Sunday 17 December 2017

Ta' Anna vergeet haar waardigheid

Toe ek in die jare sewentig 'n Tukkie was, had atletiek my reeds in die sak. Op skool was ek 'n redelike atleet, maar op universiteit het 'n opwindende, nuwe fase van groot byeenkomste in die Pilditch- en Tuks se L.C. de Villiers-stadion, my ingewag.

Nee, ek was nie 'n deelnemer nie, maar wel 'n geesdriftige ondersteuner wat al die uitslae verslind het en elke erkende atleet kon eien. Onwillekeurig het ek my dan ook dikwels by groot byeenkomste, in die geselskap van bekendes bevind.

So was daar die Woensdagaand-byeenkoms te einste Pilditch, waar die talentvolle Johan Fourie 'n aanslag op die nasionale 1500m-rekord sou maak. Ek was vieruur se stryk reeds daar, het 'n bietjie rondgedrentel en met genoegdoening gesien hoe die atlete begin opwarm het.

Dries Lategan en Marcello Fiasconaro het gesels-gesels om die baan gedraf, terwyl Claudie van Straaten en haar afrigter, Chris van Onselen, aan eersgenoemde se wegspring geskaaf het. Die nimlike Johan Fourie was ook reeds besig om litte los te maak - met die gebruiklike ge-oe en ge-aa van vroulike bewonderaars wat hom oral agtervolg het.

Dit was 'n heerlike lentemiddag en ek het later myself op die graswalle oorkant die wenpaal, tuisgemaak. Om my was 'n klompie mede-entoesiaste, sommige met piekniekmandjies,  kampeerstoele en reisdekens, wat alles tot 'n feestelike atmosfeer bygedra het.

Skuins voor my, het 'n gryskopdame van gevorderde jare, die hare in 'n koeksister-bolla georden, ook langbeen op die groen gras gesit en vrolik gewuif, wanneer van die atlete voor haar verby gedraf het. Toe Johan Fourie om die draai kom, het sy haar hande bak om haar mond gemaak en geroep, "Hallo Johan! Ek hou duimvas, hoor!" Hy moes haar geken het, want hy het opgekyk en met 'n bree glimlag, terug gewuif. Die tannie het van pure opwinding, so driftig hande geklap dat ek haar armbande kon hoor klingel.

So het die byeenkoms toe begin, en een na die ander item is afgehandel. Die standaard was nogal hoog, 'n hele aantal atlete het met persoonlike beste vertonings vorendag gekom. Die aankondiger (die einste Chris van Onselen) het deurentyd gewag gemaak van die rekordpoging waarna die skare kon uitsien. Johan Fourie se naam is kort-kort om my genoem, die afwagting het opgebou.

Uiteindelik was dit tyd vir die 1500m vir mans, die heel laaste item van 'n suksesvolle aand. Die wegspring was net na die eerste draai, en ek het 'n bietjie vorentoe geskuif sodat ek mooi kon sien wie almal in die wedloop sou wees. Sodoende het ek langs die tannie met die koeksister-haarstyl te lande gekom. Sy het vriendelik gegroet en na die groepie 1500m-manne gewys.

"Johan Fourie is die een met die blonde hare", het sy beduie. "Dis hy wat vanaand die rekord kis gaan hardloop!"

Iets aan die waardige dame, het baie bekend gelyk. Ek het my gedagtes in alle rigtings gestuur, maar kon net nie op haar naam kom nie. Daardie haarstyl veral, moes ek iewers al gesien het - en die teatrale gebare wanneer sy beduie het, was eweneens nie van vreemde oorsprong nie.

"Ek hoop so!" het ek my praat terug gevind. "Hy het nou al 'n paar keer baie na aan 'n nuwe rekord gekom - hy verdien dit."

Die vrou het behoorlik geblom. "Ek kan sommer sien jy ken jou atletiek! Johantjie is baie na aan my hart, hy is 'n pragtige mens!"

Daarna het die dreunende stem van Van Onselen en die skare se luide aanmoediging, enige verdere woorde tussen ons, onhoorbaar gemaak ... tot die atlete die pylvak vir die laaste keer binnegenael het.
Tannie koeksister het opgespring, die arms geswaai - en my toe sommer aan die arm beetgekry en opgetrek. Ek moes saam die man met die blonde kuif en fris bene, na die wenpaal help aanmoedig.

Die aankondiger was amper histeries! Hy het die sekondes oor die luidsprekers afgetel, dit was bitter naby. Toe Fourie deur die wenpaal was, het hy sy arms in die lug gegooi en met gebalde vuiste geglo dat die rekord, syne was.

My graswalgenoot het, van pure opgewondenheid, my aan die skouers gegryp en omhels. So byna-byna was ek en sy, die walle af na benede! Ek moes die tannie stewig vashou, want sy het haar ewewig verloor en kon net betyds weer haar waardigheid herwin.

Toe het die besef van wie sy was, my van pure skok in my spore laat verstyf. Die befaamde aktrise wat as die doyen van die Afrikaanse toneel beskou is; die een wat met haar vertolking in meesterstukke soos Hamlet, Elektra en Oedipus, selfs internasionale erkenning geniet het; die gevreesde lektrise wat jou met die vloer kon gelykmaak - dit was SY wat haar waardigheid verloor het (en selfs in my arms beland het!).

Ek praat natuurlik van professor Anna Neethling-Pohl, die eksentrieke en merkwaardige kultuurfiguur wat diep spore in Suid-Afrika se kultuurgeskiedenis getrap het. Sy, die skoonsuster van W.E.G. Louw (broer van die meer bekende N.P. van Wyk Louw), het my, onbenullige eerstejaartjie, daar op Pilditch se graswalle, omhels!

Dankie, Johan Fourie! Ek kan nie eens onthou of jy toe wel daardie aand die rekord verbeter het nie, maar ta' Anna se oomblikke van onwaardigheid, sal ek saamneem graf toe.

No comments:

Post a Comment