Friday 9 August 2013

Langklip se moses.

Ouma Marja het haar deur niks en niemand laat onderkry nie. In haar woordeskat het woorde soos
"kan nie" of "dis onmoontlik", eenvoudig geen bestaansreg gehad nie. Die moed van haar oortuiging, was die lig op vele paaie wat sy letterlik en figuurlik, bewandel het.

Sy was al goed verby die 80 toe Pa op 'n dag 'n ontstellende oproep van Bethal af, ontvang het. Dit was sy niggie wat die skoknuus oorgedra het: Ouma het voor die winkel, langs haar Mazda inmekaar-
gesak en moes inderhaas hospitaal toe geneem word! 'n Weldoener het die sleutels uit haar handsak geneem en gesorg dat die karretjie veilig in die besoekers-parkering sy staan gekry het. Pa het dadelik die hospitaal geskakel - net om uit te vind dat Ouma (volgens voorlopige toetse en verslae) 'n ligte hartaanval gehad het. "Sy is rustig, sy slaap nou. Ons hou haar hier vir die nag, net om haar toestand te monitor", het die artsie verduidelik.

Pa was toentertyd op Marble Hall, en dit was net nie moontlik om Bethal toe te ry nie. Die dokter se gerusstelling het darem gehelp, Pa het net deur die dag gebel en die jongste bulletin oor Ouma se toestand, na ons deurgeskakel.

Dit was so sesuur se kant daardie middag, toe Pa my bel. "Daar is groot moeilikheid op Bethal! Jou ouma is weg !"
Ek kon nie mooi die kloutjie by die oor kry nie. Hoe kon Ouma dan weg gewees het - sy was dan onkapabel in 'n hospitaalbed ? "Is Pa seker Pa het reg gehoor ?" het ek gevra. "Ouma het dan 'n hartaanval gehad ?!" In my gedagtes het ek haar in die lykhuis gesien, miskien het diegene wat die lyk verwyder het, nie die ander ingelig nie ....
Pa was sy gewone omgesukkeldheid. "Ja, man! Die hospitaal weet glad nie wat van haar geword het nie!"

So wag ons toe op nuus oor Ouma se verdwyning, en is daar inderhaas planne gemaak om die langpad Bethal toe, aan te durf. Pa het belowe dat hy my sou laat weet die oomblik wanneer hy en Ma die Chev aangeskakel het, sodat ek darem kon bepaal wanneer hulle min of meer op Bethal sou aanland.
Dit was ook nie baie later nie, toe lui my foon.
"Jong, daar is nou GROOT konsternasie! Jou ouma is op die plaas, by haar huis!"
Ek het nog minder verstaan. Die skielike 'omwenteling' van lykhuis, na plaashuis, het my deurmekaar gehad. "Maar Pa, nou's ek regtig nie lekker by nie!" het ek hom aangepor om te verduidelik.

Die saak staan toe so: Ouma het uit haar slaap ontwaak, uitgevind sy was in die hospitaal - en die karsleutels op die bedkassie gesien. Deur die saal se venster kon sy die Mazda sien waar dit onder 'n boom geparkeer was. Wel, toe kry Ouma eenvoudig haar goedjies bymekaar, glip verby die verpleegpersoneel - en ry plaas toe. Toe ontlont sy darem die spanning en bel vir Pa, om vir hom te vertel welke 'rowwe dag' sy gehad het! "Krisjan," het Ouma vir Pa vertel, "daai doktertjie weet nie waarvan hy praat nie! Ek het nie vanoggend gebrekfis nie, toe voel ek so bietjie dronk in die kop. Ek het net 'n ou floutetjie gehad, dis al."

Wilde boere, buurman - wilde boere! Al Ouma se De Klerk-familie was so. Pa het dit so gestel: "Die spul De Klerks is agtertangse mense - jy het 'n langklip nodig om hulle dood te kry!"

Ironies genoeg, Ouma se langklip het nie die ding gedoen nie, sy het 85 jaar oud geword. 'n Erge griep het haar hart later so verswak, dat die organe ingegee het ...

No comments:

Post a Comment