Saturday 21 December 2013

Jeugdige vergryping.

My ouers het in die begin tagtigerjare op die dorpie Marble Hall gewoon. Dit was toentertyd maar 'n ou klein plekkie, vrekwarm en meestal droog. Tog was daardie droogte net tot die natuur beperk, want in die inwoners se lewens was dit allermins vaal en troosteloos!

Die bure (Grieke) had 'n kafee skuins oorkant die straat. Die goedige eienaar , sy vrou en jonger broer, het die onderneminkie bedryf. Hulle het twee seuntjies gehad, Panayottis en Jannie, van min of meer my broer se ouderdom. Die drietjies het die straat vol gespeel, was gedurig aan die beweeg. Kort-kort het jy een iewers hoor huil, of 'n luide bekgeveg wat oor die een of ander 'kroekery' tydens 'n speletjie, gevoer is. Soms was dit die hoenders of honde wat dit moes ontgeld. Hulle was besige gevreetjies, baie besig! As hulle by die een huis verwilder het, is die kwajongstreke by die ander huis voortgesit.

Die pa was 'n rustige, goedige man wat sy gang gegaan het. As die dae marmerwarm gebak het, het hy die spulletjie soms geroep en dan het elkeen 'n yskoue koeldrank, sommer so uit die kafee se yskas, gekry. Dit was nog die dae van koeldrankbotteltjies, wat jy na die tyd weer vir 'n paar sente kon gaan inruil het. Die karnallies het dit geweet, en soms 'n koeldrank of drie gegaps, leeggedrink en dan afgehol na die ander kafee om die hoek, waar die bottels vir Chappies (kougom) verruil is!

So gebeur dit toe dat die grootmense die Sondagmiddag 'n uiltjie gaan knip het, soos die gebruik was, en die kleintjies hulself moes vermaak - ook volgens roetine. Die kafee was Sondae net halfdag oop en die Grieke het die ruskansie deeglik benut. My broer en sy trawante was egter nie vir die rus-ding te vinde nie, hulle was aan't rondsnuffel en planne beraam om die vervelige middag te verwyl.

Meteens het 'n verskriklike gil die Sondagvrede middeldeur geskeur. Die gil is deur harde huilgeluide gevolg, asook voete wat verskrik wegkruipplek gaan soek het. Die twee ouerpare was gelyktydig buite, want daardie gil was een van groot probleme en almal het geweet dat iets erg moes gebeur het.
Daar vind hulle toe vir Jannie (hy was die jongste van die bende), op die grond langs sy pa se vragmotor, waarmee hy groente aangery het. Jannie se gesiggie was in die stof gedruk, hy het hartverskeurend gehuil en aanhoudend "Eina ... eina ..." gekerm. Almal het om hom gekloek, maar kon geen fisiese skade bemerk nie. Jannie het egter net harder en harder gehuil en die einas het 'n stortvloed geraak.

 Dr. Malan, destyds die enigste arts op die dorp, was Pretoria toe vir die naweek. Al genade was om die sowat agtien kilometer Groblersdal toe, te jaag. Daar was darem 'n kliniekerige hospitaaltjie, met 'n dokter of drie. Intussen het Pa-hulle die ander twee gesoek - en uiteindelik onder die bed in die spaarkamer gekry! Hulle was steeds wit van die skrik en moes behoorlik uitgesleep word. Na 'n paar ernstige dreigemente, het die middag se verhaal stuk-stuk ontvou. Die saak staan toe so: Panayottis het, toe dit gelyk het of die oumense almal aan die slaap was, onthou dat sy pa die Saterdag 'n paar biere in hul yskas gesit het. Op die snikhete Albastergat was soiets amper normale prosedure, veral oor 'n naweek. Ewenwel, hy (dis nou Panayottis) gaan haal toe 'n paar van sy pa se biere uit en oorreed die ander bendelede om in die verbodenheid te deel. Daar is toe onder die koraalboom 'n paar biere geknak - deur mannetjies wat nog skaars op skool was! Jannie was nog te klein vir skool.

By die hospitaaltjie het die dokter gou agtergekom dat Jannie na drank geruik het! Daar is oor-en-weer gebel, en die feite was gou op die tafel: in hulle beskonkenheid, het die drie musketiers besluit om op en in die lorrie te gaan speel. Jannie se kapasiteit was skynbaar die laagste, want hy was voor in die koor. Hy klim toe vol bravade bo-op die voertuig se dak, waar hy Zorba se dans (of iets dergliks) wou uitvoer. Hy verloor toe sy balans en tuimel af, reguit aarde toe! Toe hy so vreeslik aan't skreeue gegaan het, het die ander so vinnig as wat hul bene hul kon dra, weggehol en skuilplek gaan soek - vandaar die onder-die-bed deel.

Die diagnose was toe dat Jannie ligte harsingskudding opgedoen het. Miskien was hy die eerste vyfjarige wat soiets oorgekom het - nou nie van drink en bestuur nie, eerder iets soos suip en bekruip. Wys jou net!

No comments:

Post a Comment