Tuesday 14 May 2013

Aartslawaaiers

Jy gesels nog die een oomblik rustig en ontspanne met jou vriende of kennisse, dan is hy daar: daardie onwelkome, irriterende mens wat ongenooid by die geselskap aansluit, vinnig verneem waaroor gepraat word - en dan die geselskap oorneem!

Die aartslawaaier is mal daaroor om sy eie stem te hoor. Hy het 'n (luidrugtige) mening oor enige onderwerp, of sy opinie gevra is, of nie. En o, hy is tog so slim! Hy sal vir Jacques Kallis breedvoerig vertel hoe hy krieket behoort te speel; hy sal die Pous raad gee hoe om die Vatikaan te bestuur; hy sal jou (al het hy nie 'n idee wat in jou binneste aangaan nie) vertel wat jy behoort te voel en te dink.

Gedurende my lewenspad van vele dekades, het ek 'n hele paar diesulkes raakgeloop. Die eerste impuls is om hulle te vermy, maar hierdie geveinsdes LAAT hulle nie vermy nie! Hulle is dikvellig en klim ongesteurd in jou lewensruimte in. Hulle wurm hulle in waar hulle gesien en gehoor kan word. Hulle maak die regte geluide op die regte plekke, in die regte geselskap, sodat hulle kan inzoom op die niksvermoedendes - en sodoende 'n vasskopplek kan bekom.

Iewers in die Skrif word ons gewaarsku om luidrugtige mense te vermy (ek dink dit staan in 'Spreuke' geskrywe). Wat ek wel al omtrent hierdie spesie uitgevind het, is dat hulle juis die aandag op hulle gevestig wil hou, want dan maak hulle seker dat die aandag nie dalk wegdwaal na 'verbode terrein' nie - iets is dalk nie so pluis by die huis of in die eie verlede, nie.

Miskien is dit nie 'n slegte plan nie! Vra 'n aartslawaaier uit oor sy agtergrond. Vra indringende vrae oor waar hy vandaan kom, skoolgegaan het, studeer het en wie sy familie was / is. Die resultaat mag dalk net wees dat hy jou in die toekoms sal vermy - wat 'n sielsalige gedagte!

No comments:

Post a Comment