Sunday 5 November 2017

Bydrae tot die opgradering

Die uwe was vir meer as drie dekades, die man agter die mikrofoon by talle skole-atletiekbyeenkomste. Selfs opponentskole het van my entoesiasme vir atletiek, gebruik gemaak - gewoonlik met 'n byvoordeel of twee, maar eenkeer met skokkende gevolge!

Ek kon nooit verstaan waarom skole so gesukkel het om aankondigers te kry nie. Dink net: jy sit daar hoog en droog, sien alles vanuit 'n bevoorregte stoel en kan beide baan- en velditems ten volle geniet. Op die koop toe, het jy kennis van alle uitslae, en kan jy 'n atleet se vordering monitor. Vir hierdie geswore atletiekman, was dit 'n takie wat lekkerder as roly-poly was!

Toe gebeur dit dat die destydse hoof van 'n Laeveld-skool, vra of ek nie asseblief as aankondiger by hul jaarlikse vriendskaplike byeenkoms sou optree nie. Natuurlik het ek dadelik ingestem, veral ook omdat ek en die hoof mekaar dikwels op die tennisbane tydens ligawedstryde raakgeloop het en goed bevriend was.

Omdat 'n nuwe onthaallokaal (waarbinne die aankondiger se hokkie was) in aanbou was, is 'n vierkantige tent langs die gebou opgeslaan, met die klankstelsel en die nodige tafels en stoele vir my en die twee dames wat die uitslae moes verwerk, binne. Dit was geen probleem vir my nie, want die mense was die vriendelikheid self en ek het sommer geweet dat dit 'n aangename dag sou wees.

Die enigste teeblaar in die koppie, was die feit dat dit die oggend vroeg gekiesa het en die area rondom genoemde tent, is vinnig deur die baie voete wat daar verby is, tot pappery getrap. Langs die tent het die water 'n klein dammetjie gevorm, met 'n moedswillige stroompie wat onder die tentflappe deur, die tydelike 'aankondigerslokaal' binnegesyfer het.

Dit het my effens gepla dat die elektriese bedrading grondlangs vanaf die onvoltooide gebou, na die tent aangele was, maar die byeenkoms was vinnig aan die gang en ek moes die eerste groep items se atlete uitroep en my aandag by die 400 m hekkies vir seuns 19, bepaal. 'n Paar ander hekkies-items het gevolg, en die eerste uitslae moes gelees word.

Toe ek die mikrofoon vir die uitslag van die 300 m hekkies vir meisies 15 aanskakel, het ek net sterretjies gesien! Dit was asof 'n weerligstraal my getref het - en ek was uit soos 'n kers! Agterna sou ek hoor dat 'n paar oorblufte en gewillige arms my na die noodhulptent gedra het en ek na 'n ruk weer daar tot die land des lewendes bygebring is.

Genadiglik was die skade nie te erg nie, ek kon na 'n uur of wat weer orent kom en weer van alles en almal om my, bewus raak. My hart moes heel sterk gewees het, want die elektriese skok het my met geen mediese nagevolge gelaat nie.

Die gasheerskool se hoof en personeel het om my gekloek, warm koffie en soetgoed aangedra en herhaaldelik verneem of ek 'oukei' was. Dit was 'n groot verleentheid vir hulle, ek het my bes gedoen om hulle gerus te stel en probeer om met 'n kwinkslag of twee, hulle kommer te besweer.

Die gevolge van my redelik traumatiese ondervinding, was nogal heel verreikend. Behalwe dat die skool se adjunkhoof toe inderhaas by my as aankondiger moes oorneem (my versekering dat ek met my taak sou kon voortgaan, het op dowe ore geval), is ek teesinnig na die plaaslike hospitaaltjie geneem, waar deeglike toetse op my uitgevoer is.

Die daaropvolgende jaar, sou ek egter eers die grootste reperkussie van my skokkende (!) ervaring, verneem. Die bouplanne is inderhaas gewysig en die aankondigerslokaal in die nuwe klubhuis, is vergroot en met die nuutste klanktoerusting - met die beste veiligheidskenmerke! - toegerus.

Weer was die uwe agter die mikrofoon, maar hierdie keer in styl en groot gerief . Gedagtig aan wat die vorige jaar gebeur het, is daar na my welstand verneem, en koffie en melktert is al om die ander uur, aangedra. Soos reeds genoem, was die byvoordele nie te versmaai nie!

Die beamptes wat deesdae die gemak en gerief van Hoerskool Sybrand van Niekerk daar op die mooie Sabie, se pragtige klubhuis geniet, weet nie eens dat ene Kobus de Wet, 'n direkte, ongemaklike bydrae tot die opgradering, gelewer het nie!

No comments:

Post a Comment