Thursday 2 January 2014

Brief aan mnr. D

Geagte mnr. D

Verskoon maar die formele aanhef, my ouers het my geleer om ander se lewens, eiendom en gevoelens te respekteer en altyd in ag te neem.

Ek glo jy lag weer al die pad bank toe, na die talle plesiersoekers en toeriste wat oor die feesgety, van jou lodge / gastehuis gebruik gemaak het. Jy is glo die perfekte gasheer - en die voorbok as daar gejil en gefuif word. 'n Man wat die grappies laat rol en kwinkslae kan kwytraak. Dit gaan dus baie goed met jou, mnr. D.

Dit sou seker half onbillik wees om te verwag dat jy daaraan sal dink dat dit nou 23 jaar gelede is, toe jy (nogal in 'n GG-staatsvoertuig) ewe nonchalant daar in Generaalstraat afgesuiker het - en gesien het hoe klein laerskool-seuntjies voor jou oor die pad gehardloop het. Onthou jy? Hulle was so op-
gewonde oor hulle eerste oefening van die 'bulletjie-rugby' wat verby was, haastig om vir Pa of Ma te vertel hoe lekker dit was ...

Ja, ek weet jy het destyds beweer my seun 'het sommer voor die kar ingehardloop', en dat jy gesorg het dat daar nie eens 'n hofsaak was nie, maar na 20 jaar, mnr. D, ly die kind (nou 'n man ... sonder toekoms), sy ouers en broer, steeds aan die nagevolge. Beide pare grootouers is sedertdien in hul grafte in, maar ook hulle het enduit die pyn in hulle harte saamgedra.

Hoekom kan ek nie vergeet en vergewe nie? As ek nie kon vergewe het nie, mnr. D, sou ek snags nie 'n oog kon toemaak nie. Ek is (genadiglik) nie 'n haatdraende mens nie, maar ook nie een wat kan vergeet nie. Sien, ons het die afgelope 23 jaar, intens en diepgrondelik gely, mnr. D - waaragtig swaar gekry en leef steeds daagliks saam met die gevolge van jou daad.

Onthou jy, toe my seun daardie jaar - skaars 'n maand na die 'ongeluk' - verjaar het, het jy ons met 'n besoekie verras - selfs 'n pragtige, bruin trui vir hom as geskenk saamgebring. Ons het jou 'omgee' so baie waardeer, omdat ons stukkend was en na grashalmpies gegryp het om te kon oorleef. Min het ons geweet dat ons jou na daardie een, enkele besoekie, nooit weer sou sien nie ... nie eens weer van jou sou hoor nie. Geen telefoonoproep, geen SMS, geen groete-boodskap van geen aard nie ...

Is ek melodramaties? Kom ek noem net vir jou enkele gevolge waarmee ons deur die jare geworstel het (en steeds mee saamleef). Eerstens, ons kind is al in sy dertigs, maar het geen vriende nie, weet nie wat 'n liefdesverhouding is nie, sal nooit kan kar bestuur nie, is 'n eensame en onsekere persoon wat met mag en mening vasklou aan 'n duisend rand 'n maand se genade-werkie, want dis al sekuriteit wat hy het. Tweedens, ek moes my loopbaan vaarwel toeroep, sodat ek meer aandag aan hom kon gee en hom ook 'n mate van menswaardigheid kon laat ervaar. Derdens, sy oupa het van die skok ten tye van die wrede nuus, suikersiekte opgedoen - wat uiteindelik sy lewe gekos het. Vierdens,
ons (ek en my vrou) is nou in ons aftree-jare en die kommer oor behoorlike sorg (wat word van hom as ons wegval ?) vreet ons op! Hy sal altyd onder toesig moet wees, mnr. D, maar ons het die afgelope 23 jaar geleer dat, wanneer daar geld ter sprake is, jy niemand kan vertrou nie.  Ons moet eersdaags lewensbelangrike besluite oor ons eie - en gevolglik ook sy - toekoms, neem. Jy verstaan mos, ons het 'n kind vir altyd, tot ons die laaste asem uitblaas. Waar gaan 'n mens heen? Wie sal jou situasie kan verstaan, waarlik omgee en hulp verleen? Dis seker vir jou (in jou gunstige omstandighede) onmoontlik om 'n idee van ander se swaarkry te kan vorm. Iets soos 'n lekker gesinsvakansie, is ons nie beskore nie. Ons leef, om te oorleef, mnr. D.

Jy mag dalk dink dat daar 'n Derdeparty-uitbetaling was. Ja, daar was, maar nie naastenby genoeg om sy toekoms geriefliker of veiliger te kan maak nie. Sy mediese onkostes het die kruik maar goed leeg gemaak. Ons het die afgelope jare ons allerbeste gedoen om die lewe vir hom, so gerieflik en aangenaam as moontlik, te maak. Ek wens jy kon hom sien, mnr. D , 'n bietjie met hom gesels. Hy is 'n lieftallige, vriendelike jongman met 'n pragtige geaardheid. Hy dra nie 'n bril nie, loop nie mank nie en 'n mens kan nie dadelik agterkom dat iets in sy lewe skeefgeloop het nie. Dis net die geheue, die breinbesering het hom erg seergemaak, mnr. D - daar was te veel bloeding op die brein ...

Ongeskiktheidstoelaag? Ja, ons het probeer, maar die 'dame in beheer' het net een kyk gegee en die oordeel gevel: "He's not handicapped enough". Selfs die mediese fonds wil nie subsidie gee nie - volgens hulle is hy ook nie 'gestremd genoeg' nie. Dit maak ons moedeloos verby, mnr. D! Ons is so bekommerd oor die toekoms - sy toekoms veral. Ons dink tans daaraan om maar na 'n veel kleiner gemeenskap te verhuis, waar almal hom en sy omstandighede gou kan leer ken en (ons hoop so) sal omgee en hom menswaardig sal behandel.

Ag, hoe moet 'n mens dan ook sekere dinge met iemand anders kommunikeer? Twintig jaar is 'n baie lang tyd, amper 'n leeftyd. Dat hy dit tot hier gemaak het, was alles net genade van Bo. Dat ons dit tot hier gemaak het - nog meer genade! Daar kom deesdae meer en meer dae van vertwyfeling, van onseker wees oor wat vir ons almal wag. Dis seker maar menslik, in ons geval half noodwendig. Selfs noodgedwonge.

Voorspoed vorentoe, mnr. D. Mag jou besigheid steeds van krag tot krag gaan. Ek is seker jy kan goed vir jou gesin sorg, dat julle gelukkig is. Wie weet, dalk sal jy eendag weer in Generaalstraat af ry, en onthou ...

K.

No comments:

Post a Comment