Saturday 10 August 2013

Vergeefse vlerke

My naam is Gilieh - Gilieh Bons. Pa het daarop aangedring dat ek so genoem moes word.

Ek het in 'n eenvoudige, maar veilige nes uitgebroei. Pa was baie daarop gesteld dat ons nes altyd
skoon en versorgd moes wees, al was dit (veral aan die begin) een van die kleinste in die kranse.

Die ander neste was nie so lekker beskut soos ons s'n nie. Ons plekkie het selfs 'n beskermende lysie voor, aan die afgrond se kant, gehad. Rondom ons was dit immer 'n geskarrel en geraas soos die ouers die kleintjies van die gevaarlike, gapende afgrond moes weghou. Ek kon nie anders as om bewonderend na die bure se kinders te kyk wanneer hulle geoefen het om hulle vlerke te strek en dan gevaarlik na aan die afgrond, die vlerke geklap en mekaar karnuffel het nie. As Pa of Ma my uitgevang het dat ek gekyk het, is ek kwaai aangespreek en van ondankbaarheid beskuldig. Ek moes uit erkentlikheid vir Pa-hulle se omgee en troue sorg, help om die nes netjies te hou.

Toe ek al mooi uitgegroei was, het Pa my van die lewe vertel. Hy het my teen die bure en ander kransbewoners gewaarsku. "Jy't seker al gesien hoe party hulle die vlerke oordadig klap en hoe van hulle uitlokkend en sedeloos mekaar met die bekke bykom. Wel, ek verbied jou om weer te kyk, want om te kyk, is om te doen. Laat hulle maar onverskillig rondvlieg en op die neste afduik, ons is respektabele mense wat uit 'n goeie familie kom - ons hou ons eenkant en leef ons eie, goeie lewe."
Ma het ook haar deel bygedra om my teen die omringende, ongewensde dinge te waarsku.
"Jy sal sien die meeste van hulle het geen smaak nie, hulle steek sommer enige takkie in die nes in - en dan ook sommer op enige plek, krom en skeef !"

Van die buurt se kinders het hulle te pletter geval, toe hulle te vroeg die groot sprong gewaag het. Hulle moes seker gedink het hulle vlerke was al goed ontwikkel, reg om te vlieg. Ander het amper verongeluk, maar tog veiligheid bereik en daarna vrolik en met juigkrete die lug deurklief. Ek het hulle so beny! Dit het ongelooflik lekker gelyk (en geklink), maar ek kon dit nooit aan my ouers doen om so ondankbaar te wees om die nes voortydig te verlaat nie.

Heelwat later, toe my vlerke al seer van al die geklap in die nes was, het Pa my versigtig oor die lysie gehelp, en toe ek die lug onder my voel en my vlerke klap, was Pa daar om my liggies te stut. Spoedig het ek self kon vlieg, maar nooit so baldadig soos ander van my ouderdom nie - my ouers se vermaninge was te vas in my geheue. Ander het dit as snobisme beskou, beweer ek dink ek's beter as ander. Dit was nie so nie. As hulle maar net geweet het hoe graag ek een van hulle wou wees ...

Pa is intussen dood toe 'n kruisarend hom tydens 'n vlug nes toe, onderskep het. Ma kon dit nie verwerk nie en sy het al hoe stiller en eensamer geword. Eendag het sy net uit die nes wat sy tot die laaste so onberispelik gehou het, verdwyn. Ons vermoed sy het die prooi van 'n slang geword.
Nou is dit net ek en my broer en suster, van wie ek maar min hoor. Hulle het hul eie neste in ander kranse gaan maak, glo nie so netjies soos Pa en Ma ons geleer het nie.

Die jare het my ingehaal. Hier, in my eie nes met die veilige lysie voor, het ek te veel tyd om te dink. Ek tob oor so baie dinge, veral oor Pa en Ma. Ek is so dankbaar dat hulle my anders grootgemaak het, maar die probleem met my vlerke maak my lewe hel! Sodra ek in die lug is, raak ek van die afgrond onder my, bewus - en dan raak ek duiselig en soek 'n veilige plek om te land.

Ek bly nooit lank genoeg in die lug om genoeg selfvertroue op te bou nie ... het ook nooit. Ek lewe in vrees vir die val ...


No comments:

Post a Comment