Wednesday 4 December 2013

Ouma kyk rond.

'n Volwassene sal kan beaam dat dit nie maklik is om 'n motor in die pad te hou, as jy die passasier is wat moet oorleun om die stuurwiel so vanuit 'n hoek te moet hanteer nie. Sekerlik nie onmoontlik nie, maar hoogs ongemaklik en onnatuurlik. As jy egter 'n knaap van so ses of sewe jaar oud is, raak die situasie ietwat van 'n krisis ...

Ouma Marja (niemand behalwe oom Koos de Klerk, Ouma se broer, het ooit die doopnaam 'Maria' korrek uitgespreek nie) het na Oupa se dood in 1957 'n boervrou gebly en een maal per week die plaaspad dorp toe met die mouter aangedurf. Eers was dit met 'n gevaarte uit die veertigs ('n groen Chev, wat nog met 'n slinger gestaart is), maar toe koop Ouma 'n byderwetse Opel Kapitan waarmee sy oral rondgery het - natuurlik nie altyd waar 'n gebaande weg was nie. Sy het geglo sy ken 'elke duim' van Eerstegeluk en kon in enige rigting koers kies, die Opel sou sy ry kon kry.

Saam met al haar ander eksentrisiteite, was Ouma ook nog 'n geen-nonsens-mens. As sy wou ry, het sy gery - hoe en waar sy wou. Daar was wel 'n goed-uitgetrapte plaaspad wat soms erg verspoel was, maar dit het Ouma nooit van stryk gebring nie. Sy het eenvoudig net 'n nuwe omweg gemaak, so met die Kapitan se wiele saam. Verby oom Gert se opstal, was die spore al diep uitgetrap en het die middelmannetjie onder die kar geskuur - gelukkig net die gras wat so welig gegroei het. As die spore te donga-rig geraak het, is daar bloot net met die een wiel op die middelmannetjie en die ander een langs die pad, in die veld, gery en siedaar, binne 'n week of so was daar 'n nuwe plaaspad.

Ons het op Bethalstasie gebly, so sewe kilometer van Ouma se plaas af. Ek het dikwels oor naweke of wanneer Pa dit ookal sou toelaat, by Ouma gaan kuier. Dit het dan noodwendig ook 'n dorp-besoekie of twee beteken, want die roomkanne moes stasie toe en Lundall se kafee moes van eiers voorsien word, en daardie 'een-en-ses' (dis nou een sjilling en ses pennies, oftewel 15 sent in vandag se terme) was 'n waardevolle inkomste wat weer vir 'n blik Koffiehuis-koffie, of 'n pak Mazzawatta-tee gebruik kon word.  Ek het maar 'n bietjie skrikkerig langs Ouma gesit as sy so voet in die hoek, die draaie en swaaie gevolg het.  Dit was maar stamperige ritte, veral as Ouma so aan't beduie en vertelle. was, so ver as wat ons gery het. Jy moes destyds deur minstens vyf plaashekke, want Eerstegeluk was familiegrond en die plase was ingeryg, langs mekaar.

O ja, die ryery. Ouma het soms, terwyl die Kapitan nou so deur die plase gespoed het, haar hare versorg. Sy het die kar se trupieeltjie na wense gedraai, en was soms met beide hande besig om die haarnet weer om die bolla gespan te kry) - en dan moes ek die kar in die pad hou! Klein soos ek was, kon ek skaars die pad sien, maar ek het dan aan daardie stuurwiel geklou en my uiterste probeer om min of meer in die pad te bly. As ons van die plaaswerkers of hulle kinders langs die pad gekry het, het hulle by voorbaat op 'n veilige afstand uitgedraai, want hulle het geweet dat die Kapitan nie altyd die tweespoorpaadjie gevolg het nie. 

Op 'n dag het ons by Jannie van oom Hendrik se plaas verby gery, toe Ouma sien hoe mooi tannie Johannatjie se kannas aan die blom die blom was.
"Gou! Hou vas, ek wil Johannatjie se blomme sien!" het Ouma beveel, terwyl sy terstond gelos het en die Opel gevaarlik links, die veld in geswenk het! Ek het my oorhoeks geskrik, die stuurwiel beetgekry en op die een of ander wonderbaarlike wyse, die kar weer padwaarts kon stuur. Ouma het haar nie aan my angs gesteur nie, was te druk besig om lopende kommentaar, terwyl die kar dorp toe gespoed het, oor die blomtuin te lewer! 

Moenie dink Ouma was dankbaar vir my bestuurpogings nie ! As die kar te veel geskommel en die wiele nie mooi in die grondpaadjie se spore was nie, het ek 'n deeglike skrobbering gekry. Die gebruiklike 'my liefie' het vinnig in 'siet nou wat het jy aangevang !' verander. Sy sou my maklik daarvan beskuldig het dat EK ons wou laat verongeluk het! Soos ek genoem het, ek was nog 'n laerskool seun in die laer grade, maar dit het nie indruk op Ouma gemaak nie.

Toe ek in my eerste jaar op universiteit, vir my eie lisensie gegaan het, was dit 'n senutergende ervaring en het ek sulke terugblikke aan die ritte daar op die plaas, in my gedagtes gekry - allermins aangenaam ! Dit was asof Ouma weer langs my gesit het, en nie tannie Lappies nie (ons buurvrou, want Ma kon nooit bestuur nie en Pa sou my nooit kon leer nie - was altyd 'te besig'). 

'n Man praat nie graag daaroor nie, maar ek het my lisensie eers na twee probeerslae op Witbank, gekry. Ouma se kwaai stem spreek my nog telkens aan as ek nie die kar presies in die pad hou nie. So het ek tot op datum al 50 ongelukvrye jare van bestuur agter die rug. Dankie, Ouma ! 

No comments:

Post a Comment