Thursday 23 November 2017

Die droomhek

Dit was 'n maanverligte Desember-aand in 1974, toe ek en die befaamde wildveearts, dr. Eddie Young, voor een van Onder-Sabie se vinkneste (drie rondawels as 'n eenheid gebou) gesit en gesels het. Ons dagtaak was volvoer en ons het so met 'n koffietjie in die hand, rustig na die gesellige vuurtjies wat oral in die kamp sigbaar was, gekyk.

"Ek mis vir Vic", het Eddie die stilte verbreek. "Hy moes ongelukkig daar op Skukuza agterbly."

Ek het geglimlag en aan die mak jagluiperd gedink. Dr.Young het 'n paar dae tevore aan my verduidelik waar die naam "Vic" vandaan gekom het. Hy het dit self uitgedink, dis 'n afkorting vir "very important cheetah". Baie oorspronklik, het ek gedink. Dit was net Vic se ... ongemaklike gewoonte wat my die ritteltits gegee het! Die kolletjieskat het, wanneer hy jou van nader wou beskou, teen 'n mens opgespring, so met die voorpote teen jou skouers - en daardie stip, deurdringende kykers het jou as potensiele prooi getakseer (of, so het dit altans vir my gevoel!).

"Dis 'n baie besonderse dier daai! Sekerlik een van die wildtuin se mooistes, saam met die swartwitpens en die buffel", het ek my mening met Eddie gedeel.

Eddie het strak voor hom uitgetuur. Iets het gepla, dit kon ek duidelik agterkom. Ek wou egter nie vra nie, want ek was maar net 'n student wat vakansiewerk gedoen het, en hy 'n gesiene man wat alom bekend was.

Na 'n minuut of vyf, het Eddie gesug. "Ai, ek is diep bekommerd oor die bek-en-klouseer wat weer sy kop uitgesteek het. Die paar gevalle by Krokodilbrug het ons hanteer, maar ek is seker daar moet nog gebiede wees waar dit voorkom - ek het juis die ander nag 'n eienaardige droom gehad ..."

Hierdie keer het die nuuskierigheid my beskroomdheid gekelder. "Mag ek vra wat dokter gedroom het?"

"My droom was juis oor bek-en-klou. Ek het gedroom dat ek tussen 'n groot trop buffels was, en daar was 'n hele klomp van hulle wat die simptome gehad het. Verder onthou ek dit was by 'n ou hek, binne die wildtuin." Eddie het oor sy bles gevryf, so asof hy hard probeer het om daardie geheimsinnige, ou hek in sy gedagtekaart vas te pen.

Waarom, kon ek agterna nooit bepaal nie, maar op daardie oomblik het 'n herinnering op my onthou-skerm verskyn.

"Dokter laat my nou dink aan daardie stokou rondaweltjie daar op die grondpaadjie naby die Rabelaisdam. Dokter weet mos, dis nie ver van Orpen af nie."

Eddie se hand het op sy kop verstil. Hy het stadig opgekyk en bevestigend geknik. "Ja, ek weet presies waar daardie ou geboutjie is. Daar was 'n hek in die ou dae ..."

Dit was die einde van ons gesellige samesyn daardie aand. Eddie het my 'n rustige nag toegewens, en haastig na sy rondawel gestap.

Toe ek die volgende oggend vir ontbyt by die restaurant aanmeld, was daar geen teken van die wildtuin se hoof-veearts nie. Ek het ou Wilson, die hoofkelner, nader gewink.

"Was dr. Young al hier vir ontbyt?" het ek gevra.

Wilson was sy gewone, goedige self. "Ja, hy het gevra dat ek vir hom 'n toebroodjie vir die pad moes maak. Hy is weg, Orpen toe."

Dit was die jare voor selfone. Ek het al om die ander dag daarna , die kampbestuurder, oom Tielman Roos, gevra of hulle iets van Eddie Young gehoor het.

Na meer as 'n week, het een van die veldwagters wat die middag op Onder-Sabie kom eet het, die tyding gebring. Eddie Young slaap saans op Orpen, werk bedags daar naby die Rabelaisdam. 'n Groot trop buffels het daar saamgetrek - en tussen hulle was 'n hele paar wat die simptome van bek-en-klouseer getoon het.

So het Eddie se droom, en my herinneringe aan 'n vervalle, ou rondaweltjie, gehelp om as 'n soort voortydige GPS, die veearts na die regte plek te lei.

No comments:

Post a Comment