Sunday 5 November 2017

Hy sal voorsien ...

Soms kom die liggelowige mens voor 'n oenskynlik onoorkombare kloof te staan. Jy dink in alle rigtings, maar lig wil net nie deurbreek nie. Maar, daar IS altyd hoop - soos ek in my eenvoudige menswees, tot my groot verleentheid moes ondervind.

Ons jongste, Gert, se grusame tref-en-trap ongeluk in 1994, het die wind heeltemal uit ons seile geneem. Te midde van bitter min slaap, konstante gebede en groot kommer oor die astronomiese finansiele implikasies, het die lewe ons via die Nelspruit MediClinic, Park Lane-kliniek in Hillbrow en Barney Hurwitz-instuut in Brixton, op 'n feitlik onhanteerbare wipwarit van tuimelende emosies, meegevoer.

Breinskade - en dit by 'n kind van skaars sewe jaar oud - is as sulks reeds 'n vreesaanjaende gedagte. My vrou het pal aan Gert se sy gebly, maar ek moes terug Barberton toe, waar ek so goed as wat ek enigsins kon, met my dagtaak aangegaan het - veral ter wille van ons ander seun, vir wie die lewe (hy was toe net nege) ook onverwags erg gekompliseerd geword het. Naweke het ek die langpad Johannesburg toe, aangedurf en telkens gebid dat ek tog net veilig daar , en weer op ons tuisdorp, sou uitkom.

Verblyf was natuurlik 'n verdere uitdaging. Die hospitaalbestuur het goedgunstiglik ingestem dat my vrou tydelik in die verpleegsterstehuis kon aanbly, maar daardie vergunning het nie vir my gegeld nie. Na 'n paar naweke in ongerieflike, ver oornagplekke was ons geldjies boomskraap. My vrou het mooi gevra, en toe stem hulle in dat ek een naweek by haar in die tehuis kon bly. Die tarief sou later met my uitgeklaar word.

Daardie Saterdagmiddag, gebeur daar toe twee uiteenlopende dinge: een wat vir ysvingers om die hart gesorg het; en een wat tot trane en skietgebede van dankbaarheid, gelei het.

Terwyl ons so om Gert se bed gesit en angstig op enige teken van herstel gewag het, daag sy  klasonderwyseres (Esmarie Jacobs) onverwags daar op. Sy was die naweek by haar ouers aan die Rand, en het besluit om na Gert se welstand te kom verneem. Ons was verheug! Gert was erg oor sy juffrou, en ons kon verstaan waarom sy so diep in sy hart gekruip het. Haar vriendelike en innemende persoonlikheid, opregte meelewing en medemenslikheid, was 'n groot troos vir ons en ons het die besoekie so baie waardeer. Die bloedrooi speelgoedkarretjie wat sy saamgebring het, sou sekerlik gehelp het om Gert se gemoed op te kikker.

Toe sy opstaan om te groet, het die juffrou 'n beterskapkaartjie (in 'n koevert) aan ons gegee. Sy het
vriendelik gegroet, en ek het saam met haar na haar motor gestap. Ek het haar 'n veilige terugreis toegewens, en weer die gebou binnegegaan om sommer daar by die ontvangskantoor, te gaan verneem hoeveel ek hulle vir my verblyf van twee nagte, geskuld het.

Wat 'n skok! In vandag se terme, klink vyf honderd rand nie na baie geld nie, maar glo my, in 1994 was dit nie sommer kleingeld nie - veral vir ons, wie se bankrekenings in die droesem was. Nadat ek brandstof vir die terugreis moes ingooi en twee burgers vir aandete gekoop het, het ek nie eens die helfte van die vereiste bedrag gehad nie!

Daardie aand het ons verslae, en tot die dood toe moeg, in die kamer gesit en mekaar probeer troos. Ons het nie familie of kennisse in die stad gehad by wie ons hulp kon gaan vra het nie. Ek het op 'n stadium belangeloos die koevert met die kaartjie in, oopgeskeur ...

Binne-in die beterskapkaartjie, was 'n mooi, besielende boodskappie - en presies vyf honderd rand!
Ek het die meegaande naskrif vir my vrou gelees, "Gebruik dit maar na goeddunke. Dit word met liefde gegee."

Ek het my kop weggedraai en kon die trane nie keer nie. Skaamte het my oorval, omdat my geloof so klein en ek so 'n swak mens was. Hoeveel keer moet die Here dan nog bewys dat by Hom, niks onmoontlik is nie?

Gert was na 'n maand weer by die huis, en het sedertdien merkwaardig herstel. So hét  Hy inderdaad voorsien ... en doen dit steeds, na al die jare!


No comments:

Post a Comment