Tuesday 18 April 2023

Jy sal nooit weet nie ...

Ons het mekaar nooit eens finaal gegroet nie. Jy was een van die baie wat daardie laaste dag, toe julle die finale vraestel agter die rug gehad het, nie gou genoeg by die saaldeur kon uitstorm nie. Ek moes help vraestelle inneem, en toe ek eindelik jou profiel tussen die malende menigte kon soek, was jy reeds nie meer daar nie ...

Die meeste van die groep klasmaats wat daardie jaar (julle was in graad 11) by my vir Afrikaans aangemeld het, was 'n jaar of twee tevore, ook by my. Ek het hulle goed geken, elkeen by die naam en huislike omstandighede - veral omdat hulle ook sportmanne was, wat smiddae na studietyd by die atletiekveld aangemeld het. Net jy was 'n nuwe gesig, 'n vreemde persoonlikheid wat ek moes leer ken en hanteer. 

Dalk onthou jy daardie dag toe die ander lede van die 'bende' na my tafel toe gekom en kom groet het. Die lawwe Nico het my om die skouers gevat en 'n speelse drukkie gegee - meer om sy vriende se reaksie te sien, as iets anders. Hulle het geskaterlag, en toe vorentoe getree om Nico se voorbeeld te volg. Ek was effens uit die veld geslaan, maar het hulle laat begaan, omdat dit gelyk het of alles in 'n goeie gees gebeur het. Jy het skamerig op die agtergrond gebly, en gebloos toe ek na jou kyk. Ek het jou op die naam gegroet, en toe ek sien hoe jy huiwerig ook vorentoe beweeg het, jou aangemoedig: 'Jy mag ook maar die onnie kom groet!' Toe jy reg voor my staan, het ek die innemende onskuld en opregtheid op jou gelaat gelees, en jou ook (versigtig) 'n drukkie gegee. Van daardie dag af, het jy begin ontspan, en gaandeweg met meer selfvertroue aan die klasgebeure begin deelneem. 

Smiddae het jy ook vriendelik gegroet, wanneer die 400m-atlete om die baan opgewarm, en by die gewigstootsirkel verby gedraf het. 'Oulike outjie', het my mede-afrigter laat hoor, 'net 'n bietjie skaam en sonder selfvertroue.' Dit het my verder gemotiveer om meer aandag aan jou in die klas te gee, en jou te laat voel dat jy ook belangrik was - net soos die ander, en diegene wat beter punte as jy gekry het. 

Toe jou jonger broer uit die laerskool by ons aangesluit het, het ek dinge beter begin verstaan - en kon ek jou waarlik met empatie behandel. Sien, jou boetie se ernstige siekbed toe hy nog klein was, het jou ouers en grootouers genoop om al hulle aandag op hom toe te spits - ten koste van jou. Jy was die een wat maar so 'terloops' grootgeword en moes ontwikkel het. Om die kroon te span, was Boetie die een met meer sport-talente, meer van 'n ekstrovert en hy het oral waar hy rond beweeg het, bewondering afgedwing omdat hy, ten spyte van sy gesondheidsprobleme, so kon vasbyt en die groot K oorwin het. Ek het die woord 'empatie' gebruik, omdat dit ook in ons gesin die geval was, al was ons omstandighede effens anders. Ons jongste was ook baie ernstig siek, en sy ouer broer moes ook maar (willoos en emosioneel omver gewerp) sy eie ding doen en 'terloops' grootword. 

So het ek jou dan in toenenemende mate probeer ophef, jou selfvertroue 'n hupstoot probeer gee - en jou duidelik laat verstaan dat jy 'n baie spesiale persoon is. Binne 'n paar maande, was JY die een wat eerste na my tafel gekom het, om vriendelik te groet, en daarna konsensieus jou werk te doen. 

Toe jy uit die skool is, het Boetie hoofseun geword. Hy was SA's toe vir atletiek, iets wat jou nie beskore was nie. Jy het op universiteit begin om jou liggaam 'op te bou', en was 'n gereelde en getroue gim-ganger. Toe Boetie ook 'n student geword het, was jy net so stewig gebou soos hy. Dit het jou meer en meer selfvertroue gegee. 

Ek het per Whatsap probeer kontak hou. Altyd eerste na welstand verneem, en nie altyd reaksie ontvang nie. Toe jy 'n paar jaar later getroud is, het ek jou geluk gewens, en my diepe dankbaarheid dat jy in so 'n selfstandige jongman met 'n wyse kop op die skouers, ontwikkel het, uitgespreek. Jy het slegs een keer van jou laat hoor: 'Hoop dit gaan goed verder, ek moet nou wikkel - die werk wag!' 

Dis nou al vele jare sedert daardie laaste kontak. Jare waarin ek bly bid het vir jou; bly wonder het hoe dit gaan; en bly onthou het waar alles begin het. Jy sal nooit weet hoe trots ek op jou was ... en steeds is nie. Ek sal maar net bly hoop, dat jy eendag se eendag, sal terugdink en onthou: jy mag ook maar die onnie ... onthou. 




 

 Die groot verlange

Die woord 'verlange' impliseer dat 'n mens hunker na iets of iemand wat jy nie (meer) het nie. Eintlik moet jy baie versigtig met hierdie omvangryke begrip omgaan, want volgens 'hulle', dui dit op 'n innerlike ondankbaarheid vir dit wat jy (steeds) het. Die fokus moet glo wees op die nou en die tans - en NIE op daardie gemis van dinge/mense wat nie by jou is nie ... om welke rede, ookal. 

Feit bly staan: elkeen van ons, het iets in die verlede beleef, of mense geken wat jou binneste betree het, waarna en na wie, jy soms verlang. Al het jy 'n dak oor jou kop en kos in die yskas, klere om aan te trek en al is al jou sintuie nog in 'n kapabele toestand ('n legio redes om aldag in dankbaarheid te lewe, dus), voel jy soms 'n diepe bedroefdheid, 'n binne-seer wat net nie wil wyk nie. Die bron(-ne) daarvan, is dalk al iets van die verre verlede, maar dit wat daardie ervaringe en mense aan jou diepe menswees, aan jou siel gedoen het, was iets waarna jy vir altyd sal bly smag - tot die dag wanneer jy die ondermaanse verlaat, en hopelik sal wees daar waar hartseer, pyn en verlange, nie van toepassing is nie. 

Wanneer die dag se gewoel met die son ondergaan, kom die mens net maar weer voor die wete te staan: dat jy in jou wese 'n eenling sal bly - soekend na die pad by die donker verby ...

Ek verlang na die tyd toe ek geglo het dat jy dieselfde oor my voel, as ek oor jou. Vandag voel ek skaam oor my naiewiteit van destyds, maar ek onthou dat dit 'n tyd van malse moontlikhede was. Toe 'Nights in white satin' se lierieke my beneweld van ingehoue emosie gemaak het, en ek moeilik op my werk kon konsentreer. Wanneer ek by my lessenaar gesit het, het ek jou beeld in alles voor my, om my en binne my, gesien en omhels. Toe ek een aand in onbeheersde emosie kon skryf: Woorde flits jou beeld op wit papier; ek sien druppels teen die ruit - en wens jy was nou hier ...

Onthou jy, daar was tye toe ek probeer het om jou by my eie belewing van grootsheid te betrek: 'Die lewe bestaan uit spesiale oomblikke. Terwyl hulle daar is, moet jy hulle soos 'n spons absorbeer, sodat jy later die heilige nektar oor jou siel kan laat drup. Hierdie, is so 'n oomblik ...' 

Daar was die dag in die begraafplaas. Ons het hom albei baie goed geken, en ek het geglo dat jy ook, soos ek, die diep ontroering deur jou sou voel opwel, as ons saam by die grafsteen sou staan. Ons was mos beste van vriende, dan nie? Ek sou tog nie sommer enigeen saam geneem het om weer die graf te besoek nie? Jy was stil en ek kon jou ongemak aanvoel. Tog het ek bly hoop, dat ons daar 'n spesiale oomblik sou kon deel. Maar, jy het my vol in die gesig gekyk, en my hoop in duisend stukkies laat verbrokkel. 'Sulke dinge beteken vir my niks; ek voel niks hiervoor nie', was jou woorde. 

Ek het ontsettend leeg en eensaam gevoel. Dis nie dat ek simpatie verwag het nie, ek het geglo dat ons so na aan mekaar was, dat jy my gemoed sou kon aanvoel, en dalk net 'n trooswoord sou spreek. Iets soos, 'Ja, dis baie erg. Ek verstaan hoe jy moet voel as jy langs sy graf staan.' 

Dalk het jy dit agterna agtergekom, ek weet nie. Die dae daarna, was vaal en onseker, en ek het jou vermy. Smiddae het ek vroeg huis toe gegaan, nie vir jou gewag om, soos ons gewoonte was, 'n laaste paar gedagtes daar by die trappe te wissel nie. As die finaliteit van die dood jou nie ontroer het nie; as jy gevoelloos en apaties teenoor dit wat die siel laat ruk in jou binneste gestaan het, was daar nie veel hoop vir die deel van ander spesiale oomblikke nie. 

Vandag dra ek steeds die groot verlange na wat kon gewees het - omdat ek weet en goed onthou, hoe ek oor jou gevoel het. Ja, ons noem mekaar 'my vriend', maar dit kon soveel meer gewees het ...