyste. Oral waar sy rondbeweeg het, was Ma se Halls byderhand. As sy by ons gekuier het, het die kleinkinders gewoonlik 'n Hallsie gekry. Ook wanneer Pa-hulle tydens hulle aftreejare die land deurkruis het, was daar Halls in die motor - en sommer 'n hele voorraad in die woonwa !


Ma is in November 2006 in haar slaap oorlede. Ons was vroeg daar om te help, ook toe die ondernemer die lyk kom haal het. Toe ons Ma omdraai om die lyk op die draagbaar te tel, het ek gesien dat haar hand in 'n vuis geklem was (die dokter het bevind dat sy 'n massiewe hartaanval gehad het). Van die kant van die vuis af, kon ek sien dat daar iets in daardie kramptrekke was waaraan Ma waarskynlik vasgeklou het toe die pyn haar oorrompel het.


Dit was 'n halwe pakkie Halls ...

Sunday 9 November 2014

Die grootste oorwinning (die verhaal van Bendre Heroldt)

Skolesport was en is nog altyd, 'n geleentheid vir kinders om hulself te ontdek, karakter te vorm en te wys, en om te leer hoe om met waardigheid te wen ... en soms te verloor.

Hierdie is die verhaal van Stefan, die seun wat met die goue lepel gebore is. Hierdie 'lepel' het geensins alle aspekte van skoollewe behels nie, want Stefan was van meet af maar net 'n effens bogemiddelde leerder en het maar langtanderig aan kultuur-aktiwiteite deelgeneem. Dit was egter as leier en uiters talentvolle sportman, dat Stefan sy ouers se drome vir hom, sy eie gemaak het. Selfs toe hy net as laerskoolseun aangery is om saam met die 'grootseuns' te kom oefen, kon almal die ouers se strewe om net die beste vir hulle kind te gee, verstaan: hy was werklik nie die gewone kind nie. Hy was sterker as die ander seuns van sy ouderdom, het hom geensins aan groep-neigings gesteur nie en sy optrede was eerbaar en korrek.

Wat Stefan nog verder van sy ouderdomgenote onderskei het, was sy opvallende nederigheid. Met vele prestasies op sy kerfstok (reeds op 'n baie jong ouderdom), had hy sekerlik die reg om 'n goeie dunk van homself te koester, maar die teendeel was egter waar - hy was inkennig en sy skaam glimlag het dit laat voorkom asof hy vir alles, vooraf toestemming moes verkry. Hierdie bietjie teruggetrokkenheid, het hom baie gewild by die afrigters en ander onderwysers gemaak, want dit was verfrissend anders om so 'n hoogs talentvolle jonge man, met 'n nederige geaardheid, raak te loop.

Stefan het van krag tot krag ontwikkel. Op die atletiek- en rugbyvelde, het die een prestasie en toekenning na die ander, die weg na sy ouers se trofeerakke gevind. Hy was kaptein van elke sportspan wat hy verteenwoordig het - en onder sy begeesterde en ongekende leierskap, het spanne ligas gewen en selfs op provinsiale en nasionale vlak, groot hoogtes bereik. Hy was dan ook 'n logiese keuse vir 'n hoofleier in sy matriekjaar - daar sou geen twyfel of alternatief wees nie. Self het hy groot drome gedroom en ideale nagestreef. Cravenweek, kontrak by 'n vooraanstaande rugby-provinsie - alles was binne bereik.

Maar, die Here het anders besluit ...

Skaars was die rugbyseisoen aan die gang, toe Stefan 'n harde hou teen die kop kry. Hy was natuurlik gewoond aan die rowwe kontaksport, maar harsingskudding kan 'n man  'n lelike knou gee. Hy was nie te bekommerd nie, het gedink hy sou gou weer op die been wees en sy kapteinskap en prestasies kon voortsit. Toe volg 'n tweede stamp teen die kop - en dinge het heel anders begin lyk. Stefan is vir 'n lang tyd afgeboek, kon nie eens eksamen skryf nie.

Natuurlik moes daar 'n plaasvervanger gevind word. Daar is onmiddellik na Stefan se groot vriend, Johan, gekyk. Hulle was koshuismaats, en Johan het immers die pad saam met Stefan gestap, uit sy rustige selfdissipline geput en saam die drome van kontrakte en 'n roemryke loopbaan, gedroom. Johan was dan ook 'n meer as waardige plaasvervanger vir Stefan. Hy het die kans met albei hande aangegryp, harder as ooit in die gimnasium geoefen en sy kapteinskap baie ernstig opgeneem. Hy het van Stefan se volgehoue steun en vriendskap gebruik gemaak, voortdurend met hom geskakel en het geweet dat hy wat Johan is, veelgeroemde skoene gehad het om vol te staan. Hy moes die skip op koers hou, totdat Stefan hopelik van sy beserings sou herstel. Die groot ene, die Beeld-trofee kompetisie, het op die span gewag en dit sou net die allerbeste van elke speler vereis.

Helaas, Stefan se herstelproses was stadiger en moeiliker as wat verwag is. Sy liggaam het geprotesteer, hy kon eenvoudig net nie betyds en genoegsaam herstel om weer sy plek as kaptein van die eerstespan, in te neem nie. Dit het sy akademiese werk benadeel, want hy was vir lang tye afwesig, kon nie die agterstallige werk behoorlik inhaal nie - en die moontlikheid dat sy rugbydrome vir altyd net drome sou bly, het aan hom geknaag. Sy ouers moes ook erken dat hul seun se gesondheid, eerste prioriteit was en het namens Stefan besluit: sy skolerugby-dae was verby.

Die eerstespan het onder Johan se entoesiastiese en puik aanvoerding, die een spogoorwinning na die ander behaal en die gesogte Beeld-trofee, het al meer na 'n besliste moontlikheid begin lyk. Johan se naam het oral bekend geword, hy is as leier aangeprys en as persoon bewonder. Getrou aan die voorbeeld wat hy by Stefan geleer het, het Johan nederig gebly en elke wedstryd, met sy vriend bespreek en saam beplan. Stefan was die getrouste ondersteuner, het die span vurig aangemoedig en was pal langs die veld. Hy was daar om in elke oorwinning te deel, het saam op al die foto's verskyn ... maar hy was nie meer die kaptein nie, Johan was. Stefan is met simpatie behandel, almal het hom jammer gekry en hom voortdurend beterskap toegewens.

Die finaal van daardie jaar se Beeld-trofee kompetisie, was op die tuisveld. Daar was duisende toeskouers, die koerante (plaaslik en nasionaal) het die twee kapteins se foto's op die voorblad vertoon en onderhoude is die een na die ander met Johan gevoer. Hy is oral op straat herken en praatjies is met hom aangeknoop. Hy was die een wat op die verhoog verskyn het, wat toegejuig is en wat vir die kameras moes glimlag.

Die skool het toe die trofee verower, vir die eerste keer in die geskiedenis. Johan was die held van die wedstryd, het die een aanbieding na die ander ontvang. Hy is op die skouers gedra - en Stefan was een van die draers. Daar is talle foto's geneem  en Stefan was telkens by, so aan die kant van die foto.

Dit is die gesindheid waarmee Stefan dit alles verwerk het, wat my hierdie verhaal laat vertel. Hy het deurentyd geglimlag, vasgebyt en nooit het sy geloof gewankel nie. Die voorgeskrewe boek wat die groep daardie jaar in Afrikaans behandel het ('Manaka'), het die volgende woorde op die eerste bladsy: "Dit is hoe dit is." Niemand het daardie woorde beter as Stefan verstaan nie.
Die grootste oorwinning wat Stefan ooit sou behaal, was die een binne homself: om God se wil in jou lewe te aanvaar, en daaruit te leer dat die mens wik, maar Hy beskik. 

Sunday 2 November 2014

Oudokter Vorster

Gedurende die jare toe die droogte op sy ergste was, die Boere op hul armste en die hoop aan 'n fyn draadjie gehang het, was oudokter Vorster die dorpsdokter, plaasdokter en sommer almal se sieketrooster daar op Bethal, waar die gelyktes ook nie andersins goed vir die gemoedstoestand kon wees nie.

Oral waar ek as kind tussen die Bethal-familie beweeg het, was die vele verhale van oudokter Vorster se wel en wee vir my enersyds fassinerend, maar andersyds iets wat my betower het - so asof daar 'n onaardsheid aan die ou dokter gekleef het.

 Toe ek op Elandshoek in die laerskool was, het Ouma per geleentheid vir ons op Ngodwana kom kuier en had toe te vertelle dat oudokter op 'n plasie by Plaston, in die Witrivier-distrik, sy laaste jare deurgebring het. Nodeloos om te sê, die Volkswagen het spoedig die weg Plaston toe gevind, en die ou omie is wel opgespoor - oeroud, verrimpeld en gedaan.

Maar, dis die legendes oor oudokter wat van geslag na geslag oorgedra is, wat 'n mens bybly. Hy was soos eige familie, het alles van almal geweet en kon sy bemoeienis met elke pasiënt sodanig aanpas.

Vir sommiges was hy die arts, vir ander 'n vetroueling met wie sensitiewe familiesake bespreek is. Al was die jonger doktertjies soos Meyer en Willemse heel knap en so aan, was daar vir veral die ouer garde, geen alternatief nie - dr.Vorster was die man. Tot vervelens toe moes ek aanhoor hoe oudokter dié een en daai een in die lewe gebring het, of hoe hy tant Katrien se lewe gered het toe die bul haar gegaffel het. Toe daar nog tydens die nagmaaltyd met waens en tente om die kerk huisgemaak is, was oudokter die een wat elke huisaptekie moes aanvul, Lennon's moes uitdeel en met raad en rate bystand moes verleen.

Daar is egter één verhaal oor oudokter wat ek deur my lewe, my eie gemaak het. Dit het my so geïnspireer dat ek werklik probeer het om die boodskap daarin, deel van my geestelike mondering te maak.

Toe die armblanke-vraagstuk in die depressiejare op sy allerfelste was, het geen boer geld vir medisyne en sulke luukses gehad nie. Die lewe het desondanks sy onverbiddelike gang gegaan, mense is gebore en het siek geword. Daar was ongelukke en epidemies - en oudokter was al genade. Soms was daar net 'n sjieling om vir lewensbelangrike behandeling te betaal, soms werklik nie eens 'n trippens nie. Dis waar die verhaal van oudokter Vorster, eintlik beslag gekry het ...

Ouma het dit graag vertel, en Pa het dit telkens beaam. Na behandeling van 'n brandarm persoon, sou oudokter die rug op daardie persoon draai, en sy een hand in bakkievorm agter die rug hou. Die pasiënt of naasbestaande kon dan in daardie bakhand plaas, wat ookal hy of sy gehad het om te gee. Oudokter sou dan, sonder om eens te kyk wat in sy hand was, die hand in die broeksak steek en dan omdraai om te groet. Dit het dan ook werklik gebeur dat daar soms nie 'n enkele duit was om te gee nie, dan het die dokter net omgedraai, handgegee en met vertoostende woorde vir spoedige beterskap, gegroet.

Dankie, oudokter Vorster. Al het ek jou nooit persoonlik geken nie, het jy my geleer om te gee, sonder om terug te verwag; en wanneer daar wel 'n teenprestasie was, tevrede te wees met wat ek gekry het. Dis immers dié wat die meeste gee, wat die meeste oor het - in geestelike terme.

Saturday 1 November 2014

Pa en die oupas

Vandag, op 'n  rype ouderdom waar ek self 'n oupa kon wees, verstaan ek my pa se dilemma - miskien beter as wat hy dit self verstaan het, of bereid was om te erken.

Oupa De Wet, teenoor oupa De Klerk. Pa was in die bevoorregte posisie dat hy beide sy oupas intiem - en vir 'n lang tydperk - geken het. Volgens tradisie is Pa in 1927 (sy geboortejaar) na sy oupa Christiaan Rudolph de Wet, vernoem. In sy vele vertellinge van sy kinderjare, het Pa egter selde by sy oupa Krisjan uitgekom. Noudat ek mooi daaroor dink, was dit heel opvallend dat sy oupa Jacob de Klerk, Pa se herinneringe oorheers het.

Waar is die kinkel dan?

Miskien moet ek net 'n bietjie meer oor die agtergrond uitbrei. Oupa Kootjie de Wet (dis nou Pa se pa) is op 'n plaas by Bloukop, anderkant Morgenzon, in 1889 gebore. Grootoupa Krisjan het blykbaar maar 'n sukkelbestaan gevoer, hom later op 'n plaas tussen Bethal en Standerton gevestig. Daar het hy geboer tot ouderdom en verswakte gesondheid hom gedwing het om te verkoop en 'n dorpshuisie op Bethalstasie te betrek, waar hy dan ook in 1948 oorlede is. Geld was maar skaars, die familie moes help om siel en liggaam aanmekaar te hou en sy een dogter (Magriet, ons het haar as tant Taat geken) moes grootoupa en -ouma tot hulle dood versorg.

Oupagrootjie Jacob was weer van 'n welgestelde familie. Nie soseer mense met baie ponde in die bank nie, maar die De Klerks was talryk en het 'n onderlinge familieband gehad wat hulle vir mekaar laat sorg het - niemand sou swaargekry het nie.

 Die oorspronklike familieplaas, Eerstegeluk, was enorm en is later tussen die kinders onderverdeel. So het grootoupa Jacob dan omring deur kinders op buurplase, sy dae geslyt. Hy was die patriarg, die een wie se perd die valktes geken het en wie se dryfkrag horisonne ontgin het.

 Pa se stories oor sy oupa Jacob, was legio - hy kon vir ure vertel hoe oupa Jacob in die wintermaande gaan jag het, daar waar Pretoriuskop vandag is. Daarna is die velle en horings op die Johannesburg-markte verkoop, en met die terugtog Bethal toe, is daar by Kriel vertoef, want steenkool is sommer daar uit die spruite se walle gegrawe en teruggebring plaas toe. Per geleentheid, het sy oupa De Klerk dan vir Pa (hy was toe maar so ses of sewe) saamgevat Laeveld toe. Pa het dikwels  vertel hoe hulle by oom Krisjan op Hermansburg, buite Nelspruit, oorgebly het - maar dis nou weer 'n ander storie.

Sien, die ding staan so: die De Wets was maar altyd Louis Botha- en Malan-mense, terwyl die De Klerks sekerlik die mees stoere Sappe was wat Bethal ooit geken het. Generaal Jan Smuts was 'n persoonlike vriend van oom Hendrik de Klerk, grootoupa se broer wat na Hendrina se kant toe, op sy erfdeel geboer het.

Pa was twaalf  toe die Tweede Oorlog uitgebreek het. Sy oupa De Wet se vertellinge oor die Boere-oorlog en hoe daar onder die Kakies gely is, het Pa 'n wrewel in al wat Engelsman gegee - eintlik meer 'n onverbloemde renons wat aan haat gegrens het. Oupa Krisjan het vertel hoe lede van die inheemse volke wat saam met die Engelse getrek het, eenkeer vir grootouma Annie aangerand en met 'n geweerkolf platgeslaan het. Dit, en ander verhale, het Pa se bloed laat kook en toe die oorlog tussen Duitsland en Engeland op sy felste was, was Pa 'n vurige Hitler-ondersteuner, bloot net om standpunt teen die Engelse in te neem.

Toe Smuts opdrag gee dat die Boere moet aanmeld om vir Engeland te gaan veg, het die verset in Pa in openlike rebellie ontaard - sekerlik ook omdat hy 'n matelose bewondering vir sy oupa se neef, generaal De Wet, gehad het. Pa het as 16-jarige nie 'n oomblik gehuiwer om in die geheim hom by die destydse Ossewa Brandwag te skaar nie. Hy was 'n verkenner, een van die wat in die nag per perd boodskappe afgelewer het.

Oupa Kootjie was aanvanklik 'n bywoner, het vir 'n ryk skaapboer (ene Uys) tussen Bethal en Ermelo geboer. Later het hy probeer om 'n eie grondjie naby Trichardt (Weltevrede) te bekom, maar dit het maar broekskeur gegaan. Toe erf Ouma haar deel van Eerstegeluk by grootoupa Jacob. Twee honderd morg, alles ploegbare saaigrond, met goeie water en genoeg weiding. Na vele rusies (volgens Pa), kon Oupa nie meer die gekerm verduur nie en is hulle toe sak en pak Eerstegluk toe - moes Oupa hom op De Klerk-grond, op Sap-grond, gaan vestig! Ouma was glo in haar sewende hemel, want sy was 'n familiemens wat na aan haar mense wou wees.

Begin jy nou verstaan ? Aan die eenkant was sy oupa Jacob, Pa se held en die een vir wie hy as seuntjie die grootste bewondering gehad het, maar aan die anderkant was die spul De Klerks die Sappe, die Engels-gesindes wat 'oom Jannie Smuts' aangehang het. Te midde van al die De Klerk-oorheersing en grootdoenerigheid en dominansie, het grootoupa Krisjan in sy aftreehuisie weggekwyn - in armoede en afsondering. Alles van die De Klerks was 'goed', en 'wonderlik' en 'soos 'n mens moet wees'.

 Pa het nie veel kontak met sy oupa Krisjan gehad nie, want hy is gedwing om 'n kwasi-De Klerk te wees. Dit was dalk die rede waarom Pa sy lewe lank vir sy plekkie onder die son geveg het, hipersensitief vir enige sweempie van kritiek was en met minagting van die De Klerks gepraat het. Ook waarom geld vir Pa so belangrik was, gedagtig aan sy De Wet-voorsate wat in die skaduwee van obskuriteit moes lewe, omdat die ryk De Klerks immer die kalklig gesteel het.

Van die eens spogplaas Eerstegeluk, het bitter min oorgebly. Sover my kennis strek, is daar nog net een agterkleinkind wat op sy erfdeel boer. In die ou begraafplaas agter die hoerskool op Bethal, is  talle  De Wets versamel. Die paar dennebome waardeur die briesie rustig suis, en die weemoedige gekoer van tortelduiwe, omring marmergrafstene met bekende name, ook dié van Christiaan Rudolph de Wet en sy vrou, Anna Magrieta, gebore Krieg.

 Gootoupa Jacob-hulle het hulle eie, private rusplek op die familieplaas, die deel van Eerstegeluk waar oom Hendrik gebly en Jan Smuts gekuier het ...

Pa sou sekerlik by sy ouers wou rus, maar dis die 21ste eeu en dis Suid-Afrika. Pa is veras. Enige alternatief sou aanvaarbaar gewees het - net nie 'n graf op De Klerk-grond nie!