Thursday 12 October 2017

Klippe om den brode

Wanneer 'n man se goeie en edele bedoelings deur die storms van rampspoed en ellende vernietig word, kos dit klipharde werk en 'n onwankelbare geloof om kop bo water te hou. Dan word die woorde "nogtans sal ek juig",  'n uitdaging wat mannemoed, perspektief en vernuwing, verg.

Tobie van Rhyn het meer as net die goeie lewe tydens sy jeugjare leer ken. Die familieplaas "Fleurensee" was alom bekend as die mooiste, vrugbaarste en winsgewendste grond wat die Boland kon gee. Tobie se pa, Renoux, was een van die suksesvolste wynboere in die ganse Wes-Kaap. Sy ma (Genine) het die statige herehuis met sy waardevolle erfstukke, met grasie en liefde versorg en in 'n gewilde hawe vir familiebyeenkomste en ander sosiale geleenthede, omskep. Die Van Rhyns was gewilde, gerespekteerde en geliefde inwoners van die Franschhoek-vallei.

Op die ouderdom van skaars sestig jaar oud, sterf Renoux na 'n skielike beroerte. Genine het nie kans gesien om sonder Renoux met die boerdery aan te gaan nie, en die plaas is op die naam van hul enigste kind, Tobie, geregistreer. Genine het op Somerset-Wes, waar sy en Renoux jare tevore 'n aftreeplekkie aangeskaf het, haarself uit die kollig verwyder en die lewe van 'n ontheemde weduwee gaan lei.

Nie lank nadat Tobie beheer van "Fleurensee" oorgeneem het nie, het hy hom in 'n huwelik met 'n predikantsdogter uit die Hantam, Elaine Weich, begewe. Haar preutse opvoeding en gekondisioneerde lewensuitkyk a la die 'Tien Gebooie', het haar nie baie gewild by die Van Rhyns se vroeere vriendekring gemaak nie. Een na die ander het hulle begin wegbly, veral wanneer Elaine weer geroepe gevoel het om in diep, geestelike gesprekke met hulle betrokke te raak en hulle van godsdienstige traktaatjies te voorsien.

Gaandeweg het Elaine ook met Tobie se kop begin smokkel. Hulle was mos die wettige eienaars van die plaas (al was die huwelik 'buite gemeenskap van goedere'), waarom kon hulle nie die Boek gehoorsaam en hul skatte met armes deel nie? Meer nog: hoekom staak hulle nie die "onsinnige en perverse" wynmakery nie, en verander die plaas in 'n kampterrein waar Christelike groepe kon vergader en die saak van die Here, in die vrye natuur kon dien en bevorder nie?

Elaine was knaend! Arme Tobie het geen kans gehad nie; sy het hom soos 'n goddelose laat voel wanneer hy enigsins dit gewaag het om kapsie te maak. Kort voor lank, is planne opgetrek. Die bou van 'n groot jeugsentrum, kompleet met wooneenhede, kombuis en lesing- en ontspanningsaal, was die volgende stap. Die aansienlike paar miljoen rand wat benodig is, sou tog sekerlik nie 'n probleem kon gewees het nie - hulle het mos die sekuriteit van 'n pragplaas in die wondermooie Boland, gehad.

'n Reuse lening is aangegaan. Spoedig was die geld nie genoeg nie, daar moes na nog geldskieters gesoek word. Terwyl die een struktuur na die ander verrys het, het die besef dat alles 'n groot (TE groot) waagstuk was, by Tobie en Elaine begin spook ...  Om alles te kroon, het van die verwagte toeloop van besprekings, ook dadels gekom.

Vinniger as wat enigeen kon verwag, het die balju opgedaag om namens die talle skuldeisers, terugbetaling te eis. Waardevolle familie-erfstukke het eerste in die slag gebly. Daarna is voertuie teruggeneem ... en uiteindelik het Tobie en Elaine alles verloor - ook vir Fleurensee.

'n Goedgesinde buurman op 'n nabye plaas, het sy gastehuis as tydelike verblyf aangebied. Elaine het 'n pos by 'n apteek op die dorp, gekry. Tobie was werkloos, en het al om die ander dag, sy lot by die sendelingpredikant gaan bekla.

Op 'n dag, het Tobie - wat al verby moedverloor se vlaktes was - langs die rivier op 'n groot klip gesit en kop-onderstebo na die kabbelende water gestaar. Toe skiet 'n plan hom ineens te binne: hy was omring van pragtige. ronde rivierklippe - hy kon dit bymekaar maak en aan kwekerye verkoop! Hy mog nooit weer 'n besigheid registreer nie, maar hulle kon dit in sy vrou se naam doen.

Meer uit bejammering as enige iets anders, het die boere wie se plase aan 'n rivieroewer gelee is, ingestem dat Tobie van die klippe kon oes. Tobie het genadiglik sy oudste bakkie behou, en dié was net die regte ding om die klippe mee te karwei.

Vandag is Tobie se vuilwit bakkie, met die sakke rivierklippe agter op die bak, 'n bekende gesig op die Boland se paaie. Daar word simpatiek vir hom so in die verbyry gewuif, en as jy naby die bakkie kom, merk jy die plakker agter op die kajuitvenster: 'Nogtans sal ek juig!'

No comments:

Post a Comment