Saturday 21 December 2013

Muriel

Haar naam was Muriel. Dit, en die feit dat sy van Suidwes af gekom het, was die enigste inligting rakende haar her- en afkoms, waarvan enigiemand geweet het - en dit het ook nie saakgemaak nie.

Muriel was kampusbesit. Miskien eerder manskoshuis-besit, maar tog almal se Muriel. Haar tengerige, fyn postuurtjie en roesbruin hare, was haar bekendste kenmerke. Sy was immer onopvallend, misterieus en altyd met 'n skouersak, op pad na wie weet waar. Jy kon haar op enige plek aantref, soms waar jy haar die minste verwag het. Per geleentheid is sy in die Aula tydens 'n middaguur-konsert opgemerk, dan weer op die grasperk agter die Musaion. Die kanse dat jy Muriel op die Hillcrest-bus sou raakloop, was ook redelik goed.

Sy was enigmaties in haar handel en wandel. As dit so gebeur het dat jy langs haar in die Hatfield- of Sterland-fliek te lande gekom het, het sy sag in die dowwe lig geglimlag en jy het 'n gevoel van rustigheid aangevoel. Soms het sy doodstil op 'n houtbankie langs die kennisgewingborde (waar die BB-weierings opgeplak is) gesit en weemoedig voor haar uit gestaar. So nou en dan sou iemand met 'n "Hi, Muriel!" verbystap, waarop sy die een hand liggies gewuif en ook geglimlag het. Dan het sy weer in haar geheime gedagtes weggesink.

Natuurlik is daar baie oor Muriel geskinder. Wanneer daar 'n paar Muriel-lose dae verbygegaan het, is daar in die manskoshuise se ontspanningsale bespiegel oor waar sy haar op daardie stadium sou bevind het. As ek nou so terugdink, wil dit vir my lyk asof sy 'n voorliefde vir die moderner koshuise soos Mopanie en Maroela gehad het. Soms, wanneer ons op 'n Woensdagaand daar gaan liga-tafeltennis speel het, was Muriel tussen die groepie toeskouers. Sy was nooit luidrugtig nie - het trouens bitter min gepraat. Eienaardig genoeg (agterna gesien), was niemand verbaas om die meisie tussen al die manne te sien nie, al was dit die dae toe daar 'n sterk stelsel van 'morele standaarde' in die manskoshuise was. Muriel was een van die groep, het selfs tuis gelyk wanneer sy dikwels 'n lang manshemp aangehad het en kaalvoet was.

Vir party was Muriel die ma na wie daar verlang is, vir ander weer die suster met wie hartsgeheime gedeel is. Dis seker maar logies dat haar rol by ander (sy moes tog iewers geslaap het) meer eroties was, maar ook dit is as blote gang van sake, aanvaar. Niemand was jaloers op iemand nie, as dit jou Muriel-beurt was, was dit maar so. Ek kan met alle eerlikheid verklaar dat ek nooit gehoor het dat iemand na Muriel as 'n 'kwaadkat' of 'seksbom' verwys het nie - en dit was sy dan inderdaad ook nie.
Sy was 'n aanvallige, rustige meisie uit Suidwes, 'n swerwer wat na rusplek gesoek het. Iemand op wie se nommer jy maar kon druk as jy 'n metgesellin na 'n funksie, nodig gehad het. Iemand wat maar altyd in die skaduwees gewag het, vir waar en wanneer haar dienste ook benodig is.

Waarvoor sy studeer het, en of sy wel studeer het, was nooit ter sprake nie. Haar teenwoordigheid op die kampus was gerusstellend, 'n klein bietjie permanensie in 'n deurmekaar milieu. As dinge vir jou te veel geraak het, kon jy langs Muriel op die houtbankie gaan sit en seker gewees het dat jy, al was dit dan net vir 'n paar vervlietende minute, die stil geselskap van iemand sonder vrae, kon geniet.
Muriel het nooit oor akademie gepraat nie, net oor mooi dinge soos musiek, plante en wolke. Sy het ook nooit in die karige gesprekke, na ander mense verwys nie. Die hartseer uitdrukking op haar gesig, was sprekend van iemand wat die pad gestap het, iemand wat besef het dat wat verby is, vir altyd verby is ... Iemand wie se innerlike begeertes, nooit bevredig is nie.

Wat van Muriel geword het? Wie sal weet? Ek kan glad nie aan haar dink as iemand wat sou getrou het en 'n gesinslewe sou lei nie.. Ook nie as iemand wat iewers in 'n kantoor vasgekluister sou gewees het nie. Eintlik kan ek my glad nie indink hoe Muriel 'n toekoms kon gehad het nie - daarvoor was sy te enigmaties, te onwerklik, te nie-van-hierdie-aarde-nie.

Haar naam was (is?) Muriel. Net dit.

No comments:

Post a Comment