Thursday 26 December 2013

Hoor my lied ...

Dit was Oukersaand, 1968. Wouter was 'n sestienjarige wat, getrou aan sy fase, net op sport, meisies en eet ingestel was. Met die oorlaaide kostafel daardie aand in gedagte, het die lysie natuurlik omgeswaai, want EET was die eerste prioriteit!

Ma Susan het vroegmiddag begin om allerlei lekkernye en versnaperinge vir die tradisionele vingerete wat eie aan Kersfees in die Louws se huis was, voor te berei. Wouter het sy ma gehelp, want sus Louise het haar hande in die saligheid begewe, en kleinboet Jan was ... wel, te klein om enigsins van hulp te kon wees. Daar was kos in oorvloed: van tuisgebakte speserykoekies, worsies-op-'n-stokkie, lemoentert (Wouter se gunsteling), tot koue frikadelle en gemmerbier. Pa Gerhar-
dus het die dagskof van ses tot ses, gewerk en dinge moes agtermekaar wees wanneer Pa , moeg en befoeterd soos gewoonlik, by die huis sou kom.

Wouter was net oor een ding ongemaklik en kon dit nie uit sy gedagtes kry nie: sy beste vriend (Stefan) was die bure se seun, en Stefan en sy ma sou die aand alleen moes deurbring, want sy pa het die nagskof gewerk, tot sesuur die volgende oggend.

"Ma," het Wouter sy ongemak met sy ma gedeel, "dis darem nie reg dat tannie Alta en Stefan vanaand so alleen moet wees nie. Hier is mos meer as genoeg kos, kan ek hulle nie maar gaan nooi om by ons te kom eet nie?"

Hy het sy ma se effense huiwering verstaan, want dit was gewaagd en in 'n sekere sin onverantwoordelik om soiets sonder sy pa se toestemming te doen. Maar, dit was tog Krismis, 'n spesiale tyd van gee en deel met ander - hy was seker dat selfs Pa Gerhardus op so 'n aand sy hart sou versag.

"Jy's reg,  dis tog Kersfees, ek dink hulle sal dit baie waardeer", het sy ma dit ook gewaag.

Wouter het dadelik opgewonde oor die heining gespring, soos dit sy en Stefan se gewoonte was, en soos hy gehoop het, was Stefan-hulle spoedig by hulle en is daar heerlik geskerts en gekuier. Ou-
kersaand het 'n nuwe betekenis vir Wouter gekry, een van vrolik wees en ontspan, sonder om te wonder wat Pa Gerhardus se reaksie sou wees.

Gerhardus het toe eers halfagt se koers by die huis gekom. Toe hy die sitkamer binnekom, het hy merkbaar verstyf, vraend na Susan gekyk en onvriendelik gegroet. Hy is direk kamer toe om sy uniform te gaan uittrek. 'n Rukkie later het hy teruggekeer, en Susan het gesien dat sy vinnig 'n bordjie eetgoed in haar man se hand moes kry. Die geselskap het nie weer aan die gang gekom nie, en Alta en haar seun het beskroomd gegroet, Ma vir die 'heerlike aandjie' bedank, en huis toe geloop.

Die geskenke moes nog uitgedeel word. Gerhardus se tradisionele lees van die Kersverhaal uit die Bybel, die luister na die Weense seunskoor se 'Stille nag' en die kort gebed daarna, was met ingehoue emosie. Wouter en sy ma kon aanvoel dat die bom enige oomblik sou bars. Hy het sy bes probeer om opgewonde oor sy geskenk te lyk: Gé Korsten se langspeelplaat, 'Hoor my lied', met al Wouter se gunstelinge op (sy ma het dit vir hom gekoop).

Toe die laaste geskenkie oorhandig is, kon Gerhardus homself nie meer beteuel nie. "Wie de donner gee julle die reg om daardie mense hierheen te nooi?!" het hy geskreeu. "Dis ons gesinsaand, ek werk my gat af om dit vir julle moontlik te maak - en julle nooi vreemdes!" Hy was buite homself van woede. "Dis natuurlik weer jy wat jou pel hier wou gehad het! Hierdie oor-en-weer gekuier irriteer my al lankal - dit stop sommer nou, net hier!" Susan het nog probeer paai, maar Gerhardus
het nog 'n paar onkiese uitlatings gemaak,  en toe die agterdeur hard agter hom toegeklap - en hulle het hom daardie aand nie weer gesien nie.

Wouter kon die trane nie keer nie. Ook hy het die donkerte opgesoek, in sy kamer op die bed geval en
sy wanbegrip uitgesnik. Kersfees is dan 'n tyd van gee, van vrolik wees en vir mekaar omgee ...??

Laataand het hy gedempte stemme gehoor, daarna was dit grafstil in die huis. Buite kon jy hier en daar 'n klapper hoor, soms 'n vrolike gelag vanuit een van die buurhuise.

Dit was al laat in die nanag, toe Wouter sy bedlampie aanskakel en sy geskenk nadertrek. Hy het die trane weggevee en stil met homself gepraat: "Hoor my lied, ek sal NIE eendag so 'n pa vir my kinders wees nie ! Ek sal vir hulle lief wees en hulle sal nie bang vir my wees nie ... ".

Toe Wouter later jare sy eie plekkie gekry het en as werkende jongman, sy eie lewe kon lei,  het hy 'n groot plateversameling opgebou.  "Hoor my lied", was nie een van hulle nie.  Daardie plaat het hy
geredelik van ontslae geraak ...

No comments:

Post a Comment