Friday 26 July 2013

Die deler, is so goed soos die steler.

Dit was nie vreemd om in die sewentiger of tagtiger jare van die vorige eeu, matrikulante raak te loop wat al in hulle twintigs was, nie. 'As 'n man dan nog 'n waardevolle bydrae tot die eerste rugbyspan se heil gemaak het, was jy meer as welkom om jou laaste jaar op skool, in fases te voltooi.

So meld ek toe ook as groentjie-onnie by my eerste skool aan. Vars uit die Weermag (diensplig) en met die 'varsity'-dae nog helder in die geheue. Dit was ook noodwendig dat 'n nuweling-onnie (veral as dit 'n hy was) koshuisdiens sou verrig - jy had g'n keuse nie. Dit het my nie gepla nie, want ek was jare lank in 'n universiteitskoshuis en die Weermag het my mos hard gemaak, het ek geglo.

Ek neem toe my intrek in die seunskoshuis van 'n bekende plattelandse skool. Dit was 'n gerusstellende gedagte dat die kinders almal plaaskinders was. Ek kom self uit 'n plattelandse, plaserige agtergrond en het daarna uitgesien om met die onopgesmukte, na-aan-die-aarde mense te meng. Ek het my tasse uitgepak, nes geskrop en afgesit eetsaal toe.

Soos dit seker maar met elke nuwe onnie die geval is, het die seuns omtrent hul nekke verrek om die vars-uit-die-army ou te takseer. Ek het net geglimlag en my luitenantmasker opgesit: wees gemoedelik, maar hulle moet duidelik weet dat daar NIE met my gemors sou word nie!

Omstreeks halftwaalf daardie nag, word ek wakker toe 'n ferm hand aan die deur klop. Vervaard het ek opgespring, my kamerjas aangetrek en oopgemaak. Sou iemand seergekry het? Sou ek so gou na my aankoms, al ongevalle moes hanteer?? Ek het dadelik die seun (eintlik jongman, want hy het aan die plus twintig-groep behoort) herken, want hy het skuins oorkant my, in die eetsaal gesit.
"Kom saam!" Dit was duidelik nie 'n versoek nie, maar 'n bevel. Ek was skoon buite my gemaksone, het eintlik my water en ligte weggeskrik!
"Wa ... waar ... waarheen?" het ek gestamel.
Grootboet het my net ongeduldig aangegluur, skuins gedraai dat ek moes verbystap, en nog dringender laat hoor: "Kom nou - daar is nie baie tyd nie!"

Ewe gedienstig en steeds half lam van skok, het ek saam met die voorspeler gestap, om die koshuis tot aan die agterkant. Dit het my te binne geskiet dat hulle my dalk wou aanrand, dalk 'n tipe ontgroening of iets. By die kolekamer, waar die stortwater verhit is, het hy vasgesteek, toe 'n stuk bloudraad in my hand gestop. "Stap in, die ander wag!"
Binne die beknopte ruimte, so in die donkerte, kon ek vaagweg die gesigte van nog seuns uitmaak. 'n Stuk of sewe van hulle. Elkeen het ook 'n stuk bloudraad gehad ... met 'n groenmielie vooraan.
"Staan opsy, die meneer wil ook vir hom 'n mielie braai!" het my nagtelike ontvoerder gelas.

Later sou ek verneem dat die mielies vroegaand uit oom Joop se tuin gegaps is - deur van die juniors, wie se taak dit was om die seniors se wense uit te voer. Daar staan ek toe, met 'n mond vol mieliepitte, terwyl daar lustig om my, aan braaimielies gesmul word!

Die uiteinde van dit alles? Nee wat, daardie seuns het my nooit moeilikheid gegee nie, want sien, ek kon dit nie bekostig om hulle gas te gee nie - my aandadigheid aan die middernagtelike mieliebraai, was 'n neteligheid wat tot fyntrap gelei het. Ons het 'n soort verstandhouding gehad: jy sukkel nie met ons nie, en ons sukkel nie met jou nie. Die harmonie en wedersydse begrip, was alles aan 'n stuk bloudraad en 'n groenmielie te danke!

No hippo's today.

Doer in die 1960's, was 'n besoek aan een van die Kruger-wildtuin se seekoeigate, 'n ware Afrika-avontuur! Dit was nie net 'n adrenalien-ervaring nie, dit het dikwels ook vir 'n komiese moment of drie gesorg.

Ons ry toe met die grondpaadjie van Olifants se kant af, na Balule, waar die Olifantsrivier sy kronkels neffens die primitiewe kampie maak. Toentertyd was Balule bekend as 'n 'Bantoe-kamp' en bleekgesigte kon net tot byna teen die kamp ry, waar daar heerlike parkeerplek onder groot bome was. Twee swart veldwerkers (ek glo nie 'n mens kon van hulle as 'veldwagters' gepraat het nie), het daar rondgesit en as dit gelyk het of 'n motor om seekoeiredes stilgehou het, het hulle nadergestaan en met die lig van 'n hand, gegroet. Dan kon jy agter een of albei van hulle (na gelang van die groep se grootte) aanstap, so al met die kronkelende seekoeipaadjie langs, tot waar die rivierklippe jou stap gestuit het. Dan is jy, met die uitstrek van 'n hand en 'n swart wysvinger, beduie waar die seekoeie dan hul domein afgepen het.

Wat hierdie seekoei-kykery 'n opwindende kinkel gegee het, was die feit dat die veldwerkers (of gidse, dan) slegs 'n langsteelbyl oor die skouer gedra het - dit was al wapen waarmee hulle die toeriste of hulself, teen onvriendelike of honger ongediertes kon beskerm!

Ewenwel, ons stop toe onder die koeltebome, want die dag was Laeveld-warm en die neushorings het ontevrede in die bome ge-kok-kok-kok. Van seekoeigidse, was daar geen teken nie. Alles was stil en duidelik in siesta-tyd. Pa het hier gekyk, daar geloer en toe selfs op die Holden se dak geklim (ja, karre was nog stewig!) om te kyk waar die gidse dan was. In die verte kon hy 'n skrampse glimps van 'n paar seekoeie kry, waar hulle lui die middaghitte in 'n rivierpoel besweer het.

Ons was op die punt om ons ry te kry, toe Ma vir Pa vra om 'n bietjie terug te stoot, want sy het iets in die gras gewaar. Pa sit toe die Holden in trurat, en jou waarlik - daar sien ons die twee gidse onder een van die doringbome, vas aan die slaap! Nou, ek het al genoem dat dit baie warm was, en 'n mens kon hulle traagheid seker in 'n mate verstaan, maar toe sien ons die stuk rofafgeskeurde karton, wat so skuins teen die boom se stam, staangemaak is. Daar was iets op die karton geskryf, en Pa het die Holden se neus so na as moontlik aan die boom prober kry, sodat ons die boodskap kon lees.

Dis toe dat ons agter die kap van die byl kom! In skewe, ongeskoolde letters, is die boodskap aan enige voornemende seekoeikyker, duidelik gestel: "No hippo's today."!

Seekoeie was daar wel, dit het Pa mos self gesien, maar eish, die son hy es WARM gewees !

Sunday 21 July 2013

Status in die bos.

Gedurende die tweede deel van die sewentiger jare, het ek die ongelooflike voorreg gehad om twee keer per jaar (Junie, en dan weer Desember/Januarie) in die Kruger-wildtuin te kon werk. 'n Koshuisvriend van my se oom was die wildtuin se personeelbestuurder - en so het ek ook die 'dis wie jy ken' deel van die lewe ervaar !

My vakansiewerk (ek was 'n Tukkie-student) het meestal administrasie behels, soms in die ontvangskantoor van verskeie kampe, soms as winkelassistent. Die duisende toeriste wat gekom en gegaan het, het hier en daar 'n interessante person opgelewer, maar dit was veral die VIP's, die belangrike mense, wie se geite ek nog steeds onthou.

Tydens 'n Desember-werkie op Onder-Sabie, het ek die uiterstes leer ken. Die destydse Staatspresident, Nic Diedericks, het in die luukse Keartland-gastehuis tuisgegaan, terwyl prof. Fritz Eloff (grootbaas van die Bulle se rugby-unie, asook grootkop van die Parkeraad) 'n gewone hut verkies het. Vyfuur smiddae is 'n kelner in 'n netjiese, wit uniform, afgestuur Keartland toe, met die spyskaart (en pen) op 'n silwer skinkbord. Dan sou mev. Marga Diedericks (die president se vrou) by elke gereg voorskrifte neerskryf: hoe groot die porsies moes wees, hoe voorberei, en so aan. Hulle kos is natuurlik in die privaatheid van hulle luukse verblyf, bedien.

Oom Fritz, aan die anderkant, het daarop aangedring om in die ry in die winkel te kom staan - met die bier wat hy kom koop het ! Ek wou hom graag help, het gewys dat hy maar kon deurstap, maar hy het net geglimlag, 'n afwerende gebaar met die hand gemaak, en met die ander toeriste om hom, geselsies aangeknoop.

Adv. B.J. Vorster se gunsteling was Nwanetzi, die privaatkamp teenoor Satara, op die Mosambiek-grens. Alle geriewe en voorrade moes daarheen aangery word. Terwyl ek in 1976 op Shingwedzi gewerk het, was daar op 'n dag 'n vreeslike geskarrel. Daar is inderhaas gevee, geskoffel en afgestof - mnr. Vorster was per helicopter op pad. Die klein restaurantjie (naby die ooshek) is teen 'n groot spoed geskrop en gepolitoer, en die sjef moes 'n baie spesiale dis optower. Oom John was egter 'n gemoedelike man wat ons almal met die hand gegroet het. Ook sy vrou (mev.Tinie Vorster) was gladnie neusoptrekkerig nie.

'n Voormalige mej.Suid-Afrika, Norma Vorster, het haar eie filmmaatskappy gehad ('Heia') en sy en haar gevolg was ook op 'n keer op Onder-Sabie. Sy was so omring deur bewonderaars, dat 'n eenvoudige student net 'n verlangse glimps van die pragtige donkerkop kon kry.

Toe daag daar 'n buitelander, 'n mnr. Arletti, by Olifants op. Hy het almal laat verstaan dat HY, die vader van die sangeres Wanda Arletti was. Sover ek kan onthou, het sy destyds 'n bietjie country gesing, maar nou nie so dat jy dit sal onthou nie. Hy het van Nederland af gekom en was gedos vir die bos: khaki-klere, veldhoed met 'n stukkie luiperdvel om, en 'n bypassende krawat wat van 'n tipe kamoefleer-materiaal gemaak was. Toe hy weer sy belangrikheid rondgooi en die kelners rondbeveel (hy het duidelik op die swartes neergesien) , stap ou Wilson ('n wynkelner) na hom toe.
"So, you're from the Netherlands, sir ?"
Die heer Arletti het die kelner skuins aangekyk. "Yes, that's right. Hurry up, I've been waiting quite a while now!"
Ou Wilson het ewe bedaard voor die Hollander bly staan. Dit was asof hy die man jammer gekry het, maar tog die situasie geniet het.
"When you go back to your country, please give my regards to my friend, prince Bernhard. I met hom when he visited the park a few years ago. We still keep in touch."

Ek kan nie presies onthou wat Arletti gemor het nie, maar van toe af het ons maar min van hom gesien. Maar, dit was waar - prins Bernhard was die beskermheer van die Internasionale Natuurlewe Vereniging, en ou Wilson HET hom bedien toe hy hier was - en hulle HET kontak gehou. Die verskil is net, ou Wilson het nooit daarvan gepraat of daaroor gespog nie - daarvoor was hy te opreg, bosmens.  

Saturday 13 July 2013

G'n vastigheid onder die voete nie.

Vra ek toe op 'n dag vir Pa, toe dit lyk of Pa in een van sy rare, rustige 'lus-vir-'n-storie' dae was: "Pa, wanneer was Pa op Pa se bangste ooit ?"
Nou kyk, as jy Pa geken het soos ek hom geken het, sou jy geweet het dit was 'n gewaagde vraag. Pa het vir g'n duiwel gestuit nie - en banggeit was beslis nie een van die dinge wat jy met Pa geassosieer het nie. Pa het daai ver kyk in die oge gekry, met die mondhoeke wat so wou-wou trek vir 'n glimlag. En toe beginne hy vertel.

Die plaastelefone het onophoudelik gelui daardie winter, toe tant Dorie onder die trein beland het. Naby die plaasopstal daar op Schalksrus, was die mis daardie dag glo bottoe en oom Atjie het nie die aankomende trein gesien nie, ewe doodrustig die negentien-voertsek Dodge oor die treinoorweg bestuur - en toe was die swart gevaarte op hulle. Oom Atjie het wonderbaarlik aan die dood ontkom, maar vir tant Dorie moes die familie toe 'n week later daar langs die plaashuis, onder die groot maroelaboom, gaan groet.

So ry oorle Oupa en Ouma toe, met Pa 'n kannetjie van so ses jaar oud, die lang pad van Bethal af, Ohrigstad toe vir die begrafnis. Asof die natuur sy meelewing wou toon, was dit die dag ook van Dullstroom af 'n wit woestyn en het die mis tot by jou voete gesak. Op 'n kol kon Oupa nie 'n tree voor die kar sien nie, en order Pa toe dat hy moes afklim en dan so voor die Chev loop om die pad te beduie. Pa het maar skrikkerig die die deur oopgemaak en sy voet grondwaarts laat sak ... en nog 'n bietjie verder laat sak. Eers dag Pa dit was van die lang sit dat sy bene nie wou strek nie, maar hoe verder hy sy been uitsteek, hoe meer druk die benoudheid sy keel toe! Oupa was glo toe al omgesukkeld omdat Pa nie sy uitklim kon kry nie.
"Vir wat kan jy nie uit die mouter kom nie?" het Oupa ongeduldig gevra.
"Pa ... " Pa se stemmetjie was teen daai tyd bewerig en onseker. "Pa ... daar is niks vas onder my voete nie! Ek dink die grond is vér ondertoe, Pa!"
Oupa het glo net stilgeword. Pa het die deur versigtig weer toegemaak en Ouma het 'n "Ag Heretjie tog!" laat hoor. Toe het hulle vir 'n lang ruk so doodstil gesit en na die niks in die mis gestaar. Genadiglik het die wit kombers later effens gelig en Oupa het stadig en baie versigtig die middel van die grondpad gevolg.

Toe hulle uiteindelik by die begrafnisgangers aansluit, moes Ouma eers 'n bietjie suikerwater drink en Oupa het eenkant sy pyp gaan opsteek. Pa vertel dat hy die hele diens deur, g'n woord gehoor het wat die predikant gespreek het nie. En toe die bruin kis later met die rieme in die donker graf laat sak is, het dit vir Pa gevoel of dit sy voet was wat so soek-soek na vastigheid, die dieptes in sak.

Baie jare later het Pa op Lydenburg gaan aftree en hy en Ma het gereeld oor die berg, Dullstroom se kant toe gery. Ma het net altyd gewonder waarom Pa so onverskillig was om teen die bergpas, so in die middel van die pad te ry.

Oom Bok se eksperiment.

My skooldae op Ogies was maar soos enige kwajong s'n, vol gebeurlikhede. Sommige van hulle het vanselwers iewers vandaan gekom, maar ander was weer te voorsiene, want ons jongklomp had ook maar ons moedswillighede.

Wetenskap was 'n vak wat my nekhare laat rys het. Statiese elektrisiteit en die Van der Graaff-versneller, het my nou nie juis gaande gehad nie. Daar was wel 'n keer toe ou Bok (dis nou ons onnie van destyds) 'n ligstraal deur 'n prisma gestuur het en die kleure toe op my kadette-broek te siene was (al die meisies het na MY broek gekyk!), maar dit was maar 'n eenmalige opflikkering. Wanneer dit toets- of eksamentyd was, het ek langtanderig aan die fisika en chemie geproe-proe.

Tog was daar een insident wat ek nie sommer lig sal vergeet nie! Ou Bok wou die een of ander grandiose chemiese reaksie aan ons demonstreer, en beveel ons toe om hom te omsingel, sodat elkeen 'n goeie oog op die burette en pipette kon hou. Omdat hy niemand vertrou het nie (ek sou ook nie, want Fanie van Vuuren en Antoon Mauriks saam, was groot moeilikheid!), het hy alles mooi opgestel, 'n druppel of drie van 'n vloeistof in 'n buis gegooi, en dan stoortjie toe gestap om die volgende chemiese bestanddeel te gaan haal. Die sleutel van die geheimenis agter slot en grendel, was immer veilig in sy laboratoriumjas se sak - en dit het ons geweet. Toe hy 'n paar dae tevore kantoor toe geroep is, het Fanie dadelik besef dat ou Bok sonder sy jas geloop het. Hy het die sleutel uitgehaal en ons is toe die stoortjie binne, waar ons die rye flessies en goeters gesien het. Daar was 'n klein botteltjie in die snippermandjie, net die ding om iets in te gooi. So maak ons toe die botteltjie vol met 'n mengsel van vyf of ses verskillende vloeistowwe wat op die rakke was.

Ewenwel, toe ou Bok die volgende chemikalie gaan kry, gooi Fanie vinnig 'n paar druppels van ons gebuite medisyne in die buret. Genadiglik het dit nie die inhoud verkleur nie - en ons het in spanning gewag. Bok drup toe 'n klein bietjie van sy nuwe vloeistof by, en vra dat ons nader moes staan, "sodat
julle die pragtige geel neerslag wat gevorm gaan word, mooi kan sien". Die kleurlose inhoud van die buret, het stadig begin verkleur, maar van 'n geel neerslag, was daar g'n sprake nie. Terwyl hy, duidelik verbaas, met sy vingers aan die buret getik het,  verander die vloeistof skielik in 'n pragtige, groen oplossing!

Nou kyk, ou Bok was daarvoor bekend dat hy vir g'n duiwel gestuit het nie. Hy besluit toe ook net daar en dan dat die moedswillige vloeistof SAL reageer - soos hy dit wil laat reageer. Hy het verontwaardig gesnuif, die buret se inhoud in die wasbak uitgegooi, die buis goed uitgespoel, en die eksperiment weer van voor af begin. Die tweede probeerslag, was weer 'n flop (so met ons bydrae saam). Bok was erg gefrustreerd en het geblaf dat ons na ons sitplekke moes terugkeer en solank die eerste bladsy van die volgende hoofstuk, in ons handboeke moes lees. Ons het natuurlik ewe onskuldig, so onderlangs vir mekaar geloer - en Fanie was ons held!

Ons het later gehoor dat ou Bok 'n skriftelike klagte oor die "ou" voorraad waarmee hy moes sukkel, by die hoof ingedien het.

Tuesday 9 July 2013

Die genade is wyd.

'n Kind se brein moet wonderbaarlik wees ! Dink net, hy/sy moet woorde, beelde, nuwe indrukke en begrippe absorbeer, interpreteer en dan in die geheue stoor - merkwaardig! Een so 'n indruk wat my van kleins af gefassineer het, was die begrip van God se genade, oftewel die grootte of wydsheid daarvan.

Toe ons nog boonop op skool Eugene Marais se 'Winternag' behandel het, het die woorde " ... so wyd as die Heer se genade ... '' my nog meer aan die dink gesit. Ek het selfs per geleentheid daar op Ouma se plaas, by die plaashek gaan staan en dan in die vier windrigtings getuur, net om te probeer sien waar die grense van daardie genade dan is. In my gedagtes het ek my eie beeld gevorm, die een van die Man wat sy hande na die kante uitstrek, sodat sy wit kleed alles en oral, bedek. Dan het ek so effe vorentoe gestaan, sodat ek seker kon maak dat ook nietige ekke, onder 'n stukkie van die 'kleed' kon skuil.

Maar, daar was ook 'n ander gebeurtenis wat my begrip van wydsheid, help vorm het. Dit was in daardie tyd (vroeg sestigs) die gewoonte om enige groot gebeurtenis van openbare belang (so het ek gedink, want selfs 'n uitverkoping by Bombay House, het in hierdie kategorie geval!) op 'n besondere wyse te adverteer. Die duisende pamflette is in sakke of houers geplaas, en dan per ligte vliegtuig tot hoog bo die dorp geneem. Vandaar is dit dan afgegooi, en die windjie het gesorg dat die afswewende advertensies dan al wyer en wyer uitgekring het, en oor 'n groot area versprei is. Ek en neef Jan het dan na die oopte op hulle standplaas gehol, om so veel as moontlik van die pamflette te versamel. Hy het gewoonlik gewen, want ek kon nie help om my aan die uitkringende stippels te verkyk nie - en weer aan ''so wyd as die Heer se genade'', te dink nie.

Vandag kan ek net oor my kinderlikheid glimlag. God se genade is oneindig, groter as wat die menslike brein kan peil. Daarom moet ons in erkentlikheid lewe, dankbaar omdat ons die geleentheid gegun word om Sy genade te ervaar, te geniet en te koester.

 Tog ironies, is dit nie? Dink net hoe min genade ons soms vir mekaar het ...

Monday 8 July 2013

'n Saak het altyd twee kante.

Gootoupa Jacob de Klerk was 'n man wat nie met hom laat sukkel het nie. Hy het vele veldslae deur- en oorleef, waarom sou hy hom dan aan 'n enkeling se geite steur? Maar, dat die ou korrelkop ook 'n moedwillige streep in hom gehad het, was nie altemit nie!

Die plaas Eerstegeluk, erfporsie van sy pa, Johannes Gysbert, is so vyf myl buite Bethal. Oom Jacob moes dan ook, soos enige ander boer van sy tyd, die perd opsaal om die een en ander op die dorp te gaan koop. Die plaaspaadjie was ewe gemaklik en reguit, maar teen die dorp, moes 'n man maar 'n wye draai ry om die paar erwe wat daar reeds in die 1930's was, te vermy.

Oupagrootjie het glo nie van hierdie noodwendige ompad gehou nie, en omdat daar nie veel van 'n heining om die erwe was nie, het hy sommer reguit deur ou Fred Verster se erf, koers gekies dorp toe.
Fred het die ding aanvanklik gelate gadegeslaan, want afgesien van die honde se geblaf en die ganse wat verontwaardig gesnater het, het ou Jacob darem mos nou nie skade gedoen nie.

So het dit vir maande aangegaan. Fred het moeg geraak vir Jacob se eiegeregtigheid en besluit: wat syne was, was syne - en hy het Grootoupa gekonfronteer.
"Dag, Jacob. Jy ry darem alte gemaklik hier deur my erf? Dit is per slot van sake, darem my eige eiendom, jy weet!"
Jacob het hom met 'n hovaardige glimlaggie aangekyk. "Dit weet ek, Fred. As 'n man so maklik oor jou drade kom, moet jy dit maar verduur."
Dit was die vet in die vuur! "Jacob, ek seg nou vir jou: jy kan NIE hier ry nie!"
Oupagrootjie het die perd effens spore gegee, en rustig sy gang gegaan.

Die gedoente het glo 'n paar keer gebeur. Fred wat uitstorm met 'n "Jy kan nie hier ry nie!" en oupa Jacob wat met 'n uittartende groetwuif van die hand, net verder ry.

Toe Grootoupa weer 'n slag daar deur is dorp toe, het Fred die magistraat, Piet Naude (hulle was huisvriende) gaan roep, om by te wees wanneer die perd en sy moedswillige ruiter, die terugtog sou aanpak. Dit was ook nie lank nie, of Grootoupa het verbygekom - regdeur die erf, sommer neffens Fred se huis verby.
Fred en Piet het hom by die buitekamer ingewag.
"Jacob," het Piet sy stem verhef, "ek verneem dat jy nou al geruime tyd hier deur neef Fred se erf ry."
Oom Jacob het sy hoed ewe galant gelig om te groet. "Ja, dis die kortste pad dorp toe".
"Fred het elke keer geweier dat jy deur sy erf ry! Jy betree die man se privaat eiendom!" Piet het gesien dat Grootoupa nie maklik gaan besgee nie. "Is dit so, Fred?"
Ou Fred was skielik vol bravade, so met die gereg aan sy sy. "Ja! Ek het elke keer vir hom uitdruklik laat verstaan dat hy nie hier kan ry nie!"
Grootoupa het 'n teatrale handgebaar gemaak, skelm geglimlag en gemaak-onskuldig geantwoord:
"Daar hoor jy dit nou self, Piet. Fred beweer dat ek nie hier kan ry nie."
Nie Piet, of Fred het mooi verstaan waarheen Grootoupa gemik het nie.
"Nou maar toe? Vir wat hou jy jou dan so moedswillig?" het Piet gevra.
Grootoupa het die twee direk aangekyk en effens vooroor geleun. "Ek wou maar net vir Fred wys dat ek wel hier KAN ry - kyk, ek sit op die perd en ek ry! Hy't nie gese ek MAG nie hier ry nie!"

Oupagrootjie het weer die hoed gelig, en toe op 'n gemaklike draffie weggery. Agter hom het Fred met die arms geswaai en hy en Piet was duidelik aan't redekawel. Oupa Jacob het nie weer deur Fred se erf gery nie - so asof hy sy doel bereik het. 'n Saak het twee kante, afhangende van hoe jy die woorde verstaan!

Thursday 4 July 2013

Die bydrae.

Toe tant Taat in 1973 ook haar aardse reis voltooi het, het dit in 'n sekere sin 'n kleinerige knuppel in die hoenderhok, veroorsaak. Sy was nooit getroud nie, en die familie nie algar ewe lief vir haar nie. Diegene vir wie sy meer tyd as vir ander gehad het, wou nie die las van 'n begrafnis op die skouers neem nie - dit was duidelik nie 'n geval van wedersydse gevoelentheid nie.

'n Susterskind, Maggie, het besluit om die situasie te red. Die familie is van dag en datum laat weet, en die nodige is gedoen om die dominee, kerk, orreliste, blomme en so aan, in orde te kry.

 Ouma was een van die wat maar langtanderig oor die begrafnis was, want tant Taat was haar skoonsuster en al die ou De Wets wat die geleentheid sou bywoon, ook nou nie juis op Ouma se lys van gunsteling vriende of kennisse nie.

Ewenwel, so laat weet ta' Anna Whitey daar van Amersfoort af, dat sy met die trein Bethal toe sou ry om haar tante se teraardebestelling te kom bywoon. Ta' Anna was die dogter van Koba, nog een van die vyf De Wet-susters (grootoupa Krisjan en grootouma Annie het vyf dogters en twee seuns gehad). Sou Ouma haar dan nie maar asseblief op Bethalstasie gaan haal en na die tyd weer by die trein besorg nie? Dis nou as dit nie te veel moeite was nie  Ta' Anna en oom Hans was beskroomde kleinboere wat 'n eenkant-bestaan gevoer het,en selde van hulle laat hoor het, maar die dood van eige bloed laat 'n mens noodgedwonge weer in die familiekring beland.

Miskien moet ek darem vertel dat hulle van, Labuschagné was, maar die feit dat ta' Anna een van seker by die twintig nasate van grootouma Annie was wat na haar vernoem is, het die familie genoodsaak om die Anna's van mekaar te onderskei, deur 'n tweede naam of verwysing, by elkeen te voeg. Ta' Anna was 'n blondekop, vandaar die 'Whitey'-gedeelte.

Ouma was daardie Donderdag al vroeg op die stasie. Die trein sou om-en-by agtuur sy opwagting maak, die diens was vir elfuur geskeduleer. Dit was ook nie veel later as agt nie, toe die passasierstrein die stasie binnestoom. Ta' Anna se klein figuurtjie was dadelik herkenbaar in die verte - veral ook omdat sy van kop tot tone in swart geklee was, soos dit destyds betaamlik vir so 'n okkasie, was. Wat Ouma egter verbaas het, was die blink melkkannetjie wat ta' Anna in die een hand vasgeklem het. Sou die ou mens dan helemal haar varkies kwyt geraak het? Ouma kon nie help om sulke gedagtes oor die aangetroude familie te koester nie - en onthou, die De Wets was Natte - die hele spul van hulle! Nie Sappe, soos Ouma en al haar De Klerk-familie, nie.

Toe Ouma met stywe lippe gegroet het, kon sy haar nuuskierigheid nie verder bedwing nie.

"Anna, mens, en as jy nou met die melkkan hier opdaag? Julle stuur mos altyd julle room sommer daar van Amersfoort af ?" het Ouma gevra.

Ta' Anna het haar kantsakdoekie eerbiediglik in die ooghoeke gedruk, en haar stem was maar bewerig, om by die gewydheid van die dag, te pas. "Ag Marja, 'n mens kan mos nou nie met niks by die begrafnis opdaag nie. Ek dag toe ek sal maar my bydrae saambring, vir die tee na die tyd. ''

Sout van die aarde, mense. Israeliete sonder bedrog. Mense wat hul karigheid met ander sou deel, al was dit net 'n bietjie melk van die plaas af.

Wednesday 3 July 2013

Tydelik skuldig.

Om die blaam vir 'n groot verlies te dra, is klaar erg genoeg, maar om boonop vals beskuldig te word, grens aan manslagtig!

Die dag voor ons met vakansie sou vertrek, besoek ons vinnig die winkelsentrum om die laaste 'moenie-vergeet-nie' dingetjies aan te skaf. Ek en Gert was 'n bietjie vroeg, toe besluit ons dat 'n vroegoggend-koffie, die ideale aanloop vir 'n heerlike, kommervrye week by die see, sou wees.

Terwyl ons vir ons lafenis gewag het, het ons groot see-prate gepraat. Ek kon die onverbloemde, kinderlike opgewondenheid op sy gesig sien. Hy kon nie ophou glimlag nie, en kort-kort het hy 'n "Oee! Dit gaan so lekker wees!" laat hoor. Ek het hom maar laat begaan, want die bloudam was nog altyd 'n groot gunsteling by hom.

Toe dit by die betaalslag kom, het ek agtergekom dat ek geen kleingeld in my beursie gehad het nie. Die kelner moes darem sy fooitjie kry - 'n man is mos maar meer vrygewig as die vakansiestemming besit van jou geneem het! Toe onthou ek dat ek 'n paar muntstukke voor in die kar gesit het, met die komende karwagte, in gedagte. Ek stuur toe vir Gert om van die geld te gaan haal, met die opdrag om te sorg dat die kar behoorlik gesluit is voordat hy terugkom.
"Voel of die deure gesluit is!" het ek vermaan.
"Ja, ek weet," het hy effens verontwaardig geantwoord, "ek het dit al baie gedoen!".

Die kelner het toe sy aalmoesie gekry, en ons moes nog 'n draai by Mik-en-Pik gaan maak (ons weergawe van P&P). Al skertsend loop ons toe kar toe, met die geloof  dat  alles vir die komende wegbreek gekoop en ingepak was. Dis net waar die voorsienigheid beluit het om ons 'n lelike streep te trek! Toe ons by die parkeerplek kom, was die kar skoonveld! Ek wou dit nie glo nie, want ons het al soiets beleef toe my oudste se bakkie destyds in Menlopark gesteel is. Gert was skoon verbouereerd en het nie geweet hoe om sy emosies te hanteer nie.
"Maar ek HET die kar gesluit! Ek het nog dubbel seker gemaak!!". Ek kon aan sy stem hoor dat hy na aan trane was.
Ek het met my kop tussen my hande, op my hurke gaan sit. Die vakansie was daarmee heen, ek moes die groot verlies by die polisie gaan aanmeld - en ek het uit ervaring geweet dat daar maande van rompslomp en eindelose frustrasie, gewag het.

Ons het om en om die area gedrafstap, oral gekyk - maar daar was niks. My brein het oortyd gewerk, ek het nie geweet hoe ek die nuus aan die ander huismense sou kon oordra nie. Gert het begin lag, nie omdat hy gedink het dit was snaaks nie, maar omdat hy histeries was. Hy het eenkant, ver van my af gaan staan, terwyl ek myself geblameer het omdat ek hom kar toe gestuur het, en nie maar self die kleingeld gaan haal het nie.

Waarom ek skielik daaraan gedink het, weet ek nie, maar toe onthou ek dat die winkelsentrum se parkeer-area,  drie vlakke beslaan !
"Gert! Ons is op die verkeerde vlak - die kar is op die middelste vlak!"  Dit was meer desperaatheid as enigiets anders, maar 'n draadjie van hoop waaraan ek met alles in my, vasgeklou het. Gert het net harder gelag, en agter sy pa aangehardloop.
So vinnig as wat ek kon, is ek die trappe op na die middelste vlak - en daar staan die X-Trail, asof hy van g'n sout of water wis nie. Ewe onskuldig, net maar indirek by ons menslike stres betrokke.

Laat ek maar eerlik wees: ek HET Gert daarvan verdink dat hy vergeet het om die kar te sluit. Jammer, my kind, gelukkig was jy net tydelik skuldig!

Tuesday 2 July 2013

Nie so onnosel nie.

Santie van oom Koos Wasserman, was Laersdrift se Saul Barnard - die vroulike weergawe, natuurlik. Soos haar 'Kringe'-genoot, het sy tussen haar mense uitgestaan, veral wat intelligensie en lewensvisie betref. Reeds as laerskoolvlegseltjies het sy haar onderwysers aan't gons gehad: die skrille kontras tussen haar afkoms (nie dat oom Koos-hulle agterlik was nie, maar darem) en die ongelooflike potensiaal wat sy op skool openbaar het.

Oom Koos se stukkie grond was wes van die Stoffberg-pad, heelwat wes. Die rooi spoorwegbus het daar iewers onder 'n doringboom gestop, dan moes jy oor die berg stap om by oom Koos se grondjie te kom. Santie het in die week by Miems Lemmer, 'n verlangse familielid, op Laersdrift gebly. Naweke het sy en Stoffel Putter, 'n buurseun 'n bietjie ouer as sy, die oor-die-berg aangepak om daar onder in die leegte, hulle ouers met hul sukkelbestaan te gaan help.

So het Santie dan laerskool voltooi, en het die skoolhoof dit reggekry om vir haar losies op Middelburg te kry, sodat sy haar verstandelike talente aldaar verder kon gaan ontwikkel. Dit het sy dan ook met oorgawe gedoen, en sy het matriek met drie onderskeidings geslaag. 'n Goeie werk by 'n bank (op Middelburg) het gevolg, en Santie, aansienlike dingetjie wat sy was, het nie 'n tekort aan manlike aandag gehad nie.

Toe gebeur die onvermydelike: Santie ontmoet haar droomman! Hy was 'n boorling van Bronkhorstspruit se omgewing, waar ook sy pa, homself in die boerdery begewe het. Die twee het gou besef dat hulle vir mekaar bedoel was, en die een ding het tot die ander gelei - en die ja-woord is gevra, en verkry. Dit het natuurlik beteken dat daar ouers gevra moes word. Henning Smit (dis nou die ander helfte) moes Laersdrift toe, so met die spoorwegbus en Santie, saam.

Die afspraak is gemaak, die verloofring was in die sak, en die bus het die twee jong verliefdes onder die doringboom afgelaai. Henning was 'n verstandige,  oopkop-tipe jongetjie. Hy het 'n vae idee gehad wat hom te wagte was, omdat Santie die eerlike paadjie met hom gestap het. So het die twee dan die bergpad gestap, terwyl Santie al hoe stiller en Henning al hoe benouder geraak het.

Toe hulle die kiepersol bo langs die groot rots, verby was, het die langwerpige huis met die werfhoenders en 'n paar honde wat reeds begin blaf het, ver onder hulle gewag. 'n Lui rokie het die lug ingekruie, en Henning het probeer om alles in die geheue vas te vat: die plat dak met 'n hele paar boerpampoene so tussen die klippe wat die sinkdak vasgepak het, en die geelperske- en appelkoosbome wat weerskante, die huis omsoom het.

Die ontmoeting was maar stroef. Ant Breggie het haar aanstaande skoonseun probeer tuis laat voel, maar oom Koos het die jongman oor sy pyp aangegluur en soos 'n veiling-os getakseer. Toe die eerste koffie afgesluk was, het die gesels soos in heeltemal, opgedroog. Santie se keel het toegetrek, sy kon nie 'n woord uiter nie. Ant Breggie het haarself in die kombuis gaan handig maak. Henning besef toe dat hy maar die inisiatief sou moes neem, en het naarstiglik aan 'n onderwerp probeer dink, wat oom Koos se spraak kon losmaak. Toe onthou Henning skielik sy eerste indrukke daar van bo af, en hy dink aan die pampoene op die sinkdak. Hy kug toe so 'n onsekere kuggie, en breek die oorverdowende stilte.
"Ek sien oom plant pampoene hierso?" Dit het vir Henning na 'n korrekte en aanvaarbare aanknopingspunt geklink.
Oom Koos het sy pyp baie stadig laat sak, Henning met 'n yslike frons op sy voorkop aangekyk, en half verontwaardig geantwoord: "Nee, ons plant net hulle se pitte."

Jy moet erken, oom Koos had 'n punt beet - 'n mens plant mos eers die pitte, daarna kom die pampoene! Arme Henning het die res van daardie ongemaklike naweek, sy hande vol gehad om die Wassermans te oortuig dat hy wel 'n goeie man vir Santie sou wees (al het sy kennis van boerdery, so met die pampoen-storie saam, nie goed blyk te gewees het nie!)

Die twee is wel later getroud. Tant Ragie, by wie ek hierdie storie gehoor het, weet te vertelle dat Henning nooit weer sy mond aan pampoen wou sit nie - daarvoor was sy verleentheid daardie dag, net té groot!