Tuesday 14 May 2013

Die nar

Hy is 'n selfaangestelde arties. Sy arsenaal grappies is onuitputbaar - veral omdat hy voortdurend nog byvoegings vanaf die internet maak. Hy sorg ook dat hy die regte vriende het - diegene wat graag in sy kalklig deel, en dus ook grappies en spitsvondighede aandra.

Hy ken sy teikenmark baie goed, weet wat hulle laat skater. Hoe onkieser, hoe laer onder die belt, hoe beter. Sy entourage hang soos blindes om hom en soek sy leiding om lyding te verlig - om te lag wanneer die lewe hulle laat huil. Dit voed sy drang na erkenning, veral omdat hy nie elders in sy mondering iets het wat erkenning verdien nie.

Hy daag graag op by partytjies, groepies wat oor seks en derglike onderwerpe gesels, by vleisbraaie en daar waar bier die stapelvoedsel is. Wanneer hy belangrike kontakte gewaar, stof hy weer sy beste grappies af en vertel hulle met totale oorgawe.

kafeteria-blues

die ewige nar het sy vlerke gesprei
- selfs die leeutemmer moet lag -
en die sweefstok-arties wil 'n papie kry
oor die nar se grap van die dag

die wenkbroue roer en die ogies flits
want die nar se brein is paraat:
om die baas te vergrap is roem in 'n kits
wat die kliek met 'n glimlag laat

dit proes en dit giggel en die nar
syg neer vol selfvoldane behae:
selfs posvlak twee het meegegee -
wat meer kan 'n nar vra ?

Maar, enige gewoonte-nar het 'n yslike probleem. Iets waarvoor hy vrees, want hy weet dit gaan
iewers langs die pad, oor sy pad kom. Daar sal 'n dag aanbreek wanneer die nar iets ernstig, iets
van groot waarde of belang met die skare moet deel - en wie sal hom dan glo ? Hy is mos net die nar,
nooit ernstig nie en immer ligsinnig. Dan word die nar se 'belangrike mededeling' in die wind geslaan, want waarom sal 'n mens hom nou skielik glo - hy is mos net die nar.

Intussen is ons daagliks blootgestel aan die nar. Ons byt maar op die tande en glimlag gemaak-erkentlik vir sy nuutste pittighede. Heil die ewige nar, maskerdraer sonder weerga!

No comments:

Post a Comment