Monday 13 November 2017

Naelloop met 'n verskil

Elkeen wat in die jare sestig 'n leerling in Laerskool Elandshoek was, sal met my saamstem dat dit 'n groot voorreg was! Die omgewing was idillies mooi, die klein plaasskooltjie het gesorg dat elkeen van ons individuele aandag gekry het - en die gewone skoolaktiwiteite is op vindingryke en onvergeetlike wyses aangebied.

Oom Bert Kleynhans was die skoolhoof. Die geboutjie was hoog op, half teen 'n berg gelee, met oom Bert se 'ampswoning' nog 'n entjie verder op. Hy het selfs 'n paar melkkoeie aangehou, en die skool het soggens eers begin wanneer oom Bert klaar gemelk het! Afhangende van hoe lank dit oom Bert geneem het om die koeie die oggend aan te keer en die melkproses af te handel, sou die koper handklok dan enige tyd tussen halfagt en halfnege, die skoolbegin tot doer onder in die vallei, aankondig.

Daar was net drie klaskamers: een vir graad een, twee en standerd een; een vir standerd twee en drie; en dan die derde een vir standerd vier en vyf. Ons was net vier en sestig kinders in die skool, van wie omtrent 'n derde vanaf Kaapschehoop en Coetzeestroom, per bus aangery is.

 Ek was die enigste een van Ngodwana, waar Pa die stasiemeester was. Soggens het Pa my onder 'n groot doringboom, daar waar die dorpie Ngodwana se winkelsentrum vandag is, afgelaai en smiddae weer kom oplaai. Ek het ook in die Kaapschehoop-bus gery, so 'n vuilgeel Guy-bus met 'n plat neus en die profiel van 'n Rooihuid, voor teen die enjinkap.

Gedurende pouses, het feitlik die hele skool se kinders, klippie-agter-die-rug op die sestien trappies wat af na die parkeerterreintjie, onder by die flabojantbome, geprakseer was, gespeel. Die paar wat nie saamgespeel het nie, was van die ouer seuns wat gewoonlik na rook geruik het.

Maar, ek wil van die atletiek vertel. Om 'n span te kon kies wat aan die jaarlikse interlaer op Nelspruit sou kon deelneem, was Elandshoek genoodsaak om kragte met 'n nog kleiner skooltjie in die omgewing, Berlin, saam te snoer. Berlin was 'n bosbouskooltjie, hoog in die berge na Kaapschehoop se kant toe.

Omdat Elandshoek se skooltjie so teen 'n skuinste op was, was gelyke areas maar aan die skraps kant. Die skoolgebou het feitlik die hele gedeelte wat teen die berg wat min of meer waterpas was, beslaan. Daar was dus nie sprake van 'n atletiekbaan (of enige ander sportvelde) nie.

Toe maak oom Bert-hulle 'n plan. Die koeie het met die jare 'n sydelingse paadjie teen die berg uitgetrap. 'n Paar hulpvaardige ouers het hand bygesit, en die paadjie is verbreed, skoongeskoffel en gelyk gemaak. Die leerlinge moes help om al die klippies en dorings te verwyder, sodat daar kaalvoet op daardie gedeelte, gehardloop kon word. Oom Bert, 'n lang man, het self die vyf en twintig tree afgetree.

Toe moes daar uitdunne gehou en geoefen word! Geen verskonings is aanvaar nie, almal moes die stof-'baan' trotseer. So hier en daar, het iemand 'n gilletjie gegee wanneer 'n skerp takkie of doring wat die skoonmaakproses oorleef het, onder 'n voet beland het. Die uwe was nie veel van 'n naelloper nie, maar ek het nogtans my beste gegee - met die hoop dat die mooie Elize French my sou raaksien!

Om vir die 50 tree te oefen, was 'n verdere uitdaging. Soos ek reeds gemeld het, die 'baan' was net vyf en twintig tree lank, presies die afstand wat een van die vier atlete tydens 'n aflos, moes afle.

Weer moes innoverend gedink word. Mnr. Ebersohn, die enigste ander mansonderwyser, besluit toe dat juffrou Vera as't ware die ideale 'aflosstokkie' sou uitmaak. Sien, jy hardloop op jou vinnigste tot by haar, raak aan haar (ons het van "touch" gepraat), vlieg om so vinnig jy kon - en le dan weer rieme neer na die beginpunt toe. Soos dit hedendaags met 'n Chad le Clos die geval is, was dit die "touch" en omvlieg, wat jou sukses bepaal het.

Koos Pieterse, ook in standerd twee, was nogal heel vlugvoetig. Hy was seker van sy plek in die span, maar hoe hy ookal aangemoedig is, hy kon net nie die raak-en-omvlieg deel vinnig genoeg doen nie. Daar is geskree, geraas en gefluit, maar Koos se voorsprong het net tot by juffrou Vera gehou.

Nou ja, ek en Koos was busmaats en was destyds die enigste lede in ons eie bende. Ons het nie geheime vir mekaar gehad nie, daarom het ek een middag na oefening, vir hom gevra hoekom hy nie daardie belangrike draaislag, onder die knie kon kry nie.

Koos het effens gebloos, en toe met die waarheid vorendag gekom. "Ag, ek gee nie om dat ek nie vinnig kan draai nie. Dis darem baie lekker om aan Juffrou te vat!"

Koos het daardie jaar nie te waffers by die interlaer gevaar nie. Dit was veral die 50 tree wat buite sy gemaksone was, want daardie "verposinkie" by die draaislag tydens die oefeninge, het sy ritme soos in heeltemal versteur en hy was duidelik nie gereed om die hele naelloop sonder 'n "touch" te voltooi nie!


No comments:

Post a Comment