Monday 26 August 2013

Rondom Jerusalem is berge

Hoe ongelooflik bevoorreg is ons nie in die wonderskone Laeveld, om berge (van alle groottes, vorme en soorte) in ons geweste te mag bewonder nie! Om gedurende 'n naweek of vakansie, sommer net die berge in te vaar en die natuur in sy volheid te geniet, is 'n seëning van Bo - 'n gawe uit die Vader se hand.

"Rondom Jerusalem is berge ...". Hierdie bekende woorde wat so dikwels gelees, gesing en van kansels af gespreek word, het sekerlik vir ons Laevelders, 'n ander betekenis. Ons konnotasie met berge is die reuse kranse van Swadini, die Makwonjas neffens Barberton, die Lebombo's by Komatipoort - of selfs die Drakensberge van Longtom-pas. Ons dink nie daaraan dat die berge waarvan die Bybel praat, woestyn-berge is nie. In vergelyking met ons prag, lyk Israel se berge maar uiters vaal, kaal en oninteressant. Dink vir 'n oomblik wat het daardie mense gesien, wanneer die woorde "Ek slaan my oë op na die berge", hulle opwaarts laat kyk het. Hulle het woestyn-berge gesien - voorwaar nie veel van 'n inspirasie nie!

Tog het die Israeliete vas geglo, die berge het vir hulle hoop gebring, want die berge het die oë na Bo gedwing, opwaarts na die hemel. 'n Mens kan nie anders as om die grootste eerbied vir daardie mense te koester nie! En ons ? Met hoeveel oortuiging en oorgawe kyk ons na ONS berge ? Ons het soveel meer om te waardeer! Die Vader het kwistig met die kwas gewoeker toe Hy die Laeveld en sy berge laat verrys het. Ons berghange waarteen malse groen bome en struike pryk. Ons het watervalle en wandelpaadjies langs kristalhelder waterstroompies. Ons het bosbokke, koedoes en klipspringers (om maar enkeles te noem) wat ons berge en valleie versier. Ons kan met veel groter oortuiging en jubelend uitroep: "O Here, hoe groot is U naam oor die ganse aarde!"

Doen ons dit ? Dra ons eerbied en liefde teenoor God se Skepping, aan ons kinders oor ? Maak ons hulle daarvan bewus dat ons 'n groter verantwoordelikheid dra, omdat ons bederf word met die keur van Sy seëninge ? Kweek ons by hulle respek vir die natuur, en sodoende 'n bewuswording van die groot harmonie wat ons deelagtig is ?

Laat ons nooit die woorde van Ps. 19 vergeet nie - en sorg dat ons kinders, dit ook hul eie maak: "Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van Sy hande ... ". Ons hoef immers net die oë op te slaan na die berge, dan sal ons weet: daar is geen god, soos onse God nie !

No comments:

Post a Comment