Thursday 12 February 2015

Groete vir die prins

Almal wat in die sewentiger jare gereelde Onder-Sabie besoekers was, het geweet wie Wilson was. Vir sommiges was hy sommer 'ou Wilson', vir ander van meer gevorderde jare, net 'Wilson'. Dan was daar die buitelanders (onthou, dit was die apartheidsjare) wat hom as 'Mr.Wilson' aangespreek het.

Wilson was ... swart. Pikswart. Van waffer stam hy 'n nasaat of lid was, het ek nooit uitgevind nie. Nie dat ek enigsins 'n poging aangewend het om sy verlede of afkoms na te speur nie, want soos ek reeds aangedui het, dit was die tyd toe die gemoedere maar hoog geloop het, en die weermag met teerpaaie in die noorde van die wildtuin begin het - om vinnige beweging van weermagvoertuie te verseker, maar ook die gevaar van landmyne te verminder. Ewenwel, Wilson was die hoofsjef by Onder-Sabie se restaurant. Hy was groot, rond en gemaak-gemoedelik. Net so vriendelik as wat hy buite onder die rietlapa tussen die toeriste was, net so befoeterd en kort van humeur was hy in die kombuis, waar jy gereeld kon hoor hoe hy die kelners gerangeer het.

Dit was 'n snikhete Saterdagmiddag, ek was aan diens by die klein ontvangskantoortjie wat aan die een kant van die lapa, langs die winkel, was. Die gewone Saterdag-gewoel van mense wat aankom en vertrek, het die sementstoep besig gehou. Toe hoor ons 'n groot gelag en baie stemme wat vanaf die parkeerarea aan't kom was. Dit blyk toe 'n groot toerbus met Nederlanders te wees, hulle sou middagete in die restaurant nuttig en dan 'n wyle onder die koel rietdak vertoewe. Wilson het dadelik die kelners in rat gekry, want hy kon sien dat die eetsaal vol sou wees. 'n Paar van die toergroep wou eers 'n ietsie koud in die keel afgooi, en 'n kelner word toe nader geroep. Die kelners was klaar besig om vir middagete rond te skarrel, want die tradisionele etensklok (een van hulle het op 'n Afrika-trom geslaan, dit was die 'klok') sou aanstons die eters nader roep. 'n Gesette man met 'n langlens-kamera, begaan toe die flater om vir Wilson aan te spreek, omdat sy reisgenote nie onmiddellik hulle ysdrankies kon kry nie.
"This is very poor service!" het die kaasman lawaai. Daar moes mos Engels gepraat word, want die 'inboorling' sou tog nie Nederlands kon verstaan nie. "I know very influencial people - this will certainly be reported!"
Wilson het, in stede van om sy humeur te verloor, reg voor die groot man met die khakiklere gaan staan. "So, you're from the Netherlands?" het hy half geamuseerd gevra. "I suppose you're not used to this hot weather."
Die toeris was nie van plan om praatjies met 'n sjef te maak nie - veral nie met 'n swart sjef nie.
"Yes! We are from the kingdom of the Netherlands. We have proud traditions, and we expect foreigners to treat us with respect and to answer to our needs!" Die Nederlander het sy ken gelig en Wilson so vanuit die hoogte aangekyk.
Wilson het hom nie van stryk laat bring nie. "We are from South Africa, we know how to treat Europeans. Fortunately, not all of them are rude and without manners."
Toe was die gort gaar! Ek het laer agter die toonbank gesak, en gevoel hoe my hart in my keel geklop het. Die woordestryd tussen die snobistiese Nederlander en die trotse Wilson, het die res van die toergroep om die twee laat saamdrom. Daar is oor-en-weer beskuldigings en beledigings geslinger, en ek kon hoor hoe die kaaskop op 'n keer vir Wilson 'n "savage without education" genoem het. Selfs die feit dat Wilson sulke goeie Engels, en nogal sonder 'n aksent, kon besig, het die man van Oranje nie van siening laat verander nie. Wilson was 'n bosbobbejaan uit die Afrika-oerwoud, en hy wat koningin Juliana se onderdaan was, het regte gehad - al was dit ook in 'n ander land.

Na 'n goeie kwartier se harde woorde, het Wilson die restaurant binnegestap. Almal het sekerlik 'n sug van verligting geslaak en aanstaltes begin maak om restaurant toe te stap. Wat hulle betref, het hulle 'woordvoerder' gewen, hy het die swartman deeglik op sy plek gesit.

Dis egter net waar hulle die pot misgesit het! Nog voor een van hulle 'n voet oor die drumpel kon sit om die eetsaal binne te gaan, staan Wilson reg voor hulle, in die middel van die deur. In sy hand het hy 'n koevert gehad, met 'n brief binne-in.
"I forgot to ask you, Mr. Netherlands," Wilson het reguit na die ronde Hollander gekyk, "do you know prince Bernhard at all?"
Die man het verontwaardig gesnork en rooi in die gesig geword. "Of course I know my prince! He is the husband of our beloved queen Juliana!"
"And the president of the international wildlife association", het Wilson bygevoeg. "He was here, two years ago. I was his personal chef at the time, and we became acquainted. He is a very polite and honourable man!"
Daar het 'n opgewonde gefluister deur die toerlede gegaan. Die groot man was duidelik onkant gevang, maar was duidelik nie van plan om bes te gee nie.
"I find it quite surprising that someone like you, coming from the bush, should know who prince Berhard is. Don't fool yourself, the prince has long forgotten you, he has more important issues to attend to and people of ... of class to communicate with." Die hovaardigheid was weer op die man se gesig. Hy het neerhalend na Wilson gekyk, so asof hy die arme swartman wat 'iewers uit die bos gekruip het',  die minagting wou gee wat hom toegekom het.
Wilson het tot reg voor die man gestap. Hy het stadig die koevert oopgemaak, die brief oopgevou en na die toeris uitgehou. "You're entitled to your opinion. Please read this, I received this letter from prince Bernhard a few days ago. We've been in contact ever since he left the park. He has invited me to visit him, see for yourself. I've been invited to spend a few days at the Soetsdijk Palace."

Daarna was die lensman heeltemal op die agtergrond. Die ander toerlede het om Wilson saamgedrom, sy hand geskud en hom op die skouer geklop. Sommige wou sy handtekening as aandenking gehad het, ander het foto's geneem - so met 'n glimlaggende Wilson in die middel.
Wilson het hom dit alles laat welgeval, en sy oomblik van glorie geniet. In die eetsaal is daar vriendelik na Wilson gewuif en die footjies was heelwat groter as waaraan die kelners gewoond was.

Toe die busbestuurder later die spulletjie by die bus bymekaar kry om weer hulle sitplekke in te neem, het Wilson effe terug gestaan. Hy het vir almal gewuif en toe sy opponent in die bus klim, hom met die volgende woorde gegroet: "Have a safe journey. Greetings to the prince!"

No comments:

Post a Comment