Sunday 12 November 2017

'n Tiekie se vreugde

Toe ons groepie agtjariges aan die begin van 1960 daar by Nuwe Bethal Laerskool, in klasse ingedeel is, het my vreugde en opgewondenheid geen perke geken nie! Nie alleen was ek, die mooie Marina en my beste albastermaat, Krisjan, in dieselfde klas nie - ons was op die koop toe in die mooiste juffrou in die skool, se klas!

Juffrou Niemand was enige seun wat ... wel, 'seun' begin voel het, se droom! Haar pragtige gelaatstrekke was met donker haarkrulle omsoom, en sy het elke dag ongelooflik lekker geruik. Ons het allerhande verskonings uitgedink om by haar lessenaar te gaan staan, net om die geur van haar wonderlike parfuum te kon inasem. Alles van en aan haar (dis nou wat ons kon sien en van bewus was) was prima verby!

Op 'n dag besluit die geluksgodin om my en Krisjan se glas van geluksaligheid, nog voller te maak. Juffrou Niemand vra of ons aan die begin van pouse na haar klas kon kom, daar was iets wat sy ons wou vra. So vinnig as wat ons bene ons kon dra, hol ons toe na klaskamer nommer 5, net na die klok uiteindelik gelui het.

"Dankie dat julle so gou gekom het", het die juffrou vriendelik en met daardie Penny Coelen-glimlag, ons nader gewink. "Ek moet van nou af, elke Donderdagmiddag na skool agterbly om korfbal af te rig. Julle weet mos waar oom Lundall se kafee is?"

Ek en Krisjan het beide vorentoe gebeur om eerste te kon reageer. "Ja, Juffrou!" het ons feitlik gelyk geantwoord.

"Dan is dit goed. Ek wil vra of julle twee outjies nie so gaaf sal wees om elke Donderdag, wanneer die laaste periode begin, vir my 'n pakkie slaptjips en 'n worsie by die kafee te gaan koop nie". Weer het sy ons met daardie engel-glimlag oorrompel.

Hierdie keer het ek Krisjan voorgespring. "Natuurlik sal ons, Juffrou! Die kafee is net twee blokke van die skool af!" Krisjan het oorgretig sy kop instemmend geknik.

Juffrou Niemand het opgestaan. "Nou goed, dan is dit afgespreek. Ek sal vir julle 'n tiekie gee, dan kan julle elke keer vir julle ietsie lekker koop om te kou as julle terugstap."

So het Donderdae, toe hemeldae vir ons geword. Ek was soggens al teen hanekraai aan die gang, en het telkens gesorg dat my ore skoongewas en my hare ordentlik gekam was. Krisjan het selfs van sy pa se Bryll Cream gegaps om sy hare ekstra glad en blink te kry. Ek het ook geweet waar Ma haar XXX-pepermente weggesteek het, en twee of drie in my sak gedruk, sodat my asem lekker sou ruik, indien ek met Juffrou moes praat.

Ek en Krisjan het daardie eerste Donderdag, oom Lundall se kiosk goed bekyk. Die tiekie was veilig in my broeksak, ons moes sien wat daar vir 'n tiekie beskikbaar was. Eers het ons Chappies oorweeg, maar ons ma's was beide anti-kougom en sou vinnig agtergekom het as ons borrels geblaas het. Toe het ons die Wilson's-toffies oordink, maar oom Lundall s'n was van daardie ekstra harde toffies wat jou 'n tand of twee kon gekos het as jy dit probeer kou het.

Toe sien ek die piepklein blikkies kondensmelk raak! Die Nestlé-fabriek was naby die skool, en vir presies 'n tiekie, kon jy een van daardie blikkies soetigheid koop. Die besluit was geneem: kondensmelk was koningskos, en iets wat ons maar selde in die huis gehad het. Ouma het gereeld vir ons 'n bieliekannetjie vol vars melk van die plaas af saamgebring, as sy 'n dosyn of wat eiers by die kafee kom aflewer het. Kondensmelk is net gekoop, wanneer ons Badplaas of wildtuin toe gegaan het.

Voor die kafee se sifdeur, was 'n botteloopmaker aan 'n houtstomp vasgemaak. Dit was mos die tyd van glasbottels, dit was lank voor die dae van koeldrankblikkies. Ons kon twee gaatjies in die kondensmelkblikkie se boonste gedeelte druk, en so die heerlike soetigheid uitsuig.

Die terugtog skool toe, was teen 'n heelwat stadiger pas as die stappie kafee toe! Ons het beurte gemaak om 'n teugie te vat, en het mekaar met 'n valkoog dopgehou. Die een sou nie toelaat dat die ander een, 'n groter slukkie as hy, gevat het nie.

Ons het nooit eens daaraan gedink om een van Juffrou se tjips te skaai nie, daarvoor was die kondensmelk te lekker! Ons passkatting was ook perfek, want as ons die laaste draai voor die skool, daar by Anna Koen-hulle se bloudakhuisie, gevat het, was die blikkie gewoonlik op sy laaste en moes jy hard suig, om 'n laaste, taai druppeltjie uit te kry.

Die Donderdag-roetine het net tot na die korfbalseisoen aangehou. Dit was ook goed so, want toe het my en Krisjan se vriendskap ook tot 'n einde gekom. Sien, HY wou toe mos skielik Annatjie Naudé se tas smiddae as ons huis toe gestap het, dra. Maar, dis nou weer 'n ander storie.

Ai! Waar is die dae toe 'n kleine tiekie, 'n twee-en-'n-halfsentstukkie, jou selfs na 'n Donderdag kon laat uitsien het ...



No comments:

Post a Comment