Tuesday 3 February 2015

Dwarsklap vir 'n kombi

Almal op Lydenburg het oom Jannie geken. Hy was sekerlik die geliefste onderwyser van sy tyd. Die skool se groot Nissan-bus, was ook alombekend - sekerlik die mooiste bus in die kontrei. En algar het geglimlag as hulle die skool se geel kombi gesien het, die een wat talle krieketspanne oor die berg moes neem wanneer 'n Laeveld-skool aangedurf moes word.

Hierdie is 'n verhaal van 'n sameloop van omstandighede wat enersyds die ruggraat laat ril, maar andersyds ook die lagspiere laat tril. 'n Verhaal van genade - groot genade, en een van moed ... en ook sommer domastrant wees.

Lydenburg se atletiekspan moes daardie Saterdag oor die gevaarlik Longtom-pas, na Witrivier, waar 'n vyfhoekige byeenkoms plaasgevind het. Die atlete wat aan die eerste groepie items sou deelneem, het 'n halfuur voor die ander vertrek. Frik Yssel het hulle sommer met die Fordjie (die skool se ander, kleiner bus) gevat. Ek was een van die gelukkiges wat kombi-passasiers was, ons moes vroeg daar wees omdat ons beamptes was. Bennie was die uitverkorene aan wie die Nissan toevertrou is.

Ons was al by die tweede reeks items, toe daar opgemerk is dat die Lydenburg-atlete drupsgewys opgedaag het - en die meeste was maar bleek om die kiewe. Die Nissan se remme het glo teen die pas af, probleme gegee, en toe Bennie agterkom dat die situasie lewensgevaarlik kon wees, het hy die bus se neus  bergwaarts gedruk en die bus het toe teen die skuins wal tot stilstand  gekom. Die skrik was groot, want die kinders het oor mekaar geval en hier en daar is 'n kop hard gestamp. Gelukkig was daar talle ouers wat ook op pad was atletiek toe, en die kinders is toe so een-een in verbygaande karre gelaai. 'n Pa wat die teenwoordigheid van gees gehad het, het 'n werktuigkundige op Sabie laat kom, en die Nissan is toe (baie versigtig) motorhawe toe geneem.

Na die atletiek, het ons klomp (weer in die kombi) op Sabie gestop om na die skade te verneem. Dit blyk toe nie te erg te wees nie, en oom Jannie bied toe aan om die Nissan, met net hom as bestuurder binne-in, terug Lydenburg toe te vat. Die remme is natuurlik baie goed nagegaan en herstel, en daar is belowe dat die Nissan heeltemal reg vir die oor-die-berg rit sou wees. Ons is toe vooruit, want daar was daardie aand weer 'n ander funksie waar van die manne teenwoordig moes wees.

By die skool, was die Nissan se garage agter die hoofpawiljoen. Dit was 'n sinkstruktuur, met 'n dwarshout binne in die verste hoek. Agter die hout, was daar nog genoeg plek vir die kombi, en daar is toe ''n tweede deur gemaak, aan die sykant van die garage. Die Nissan sou dan ingetrek word, met die kombi wat dwars voor, 'n plekkie gehad het. Ons het die kombi op sy plek besorg, en drie van ons het toe vir oom Jannie gewag.

Dit was ook nie te lank nie, toe kom die Nissan verby die sportterrein gery. Oom Jannie het vriendelik gewuif en met die duim gewys dat alles honkiedorie was. Almal was verlig, want oom Jannie se welsyn was belangrik vir ons. Naby die garage, vat oom Jannie toe 'n wye draai, en ry toe die oop garage binne ... Jy het net 'n slag gehoor, en toe sien ons die kombi wat deur die agterste sinkmuur gestoot word! Die klank van metaal wat opfrommel , kon gehoor word. Oom Douw het sy kop vasgegryp en ek het my ore toegedruk - en toe hardloop ons na oom Jannie toe. Klein soos hy was, het hy verwese agter die Nissan se stuur gesit, net na dit wat van die kombi oor was, gestaar.

Wat later toe duidelik geword het, was dat die Nissan die ganske oortog oor die pas, geen remprobleme gehad het nie. Oom Jannie het verwonderd vertel dat alles seepglad verloop het. Selfs naby die skool, het die bus se remme nog honderd persent gewerk toe die Nissan by die stopstraat tot stilstand gebring is. Met daardie versekering, het oom Jannie toe met groot vrymoedigheid die busloods binnegery - maar toe hy voor die dwarshout wou rem, was daar niks!

Daarna was Lydenburg net op die Fordjie en Nissan (nadat Malan se werkswinkel die remme reggedokter het) vir vervoer aangewese. Die kombi het nie die dwarsklap oorleef nie. Al wat die Hoof reaksie was, was 'n verontwaardigde snorkgeluid en, terwyl hy sy bekende hangsnor met die vingers gestryk het : "Daai Jan Bosman foeter ook alles op!"

As ek na al die jare, nou oor daardie gebeurtenis dink, besef ek welke groot genade dit is, dat so baie skoolkinders wat daagliks oor sulke groot en gevaarlike afstande vervoer word, tog veilig en ongeskonde hul bestemmings bereik. Daar kan eerder tien kombi's in die slag bly, solank die insittendes net heelhuids daarvan afkom!

No comments:

Post a Comment