Monday 26 August 2013

Koos met die ander naam.

Toe ek in Desember 1973 as tydelike aflos-ontvangsbeampte op Onder -Sabie beland, het my beker oorgeloop! 'n Vriend se oom was destyds die personeelbestuurder van die Kruger-wildtuin, en ineens het 'n andersins onmoontlike deur, vir my oopgegaan.

Alhoewel ek dadelik in die ontvangskantoor touwys gemaak is, het tannie Renche Pieterse (ek sou haar aflos) eers 'n paar dae later vertrek. Die kampbestuurder besluit toe dat ek tannie Lossie Snyman, wat vir die verblyfplekke se netheid en ordelikheid verantwoordelik was, met die voorraadopname moes help. Al die meubels en toebehore in elke rondawel en hut, moes nagegaan en opgeskryf word. Tannie Lossie was aanvanklik nie te vriendelik nie, maar het my nietemin mettertyd aanvaar - en ons het by hut nr.1 begin.

Die plan van aksie was duidelik: die tannie sou die inspeksie doen en seker maak dat daar was wat daar veronderstel was om te wees, terwyl ek op elke vorm die skriftelike kontrole moes doen. Daar was 'n lang lys items, sy het byvoorbeeld net "braaitang!" uitgeroep, dan moes ek braaitang afmerk - en so is ons deur die lys.

 Dit was heel maklik, tot ons by die 'chambers' gekom het. Ek had g'n idee wat 'chambers' was nie! Om nie my onkunde te openbaar nie, wou ek ook nie vra nie. As tannie Lossie ge-'chambers!' het, het ek geskryf of afgemerk, al het ek nie die vaagste benul gehad van hoe 'chambers' gelyk het nie.

So het dit die hele dag gegaan. Toe ons restaurant toe stap vir middagete, het ek die sprong gewaag.

"Tannie", het ek gevra, "het elke hut in die kamp 'chambers' ?"

Haar kekkellaggie het tot onder by Keartland Cottage weerklink. "My liewe mens! Wie kan nou sonder chambers klaarkom? Hierdie spul stadsjapies wat die kamp snags beset, is baie gesteld op hulle chambers!"

Ek het net dieper in die onwetenheid weggesink. Haar woorde het die raaisel net verder verdiep, ek kon nie eens 'n vae idee in my kop vorm van wat chambers was nie. Omdat daar nog baie hutte gedoen moes word, het ek weer probeer.

"Betaal hulle ekstra vir hulle chambers?" het onkundige, onskuldige ekke gevra.

 Weer het sy uitgebars van die lag en toe vir die eerste keer besef dat hierdie Tukkie-student so waar as padda manel dra, regtig nie geweet het wat 'chambers' was nie!

"Na ete sal ek jou wys," het sy al proesende laat hoor. Ons was toe al aan tafel in die restaurant en die chambers vir eers op die agtergrond. Selfs die (onbekende) chambers kon nie die aandag van tannie Lettie van der Merwe se smullekker wildspastei weglok nie.

Ons het na ete weer die opname hervat. Die voorste hutte, naaste aan die rivier, was volgende aan die beurt. Teen daardie tyd was die volgorde op die lyste, al ou nuus en dit het flink gegaan ... tot by die chambers. Tannie Lossie kon weer nie die lag keer nie. Sy het haar kop agteroor gegooi en skaterend my onkunde bespotlik gemaak.

Toe ons weer by die gewraakte chambers kom, buk sy langs die bed, steek haar hand onder in - en trek die chambers nader.

Met 'n swierige swaai van die arm, het sy die enemmel-geriefie in die lug gesteek: "Hier's hy - ontmoet vir chambers, snags een van die mens se beste vriende!"  So leer ek toe dat 'n koos, die een wat met 'n kleinletter gespel word, 'chambers' in die rooitaal genoem word!


No comments:

Post a Comment