Tuesday 17 December 2013

Juffrou gee 'n dubbele pyn.

Ons was 'n klompie belustige en rasegte standerd sewe-seuns: disspline was 'n ongewenste woord en niks wat na die estetiese geruik het, het in ons belangstellingsveld geval nie.

Die groot- en kleinskool was toentertyd op Ogies, nog in dieselfde gebou. Die klasse was klein en intiem, met nie meer as so twintig wat per keer die banke beset het nie. Iedereen se stamboom was aan elkeen bekend, jou doen en late was geen geheim nie - ook nie vir die onderwysers (of selfs die Hoof) nie ...

Een periode per week is aan 'klasmusiek' afgestaan. Vir ons was dit net een, droewe tyding: sing en nogmaals sing ! Die meisies het lustig meegedoen en was nogal nie te onaardig om na te luister - en veral te bekyk - nie. Maar, vir 'n vyftienjarige knaap was die gesingery 'n pyniging! Eers het die goedige ta' Mima, so met haar potsierlike figuurtjie op 'n houtkissie gelig sodat sy ons min of meer op gelyke oog kon takseer, as koorleidster en dirigent opgetree. Hierdie prentjie was vir ons skreeu-
snaaks en het talle nog snaakser aanmerkings uitgelok. Dit het meegebring dat die seuns se 'sang',
eerder 'n onderlangse geproes was, want almal was dik van die lag!

Toe kry die skool 'n nuwe sangjuffrou, ene mev. Pieters. Die situasie het soos handomkeer verander.
Ons seuns is op geen ondubbelsinnige wyse nie, goed laat verstaan dat 'Juffrou duld geen ongedissiplineerde gedrag nie!' Sang was skielik 'n 'estetiese ervaring, 'n verrukking van die siel' en nog allerlei warra-warra uitdrukkings. Haar styfopmekaargedrukte lippe was soos 'n streep wat getrek was: waag dit net om die muse bespotlik te maak! Ons doppies was geklink - ons het dit nie eens meer gewaag om onderlangs na die meisies te loer nie. 

Wat ons seker die meeste van die nuwe verskrikking ontstel het, was wanneer sy so voor ons stelling ingeneem het, met ogies wat geblits en die beringde vingers wat beduie het: "Maak die monde groot en rond oop! Laat die gevoel oor jou spoeeeeeeel!". Om soiets van 'n standerd sewe-seun te verwag, is absoluut verregaande (altans, so het ons gevoel). Ons het soos moffies gevoel en mekaar agterna gespot en die juffrou verwens.

Toe kom die dag van genade! Die sangperiode was weer op ons en ons het so vinnig as wat ons bene ons kon dra (om juffrou se toorn te vermy), op die saaltjie se verhoog, agter die Otto Bach -
klavier, stelling ingeneem. Die aanvanklike doodse stilte, het gou in 'n versigtige gefluister ontaard, en toe dit blyk dat ou Pietie nie daar was nie, het die seuns vinnig ontspan en die meisies begin tempteer. Daar is gelag en gesels, en Trudie het kort-kort 'n gemaak-benoude gilletjie gegee wanneer Fanie of Brian "per ongeluk" aan haar boud gevat het. Die onskuldige, bedeesde ekke het saam met Helga Naude langs die klavier gestaan en oor ditjies en datjies gedagtes gewissel.

My en Helga se gesprek het op 'n kol noodwendig in die onnies se rigting beweeg. Ons het ons lot met mekaar gedeel en verdoemende uitsprake oor ou Potgieter se Wiskunde-huiswerk en ou Bok se ewige Natskei-eksperimente gelewer. Toe sien ek die teelaarde is gunstig, en ek spreek my eerlike
opinie oor die sangjuffrou uit.
"Weet jy, ou Pietie gee my 'n yslike pyn!!" het ek my hart verwoord.
Helga het gegiggel en my betig: "Haai jong, sjjt! Netnou hoor iemand jou!"
Dit kon my op daardie oomblik min skeel. Al die dae van gedwonge "maak groot oop die monde!" het by my mond uitgeborrel. "Ek's ernstig - en sy kan dit maar weet! Sy gee my nie net 'n gewone pyn nie, sommer 'n helse een!"

Die klok het gelui en ons het na die Afrikaans-klas begin aandrentel. Ou Ol was nou wel nie een van ons gunsteling-onnies nie, maar hy het jou ten minste darem nie die hele tyd met 'n valkoog dopgehou nie. Ons was dan ook net 'n entjie weg met die gebruiklike "oefening so-en-so, bladsy so-en-so", toe mnr. Le Roux (dis nou die Hoof) in die deur verskyn.
"Mnr. Olivier, is Kobus de Wet nou by u?" het hy met 'n kwaai stem gevra. Ek was natuurlik wit van die skrik.
Ou Ol het soos gewoonlik, oor sy voete geval om die Hoof te plesier: "Ja, mnr. Le Roux. Kobus, mnr. Le Roux wil jou spreek."

So stap ek toe ewe bedremmeld agter die Hoof aan, reguit kantoor toe. Hy het nie eens gaan sit nie, net die deur agter ons toegemaak en veels te naby, voor my kom staan. "So, JY is die mannetjie wat dit waag om juffrou Pieters te beledig! Wie gee jou die reg om so onopgevoed en ongeskik op te tree?!" Ek kon sien dat mnr. Le Roux briesend was en moes sekerlik ineengekrimp het van skaamte en verleentheid, want ek was bekend as die soet seun, die een wat nooit in die moeilikheid gekom het nie. Om te dink dat ek Helga vertrou het, dat ek my diepste denke aan haar openbaar het! Dit was sweerlik sy wat dadelik nuus aangedra het.

Nog voor ek behoorlik my gedagtes agtermekaar kon kry om myself te verweer, is ek hardhandig aan die arm beetgekry, vooroor gedruk - en is die maksimum straf toegedien: ses houe met die rottang!
Terwyl die houe geval het, het die Hoof sy diepe teleurstelling in my, uitgespreek en relaas oor hoe geskok my ouers sou wees en welke groot ideale en mooi dinge hy wat Hoof is, dan in my sou gesien het. Lyfstraf was die in-ding daardie tyd, 'n man moes maar op die tande byt en dit soos 'n man vat.
Ek het ou Knaf gehaat en Helga verwens!

Natuurlik het die hele episode verreikende gevolge gehad. Pa het my 'n tweede loesing gegee, terwyl Ma 'n Bybel-versie op my kopkussing neergesit het. Helga het toe ook geblyk onskuldig te gewees het want sien, juffrou Pieters was toe NIE afwesig daardie dag nie, sy het mooi agter die sygordyne gestaan en na ons (en veral my) mening oor die sangklasse geluister!

So het die juffrou my toe twee pyne gegee: die een was die rede, die ander een die gevolg. As ek nou mooi oor die sakie nadink, besef ek dat daardie ses houe die moeite werd was. Enersyds het ek van toe af  'n wag voor die mond geplaas, en andersyds het dit my aansien destyds 'n goeie hupstoot gegee. 'n Man wat die maksimum straf verduur het, nadat hy die algemene gevoel verwoord het, was nie sommer net nog 'n outjie nie!

Ek is jammer, juffrou Pieters, maar die herinneringe aan u, gee my nog steeds 'n pyn!

No comments:

Post a Comment