Saturday 17 January 2015

Elandsvallei se kontrei

Desember 1962 was 'n maand sonder weerga. Dit was in daardie tyd dat Pa die godverlatenheid van sy geboortedorp (Bethal) vaarwel toegeroep het, om vir ons 'n nuwe lewe in die natuurskone Elandsvallei, meer spesifiek Ngodwana, te gaan uitbeitel.

Dis stasiemeestershuis was die grootste en gerieflikste van die vier rooibaksteenhuise wat destyds in gelid langs die Selati-lyn gestaan het. Na die piepkleine huisie op Bethal, was hierdie een met sy derde slaapkamer en driekwart-stoep, weelde wat ons, ons nooit sou kon verbeel nie. Die huis was half ingedruk tussen die stofpad Waterval-Boven toe, en die spoorlyn. Soms het 'n haastige Laevelder die stof oor alles laat neersif, maar ons het nie omgegee nie - ons was in die bosse, met berge wat ons omring het. Oom Murray ('n afgetrede Engelse kolonel) se winkeltjie was net sowat vyftig meter weg, en Ma kon selfs Paula en Tryna du Toit se liefdesverhale by die mini-bibliotekie agter-in die winkel, te lese kry. Die groen boekewa het tweeweekliks 'n draai gemaak, dan moes ek spring voordat  iemand anders dalk eerste vir Paula gegryp het .

Voor die huis, sowat driehonderd meter anderkant die spoorlyn, het die Elandsrivier sy lope geloop. Ek was net tien jaar oud, en al het Pa toe vir my 'n windbuks gegee, mog ek dit nie naby die rivier gewaag het nie. Mambas, wildevarke en ander bosveldse ongediertes sou my glo bespring of bekruip het. Net noord van die rivier, het die berg se steiltes begin. Deur die dag kon jy die wit en bruin stippels van die boerbokke sien, waar hulle teen die berg gewei het. Laatmiddag het hulle al laer afgesak, totdat jy die voorbok se klok neffens die rivier kon hoor. Waar hulle oornagplekke was, het ek nooit geweet nie.

Die groot waterval, in lyn met die stasiegebou, het my gefassineer. Van ver af het dit net na 'n melkwit streep gelyk, maar met Pa se verkyker, kon ek die vallende water eien. Dan het ek gemymer oor die dieptes waarin die water geval het, hoe dit daar moes gelyk het. Voor my geestesoog het ek sagte, mosbedekte wande gesien, allerlei soorte varings en veelkeurige blomme. In die winter was die straaltjie maar dun, het selfs per geleentheid heeltemal verdwyn. Ek het my verbeel dat vele diertjies en plantjies dan van dors omgekom het.

Ek was in Elandshoekse Laerskool. Pa het my soggens vroeg, onder 'n apiesdoring (sowat drie kilometer van die stasie af, waar die Coetzeestroompaadjie uitgedraai het) afgelaai. Daar het ek soms benoud na die oggendkrete van die bobbejane geluister, of my verbeel dat ek 'n geritsel in die grasse gehoor het. Die stompneus Guy-skoolbus van oom Lappies, kon jy myle ver hoor aankom. Die grondpaadjie was maar klipperig en vol draaie en bulte. Smiddae het ek daar afgeklim, en begin aanstap in die stasie se rigting, totdat Pa se Volkswagen my langs die pad gevind het.

Die sandsteen-stasiegeboutjie was soos vanuit 'n sprokiesboek, met reuse palmbome vol kwetterende mossies en grasieuse swaeltjies wat die blou lug gepatrolleer het. Dit was die plek waar W.A.Hickey die boek "Twee vir 'n stuiwer", geskryf het. Onder reuse Jakarandas wat met pers en rooi bougainvillas begroei was, het Pa 'n pragtige tuin gehad. Hibiscus-struike en selfs 'n visdam met goudvisse, het die prentjie afgerond.

Benewens oom Murray se plekkie, was die naaste winkel op Hemlock. Daar was wel ook 'n koopplekkie op Elandshoek, maar Hemlock was nader. Naby Airlie was daar ook 'n slaghuis, sommer so langs die grootpad. Groente is deur tannie Ford afgelewer. Haar bruin bussie het elke Vrydag by die winkel gestop, dan kon bestellings gemaak, of afgehaal word. Daar was altoos 'n boks groente vir ons, Pa was 'n plaasseun en vleis en groente, was sy stapelvoedsel.

Daar was nog nie sprake van 'n papierfabriek (Sappi) toe ons daar aangekom het nie. Per geleentheid het oom Murray wel vir Pa gevra of hy nie die suidelike berg-deel by hom wou koop nie, en dat hy 'groot ontwikkeling voorsien', maar dis as blote bespiegeling en wensdenkery afgemaak. Ma het Pa gewaarsku dat, indien hy groot skuld sou aangaan om grond te koop, hy maar die skeibrief te wagte kon wees ! Nou ja, daardie einste grond is kort daarna deur Sappi opgekoop - en die res is geskiedenis !

Getrou aan sy aard, het Pa binne weke familie uitgesnuffel. Oom Jaap Pretorius (Pa het hom Jaap Tienton genoem) was 'n bosbouer op Coetzeestroom. Hy was die broer van tant Ella, my ouma se skoonsuster. Die Pretoriusse was Carolina-mense, en nog meer van hulle het onder die De Klerks ingetrou (Ouma se mense). Ons het soms op 'n Sondagmiddag by oom Jaap-hulle gaan koffie drink.
Die klein sinkhuisie, was weggesteek binne die denneplantasie.

Die Elandsvallei was 'n rustige, vreedsame en idilliese vallei toe ek tien jaar oud was. Wanneer ons vandag die waagmoed het om via Ngodwana, in Pretoria se rigting te ry, hou ek maar die herinneringe vir myself. Niemand sal my glo nie, en ek glo nie iemand stel belang nie. Ons ry maar net en wys na die berge, die rivier en die waterval.

'n Mens is ingekluister in jou persoonlike herinneringe. Saam met jou, sal dit eendag weer deel van die aarde word - dalk deel van die wonderskone Elandsvallei ...

No comments:

Post a Comment