Friday 30 August 2013

Die teeblik

Daar op die plaas Eerstegeluk, het Ouma geglo, het jy nie lekker gekuier as jy jou nie aan 'n groot etery oorgegee, en minstens al om die twee ure tee gedrink het nie. Haar goedigheid en opregte
gasvryheid het dan ook alle teenstribbeling soos 'n yl mislagie voor die Bethal-son, laat verdwyn.

Na die gebruiklike drukkies en innige ouma-soene, is daar terstond kombuis toe beweeg, waar Ouma, uitgehonger vir gesels, nog 'n paar mieliestronke in die koolstoof gegooi het en die vuur 'n vinnige roer gegee het, sodat die stoof goed warm vir die teewater sou wees. Al waggelende in haar geblomde rok met die handgemaakte voorskoot oor, het sy dan die kuier-koppies uit die sideboard gaan haal, asook die houtskinkbord wat Oupa nog destyds met groot liefde vir haar gekerf het. Laasgenoemde is dan versier met 'n gestyfde hekellappie, wat Ouma sorgvuldig vir spesiale teedrink-dae gereed gehou het.

Maar, dit was die ronde, blou-en-wit teeblik wat my gefassineer het, of altans, hoe Ouma dit met jare se geoefende hande hanteer het. Die blik het so op 'n sy-rakkie teen die sideboard gestaan. Ek hoor nog die gerinkel van die ses drinkglase met die rooi blommetjies op, wanneer Ouma op die blinkgepoleerde plankvloer die teeblik gaan haal het. Terug in die kombuis, het sy dan die deksel behendig afgehaal en, asof dit tweede natuur by haar was, drie knypies tee so met die eerste drie vingers afgemeet en in die teepot gegooi. Die swaar waterketel het teen daardie tyd al lustig saamgesels en dan is die kookwater, ewe gemaklik, oor die teeblare gegooi. Solank die Mazzawatta-tee dan eenkant op die stoof getrek het, het Ouma - steeds geselsende en vol stories oor al die neefs en niggies wat meestal vir ons net name was - die teeblik weer op sy toegekende plekkie gaan neersit.
Afhangende van haar gemoedstoestand en of die kuiertjie "eige bloed" was, het Ouma dan die sideboard se sleutel uit haar voorskootsak gehaal en 'n bordjie skilfertertjies of kransies (so 'n vierkantige blokkie lekkerte met konfyt en klapper bo-op) is dan saamgebring kombuis toe. Tee is altoos in die kombuis gedrink, nergens elders nie.

Toe daar in 1983 in Bethal se ou begraafplaas finaal van Ouma afskeid geneem is, het my tannie Ena gesorg dat die sandjies vir laaste strooi op die kis, Eerstegeluk-sand was - uit Ouma se wit-en-blou teeblik. Toe ek oogknippend ook my handjievol sand in die graf laat neersif, was dit kompleet of Ouma vir my geglimlag het - want ek was "eige bloed", en die teeblik was in my hande.

No comments:

Post a Comment