Saturday 24 August 2013

Andersoortige aanval

Na die hewige aanval van 21 Augustus 1978 op die Katima Mulilo-basis, was die stemming maar stroef. Die feit dat tien lede  van die destydse Staatspresidentswag die lewe gelaat het, het ons onwillekeurig laat wonder wie volgende sou wees om die hoogste offer te betaal.

Pogings is aangewend om die moreel 'n hupstoot te gee, maar sonder veel sukses. Kapelaan Johan Lindeque het sy bes probeer en 'n paar besielende redes gevoer, maar dit het net hier en daar die teiken getref. Toe ons nog 'n paar dae later, tydens die gebruiklike Saterdagaand-fliek, na die spannende "The car" moes kyk, het die nerwe aan dun draadjies gehang. Die grapgat wat 'n
donderbuis tussen die troepe in gegooi het (toe die fliek op sy ergste was), is swaar gestraf - en
dit is wyd verwelkom. Niemand was in die luim vir 'grappies' nie, veral nie die ander SP-lede wat makkers verloor het, nie.

Toe word daar in die basiskroeg aangekondig dat 'n vermaaklikheidsgroep vanuit die Republiek, die basis sou besoek om die manne se aandag 'n bietjie af te lei. Die groep sou bestaan uit Gordon Mulholland (toentertyd 'n bekende akteur), die sangeres Marie Gibson (wie se liedjie 'One day at a time' bo-aan die treffersparade was) - en 'n paar hoogskop-meisies! Oor laasgenoemde is nogal veel bespiegel, want diesulkes was iets wat die Caprivi nie geken het nie, en 'n man het ook maar sy behoeftes...

Ewenwel, die groot aand breek toe aan. Ons moes help om die lang sitbankies aan te dra. Die sinkafdak het 'n kits-verhogie gekry en sterk kolligte is aangebring, spesiaal vir die danseresse.
Mulholland was die seremoniemeester en het 'n paar kwinkslae kwytgeraak, toe het Marie haar treffer met oorgawe gesing. Almal het op tipiese 'weermagstyl' applous gegee, wat natuurlik 'n paar fluite en uitroepe ingesluit het. Toe 'les girls' in hule eina-monderings die verhogie betree, kon die mense oorkant die Zambesi seker die toejuiging gehoor het! Die vyf meisies het waarlik net die allernodigste aangehad, was opvallend uitlokkend in hulle dansbewegings - en die manne se monde het behoorlik gekwyl. Op die ritme van polsende tromme, veel vinniger as die tromslae wat snags vanuit die bosse gehoor is, is daar hooggeskop, rondgespring, suggestiewe bewegings gemaak - en die manne het gejuig!

Maar, niemand het die vermaaklikheidsgroep skynbaar van die Caprivi-muskiete vertel nie ... 'n Wolk van hulle het asof uit die niet, die kolligte toegesak. Nadat hulle 'n tydjie lank om die ligte gemaal het, het 'n peloton of twee muskiete die sagte vlees van die danseresse ontdek. Hulle moes seker in muskiettaal die boodskap versprei het, want die hele geswermte het soos Messerschmidts afgeduik en begin steek! Aanvanklik het die meisies probeer voorgee dat die erge gekrap en rukbewegings, deel van die choreografie was, maar later het hulle alle inoefening oorboord gegooi - en net vervaard gekrap en muskiete probeer ontwyk.

Die manne se bewondering en ekstase, het 'n nuwe dimensie gekry: die een van 'n gelag en pittige aanmerkings. Hoe meer die meisies gekrap en arms geswaai het, hoe harder is gelag en geskreeu.
Mulholland kon die situasie nie hanteer nie, hy het werklik soos 'n bruidegom gelyk wat tydens sy onthaaltoespraak, uitgejou word. Iemand het teenwoordigheid van gees behou, die spulletjie na buite die ligkolle geneem - en toe het die groep in die donkerte verdwyn.

Die doel was bereik: die spanning was gebreek, die manne het opgewonde en al laggende, teruggestap barakke toe. Vir dae daarna is daar nog gejil en na die skreeusnaakse 'danspassies', so al met die aanvallende mukiete saam, verwys. So was 'n ander 'spanning' ook tydelik verlig - dit was vir 'n ruk lank nie nodig om die koffie met blouvitrioel te dokter nie ...

No comments:

Post a Comment