Tuesday 13 August 2013

Verskrikte diensmaagd

As daar nou een beroep is wat onverpoosd deur 'n magdom veranderinge en vernuwings geteister word, is dit die onderwys. Elke nuutaangestelde ringkop het 'n nuwe visie, 'n vars idee van hoe hy of sy hulle name in die annale kan verewig. Dan is dit die arme onderwysers wat moet aanpas en met al die nuwighede moet tredhou.

So het 'n nuwe hoof van 'n plaasskooltjie doer duskant die Botswana-grens, hom dit ten doel gestel om ook daardie stukkie ongereptheid aan die moderne tegnologie te onderwerp. Hy het sy stempel deeglik op die daaglikse gang van skoolsake afgedruk, en toe die wonderbaarlike visioen gesien: Klipplaatlaagte - die eerste plaasskool in die Bosveld wat oor 'n interkomstelsel beskik!

Die personeel en die kinders het stilswyend geluister hoe die hoof die legio voordele van 'n interkom besing. Selfs die Beheerraad het maar net geluister - en toe toestemming gegee dat die fondse wat met die jaarlikse interstreek-atletiek ingesamel word, vir hierdie verhewe doel aangewend mag word.

Die Hoof het nie gras onder sy voete laat groei nie en binne 'n maand na die atletiekbyeenkoms, was die manne by Klipplaatlaagte om die interkom te installeer. Die kinders het soggens gesien hoe daar geboor en getimmer word en kort voor lank, het elke klaskamer, die saal en die kantore, 'n swart-en-bruin vierkant voor, in die middel, hoog teen die muur gehad.

Toe kom die toetsslag. Die Hoof het gewag tot al die kinders die Dinsdag huis toe was - net Oujuffrou Vermeulen het haar mandjie gevat en in haar klas gaan sit om te kyk hoeveel skrifte sy kon nasien voor die netbaloefening om drie-uur sou begin. Nou ja, die hoof het gesien dat daar 'n proefkonyn in een van die klasse was en besluit toe daar en dan dat Oujuffrou, so kort voor haar aftreetyd, die eer sou ontvang om die Hoof se stem, vir die heel eerste keer, oor die interkom te hoor.

Oujuffrou was verdiep in die nasienwerk.
"Juffrou Vermeulen, kan jy my hoor?" Van pure skrik, kry Sannie Roux die grootste rooimerk wat sy nog ooit in haar skrif gekry het. Oujuffrou kyk na die deur, toe deur die vensters, maar sy sien g'n siel nie.
"Juffrou Vermeulen, is jy daar? Kan jy my hoor?" 'n Lamte kruip in Oujuffrou se bene op. Sy voel hoe haar hart in haar keel bokspring, en sy kan sweer sy hoor iemand in die klas asemhaal. Die grootsheid van die oomblik, oorweldig haar, want soos 'n Moses van ouds staan sy vandag voor 'n brandende braambos.

Toe die stem vir die derde keer na haar kom: "Juffrou Vermeulen?" is Oujuffrou gereed en met bewende, biddende hande plegtig op die tafel voor haar gevou, prewel sy met 'n stem vol ingehoue emosie: "Spreek Here, U diensmaagd luister."

No comments:

Post a Comment