Sunday 1 February 2015

Raat vir my tennismaat

Dit was die tagtigerjare van die vorige eeu, ek was nog hups en kadups. Saterdae was tennisdae - dan het ons die Laeveld platgery om liga te speel. Plekkies soos Hazyview, Witrivier , Malalane en Ngodwana, het almal 'n heel aktiewe tennisklub gehad en daar is ywerig gespeel. Nie altyd vir die wen nie, maar om na 'n week se om-den-brode, 'n bietjie te kon ontspan en skouers met buurdorpe se sportgenote te skuur.

So beland ons, dis nou Barberton se span, toe daardie Saterdag op Ngodwana, of eerder by die Clivia-klub, 'n paar kilometer buite die dorpie. Die omgewing was pragtig, die bane in 'n goeie toestand en die eet- en drinkgoedjies het heel aanloklik gelyk. Omdat die klub teen 'n hoogte was, het jy 'n mooi uitsig oor die Elandsvallei gehad (die papierfabriek se rook, ten spyt).

'n Kragmeting het bestaan uit twee mans- en damesdubbels, en daarna vier gemengde dubbels. My gereelde maat in die gemeng, was Hilda. Ons het mekaar se spel goed geken, en geweet wat die ander se sterk- en swakpunte was. Daar is toe besluit om eers die gemeng agter die rug te kry, en daarna die res. Dit het heel voorspoedig gegaan, en met sy groter diepte, was die Barberton-span gou in 'n gunstige posisie. Na die eerste wedstryde, is daar eers gekuier - en dis toe dat ek sien wat aan't gebeure was ...

Konrad Swiegers, my mansdubbels-maat, het reeds in die motor gekla dat hy die vorige nag nie 'n oog toegemaak het nie. Hy het kort-kort gehoes, jy kon sien dat hy 'n lelike griep onder lede gehad het. Sy gesig was rooi opgeswel, en toe ek met hom praat, kon ek die koors aanvoel - die man was regtig baie siek! Ek het hom probeer oorreed om nie die dubbels te speel nie, maar die koppige hy wou niks weet nie - hy sou nie sy span in die steek laat nie. So is ons toe op die baan, en ek het met hom afgespreek dat hy net voor by die net moes speel, ek sou die hardloopwerk op die agterbaan behartig. Dit het dan ook goed uitgewerk, en ons het gemaklik gewen.

Na die oor-en-weer groetery, is ons toe daar weg. Ek het bestuur, en Konrad het met moeite sy kop regop gehou. Sy asem het gejaag en hy was nog meer opgeswel. Ek het doodbenoud geraak, want Barberton was ver en my vriend het op my staatgemaak om hom so gou as moontlik, by die huis (en dokter) te kry.

Toe onthou ek wat ek eenkeer by my ouma gehoor het. Dit was 'n ou Boereraat, het glo soos 'n bom gewerk: boegoebrandewyn ! Wel, ons moes in elk geval by die destydse Montrose-hotel verbyry, ons kon netsowel gou daar stop en vra of hulle die wondervoggies in voorraad gehad het. Konrad het net liggies geprotesteer, hy was te siek om enigsins werklik om te gee wat ek met hom sou aanvang.
Genadiglik het die kroegman 'n bietjie boegoe gehad, en skink vir ons elkeen 'n sopie. Konrad het geproes en genies, maar die doepa was in! Toe besluit ek dat nog 'n dosis, dalk die herstelproses sou versnel - en ek jaag hom nog ene in. Ekself moes natuurlik matigheid nastreef, ek was immers die bestuurder. Konrad was nie meer homselwers nie, want toe ons sien, had hy sommer vir homself nog 'n dop geskink en gesluk - sy derde!

Mens, ons is toe met 'n gejuig daar weg. Die man langs my in die kar, het onophoudelik gepraat, soms geneurie en skelmpies gelag. Hy het gebare gemaak, die hande deur die hare gevryf en sy gesig op allerlei innoverende maniere getrek. Ek moes hom tot bedaring prober bring, want ek kon moeilik my aandag by die pad bepaal. Ek het begin om hom oor sy kinderjare uit te vra, sy vrou en kinders. Hy het maar te gretiglik en in breedvoerige detail, relaas oor al die familieskandes, sy eie vrese en prestasies, sy geheime begeertes - en wat nog alles!

Toe ons na sowat 'n uur by Hilltop-pas afry, was Konrad in sy laerskooldae op Vivo. Hy het 'n draai by die skelm rook agter die maroelabome gemaak, toe by sy eerste soen by 'n Sondagskool-piekniek. Sonder om enigsins te weifel, het hy my sy groot vertroueling gemaak, my van 'n hele paar erg persoonlike dinge vertel, wat hy gewis by sy volle positiewe, nooit as te nimmer vir enige sterfling sou rep nie. Ek het skoon aardig gevoel, so met al die geheime saam. Toe ons Barberton binnery, was daar niks omtrent die gees en die vlees van Konrad Swiegers, wat ek nie geweet het nie !

Ja, hy moes toe vir 'n dag of wat hospitaal toe, en ons is goed deur dr. Roets geroskam: ek omdat ek toegelaat het dat Konrad in sy siek toestand dubbels gespeel het; en hy omdat hy enigsins daardie Saterdag daaraan kon dink om met 'n grieplyf, tennis te wou speel.

My ouma se raat het my tennismaat nie gesond gemaak nie, net sy tong buite beheer losgelaat. Jare daarna het hy my nog daardie KYK gegee, omdat hy geweet het, ek weet ... alles van hom!

No comments:

Post a Comment