Sunday 29 December 2013

Huil-huil die nuwe jaar in.

Nee kyk, as daar nou een ding is wat ons Afrikaner-volkie nou behoorlik kan doen, dan is dit om die nuwe jaar met groot fanfare en klinkende simbale te verwelkom!

Al die oorskiet-eetgoed van Krismis word mos sorgvuldig gefoelie en gevries, en daar word die braai der braaie en al wat joligheid is, georganiseer om almal in die regte stemming vir daardie groot oomblik te kry: wanneer die lang en kort arms van die horlosie mekaar middernagtelik mooi op die twaalf ontmoet en al die vrolikes dan saam die dosyn klokslae aftel - tot binne-in die Nuwe Jaar!

Kleinboet was 'n kannetjie van so vyf jaar oud, toe hy ons almal plegtig laat belowe het dat ons hom sou wakker maak, om ook die twaalfuur die nag se belewenis mee te kon maak. Hy was bekend daarvoor dat sy oge skaars nege-uur gesien het, want hy het gewoonlik vroegaand reeds lang gape gegee. Ewenwel, daardie oujaarsaand was dit weer sulke tyd: daar is gelag, gebraai, baie kos verorber en Ma se beroemde pons is in dorstige kele af gegooi. Teen tienuur se koers, was Kleinboet al waar hy op sy gelukkigste was: vas aan die slaap. Hy het sommer so op die TV-kamer se mat, met sy teddiebeer styf vasgeknel, aan die slaap geraak.

Kort voor twaalf het ons almal agter op die patio gaan staan om na die vuurpyle en sterskietende klappers wat oral in ons omgewing die naglug verlig het, te kyk. Toe die aftelling verby was, is almal gebruiklik gedruk en gesoen en is Nuwejaarswense mildelik uitgedeel. Toe die vrolikheid net mooi aan die gang was, strompel Kleinboet by die agterdeur uit, al sukkelend om die slaap uit die oge te vryf.
"Hoekom raas julle so?" kom die klein stemmetjie vanagter die vrywende hande.
"Haai, kyk wie is wakker!" het Ma gekloek. "Kom kyk hoe mooi is die liggies! Happy New Year!!"
Kleinboet het ophou vryf en ooglopend verward om hom rondgekyk. "Is die nuwe jaar al hier?" Hierdie keer was die stemmetjie nog kleiner en gevul met 'n vreemde emosie.
"Ja! Dis Nuwe Jaar!" het Pa laat hoor. "Kom, gee vir Pa 'n drukkie!"

Toe bars Kleinboet uit in die huil van alle huile! Hy snik en die trane stroom oor sy wange en oor die teddiebeer, wat steeds in sy arms was. Ma was natuurlik dadelik by om te troos en die nodige soentjie te gee. "Aggenee, Nuwe Jaar is iets om oor vrolik te wees! Waarom huil my kind dan so? Voel jy siek?"
Na nog heelwat trane, kry Kleinboet dit uiteindelik reg om die woorde te vorm. "Julle is lelik!! Julle is almal baie lelik! Nou het ek nie gesien hoe kom die Nuwe Jaar nie!" Weer was dit 'n vloed van trane.

Eers vele jare later, sou Kleinboet leer dat sekere begrippe in die ou lewe letterlik, maar ander weer figuurlik bedoel word. Op skool het hy ook van denostasie en konnotasie geleer. Maar, al is hy reeds nie meer met ons nie, sorg die onthou van Kleinboet se groot ontsteltenis toe hy kleintyd nie gesien het hoe die Nuwe Jaar sy opwagting maak nie, steeds vir 'n groot glimlag - en dra dit ongetwyfeld by tot die vrolikheid as die Nuwe Jaar verwelkom word!

No comments:

Post a Comment